Johannes 3:16c

Op ’n advertensiebord in Pretoria staan daar:

Jesus loves you *

John 3:16

* No terms and Conditions

In ’n sekere sin is dit so, omdat niemand God se liefde verdien nie. Maar in ’n ander sin is dit onwaar, omdat Joh. 3:16 bepalings en voorwaardes het: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”1

 

1. Hoekom red God ons?

Free Grace Baptist Church.

Sovereign Grace Ministries.

Hierdie twee bedieninge verkondig God se soewereine en vrye genade in verlossing. Niemand het God gedwing, omgekoop of gemanipuleer om sondaars te red nie. Sy liefde kom uit die hart (v.16). Dit is vrywillig. Om sondaars te red, is deel van wie Hy is, naamlik die Verlosser (4:42, Tit. 1:3-4, 2:13, 3:4, 6).

God straf nie gewilliglik nie. Sy barmhartigheid triomfeer oor sy oordeel (Ps. 103:8-13, Rom. 5:20, Jak. 2:13). Dit is nie sy wil dat mense verlore gaan nie, maar dat hulle gered moet word (v.16-17, Jes. 15:5, 16:9, 11, Eseg. 18:23, 32, Hos. 11:8, Luk. 13:34, 19:41-42, 1Tim. 2:4, 2Pet. 3:9). Indien Hy mense straf, is dit omdat daar geen ander uitweg is nie (2Kron. 36:16). Jesaja praat van God se straf as sy vreemde werk (Jes. 28:21). God is nie wreedlustig nie. Hy geniet dit nie om mense te straf nie, maar om hulle te red.

Kan jy die Here dan blameer as jy of jou geliefdes verlore gaan? Verseker nie. Die rede hoekom mense verlore gaan, is omdat hulle nie na Jesus toe wíl kom nie (3:20, 5:40).

 

2. Wie kan gered word?

Twee weke gelede moes ’n groep mans by my huis kom stort. Die gastehuis waar hulle gewoon het se krag was af. Voor hulle gekom het, het die eienaar hulle gevra: ‘Wie van julle wil by die predikant se huis gaan stort?’ Toe ’n sekere man in die ry staan om saam te kom, het sy kollegas vir hom gelag. ‘Not even Jesus can help this man,’ het hulle gesê. Blykbaar was die betrokke man baie sleg. Sy kollegas se woorde het hom gesny, maar wat hulle gesê het, was verkeerd. Volgens v.16c is God se verlossing beskikbaar vir elkeen wat in sy Seun glo. Laat niemand dus wanhopig raak, asof sy kanse op verlossing verby is nie.

Maar wat as ek die onvergeeflike sonde gepleeg het? John Bunyan het hieroor gewonder,2 maar volgens v.16 is daar verlossing vir elkeen wat glo. Enigiemand wat in Jesus wil glo, het nie die onvergeeflike sonde gepleeg nie.

Wat as ek nie uitverkies is nie? Elkeen wat glo, sal gered word (v.16). As jy in Jesus glo, wys dit jy ís uitverkies (Hand. 13:48, 1Tess. 1:4-5, 2Tess. 2:13).

Wat as ek die Here vra om my te red, maar dit voel of Hy my nie antwoord nie? Elkeen wat glo, sal gered word (v.16). Glo wat die Here in hier sê.

Wat as ek baie erg gesondig het of selfs die Here gevloek het? Elkeen wat glo, sal gered word (v.16). Vra maar vir Paulus (1Tim. 1:13-15).

The vilest offender who truly believes,

that moment from Jesus a pardon receives.3

Wat as ek die waarheid ken en my rug daarop gedraai het? Elkeen wat glo, sal gered word (v.16). Dawid, Petrus en ’n man in die Korintiër-gemeente het geweet wat reg is, maar hulle rug daarop gedraai. Toe hulle in die Here glo om hulle te vergewe, het Hy sy belofte nagekom (Psalm 51, Luk. 22:31-34, 54-62, 24:34, Joh. 21:15-19, 1Kor. 5, 2Kor. 2, 1Joh. 1:9).

Wat as ek oud is en my lewe lank uitgestel het en nou op my sterfbed lê? Elkeen wat glo, sal gered word (v.16). Die dief aan die kruis se lewe is ’n getuienis hiervan (Luk. 23:39-43). Bill Sykes is ’n getuienis hiervan. Hy was baie siek en naby sy einde. ’n Evangelis het hom besoek en gevra of hy uit iets uit die Bybel kan lees. ‘I don’t care—anything you like,’ het hy geantwoord. Toe die evangelis ’n teks oor wedergeboorte lees, was sy reaksie: ‘That’s very funny.’

Die evangelis was verbaas, maar hy het weer vir Bill besoek. Bill het nie in die evangelie belanggestel nie. Toe die evangelis egter ’n paar dae later opdaag, toe sê Bill: ‘Do pray with me. I want to be saved.’ Die evangelis het aangehou om hom te besoek. Bill was bekommerd oor sy eie siel. Die evangelis het hom van Jesus se dood vir ons sondes vertel en Jes. 43:25 aangehaal: ‘I, even I, am he that blotteth out thy transgressions for mine own sake, and will not remember thy sins.’ Bill Sykes het vrede met God gevind. Toe die evangelis hom die volgende keer besoek, was sy eerste woorde: ‘I will not remember thy sins.’

Twee dae later het die evangelis hom weer besoek. Bill se seun was daar.

‘Give him that little bit,’ het Bill gesê.

‘What bit?’

‘That little bit about Christ, and how he had my punishment for me. That’s the bit.’

Nog ’n paar dae later het ’n leraar genaamd Archibald Brown vir Bill besoek. Bill het sy getuienis gedeel. ‘Aye, Sir, it was that little bit that did the business.’ Net daar het Brown en die evangelis hulle voorgeneem om ‘that little bit’ die sentrale tema van elke boodskap te maak.4

Maar wat as ek ’n jong kind is? Elkeen wat glo, sal gered word (v.16). Jesus het gesê: “Hy het toe ’n kindjie nader geroep, hom tussen hulle laat staan en gesê: Amen, Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemele ingaan nie. Wie homself dus gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemele.” (Matt. 18:2-4).

Jonathan Edwards vertel van ’n vierjarige meisie (Phebe Bartlet) wat tydens die herlewing tot bekering gekom het. Volgens Edwards het die vrug van Phebe se lewe bewys dat haar bekering eg was.5 Ek is seker die Here kan jou ook red, al is jy jonk.

Wat as ek die Here deur ’n okkultiese ritueel afgesweer het? Elkeen wat glo, sal gered word (v.16). As Jesus demoonbesete mense kan red, kan Hy jou red (Luk. 8:2, 26-39). ’n Sekere mev. Kwo van China was demoonbesete. Toe ’n Christen genaamd Leng vir haar wou bid, toe antwoord ’n stem: ‘Ek woon al vir agt jaar in haar. Jy sal my nie uitkry nie.’ Toe Leng na ’n paar maande terugkeer om vir mev. Kwo te bid, was sy in die kerk besig om Bybels rond te gooi. ‘Ek sal nie uitgaan nie! Ek sal in haar bly en haar dood veroorsaak!’ het die demoon geskreeu. Leng en die ander gelowiges het aangehou bid. Mev. Kwo het bedaar en die Christene bedank. Sy het in Christus geglo en die vrug van bekering begin dra. ’n Paar maande later is sy gedoop.’6

Wat as ek arm is en die Here niks kan bied nie? Elkeen wat glo, sal gered word (v.16). Jesus het ook vir die armes gekom (Jak. 2:5).

Wat as ek ryk is—dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die hemel te kom (Matt. 19:23-24)? Elkeen wat glo, sal gered word (v.16). Josef van Arimatea en Saggeus was ryk. Jesus het albei van hulle gered (Matt. 27:57, Luk. 19:1-10).

Wat as ek in die kerk grootgeword het en vir jare gedink het ek is gered, maar nie is nie? Ek was so. My tweede oudste dogter was so. Verskeie mense in ons gemeente was so. Elkeen wat glo, sal gered word (v.16).

Wat van rou heidene wat geen Christelike agtergrond het nie? Voordat St. Patrick (386-461 n.C.) in Ierland gekom het, was die Iere so. Toe Patrick die evangelie met hulle deel, het die Here hulle gered.7 Elkeen wat glo, sal gered word (v.16).

Wat van babas of mense wat verstandelik gestrem gebore is en nie kán glo nie? Jesus het vir hulle sterf en God is by magte om hulle te wederbaar. Toe Dawid se baba oorlede is, is hy hemel toe (2Sam. 12:22-23). Johannes die Doper is van die moederskoot af met die Heilige Gees vervul (Luk. 1:15). En kan die Here dit nie nog steeds vir mense doen nie?

Wat van mense wat nooit die evangelie hoor nie? Volgens Billy Graham en C.S. Lewis sal hulle hemel toe gaan. Die Bybel sê hulle sal nie. Hulle het geen verskoning vir hulle sonde nie. Hulle het geweet dat daar net een God is en tog het hulle gekies om die skepsel eerder as die Skepper te aanbid en met hulle sonde aan te hou (Rom. 1:18-32). As hulle begeer om die ware God te ken, sal Hy iemand met die boodskap van verlossing na hulle toe stuur. Hy het dit met Cornelius gedoen (Hand. 10). Hy het dit vir ’n Inca-stamhoof in Peru gedoen. Die stamhoof het opgemerk hoe die son elke dag opkom en weer ondergaan. ‘Net soos wat ek vir jou stuur, stuur iemand hierdie son,’ het hy vir een van sy onderdane gesê. ‘Hierdie son is nie god nie. Ons moet dit nie aanbid nie.’ Kort daarna het die Here sendelinge gestuur om die evangelie met die hoofman en sy stam te deel.8

Daar is geen verlossing buite Christus nie (14:6, Hand. 4:12, Rom. 10:13-17, 1Tim. 2:5). Bepalings en voorwaardes geld.

 

3. Hoe kan jy gered word?

Toe ek Vrydagoggend die evangelie met ’n Afrikaanse vrou deel, toe sê sy: ‘Ek weet ek gaan hemel toe, want ek is gedoop. Joh. 3:5 sê as iemand uit water en Gees gebore word, sal hy die Koninkryk ingaan.’ Ek het die vers aan haar verduidelik en gewys dat die doop niemand red nie. Volgens v.16 word ons deur geloof gered. God open ons harte en gee aan ons die vermoë om in Hom te glo (Ef. 2:8-9, Fil. 1:29). Tog gaan Hy nie namens jou glo nie. Jý moet in Hom glo (v.16, Gk. aktief enkelvoud). Jou ouers of grootouers kan dit nie vir jou doen nie. Jy moet glo. Jy moet dit nou doen en jy moet dit aanhoudend doen (v.16, Gk. praesens aktief).

Wat is hierdie geloof? Dit is nie ’n blinde geloof waardeur jy ’n kans vat in die hoop dat Jesus waar is nie. Om te glo beteken dat jy genoegsame bewyse het dat iets waar is, al het jy dit nie gesien nie. Al het nie een van ons Hom gesien nie, bied Jesus se lewe, werk en die getuies wat Hom gesien het genoegsame bewyse dat die Bybelse rekord aangaande Hom waar is (5:36, 14:11, 20:28, 1Kor. 15:3-8).

Volgens die liberales kan jy in jou hart glo, al het Jesus nie histories en liggaamlik uit die dood opgestaan nie. Om so te redeneer is onsin, omdat Bybelse geloof gebaseer is op feite: “Geloof, egter, is sekerheid van die dinge wat gehoop word, ’n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.” (Heb. 11:1). Indien jou geloof nie op historiese feite gebou is nie, glo jy fabels uit iemand se verbeelding. En wat is dan die verskil tussen ’n kind se geloof in ’n fiktiewe Kersvader en Christene se geloof in Jesus van Nasaret?

Geloof gaan ’n stap verder. Om bloot die feite te glo, is nie genoeg nie. Die duiwels glo ook en hulle sidder (Jak. 2:19). Om waarlik te glo, moet jy die feite aanneem en dit jou eie maak. Dan is daar nog een stap. Jy moet Jesus as jou persoonlike Verlosser ontvang (1:12). Ons glo immers nie in iets nie, maar in Iemand: “in Hom” (v.16). Soos jy jou bed vertrou om jou gewig te dra, moet jy Jesus vertrou om jou te red en jou sondes te vergewe.

Moenie jou geloof met godsdiens of goeie werke meng nie—vertrou op Christus alleen (Rom. 3:28, Fil. 3:4-9). Moenie eers in jou geloof glo en vra of jy genoeg geloof het nie. Glo in Jesus (v.16). Dit is waaroor v.14-15 gaan: “En net soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die Mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe sal hê.” Jesus verwys hier na Numeri 21. Die Israeliete het teen God gemurmureer. Hy het giftige slange onder hulle ingestuur. Toe baie van hulle van die gif omkom, het hulle by Moses gehuil: ‘Ons is jammer oor ons sonde. Vra die Here om die slange weg te vat!’ Die Here het vir Moses gesê om ’n koper slang te maak en dit op ’n paal te sit. ‘Almal wat na die slang kyk, sal gesond word,’ het Hy deur Moses vir die volk gesê. Almal wat na die slang gekyk het, is genees. Dié wat nie gekyk het nie, het gesterf.

Wat as iemand nie baie goed kon sien nie? Wat as iemand katarakte gehad het? Wat as iemand besig was om blind te word? Dit maak nie saak nie. Hulle moes na die slang kyk en nie bekommerd wees oor hoe goed hulle kon sien nie.

Net so gaan dit nie oor hoe groot jou geloof is nie. Al is jou geloof so groot soos ’n mosterdsaad; dit is genoeg (Luk. 17:6). Thomas Watson sê: ‘A weak faith may receive a strong Christ.’9 Die vraag is nie hoe sterk jou geloof is nie, maar in wie jy glo. Glo jy in jouself, jou goeie werke, jou godsdiens of in Jesus?

Geloof in Jesus as die Verlosser (v.16) beteken jy glo Hy kan jou van jou sonde en die verdiende straf red (Joh. 8:32, 36, Op. 1:5). Om dan soos sommige te sê jy hoef jou nie te bekeer nie, solank jy net die feite aangaande Jesus glo, is verkeerd. Bekering deel van geloof soos lig en hitte deel is van die son (Mark. 1:15, Hand. 20:21). Ons glo tog in die Here Jesus Christus (Luk. 6:46, Hand. 16:31, Rom. 10:9-10). Jou belydenis dat Jesus die Here is, impliseer dat jy jou van jou sonde bekeer en die knie voor Hom buig. Geloof sonder bekering is die geloof van duiwels (Jak. 2:19, 14-26). Redding is deur geloof alleen (Ef. 2:8-9), maar die geloof waardeur ons gered word, bly nooit alleen nie—dit loop uit op goeie werke (Ef. 2:10).

As jy hierdie geloof het, geld v.16c vir jou: “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”

 

4. Waarvan red God ons?

R.C. Sproul het ’n boekie oor verlossing geskryf. Die titel is: Saved from what? Waarvan het die Here ons gered? Joh. 3:16 gee die antwoord: God red ons van Homself; Hy red ons van die straf wat ons vir ons sonde verdien. Hy red ons, sodat ons nie verlore sal gaan nie. Die Griekse woord vir verlore gaan (apollumi) is ’n intensiewe vorm en verwys na een wat tot die uiterste toe verlore gaan, wat geheel en al verwoes word (v.16, Matt. 10:28). Dit beteken nie dat God die goddelose uitwis soos sommige sê nie. Ons weet dit, omdat Johannes ‘verlore gaan’ en ‘die ewige lewe’ met mekaar kontrasteer (v.16). Om verlore te gaan, is vir ewig. Volgens Jesus is die hel so ewig soos die hemel: “Hierdie mense sal weggaan na die ewige straf, maar die regverdiges na die ewige lewe.” (Matt. 25:46).

Dit is vreeslik, maar dit is wat die goddelose verkies. Deur hulle lewe het hulle vir die Here gesê: ‘Los my uit.’ Uiteindelik gee Hy wat hulle wil hê. Hulle soek nie God se liefde, die geskenk van sy Seun, sy vergifnis en ’n ewigheid by Hom nie. Hulle soek nie Joh. 3:16 nie. ’n Ateïs het vir my gesê: ‘Ek benodig nie ’n offer vir my sondes nie.’ Hierdie mense verkies ’n samelewing waar elkeen kan doen wat hy wil (Rom. 1).

As die Here mense totaal aan hulle luste en drange oorgee, kry jy die hel; ’n plek vol verwoesting en haat. Die goddelose kan geen verskoning vir hulle dade aanbied nie, maar hulle sal erken dat die Here reg doen om hulle te straf (Rom. 3:19). God sal alle sonde straf: aan die kruis of in die hel (v.16, Rom. 3:25, 2Tess. 1:9). Vir dié wat in Jesus glo, word die meriete van sy kruisdood aan hulle toegereken (2Kor. 5:21, Kol. 2:14). Vir dié wat Hom verwerp en hulle sonde kies, is die hel hulle voorland (Op. 14:10-11).

Dit is egter onnodig dat jy hel toe gaan. John Duncan het gesê: ‘Men evangelized cannot go to hell but over the bowels of God’s great mercies. They must wade to it through the blood of Christ.’10 Joh. 3:16 staan soos ’n berg tussen die hel en die sondaar. Ongelukkig is die meeste sondaars vasberade om oor die berg te klim. Selfs in die hel vloek hulle die Here en wil hulle niks met Hom te doen hê nie (Op. 16:9-11). As Hy die hel vir hulle moes oopsluit en hulle die opsie gee om in sy heilige en lieflike teenwoordigheid te leef, sou hulle die hel verkies. Hulle haat God en daarom is daar vir hulle geen hoop nie (Mark. 9:48). Om Dante se woorde te gebruik: ‘All hope abandon, ye who enter in.11 Dit is skrikwekkend, maar indien jy in Jesus glo en Hom as jou persoonlike Verlosser ontvang het, hoef jy nie te vrees nie (v.16, 1:12, 6:37, 39, 10:28-29, Fil. 1:6).

Party sal sê jy kan nog steeds verlore gaan, al glo jy in Jesus. Joh. 3:16 sê jy kan nie: “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie”.

 

5. Waarvoor red God ons?

Een aand by ’n verjaarsdagpartytjie, toe sê die gasheer: ‘Dit is moontlik vir ’n Christen om sy redding te verloor.’ Ek het die man op sy fout probeer wys, maar hy het die gesprek kortgeknip.

As jy die ewige lewe kan verloor, was dit in die eerste plek nie ewig nie. Joh. 3:16 sê dat God ons die ewige lewe gee. 1Joh. 2:25 sê dieselfde: “En dit is die belofte wat Hy aan ons gemaak het: die ewige lewe.” Indien ’n Christen sy redding kan verloor, het God sy belofte gebreek. Om te sê jy kan die ewige lewe verloor, beteken ook Jesus kan verlore gaan, omdat Hy die ewige lewe ís (1Joh. 1:2, 5:11-13, 20). Spurgeon het gesê: ‘If men were trying to drown me, they could not drown my foot as long as I had my head above water; and as long as our Head is above water, up yonder in the eternal sunshine, the least limb of His Body can never be destroyed.’12

Wat is hierdie ewige lewe wat God gee? Dit beteken nie bloot jy sal vir ewig bestaan nie, aangesien die goddelose ook vir ewig in die hel bestaan. Die hel is ’n ewige dood waar jy vir ewig sterf, maar nooit dood is nie (Op. 21:8, Matt. 25:30). Die hemel is ’n plek waar mense vir ewig lewe (v.16). Dit is ’n lewe in oorvloed (10:10) waarin God sy eie lewe in ons plant (2Pet. 1:4). Dit is ’n lewe waarin ons vir ewig deur die Heilige Gees gemeenskap met die Vader en die Seun het, en God se liefde geniet (14:23, 17:3, 1Joh. 1:3, 2Kor. 13:13, Ef. 3:16-19). Dit is ’n lewe van volmaakte geregtigheid, liefde, blydskap, aanbidding, vrede, gemak, vriendskap, rus, heiligheid, skoonheid en heerlikheid; alles wat goed, mooi, rein en waar is (Luk. 16:25, Rom. 14:17, 15:13, 1Kor. 13:8a, Fil. 1:23, Heb. 12:22-23, Op. 7:9-17, 14:13, 21:1-22:5).

Die enigste voorwaarde is dat jy in God se Seun moet glo (v.16). Die gemiddelde mens kan dit nie aanvaar nie. Jare gelede het iemand in ’n Bybelstudie gesê: ‘Hoe kan iemand gered word deur net in Jesus te glo? As die mense by my werk dit hoor, sê hulle: “Daar moet ’n catch wees; dit kan nie so eenvoudig wees nie.”’

Die meeste mense verwag bladsye vol fynskrif wanneer hulle die evangelie hoor. Hulle wil iets doen om in die hemel te kom. Die Bybel sê jy hoef nie, omdat Jesus reeds deur sy lewe, kruisdood en opstanding alle kom doen het. Joh. 3:16c is die enigste voorwaarde: “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  Grace Abounding to the Chief of Sinners (Springdale, PA: Whitaker House, 1993)

3  Fanny Crosby

4  Iain H. Murray, Archibald G. Brown: Spurgeon’s Successor (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2011), 74-6

5  The Works of Jonathan Edwards: Vol. 1 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1974 [1834]), 361-3

6  Frederick S. Leahy, Satan Cast Out: A Study in Biblical Demonology (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1975), 124-6

7  Peter Hammond, Victorious Christians Who Changed the World (Cape Town: The Reformation Society, 2011), 7-13. J.H. Merle D’Aubigné, The Reformation in England: Vol. 1 (London: The Banner of Truth Trust, 1962 [1853]), 26-9

8  ’n Sendeling wat in Peru werk, het my dié storie vertel. Blykbaar kom dit uit Don Richardson se boek, Eternity in their Hearts.

9  Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1958, 1965 [1692, 1890]), 220

10  Aangehaal in Murray, The Old Evangelicalism (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2005), 115

11  Dante Alighieri, The Divine Comedy: Inferno, Canto III.9. Verkry by https://www.gutenberg.org/files/1001/1001-h/1001-h.htm#CantoI.III

12  C.H. Spurgeon, The Treasury of the Bible: New Testament—Vol. 2 (London: Marshall, Morgan and Scott, 1962), 286