Coram Deo Cover Image

Coming soon...

20 July 2012

Kenmerke van kultusse

Te veel Christene val vir vals lering.  Selfs in Baptiste geledere is ons oningelig.  Christene stap by Christelike boekwinkels in en weet nie dat die boeke wat hulle koop vals lering bevat nie.  Mense koop The Shack en dink dis wonderlike leesstof.  Ander luister na prosperity predikers op TBN en weet nie dat hierdie mense 'n vals evangelie verkondig nie.  Ander dink dat die vals teologie wat hulle in die koerant lees reg moet wees, omdat 'n teoloog dit gesê het.  Hoe weet jy wanneer 'n sogenaamde ‘Christelike’ kerk vals is?  Hoe weet jy wanneer iemand vals lering verkondig?  Wat is sommige kenmerke van vals leraars en hulle kerke?  Hier is 'n paar.

 

  1. In Galasiërs 1:7, 5:10 sê Paulus dat vals lering gelowiges verwar.  Die woord kan ook ‘omroer, ontstel, onrustig, angstig, benoud, twyfel, en verbouereer’ beteken.  Indien 'n sekere lering verdeeldheid tussen jou en ander Christene veroorsaak; daartoe lei dat jy innerlik opgestook en omgeroer raak; maak dat jy twyfel, rusteloos, bang, angstig, en verward is; jou van innerlike kalmte beroof – dan is dit waarna jy luister waarskynlik vals lering.  By die vergadering in Jerusalem het die apostels gesien dat die vals leraars presies dít doen met die gelowiges onder die heidene (sien Handelinge 15:24).  God se waarheid sal nie veroorsaak dat jou gedagtes en emosies op hierdie wyse deurmekaar geskommel word nie.  Inteendeel, die ware evangelie bring rustigheid, vrede, 'n kalm gemoed, sekerheid, geloof, vreesloosheid, en orde.
  2. Vals leraars is outoritêr.  Hulle wil mense se lewens beheer.  As jy aan hulle kerke behoort besluit húlle waar en wanneer jy met vakansie mag gaan.  Húlle skryf vir jou voor wat jy moet eet:  “Net groente en niks anders nie...Jy mag nie koffie of Coke drink nie.”  Hulle skryf mense af as onrein of selfs ongered indien hulle nie 'n sekere Bybelvertaling gebruik nie.  Hulle wil mense se persoonlike geldsake beheer of daarby inmeng (Lukas 20:47, <st1:bcv_smarttag style="">Titus 1:11).  Hulle is ‘pleinweg’ geldgierig.  Waarvandaan kom hulle gesag?  Nie van God af nie.  <st1:bcv_smarttag style="">Titus 1:14 sê hulle beveel dinge wat nie in die Bybel staan nie.  Hulle gebooie kom nie uit die Skrif nie, maar kom uit hulle eie verbeelding.  Moet hulle nie glo wanneer hulle uitroep:  ‘God sê’ terwyl dit wat hulle leer nie in die Bybel staan nie.  Jesus se juk is sag en sy las is lig (Matteus 11:30).  Ook is Sý gebooie nie swaar om te onderhou nie (1 Johannes 5:3).
  3. Die Skrif sê dat ons behoorlik geklee moet wees (sien <st1:bcv_smarttag style="">1 Timoteus 2:9-10), maar vals leraars vereis dat mense sekere klere moet dra om te wys hulle is godsdienstig.  Dink maar aan die uniforms van die Moslems en die Katolieke.  Ander kultusse vereis dat hulle volgelinge silwer sterre dra.  Ander beveel hulle mense om dasse en sykouse te dra wanneer hulle aan deure klop.  Dit is omdat daar innerlik geen lewe en vrug is nie dat hulle uiterlik moet probeer wys hulle is godsdienstig.
  4. <st1:bcv_smarttag style="">Titus 1:14 sê die vals leraars draai weg van die waarheid af.  Hulle sê miskien baie ‘oor’ die Bybel of oor dinge wat met die Bybel verband hou, maar preek nie die Bybel nie.  Hulle plaas ook ander dinge op gelyke vlak met die Bybel – of dit nou die apokriewe is, ander geskrifte van sogenaamde profete, die woorde van hulle leier of akademici, die tradisie van die kerk, 'n verdraaide vertaling of interpretasie van die Bybel, of watookal.
  5. Die Jesus wat hulle verkondig en die Jesus wat in die Bybel beskryf word is nie dieselfde Persoon nie.  Hulle hou vas aan 'n ander Jesus.  Party sê Hy is nie volkome God nie.  Ander sê Hy is nie die enigste Weg en Middellaar tot die Vader nie.  Nog ander glo ons sal uiteindelik self gode word en gelyk wees met Hom.  Sommige dink Hy is nie uit 'n maagd gebore nie, het nie liggaamlik uit die dood opgestaan nie, en het nie regte wonderwerke gedoen nie.  Alle valsheid oor Jesus ontken uiteindelik dat Hy volkome God en/of volkome mens is.
  6. Vals leringe word gebou op enkele leerstellings of verse buite konteks.  Sommige valshede waarop hierdie groepe gebou is sluit in:  'n verkeerde teologie oor die Sabbat, doping vir die dooies, rykdom en gesondheid op aarde, Jesus is nie God nie, verwerping van Jesus se liggaamlike opstanding, 'n allegoriese interpretasie (vergeesteliking) van die Bybel, 'n ontkenning van die Drie-Eenheid, kerklike tradisie.
  7. In hierdie groepe is daar gewoonlik 'n persoon wat gevolg word.  Wat hy of sy sê is wet.  Indien hulle moet kies tussen die Bybel en hierdie persoon se woorde, sal hulle die Bybel verloën.  En indien jy hierdie persoon se woorde ontken of bevraagteken sal jy as 'n sondaar of iets erger bestempel word.
  8. Al hierdie groepe glo in redding deur goeie werke.  Party sal sê hulle doen nie.  Maar as jy vir hulle vra:  “Kan ek hemel toe gaan as ek nie daardie gebod onderhou nie” sal hulle sonder om eers te dink ‘nee’ antwoord.  Ware Christenskap sien goeie werke as 'n bewys van ware redding, terwyl hierdie groepe dit 'n vereiste vir redding maak.  Ons glo in regverdigmaking uit genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen.
  9. Volgens die vals leraars is daar geen redding buite hulle kerk nie.  As jy deel is van enige ander groep kan jy nie hemel toe gaan nie.  Mense wat dink ek is verkeerd moet die geloofsbelydenisse van hierdie groepe noukeurig deurlees.

 

Daar is baie vals leringe en leraars.  In ons dag is die bekendste groepe die Rooms Katoliekekerk, die Ou en Nuwe Apostels, die ZCC (Zion Christian Church), die Mormone (Latter Day Saints), Liberale teologie en sy verskillende vertakkings, groepe wat 'n Prosperity Gospel verkondig, die Jehova’s Getuies, en die Branhamites.  Wees dan waaksaam en pasop vir die wolwe in skaapsklere!

Kategorieë