Coram Deo Cover Image

Coming soon...

18 December 2012

Kersfees in Connecticut

Connecticut shooting

“Toe Herodes sien dat hy deur die wyse manne mislei was, het hy baie woedend geword en gestuur en in Betlehem en in al die omstreke daarvan al die seuntjies van twee jaar en daaronder laat ombring, ooreenkomstig die tyd wat hy van die wyse manne uitgevra het.  Toe is vervul wat deur Jeremia, die profeet, gespreek is toe hy gesê het:  ‘n Stem is in Rama gehoor:  rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie.” (Matteus 2:16-18).

 

Sandy Hook skool in Newton, Connecticut:  Op Vrydag 14 Desember 2012 het 20-jarige Adam Lanza sy ma vier keer in die kop geskiet.  Daarna het hy na die skool toe gegaan en 20 kinders (6 en 7 jariges) doodgeskiet.  Hy het 6 volwassenes doodgeskiet.  En aan die einde van alles het hy ook sy eie lewe geneem.  Tweeduisend jaar gelede het ’n massamoord in Betlehem en die omliggende omgewing (insluitend Rama) plaasgevind.  Herodes het al die kinders onder twee jaar laat doodmaak.  Hoe kan enigiemand in sulke omstandighede blydskap hê en ’n geseënde kersfees geniet?

 

Kindermoorde en aborsie was algemeen in 1ste eeu.  Sommige mense het kinders vir die afgode geoffer.  Indien hulle nie self kinders gehad het nie, sou hulle babas by arme mense koop om te offer.  Die Romeine het in 'n wet beveel dat gebreklike babas doodgemaak moes word.  Babas is riviere en vir wilde diere gegooi (inligting uit Schmidt, A.; How Christianity Changed the World; Zondervan; GRAND RAPIDS; 2001, 2004; p.48-60).  Herodes was nie anders nie.  Hy het al baie ánder vermoor (sien die preek getiteld, Die wêreld se wellus vir mag).  Om 'n paar dosyn babas te vermoor sou glad nie 'n probleem gewees het nie (v.16).  A.T. Robertson sê:  “Augustus said that it was better to be Herod’s sow (Greek hus) than his son (Greek huios), for the sow had a better chance of life.” (www.e-sword.net; Robertson’s Word Pictures, kommentaar op Matteus 2:16).

Jesus het gesê dat moord in die hart begin.  Iemand wat kwaad is of iemand haat is 'n moordenaar in sy hart (sien Matteus 5:21-22).  Herodes se moord het begin by woede in sy hart (v.16).  Sy voete was haastig om bloed te vergiet (Romeine 3:15).  In <st1:bcv_smarttag>Genesis 3:15 het die Here voorspel dat die Messias vir Satan sou vernietig.  Male sonder tal wou die duiwel die vervulling van hierdie belofte kniehalter.  Hy wou nie hê die Messias moes gebore word en heers nie.  Hier is vyftien voorbeelde van hoe hy 'n stok in die speke van God se planne wou steek.

  • Kain vermoor vir Abel (Genesis 4:8).  Onsuksesvol:  die Messias word uit die nageslag van Set gebore.
  • Sarai kon nie kinders kry nie en sê vir Abram om met haar slavin Hagar te slaap (Genesis 16:2-4).  Onsuksesvol:  jare later word Sarai swanger met Isak.
  • Esau beplan om vir Jakob te vermoor (Genesis 27:41).  Onsuksesvol:  Jakob vlug na sy oom Laban toe.
  • Farao vermoor die seuntjies van Israel (Eksodus 1:15-22).  Onsuksesvol:  die Israeliete vermeerder.
  • Saul probeer twee keer om vir Dawid met 'n spies teen die muur vas te pen (1 Samuel 18:10-11).  Onsuksesvol.
  • Saul belowe Dawid kan met Merab trou as hy teen die Filistyne veg.  In sy hart hoop hy die Filistyne maak vir Dawid dood (1 Samuel 18:17).  Onsuksesvol.
  • Saul belowe Dawid kan met Migal trou as hy 100 Filistyne doodmaak en besny (1 Samuel 18:21, 25).  Sy plan is dat die Filistyne vir Dawid sal doodmaak.  Onsuksesvol:  Dawid maak 200 Filistyne dood.
  • Saul stuur sy manne om vir Dawid in sy bed dood te maak (1 Samuel 19:11, 15).  Onsuksesvol:  Dawid vlug.
  • Saul sit vir Dawid agterna om hom dood te maak (1 Samuel 21-26).  Onsuksesvol:  die Here beskerm vir Dawid.
  • Absolom wil vir Dawid doodmaak (2 Samuel 15-18).  Onsuksesvol:  Agitofel se raad word nie gevolg nie en Absolom sterf.
  • Atalia moor die hele koninklike huis uit.  Onsuksesvol:  die baba Joas word weggesteek (2 Konings 11:1-3).
  • Haman beplan om al die Jode uit te roei (Ester 3:13).  Onsuksesvol:  Haman word gehang.
  • Herodes stuur sy soldate Betlehem toe om vir Jesus dood te maak (Matteus 2:16).  Onsuksesvol:  'n engel sê vir Josef om Egipte toe te vlug.

Jesus het die duiwel oorwin aan die kruis en deur sy opstanding uit die graf.  Omdat dit waar is hoef ons nie bang te wees vir die merk van die dier (die 666), 'n een-wêreld orde, of enigiets anders in die boek Openbaring nie.  Efesiërs 6:10-20 sê ons moet onsself met die wapenrusting van God beklee en vassteen die duiwel.  Ons moet ons aan God onderwerp en die duiwel teenstaan – dan sal hy van ons af wegvlug (Jakobus 4:7).  God sal Satan onder ons voete vernietig (Romeine 16:20).  Nou reeds is die duiwel soos 'n hond aan 'n ketting:  hy is beperk en kan nie die nasies mislei soos wat hy goedvind nie (Matteus 12:28-29, Openbaring 20:1-3).  By die wederkoms sal Jesus die duiwel en sy magte vernietig (2 Tessalonisense 2:8, Openbaring 20:7-10).  Satan kan nie wen nie.

Ons ken die tipiese wêreldoorlog rolprente waarin ma’s huil wanneer hulle seuns die huis verlaat om oorlog toe te gaan, en wanneer die nuus kom dat hulle seuns in die oorlog gesneuwel het.  Baie van ons het op die nuus gesien hoe ouers huil oor hulle kinders wat in die Connecticut massamoord doodgeskiet is.  Matteus sê oor die slagting in Betlehem en die omliggende gebied:  “Toe is vervul wat deur Jeremia, die profeet, gespreek is toe hy gesê het:  ‘n Stem is in Rama gehoor:  rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie.” (v.17-18).  Wat is in Matteus se gedagtes wanneer hy hierdie vers skryf?

Ragel is oppad Betlehem toe by Rama begrawe (Genesis 35:16-20, vergelyk ook 1 Samuel 10:2 en 1 Konings 15:17).  Ragel sou nie weer haar seun Josef sien nie.  Sy sou nie haar pasgebore babaseun Benjamin geniet nie.  Sy sou nie haar kleinseuns Efraim en Manasse ontmoet nie.  Maar dis nie waarvan Jeremia praat nie (v.17-18, Jeremia 31:15).  Ragel se kinders (haar nageslag) is via Rama na Babilon toe ontvoer (sien Jeremia 40:1).  Ma’s het oor hul seuns gehuil.  Hulle was nie tevrede met enige goedkoop troos nie, maar wou hê hulle kinders moet uit die land van slawerny terugkeer (v.18).  Dit sou gebeur.  Die konteks van Jeremia 31:15 (waaruit Matteus hier aanhaal) is oorweldigend positief.  Lees maar die hoofstuk om te sien hoe God belowe om sy volk uit slawerny terug te bring.  In die volgende vers sê Jeremia:  “Bedwing jou stem van geween en jou oë van trane; want daar is loon vir jou arbeid, spreek die Here; en hulle sal uit die land van die vyand terugkom.” (Jeremia 31:16).  God het belowe om die ma’s te vertroos, sy volk te herstel, en 'n nuwe verbond te maak (Jeremia 31:1-40).  Hierdie verse (en spesifiek Jeremia 31:15) is vervul toe Herodes die babas in Betlehem en die omliggende streek vermoor het; in Jesus wat teruggekeer het uit die slaweland – Egipte; in Jesus wat sondaars herstel en vertroos.

 

Wat moet jy uit hierdie verse leer?  Die Ou Testament word vervul in die Nuwe Testament.  Die Nuwe Testament kan nie verstaan word buite die oorspronklike konteks van die Ou Testament nie.  Lees beide Testamente want daarsonder sal jy 'n beperkte verstaan van die Bybel hê.  Moenie een van die twee afskeep nie.  Ons leer ook dat daar nou sonde, dood, en trane mag wees, maar dat Jesus ons sal herstel en vertroos.  Hy bring herstel en oorwinning oor die dood deur sy kruisdood en opstanding (Romeine 5:1).  Hy het die Heilige Gees gestuur om ons te vertroos (Johannes 14:16).  Daar is die vooruitsig van die wederkoms waar gelowiges se liggame uit die graf sal opstaan (Romeine 8:23, 1 Tessalonisense 4:13-18).  En dan is daar die hemel waarvan ons in Openbaring 21:4 lees:  “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”  Gelowiges wat soos die vroue van Connecticut, Betlehem, en Rama huil sal vertroos word.

My skoonsuster het vir my vrou gevra om 'n paar goed by 'n bekostigbare winkel in Kempton Park te koop.  My vrou het gereken dit sal R200 kos en het gevra dat sy die geld inbetaal.  Maar 'n paar minute later het my vrou gesien dit sal dalk meer as R200 wees en wéér 'n boodskap gestuur:  “Kan jy asseblief R300 inbetaal ingeval dit meer kos.”  Herodes soek vir Jesus en ingeval hy Hom mis, gee hy opdrag dat al die kinders onder twee jaar doodgemaak moet word.  Om dubbel seker te maak vermoor hy nie net die kinders in Betlehem nie, maar in die hele area (v.16-18, Rama ingesluit).

Mense wat skepties is oor die Bybel sal soms sê dat Jesus opsetlik sekere dinge gedoen het om die Skrif te ‘vervul’ en te sê Hy’s die Messias.  Maar hierdie mense kan nie verduidelik hoe Jesus se vyande (wat nie geglo het Hy’s die Messias nie) die Skrifte aangaande Hom vervul het nie.  Herodes het nie gedink om die Skrif te vervul nie, maar tog het hy (v.16-18).  Dit bewys net weereens dat die Skrif waar is, dat Jesus die Messias is, en dat God soewerein is oor die aksies en reaksies van ons en sy vyande.  God werk selfs negatiewe dinge soos 'n massamoord in Betlehem ten goede mee (Romeine 8:28).  Sy goeie raadsplan word ook in Connecticut vervul.  Alhoewel daar nie vreugde en gelag is in Betlehem, Rama, en Connecticut nie, kan daar op 'n diep vlak 'n vredevolle en geseënde kersfees wees vir almal wat aan Jesus behoort.

Kategorieë