Coram Deo Cover Image

Coming soon...

22 September 2022

Jou kans om gered te word

Lukas 13:22-30

In 1986 het ek Halley se komeet gesien. Dit is elke 75-79 jaar van die aarde af sigbaar. As ek dit gemis het, sou ek dit waarskynlik nooit weer gesien het nie. Om die hemel te mis, is erger. Jy het vandag ’n kans om gered te word. Ek bedoel dit nie net vir ongelowiges nie, maar vir Christene wat weggedwaal het. Eintlik is dit vir elke gelowige, want wie tot die einde toe volhard, sal gered word (Matt. 10:22). Luister na wat die Here vandag vir jou sê.

 

1. Die tyd is nou (v.22-24a)

Twee maande gelede moes ’n kollega en vriend se vrou ’n operasie kry. Die dokter het vir haar gesê: ‘Ons kan nie vir die medies wag nie; ek kry jou in teater.’ Later het hy gesê: ‘As ons langer gewag het, was jy ’n sterfgeval.’ Net so kan jy nie met die ewigheid speel nie. Vandag is jou kans om gered te word: “Kyk, nou is die gunstige tyd, kyk, nou is die dag van verlossing!” (2Kor. 6:2). Jesus het dit verstaan. Hy was op pad Jerusalem toe om te sterf. Met min tyd oor wou Hy met erns die boodskap van verlossing in verskillende dorpe en stede preek (v.22, 33, 9:51).

Ons moet dieselfde boodskap hoor: “Hoe kan hulle Hom dan aanroep, as hulle nie tot geloof in Hom gekom het nie? En hoe kan hulle in iemand glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder iemand wat dit verkondig?” (Rom. 10:14). Jy hoor dit vandag. Die lewende Christus preek deur elke prediker wat sy Woord in die krag van die Gees verkondig (Hand. 1:1, 8). Spits jou ore. Die Jode het nie. Hulle moes hand in eie boesem steek en vra: ‘Is ek gered?’ In stede daarvan, toe sê iemand: “Meneer, is diegene wat verlos word, min?” (v.22).1 Hy het aangeneem die Jode is gered, terwyl die wêreld verlore gaan.2 Vandaar sy vraag of diegene wat gered word, min is. Die Bybel sê die teenoorgestelde: Jesus het nie alleen gekom om die Jode te red nie, maar die wêreld (Joh. 3:16, 11:51-52, 1Joh. 2:2). Baie uit die nasies sal gered word (v.18-19, 29, Ps. 22:28, 86:9). Wil jy een van hulle wees? Stry om deur die nou poort in te gaan (v.24a). Die Griekse woord agōnizomai (Eng. agonize) beteken konflik, worsteling, om met ’n opponent te stoei. Stry hard om in te gaan; wurm jouself deur. Stry teen sonde, die duiwel, die wêreld. Maak klaar met jouself. Gooi alles af wat keer dat jy in die koninkryk ingaan. Worstel, totdat jy deur is (Gk. praesens imperatief medium). Moenie soos Jordan Peterson tevrede wees dat jy die kerklike situasie goed opsom, terwyl jy buite staan nie!

 

2. Later is te laat (v.24b-27a)

Toe ek een Saterdag die evangelie met iemand deel, toe sê hy hy sal Sondag met die Here regmaak. Ek het hom vermaan om nie tot Sondag te wag nie, maar om die Here daardie dag aan te roep. Vier dae later is hy onverwags aan ’n hartaanval oorlede.

Later is te laat. Met verwysing na die oordeelsdag sê Jesus: “...baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie.” (v.24b). Dit spyt my dat mense wat vandag hierdie boodskap lees, in die hel sal wees. Hulle wil in die hemel wees, maar nie vir Jesus nie. Hulle wil eenvoudig van die hel ontsnap. Net soos wat baie mense gered sal word (v.29, 18-19), sal baie mense verlore gaan (v.24b). Jy het vandag ’n kans om gered te word. Die deur staan oop (Joh. 10:7, Heb. 10:20)—kom in (v.24a)! As Jesus weer kom en die deur toemaak, sal niemand dit oopmaak nie (v.25, Op. 3:7).

Dalk dink jy sy koms is nog ver, maar niemand weet wanneer Hy weer gaan kom nie. Wees gereed (12:40)! Selfs al kom Jesus eers oor 200 jaar weet jy nie wanneer jy sal sterf nie. ’n Maand gelede het ’n man op sy motorfiets geklim. Hy het nie weer huistoe gekom nie. ’n Motoris het nagelaat om by die rooi lig te stop en het in hom vasgery. Hy is dood.

Miskien hoop jy vir ’n siekbed. Jy beplan om dan dinge met die Here reg te maak. Dit is moontlik, maar dit is net so moontlik dat jy in ’n koma beland, verward is, hallusineer, of dat die Here jou hart verhard (Spr. 29:1). Klop terwyl jy kan (11:9-10). Later is te laat (v.25, Matt. 7:21, 23, 25:10-11).

Dink jy jy sal met goeie argumente Jesus se arm draai? “Ons het saam met u geëet en gedrink, en u het in ons strate onderrig gegee.” (v.26). Jou argumente beteken niks: ‘Ons het gereeld ons Sondag-beste aangetrek en die nagmaal gevier... Ek het die Woord getrou op RSG, Radio Kansel of Radio Pretoria geluister... Ek was elke Sondag in die kerk... Ek het na goeie preke op die internet geluister: Voddie Baucham, Alistair Begg, John MacArthur en ander.’

Om jou uiterlik met Jesus te assosieer, help nie. Dit help nie jy sê: ‘Ek was ’n lidmaat van die kerk... Ek is as kind gedoop... Ek is groot gedoop... Ek het op ’n kerkkamp die sondaarsgebed gebid... Ek het aan ’n Bybelkollege studeer... Ek was deel van die uitreikspan... Ons was ’n familie van predikante... Ek was ’n diaken, ’n ouderling, ’n dominee! (vgl. Matt. 7:22).’ Daar lê jou probleem: ‘Ek...’ Alles gaan oor jou. Jy het van Christus alleen vergeet. Daarom sal Hy sê: “Ek weet nie waar julle vandaan kom nie. Gaan weg van my af, julle almal wat onreg pleeg.” (v.27).

‘Ja, maar ek is ’n Christen!’ Regtig? Lewe jy soos een? As sonde jou lewe kenmerk, behoort jy nie aan Jesus nie. Hy erken jou nie as sy eie nie (v.25, 27, vgl. Gal. 4:9). Party sal sê hulle is nie goddeloos nie: ‘Ek is nie so sleg soos ander nie.’ ’n Man wat seksueel losbandig geleef het, het dit vir my gesê: ‘Dit is nie asof ek goddeloos is nie.’ Maar wat van jou geheime lewe (Rom. 2:16)?

 

3. Die verlies is te groot (v.27b-30)

Sal jy bly wees as jy vir ’n feit weet jy kry môre R100 miljoen? Sal jy nog steeds bly wees as jy vir ’n feit weet jy sal ’n dag later sterf? Wat kies jy: R100 miljoen of jou lewe? Die keuse is maklik. ’n Mens sou dink die keuse tussen Jesus en die hel is net so maklik, maar tragies kies baie mense die hel. Hulle besef nie wat hulle verloor as hulle die rug op Jesus draai nie. Alle genade, heerlikheid, seën, liefde, vrede, blydskap, troos, hoop—alles wat goed is—is in Christus. Wie Jesus verloor, verloor alles. In die hel is daar niks goed soos vir die ongelowiges op aarde nie (Matt. 5:45, Hand. 14:17). Alles is net sleg—vir ewig (Matt. 25:41, 46, Mark. 9:48).

Klink dit onregverdig of wreed? Dit is nie. Net soos wat dit outomaties donker word as die son sak, raak dinge outomaties sleg as jy van Christus af wegstap. Ongelowiges besef dit nie. Hulle sal tevrede wees met ’n hemel sonder Jesus. Maar wat is die hemel sonder Jesus? Die hel: “Gaan weg van My af... Daar sal ’n geween wees en ’n gekners van tande...” (v.27b-28). In die hel huil mense van pyn (16:24), asook oor hulle verspeelde kanse. Hulle huil, omdat hulle die hemel sien, maar nie daar kan uitkom nie (v.28, 16:23, 26). Hulle huil, omdat hulle weet die straf sal nooit ophou nie. As jy geweet het die pyn sal na rukkie ophou, was daar hoop (soos as jy tandpyn het, maar weet jy gaan môre tandarts toe). As jy egter weet die pyn eindig nooit, verander alles in totale wanhoop. Die minute voel soos ure. ’n Mens sou dink hierdie wete sal maak dat ongelowiges hulle bekeer. Maar dit doen nie. Selfs in die hel toon mense geen berou of bekering nie. Hulle kners op hulle tande van woede en vloek God se Naam (v.28, Hand. 7:54, Op. 16:10-11).

Hoe kan jy van die hel ontvlug? Aan die kruis het Jesus ’n vervloeking vir ons geword (2Kor. 5:21, Gal. 3:13). Bekeer jou en glo in Hom (Mark. 1:15). Die Jode wat hulle nie wou bekeer nie, sou Abraham, Isak, Jakob, die profete en ’n skare van heidene in die koninkryk sien ingaan, terwyl hulle uitgesluit is (v.28-29, Matt. 24:31, Op. 7:9). Moenie soos die Jode jou voorregte weggooi nie. Hulle het die goeie nuus eerste gehoor en die Messias gesien, maar die bus na die hemel gemis: “...en wie eerste is, sal laaste wees.” (v.30b). Die heidene het die evangelie laaste gehoor, in Jesus geglo, en die koninkryk verkry: “En kyk, wie laaste is, sal eerste wees...” (v.30a).

Wat sal jy met die evangelie doen? As jy aanhou uitstel, sal die Here die koninkryk by jou wegvat en vir ander gee (20:16). Jy sal geskok wees as jy sien hoe prostitute en tollenaars voor jou in die koninkryk ingaan (Matt. 20:31); hoe die armes, gestremdes, ander rasse, die persoon wat jou irriteer die koninkryk ingaan, terwyl jy uitgesluit word (v.30).

Dalk pla dit jou dat ek die laaste paar weke die evangelie met gelowiges deel. ‘Ons is gered!’ sê jy. ‘Ken jy nie ’n ander deuntjie nie? Het jou kitaar net een snaar?’ Ek is besig met ’n reeks deur Lukas. Jesus het hierdie dinge vir sy uitverkore volk gepreek. As Hy dit gedoen het, is dit seker belangrik. As Hy dit gesê het, wil ek nie iets anders sê nie. Dit is veral nodig in die tye waarin ons leef. Die wêreld is goddeloos; belydende Christene se liefde vir die Here verkoel (Matt. 24:12). Solank as wat mense sonde in hulle lewe en die kerk toelaat, sal ek bekering preek. Ek sal soos die ou prediker wees. Toe iemand hom vra wanneer hy sal ophou om bekering te preek, toe sê hy: ‘Wanneer mense hulle bekeer.’


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  Mishna Sanhedrin 10:1. Verkry by https://www.sefaria.org/Mishnah_Sanhedrin.10.1?lang=bi

Kategorieë