Baie charismate assosieer geestelike oorlogvoering met die uitdryf van duiwels, binding van sogenaamde gebiedsgeeste of 'n belangstelling in die rangorde van bose magte. Maar dit is nie primêr wat die Bybel bedoel met geestelike oorlogvoering nie. Efesiërs 6:10-18 praat eerder van weerstand teen die versoeking en misleidng van Satan en sy magte. Om jou vyand te ken, beteken dat jy sy taktiek ken om gelowiges te versoek: “sodat ons nie deur die Satan bedrieg sou word nie; want ons is met sy planne nie onbekend nie.” (2 Korintiërs 2:11). Genesis 3 wys dit ook so.
1 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? 2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, 3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. 4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie;
5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.” (Genesis 3).
Hy vermom hom (v.1a)
'n Hindu man het gesê dat Genesis 3 onsin is, omdat slange nie stembande het nie. Maar in Numeri 22 het God 'n donkie laat praat (Num.22). En in Matteus 8:32 lees ons van demone wat in 'n trop varke ingevaar het. In Genesis 3 gebruik Satan 'n slang se liggaam om vir Eva te versoek. Dit is nie die slang wat gepraat het nie, maar Satan deur die slang. Genesis 3 sê nie vir ons dat dit so is nie. Die Nuwe Testament sê dit wel: “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus...Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.” (2 Korintiërs 11:3, 14). “die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9, cf. 20:2). Satan het nie tot 'n val gekom voor Genesis 1 nie, want in die begin was God se skepping baie goed (1:31). Satan het êrens tussen 1:31 en 3:1 tot 'n val gekom. Ander tekste in die Skrif beskryf sy val:
“Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!” (Jesaja 14:13-14).
“Mensekind, sê aan die vors van Tirus: So spreek die Here HERE: Omdat jou hart hoogmoedig was en jy gesê het: Ek is ‘n god, ek bewoon ‘n godewoning in die hart van die seë—terwyl jy tog ‘n mens is en geen god nie—en jou hart gemaak het soos die hart van ’n god...Mensekind, hef ‘n klaaglied aan oor die koning van Tirus, en sê vir hom: So spreek die Here HERE: Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid. Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking: karneool, topaas en jaspis, chrisoliet, oniks, sardoniks, saffier, karbonkel en smarag; en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei. Jy was ‘n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op ‘n heilige berg; ‘n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes. Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is. Weens die grootheid van jou koophandel het hulle jou binneste met geweld gevul, en jy het gesondig; daarom het Ek jou as onheilige van die godeberg afgedrywe, en Ek het jou tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gérub wat beskut! Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans. Ek het jou op die grond gewerp, Ek het jou oorgegee voor die aangesig van konings, dat hulle op jou neer kan sien.” (Esegiël 28:2, 12-17).
“Maar hy moet ook goeie getuienis hê van die buitestaanders, sodat hy nie in veragting en in die strik van die duiwel val nie.” (1 Timoteus 3:7).
Dalk sê jy: ‘Maar Jesaja en Esegiël praat nie van die val van Satan nie. Die konteks praat duidelik van die konings of prinse van Babilon en Tirus’. Laat ek so antwoord: Daniël 10 praat van Satan as die Prins van Persië. Nóg 'n demoon word beskryf as die prins van Griekeland. Die aartsengel Migael is die prins van Israel. Daniël beskryf dit so, omdat Satan eintlik die mag is agter die bose dinge wat in Persië en Griekeland gebeur het. Wanneer Jesaja 14 en Esegiël 28 dan praat van prinse en konings, praat dit van Satan wat die mag agter die konings van Babilon en Tirus is. Daarom sê ons dat hierdie twee tekste die val van Satan beskryf.
Satan vermom hom wanneer hy vir Eva verlei, en daarom sê v.1 die slang is listig en slu. Die duiwel vermom homself steeds en versoek jou soms, sodat jy dink dis jou eie gedagtes. Jy dink selfs aan Bybelverse om jou optrede te regverdig, maar eintlik is dit die duiwel wat hierdie gedagtes in jou oor fluister. Satan het so vir Jesus versoek. Ek twyfel dat die duiwel aan Jesus verskyn het om Hom te versoek – dis mos nie versoeking nie. Jesus het gedink dis sy eie gedagtes: ‘Ek kan die klippe mos in brood verander...Ek kan van die tempel afspring, want die Skrif sê dat God die engele sal stuur om My te beskerm’. Jesus het besef dat dit nie sy eie gedagtes is nie, maar dat dit die duiwel is wat Hom versoek. Die duiwel het vir Adam en Eva uitgevang in die Paradys. Die tweede Adam (Jesus) het die duiwel oorwin deur sy aktiewe gehoorsaamheid in die woestyn, asook deur sy passiewe gehoorsaamheid aan die kruis.
Hy saai twyfel (v.1b-3)
In C.S. Lewis se Chronicles of Narnia kan die diere praat. Die Bybel sê nie diere kon voor die sondeval praat nie. Ons het reeds gewys dat Satan die slang se liggaam beset het, en dat dit hý was wat gepraat het. Eva moes agtergekom het dat alles nie pluis was nie.
Satan het die skeppingsorde aangeval. God het die man oor die vrou aangestel en die man en vrou oor die diere. Hier sien ons egter dat 'n dier (slang) oor die vrou heers en die vrou oor die man (sy gee van die vrugte vir Adam). Satan gebruik sy geleentheid om twyfel te saai: ‘Het God regtig gesê...?’ Van homself en sy spanmaats het Paulus gesê: “ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie” (2 Korintiërs 4:2). Satan gee die idee dat God Adam en Eva se vreugde wil beperk: “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” (v.1b). Die waarheid is dat God glad nie gesê het hulle mag van geen boom in die tuin eet nie, maar eerder dat hulle van al die bome in die tuin mag eet – almal behalwe een (2:16). God is nie 'n ‘spoiled sport’ of ‘kill joy’ soos wat Satan wil voorgee nie. Hy is 'n baie vrygewige en goeie God:
“Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed.” (1 Timoteus 4:4-5). In 1 Timoteus 6:17 praat Paulus van “die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet.”
Eva moes nie die Woord van God met Satan bespreek het nie. Sy moes eenvoudig God se Woord aangehaal het, en geloop het. Maar sy het in die duiwel se leuen ingekoop. Sy het alreeds begin dink dat God hulle vreugde wil beperk, en toe sê sy: ‘God het gesê ons mag nie van hierdie boom eet nie, en ook nie eers aan die vrugte raak nie’ (parafrase). God het nie gesê dat hulle nie aan die vrugte mag vat nie – sy het daardie laaste stukkie bygevoeg. Vandag nog oor-korregeer ons die duiwel se leuens. Iemand sê byvoorbeeld: ‘'n Christen kan sy redding verloor’. Ons wil die leuen oor-korregeer en sê: ‘My kind het haar hart vir Jesus gegee toe sy 5 jaar oud was. Ek weet sy lewe nou in rebellie, maar ek weet sy is gered. Die Bybel leer mos eens-gered-altyd-gered’. Of die teenoorgestelde: ‘My kind het tot bekering gekom toe sy 5 was en lewe nou in rebellie. Daarom glo ek 'n Christen kan sy redding verloor’.
Hier is 'n paar voorbeelde van hoe Satan twyfel saai. Hy sê vir gelowiges:
[1] Jy’t niks geld in jou bankrekening nie en moet môre jou huishuur betaal. Vat geld uit die kleinkas uit. Jy kan later die geld terugsit. Dit lyk nie of die Here betyds gaan deurkom nie. Miskien help God jou vandag, maar wat van Februarie – hoe gaan jy die maand deurkom?
[2] Hoekom stop God nie jou verslawing nie? Hy belowe om jou nie bo jou kragte te beproef nie. Hy belowe dat daar 'n uitkoms sal wees. Dit lyk nie vir mý of 1 Korintiërs 10:13altyd waar is nie.
[3] As God se guns oor jou is sal jy 'n lewensmaat kry (Spreuke 18:22). Jy is al 37 en is nogsteeds nie getroud nie. Dit lyk nie of die Here baie gunstig is oor jóú nie.
[4] Hoekom ly jy so? Gee God regtig om vir sieke mense?
[5] Dink jy regtig die Here gaan vir jou voorsien? Jy sit al meer as 10 maande sonder werk!
[6] Het jy al gesien wat doen kanker aan 'n mens? Ek sal nie so seker wees van Psalm 23:4 as ek jy is nie (‘Al gaan ek deur 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie’)? Die dood gaan erger wees as wat jy gedink het.
[7] Jy behoort jou redding te betwyfel. Hoe baie bid jy? En wat van daardie sonde wat jou onderkry – jy sukkel al vir jare daarmee?
[8] Wie sê die Bybel is waar? Hoe kan jy sê Jesus is die enigste Weg? Daar is baie ander godsdienste wat sê húlle het die waarheid. Hoe kan jy sê hulle is verkeerd en jy is reg?
As jy die duiwel gaan weerstaan, moet jy die Bybel goed ken en verstaan. Onthou dat die duiwel selfs vir jou sal sê: ‘Daar staan geskrywe’ (Matteus 4:6). Hy verdraai God se woorde net 'n bietjie (v.1b). As jy nie die Bybel goed ken en verstaan nie, gaan hy jou uitvang.
Hy ontken God se Woord (v.4)
Hollywood leer vir ons dat jy met sonde kan wegkom. Jy kan lelike dinge doen sonder dat daar gevolge is. Dit is presies wat Satan vir Eva gesê het: “Julle sal gewis nie sterwe nie” (v.4). Met ander woorde: ‘Daar sal nie gevolge wees as julle ongehoorsaam is nie – God jok’. Vandag nog glo mense hom. Hulle dink daar sal geen oordeel of hel wees nie – al sondig hulle ook hóé baie. Die kruis van Jesus wys anders: hy het 'n verskriklike straf verduur vir ons sondes. Sonde word nooit oorgesien nie. God sal dit altyd straf: óf aan die kruis, óf in die hel.
Hy vlei jou (v.5)
Die duiwel wou God se troon vir homself hê: “Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!” (Jesaja 14:14). Nou versoek hy ons om soos hy te wees. Hy sê dat ons “soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.” (v.5). Hy sê in effek vir Eva dat God jaloers is; Hy is 'n leuenaar. Die waarheid was dat Adam en Eva reeds na God se beeld gemaak is (1:27). Hy wil hê hulle moet 'n sondige begeerte hê om soos God te wees (soos wat Benny Hinn en ander Prosperity predikers vir mense sê: ‘You are little gods!’). Satan wou hê hulle moes dink dat hy hulle beste belange op die hart dra. Hy het dieselfde met Jesus probeer: “Weer neem die duiwel Hom saam na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid, en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid.” (Matteus 4:8-9). Die duiwel impliseer dat God goeie dinge van ons wil terughou. Met ander woorde, God is wreed. Nogsteeds sê hy vir mense dat God wreed is:
- Hoe kan 'n liefdevolle God mense hel toe stuur?
- God is soewerein. Hoekom keer Hy nie die lyding in die wêreld nie? Dít lyk nie vir my na 'n liefdevolle God nie.
- Hoekom sê God dat mense heilig moet wees? As Hy regtig liefdevol is, sal Hy mense aanvaar soos wat hulle is.
- Jesus sê jy moet jouself verloën as jy Hom wil volg. Dit krenk net mense se selfbeeld. Dis wreed.
- Die Bybelse lering oor uitverkiesing is onregverdig en wreed.
Satan gee die idee dat ware vryheid en plesier daarin lê dat jy selfstandig is: God moenie vir jou sê wat jy moet doen nie. Die duiwel sê byvoorbeeld vir mense: ‘Hoekom mag jy net met één persoon slaap? En hoekom moet jy getroud wees om seks te hê? Jy sal baie meer vreugde hê as jy vry is om te slaap met wie jy wil – dís mos seksuele vryheid!’ Dis baie belangrik dat ons vir ons kinders moet leer dat dit goed is om onder gesag te staan. Om selfstandig te wil wees is sleg (v.5). Satan vlei mense en sê vir jou dat jý (nie God nie) op die troon hoort. Alle sonde is uiteindelik 'n begeerte om op die troon te wees; om God te wees. Hier is enkele voorbeelde:
[1] As jy disrespek het vir jou ouers, sê jy eintlik: ‘Ek sal my eie gesag wees. Ek hoef nie onder gesag te buig nie’.
[2] As jy bitter of kwaad is, sê jou hart: ‘Ek (en nie God nie) is die groot regter wat straf sal uitdeel’.
[3] As jy gevul is met begeerlikheid en wellus, wys dit wat in die dieptes van jou hart skuil: ‘Ek is God. Die aarde en sy volheid behoort aan my. Wat ek wil hê, kry ek’.
[4] As jy behep is met jou goeie selfbeeld ('n ander term vir ‘hoogmoed’), is jou eintlike begeerte: ‘Ek is die Here. Mense moet my aanbid, aanvaar en skuld my applous’.
Johanan het vir Gedalja gesê dat Ismael hom wil doodmaak. Gedalja het hom nie geglo nie. Uiteindelik het Ismael gekom en vir Gedalja heuning om die mond gesmeer en hom vermoor (Jeremia 40-41). Satan wil jou siel vermoor: “Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.” (Johannes 8:44). Ek jok nie.