Coram Deo Cover Image

Coming soon...

13 January 2014

Jou handleiding vir 'n gelukkige huwelik

Sleeping Couple by Jan Steen

21 Toe het die HERE God ‘n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak. 2  En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ‘n vrou en bring haar na die mens. 23 Toe sê die mens:  Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees.  Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. 24 Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef.  En hulle sal een vlees wees. 25 En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.” (Genesis 2).

 

Voor die troue (v.21)

Toe God vir Eva gemaak het, het Adam nie gesien hoe die werk vorder nie.  Hy het nie 'n before en after gesien nie.  Hy sou net die finale produk gesien het.  Sy asem was weggeslaan.  Soos met Eva, is God besig om die kerk mooi te maak en voor te berei vir haar Bruidegom, Christus.  Efesiërs 5:26-27 sê dat Hy die kerk “gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.”

 

Om sy plan te bereik het God 'n diep slaap (dalk soos 'n tipe narkose) oor Adam gebring (cf. 15:12, 1 Samuel 26:12).  Uit Adam se sy (rib) het Hy vir Eva gemaak.  Ons onthou ook hoe ons nuwe lewe gekom het toe Jesus aan die kruis gesterf het, in daar 'n spies in sy sy gesteek is:  “Maar een van die soldate het met ‘n spies in sy sy gesteek, en dadelik het daar bloed en water uitgekom.” (Johannes 19:34).  Die Hebreërskrywer verduidelik:  “Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus...laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.” (Hebreërs 10:19, 22).

 

In v.21 sien ons die eerste genesing.  God het die ‘operasie wond’ genees deur dit met vlees op te vul.  Leer hierdie vers dat mans minder ribbes het as vroue?  Nee.  Adam sou net vir 'n paar weke 'n rib gekort het.  Die mediese wêreld leer vir ons dat ribbes wat verwyder word teruggroei as die periosteum (die weefsel om die rib) in plek bly.  Selfs al het die rib nie teruggegroei nie, sou Adam se nageslag nogsteeds nie 'n rib gekort het nie.  As 'n slagter sy vinger verloor beteken dit mos nie dat al sy kinders net 9 vingers sal hê nie.

 

Die feit dat die vrou uit en ná die man gemaak is, wys vir ons dat die man die hoof is van die huis.  Dit is hoe die Nuwe Testament dit verstaan:  “die man [is] die hoof van die vrou...Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man.  Want die man is ook nie ter wille van die vrou geskape nie, maar die vrou ter wille van die man.” (1 Korintiërs 11:3, 8-9).  “Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou.  Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva.” (1 Timoteus 2:12-13).  Evolusie leer dat die man uit die vrou is.  Die Bybel leer dat die vrou uit die man is.

 

Mans en vroue het mekaar nodig.  Soos wat die vrou uit die man gemaak is, word die man uit die vrou gebore (1 Korintiërs 11:11-12).  1 Korintiërs 11:3 sê dat God die hoof is van Christus, Christus van die man en die man van die vrou.  Beteken die Vader se hoofskap oor die Seun dat hulle nie in elke opsig gelyk is nie?  Nee.  Net so beteken manlike hoofskap nie dat mans en vroue nie ewe veel mens is nie.  Vroue is mede-erfgename van die genade van die lewe saam met hulle mans (1 Petrus 3:7).  Die feit dat Eva uit Adam se sy gemaak is wys vir ons dat sy langs hom staan, dat sy Adam se gelyke is.  Die man moet dus nie sy vrou onderdruk, asof sy minder is en nie ingeligte besluite kan neem nie.

 

Die troue (v.22-23)

In moderne troues oorhandig die pa sy dogter aan haar nuwe man.  Net so het God vir Eva na Adam toe gebring en haar aan hom oorhandig.  Toe Adam haar sien, het hy uitgebreek in poësie en sang:  “Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees.  Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem.” (v.23).  Laat ons sy voorbeeld volg en ons vroue meer komplemente gee en ook goedpraat voor ander.

 

Wat bedoel Adam wanneer hy sê dat Eva sy vlees en bene is?  Hy bedoel letterlik dat Eva uit sy sy gemaak is.  Die frase ‘vlees en bene’ word ook gebruik om te wys dat iemand familie is, of dat iemand baie na aan jou is (cf. 29:14).  Paulus gebruik dit van ons eenheid in die huwelik, asook van 'n geestelike eenheid met Christus:  “So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente.  Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene.” (Efesiërs 5:28-30). 

 

Adam noem vir Eva mannin (die feit dat hy vir haar 'n naam gee wys sy hoofskap oor haar, cf. v.20).  Dis verouderde Afrikaans.  Ek weet nie eers of die woord ooit in Afrikaanse spreektaal gebruik is nie.  Adam se punt was eenvoudig, dat die mannin uit die man geneem is.  In Engels sien 'n mens dit makliker raak:  ‘She shall be called woman, for she was taken out of man’.  In Hebreeus is die woord vir man ‘ish.  Vrou is ‘isha.  Die vrou neem dus haar man se naam aan.  Vandag nog werk dit so:  Ardé (my vrou se nooiens van) word Jefferies (my van).  Die vrou neem die man se naam aan en nie andersom nie.  Ook Christus se bruid neem sy naam aan:  Christen.  Openbaring 3:12 sê dat gelowiges Jesus se nuwe Naam sal kry.

 

In Christus is “daar nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.” (Galasiërs 3:28).  In die Here is mans en vroue broers en susters.  Dis duidelik dat ons mekaar komplementeer en nie vyande is nie.  Dis immers hoe dit móét wees as die vrou uit die man geneem is.  Omdat dit so is moet mans nie saam met hulle kollegas lelik praat van vroue se liggame nie.  Moet hulle nie seksueel teister nie – ook nie met jou oë of gedagtes nie.  Moenie verbaal, fisies of emosioneel aggressief wees nie.  Moet jou vrou nie intellektueel boelie nie.  Vroue:  moenie aantrek om mans te verlei nie.  Moenie suggestiewe dinge sê, jou oë flikker of mans deur jou maniertjies wil versoek nie.  Moenie jou man se posisie van leierskap soek nie.  Moenie saam met ander vroue sleg praat van jou man nie.  Moenie kla oor 1 Timoteus 2:11-12 nie:  “Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid.  Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou.  Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva.”  As evolusie waar is, moet mans en vroue teen mekaar veg.  Hulle glo immers in ‘survival of the fittest’.  Christenskap leer dat mans en vroue nie vyande is nie, maar vriende.

 

Na die troue (v.24-25)

God het nie 'n ouer en kind in die tuin gesit nie, maar 'n man en sy vrou.  Die belangrikste menslike verhouding is dan nie pa en seun of ma en dogter nie, maar man en vrou.  Die Skrif sê dat 'n kind sy ouers moet verlaat, maar dat 'n man en vrou mekaar nooit moet verlaat nie (v.24).  Dis nie net die man wat sy ouers moet verlaat nie (v.24).  Die vrou moet dit ook doen (Psalm 45:11).  Om jou ouers te verlaat beteken nie noodwendig dat jy in 'n ander huis moet bly nie.  Jy kan in dieselfde huis bly en jou ouers verlaat.  Of jy kan 5000km weg bly, sonder dat jy hulle verlaat het.  Party kinders se ouers is oorlede, en hulle het nogsteeds nie hulle ouers verlaat nie.  Om jou ouers te verlaat beteken dat jy jou eie gesin begin.  Jy lewe nie meer in afhanklikheid van jou ouers nie.  Die nuwe gesin word 'n selfstandige besluitnemings-eenheid. 

 

Het jy jou ouers verlaat?  Toets jouself: 

 

  • Kan jy groot besluite neem sonder jou ouers? 
  • Bel jy jou ouers om dubbel seker te maak as jou huweliksmaat sy of haar opinie lig? 
  • Soek jy jou ouers se leiding eerder as jou huweliksmaat s'n? 
  • Bel jy dadelik jou ouers as 'n probleem opduik? 
  • Het jy 'n beter vriendskap met jou ouers as met jou huweliksmaat? 
  • Deel jy geheime met jou ouers wat jy nie met jou huweliksmaat deel nie? 
  • Baklei jy en jou huweliksmaat baie oor jou ouers? 
  • Meng jou ouers gedurig in jou huwelik of gesin (die kinders) in, terwyl jy niks daaraan doen nie? 
  • Is jy finansieel afhanklik van jou ouers? 
  • Staan jy en jou ouers saam wanneer jy met jou huweliksmaat vassit? 
  • Voel jou huweliksmaat geïntimideer deur jou ouers?  Is daar 'n toutrekery aan die gang met jou huweliksmaat aan die eenkant, jou ouers aan die anderkant en jy in die middel? 
  • Gaan jy dikwels sonder jou huweliksmaat op vakansie saam met jou ouers (ek praat nie van gevalle waar jy gedwing is om te werk nie)? 
  • Blammeer jy jou huweliksmaat omdat jy nie jou ouers wil teleurstel nie:  ‘Jammer ons kan nie vir ete kom nie – my vrou wil nie hê ons moet kom nie’? 

 

Ouers, het jy jou kind verlaat?  Toets jouself: 

 

  • Voel jy seergemaak as jou kind vriende vir ete kry, en jy nie genooi is nie? 
  • Is jy jaloers op jou kind se skoonouers:  ‘Hulle sien die kleinkinders meer as ons!’
  • Voel jy bitter of jaloers teenoor jou skoonkind? 
  • Baklei jy met jou skoonkind? 
  • Praat jy sleg van jou skoonkind? 
  • Is jy lief vir jou skoonkind asof hy/sy jou eie is?  Bewys jou dade dit? 
  • ‘Gang’ jy en jou kind saam op teen jou skoonkind?
  • Gee of leen jy vir jou kind geld om hom/haar afhanklik van jou te hou? 
  • Wil jy in beheer wees van jou kind se besluite:  ‘Waar hy/sy bly en werk, hulle die kinders skool toe stuur, wat hulle kinders se name moet wees, ensovoorts’? 

 

As jy in hierdie opsig gesondig het, moet jy dit bely en uitpraat met jou skoonkind/skoonouers.  Verwag dat dit pynlik sal wees.  Wys baie liefde.  Ouers met jong of ongetroude kinders:  berei jou kinders voor om die huis te verlaat.  Leer vir hulle hoe om besluite te neem.  Gee vir hulle meer en meer verantwoordelikheid soos wat hulle ouer word.  Sê en wys vir jou kinders dat jou huweliksmaat vir jou belangriker is as hulle.  Bowenal moet jy vir hulle Jesus wys in jou huwelik:  “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.  Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam.  Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.  Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het.” (Efesiërs 5:22-25).

 

Vers 24 impliseer letterlik dat die man sy vrou soos gom sal aankleef (v.24).  So is dit ook met die geestelike eenheid tussen Christus en die kerk:  “Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees word.  Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente.” (Efesiërs 5:31-32).  Die eenheid van die liggaam in seksuele intimiteit is 'n uitdrukking van 'n baie dieper eenheid in die huwelik.  Maleagi 2:15 sê van die man en die vrou:  “Did He not make them one, with a portion of the Spirit in their union?” (ESV).  Duidelik is daar 'n groter eenheid waarvan seksuele eenheid maar net die uitdrukking is.  Ek glo egter nie dat hierdie vers enigiets te doen het met die charismatiese teologie van geestesbande nie.  Hulle glo dat daar 'n geestesband (‘soul tie’) gebreek moet word wanneer 'n man en vrou buite die huwelik gemeenskap het.  Dis onsin.  Die Skrif beveel eenvoudig dat mense wat rondgeslaap het hulle sondes moet bely en daarmee moet ophou (1 Johannes 1:9, Johannes 8:11).  Party mense sê dat twee persone wat saamgeslaap het getroud is in God se oë.  Dis twak.  Jy word wel een liggaam met so iemand (1 Korintiërs 6:16), maar Jesus sê vir die immorele vrou:  “jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie.” (Johannes 4:18).  As saamslaap gelyk is aan trou, bestaan daar nie iets soos seks voor die huwelik nie.  Om te trou is om 'n verbond te sluit met 'n ander persoon en met God.  So sê die Bybel dit: 

 

“Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef.  En hulle sal een vlees wees.” (v.24).

 

Salomo praat van die egbreekster “wat die vriend van haar jeug verlaat, en die verbond van haar God vergeet” (Spreuke 2:17).

 

Maleagi sê dat “die HERE getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond.”

 

Beide ‘man’ en ‘vrou’ staan in 'n enkelvoud.  Die implikasie?  Poligamie (om meer as een vrou te hê – soos Jacob Zuma – is sonde).  En omdat God se definisie vir die huwelik ‘man’ en ‘vrou’ insluit, is dit geen huwelik wanneer mense van dieselfde geslag met mekaar ‘trou’ nie.  Die feit dat man en vrou een vlees word, sê vir ons dat egskeiding sonde is:  “Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees?  Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.” (Matteus 19:5-6).  En as God sê dat jy jou ouers moet verlaat, jou maat moet aankleef en een vlees word, beteken dit dat saambly onaanvaarbaar is:  “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.” (Hebreërs 13:4).

 

'n Definisie vir die huwelik is dan:  'n Lewenslange verbond tussen een man, een vrou en God. 

 

Die eenheid tussen 'n man en 'n vrou wys vir ons dat die mens na God se beeld gemaak is.  Die Vader, Seun en Heilige Gees is verskillende Persone, en tog is hulle Een God.  Net so is die man en die vrou verskillende persone, en tog word hulle een in die huwelik.

 

Dit gebeur baie min dat seksuele probleme fisies van aard is.  Meer as dikwels is die man en vrou op ander vlakke nie een nie, en daarom is hulle dit ook nie in die slaapkamer nie.  Hoe kan jy groei in jou eenheid in die huwelik? 

 

[1] Wees geestelik een.  Bid saam, dien saam, lees saam Bybel, en wees saam betrokke in die kerk.  As jy dit kan help sal dit goed wees om nie apart kerk by te woon nie (ek bedoel, dat jy en jou maat aan verskillende gemeentes behoort).  Soek vir jou 'n kerk wat ernstig is om die Bybel te preek en te gehoorsaam. 

 

[2] Wees teologies een.  Sorg dat julle die groot teologiese verskille uitwerk voordat julle trou.  Jy wil nie dag na dag vassit oor die gawe van tale, die doop of uitverkiesing nie.  Bestudeer die Skrif, luister na preke oor die spesifieke onderwerp en lees goeie boeke totdat julle saamstem.  Wees geduldig en moenie jaag om by 'n antwoord uit te kom nie.  Wees nederig om te erken as jy verkeerd was.  Wees versigtig om nie te veg oor kleiner dinge soos die wegraping of die beste Bybelvertaling nie. 

 

[3] Wees een in julle verstaan van huweliksrolle.  Wat beteken dit om die hoof van jou vrou te wees soos Christus die hoof is van die kerk?  Wat beteken dit om onderdanig te wees aan jou man soos die kerk onderdanig is aan Christus?  Hoe beïnvloed dit wie die geld spandeer en besluite neem?  Beteken dit dat die man in beheer is, en dat die vrou nie 'n sê het nie?

 

[4] Wees een in jou ouerskap.  Besluit vooraf wie die kinders moet tugtig, wat die Bybelse metode vir tug is, of die kinders lekkers mag eet, waar hulle moet skoolgaan, watse reëls julle in die huis gaan hê, wat volgens júlle goeie en slegte maniere is.  Tedd Tripp se boek, Shepherding a Child’s Heart is een van die beste hulpmiddels op die mark.  Jy sal ook hulp vind in Paul Tripp se DVD reeks, Getting to the Heart of Parenting.  Efesiërs 6:4 sê dat jy jou kinders moet opvoed “in die tug en vermaning van die Here.”  Man en vrou moet saamwerk in die opvoeding van hulle kinders.  Dis nie net een ouer se plig, omdat die ander ouer nooit by die huis is nie.

 

[5] Wees een in finansies.  Besluit hoeveel julle gaan gee vir die Here se werk.  Gaan julle skuld maak?  Gaan julle vir bedelaars geld gee?  Wat glo julle oor versekering?  Wil julle eiendom koop?  As jy dit kan bekostig, sal dit goed wees as elkeen ‘n bedrag kry vir sakgeld; ‘n bedrag wat jy kan spandeer soos jy wil.

 

[6] Wees sosiaal een.  Moenie dat jou vriendskappe jou huwelik benadeel nie.  Moenie soveel uit wees met jou vriende, dat jy nie genoeg tyd gee aan jou huweliksmaat nie.  Moet verskieslik nie beste vriende maak met iemand van die teenoorgestelde geslag nie.  Maak eerder vriende met ander getroude paartjies. 

 

[7] Wees emosioneel een.  Respekteer die feit dat jou huweliksmaat anders is as jy (1 Petrus 3:7).  Moenie op hom/haar neersien omdat julle nie die selfde ‘gewire’ is nie (ek vra verskoning vir my aaklige Afrikaans!). 

 

[8] Wees een in kommunikasie.  Deel feite, emosies, drome, vrese, gedagtes, begeertes en jou eie geestelike groei met jou huweliksmaat.  Wees baie by die huis en probeer om saam te wees vir ete. 

 

[9] Wees een in ontspanning.  Gaan soms alleen uit met jou huweliksmaat (sonder die kinders).  Gaan saam op vakansie.  Beoefen stokperdjies saam (byvoorbeeld tuinwerk).  

 

[10] Wees fisies een.  Ek praat nie hier van seksuele eenheid nie.  Ek bedoel dat jy die fisiese verskille tussen jou en jou maat moet aanvaar.  Moenie jou maat afbreek, omdat hy ‘n groot neus het, of omdat sy lomp en nie sportief is nie.  God het hierdie dinge so bepaal.  Aanvaar dit.  Moenie op ‘n lelike manier vir jou vrou sê dat sy dik word, of dat jou man se pens groot word nie.  Hoekom stap of gym julle nie eerder saam nie?  Hoekom ry julle nie saam fiets nie?

 

Bowenal moet jy nederig wees.  Hoogmoed (‘Dinge moet gebeur soos ek sê!’) maak dat getroude paartjies baklei.  Natuurlik kan jy net nederig wees as jou hart deur die evangelie verander is, as jy jouself verloën het en Jesus volg.  Hoekom moet dinge op jóú manier gedoen word?  As jou maat se manier nie teenstrydig is met die Skrif nie, kan jy mos dinge doen soos hy/sy wil hê. 

 

Gee jou liggaam, jouself, jou alles vir jou maat (v.25).  Hou jy iets terug?  Steek jy dinge weg?  Het jy geheime (ek praat nie van verrassingspartytjies nie) wat jy van jou maat weerhou?  God weet alles.  Praat met ‘n volwasse Christen en vra vir raad.  As die omstandighede dit vereis, moet jy die geheime met jou huweliksmaat deel en belydenis doen as daar sonde is.  Weerhou jy jou liggaam, omdat jy skaam is oor jou seksuele verlede?  As jy voor jou huwelik (of daarna) ontrou was, moet jy jou sondes bely.  God sal jou vergewe (1 Johannes 1:9).  As jy seksueel misbruik is deur ander, hoef jy geen skaamte te hê nie.  Jy hoef nie skuldig of vuil te voel nie.  Jy het nie gesondig nie.  Bid dat God jou vyande sal seën en weet dat Hý wraak sal neem (Lukas 6:28, Romeine 12:19).  Is jy dalk iemand wat seksueel losbandig is of onbeskeie aantrek, maar nie skuldig voel nie?  Adam en Eva was nie skaam toe hulle naak was nie, maar onthou dat hulle man en vrou was!  As jy halfnaak is voor ander mense en nie skaam voel nie, wys dit dat jou gewete hard is:  “hulle eer is in hulle skande” (Filippense 3:19).  Jy loop die gevaar om jou gewete te skroei, sodat jy later erger dinge voor ander sal doen sonder om skaam te wees.  Jy moet jou bekeer en vra dat God jou gewete sal sag maak.  Jy moet na die kruis toe kom waar Jesus naak gehang het en jóú skande op Hom geneem het.  Sodoende sal jy skaam wees oor jou sonde.  As God jou vergewe het, hoef jy geen meer onnodige skuld en skande te hê voor Hom en mense nie.

Kategorieë