Lukas 14:1-11
’n Tafel is ’n wonderlike plek. Gesprekke vind daar plaas. Ek verkies dit om by ’n tafel te eet eerder as voor ’n TV. Rondom ’n tafel is waar die beste gesprekke plaasvind. Martin Luther se studente was gereeld in sy huis. Hulle het sy lering en gesegdes aan die etenstafel neergeskryf. Dit is later in ’n boek gebind met die titel: Martin Luther’s Table Talk.
Net so het Jesus wonderlike dinge om ’n tafel gesê en gedoen: Hy het mense se sondes vergewe, dwaling uitgewys, lering gegee, sy dissipels aangespreek, siekes genees, toegelaat dat ’n vrou sy voete salf, die nagmaal ingestel en Homself na sy opstanding aan mense geopenbaar (5:29-39, 7:36-50, 11:37-52, 22:14-30, 24:30-31, Joh. 12:2-3). In die teks voor ons leer Jesus die Fariseërs oor nederigheid en die Sabbat, terwyl Hy aan tafel sit (v.1-11).
1. Die Sabbat (v.1-6)
Een Sabbat het Jesus by ’n leier-Fariseër se huis gaan eet (v.1). Waar Lukas Jesus, die Fariseërs en die Sabbat saam noem, is dit soos petrol op vuur (v.1, 6:1-11, 13:10-17). Die wetgeleerdes en Fariseërs het Jesus met ’n valkoog dopgehou; hulle wou Hom uitvang (v.1, 3). Is dit dalk hoekom die leier-Fariseër Jesus genooi het?
’n Man met edeem het voor Jesus kom staan (v.2). Sy liggaam—enkels, bene en voete, of gesig, hande en buik—was geswel weens te veel vloeistof in sy weefsel. Hoekom was die man daar as die Fariseër hom nie genooi het nie (v.12-13)? Was hy desperaat vir genesing? Het die Fariseërs hom daar geplant om iets teen Jesus te kry? Jesus het geweet die Fariseërs wil Hom uitvang (v.1, 20:23, 5:22). Vandaar sy vraag: “Is dit toelaatbaar om op die Sabbat te genees of nie?” (v.3).1 Sê die wet van Moses ’n mens mag nie op die Sabbat genees nie? Glad nie. Die Sabbat is juis gegee vir die herstel van ’n mens se liggaam en siel, die grond en die diere, en tot voordeel van die ekonomie (Levitikus 25, Deut. 5:12-15). ’n Weeklikse rusdag is goed vir die gesondheid. Wie een dag uit sewe rus en die Here saam met ander gelowiges aanbid, vernuwe sy liggaam en gees. Jy rus van die werksdruk en bring tyd saam met jou gesin en die gemeente deur. Ek wil jou aanmoedig om op Sondae in die Here te rus. Moenie werk as jy dit kan help nie. Rus en wees by die gemeente (Eks. 20:8-11, Heb. 10:25). Doen dit vir jou eie, jou gesin en die gemeente se emosionele, fisieke en geestelike welstand. Sien die rusdag as God se geskenk aan jou: Hy gee jou 52 dae per jaar af (Mark. 2:27)!
In Jesus se dae het die Jode die Sabbat as ’n las eerder as ’n seën beskou. Hulle het dit verkeerd verstaan. Toe Jesus vra of die wet genesing op die Sabbat verbied, het hulle stilgebly (v.4). Hulle wou nie sê dit is toelaatbaar nie, anders het hulle met Jesus saamgestem. Hulle kon nie ‘nee’ sê nie, anders sou Jesus ’n proefteks vra.
Jesus het die man nader geroep, hom genees en hom op sy weg gestuur (v.4). “Daarop sê Hy vir hulle: ‘Wie van julle sal, as sy seun of os in ’n put val, hom nie dadelik uithaal nie—selfs al is dit op die Sabbat?’ ” (v.5). Wie sal sê: ‘Die kans dat my kind of dier in die put verdrink, is goed. Tog kan ek hulle nie uithelp nie, want dit is die Sabbat’? So ook het Jesus nie uitgestel om die man te genees nie (Spr. 3:27-28). Dalk was die man se endeem ’n simptoom van ’n lewensgevaarlike toestand soos bloedklonte, of hartversaking.2
Laat ons soos Jesus ons rusdag met goeie werke vul. Kuier vir iemand wat siek is en bid vir die persoon. Stuur die preekskakel vir iemand. Gee vir iemand ’n traktaatjie, of deel die evangelie. Bemoedig iemand wat mismoedig lyk. Spoor ontroue lidmate aan om te kom (Heb. 10:24-25). Laai iemand wat nie vervoer het nie op vir kerk. Nooi ’n eensame of beproefde gelowige vir ete. Jesus se goeie werke op die Sabbat het die Jode se monde gesnoer (v.6). Wie sou waag om te sê: ‘Moenie goed doen op die Sabbat nie—los mense in hulle ellende en doen kwaad aan hulle’?
2. Nederigheid (v.7-11)
In ons tyd sit ’n pa gewoonlik aan die hoof van die tafel. So was dit in die Jesus se tyd. Iemand se reputasie, rang of ouderdom het sy plek aan die etenstafel bepaal.3 Jesus kon sien die Jode voel selfbelangrik en soek die beste plekke aan tafel (v.7, Matt. 23:6). Ons kritiseer die Fariseërs, maar doen ons nie dieselfde nie? Party ouers werk deur hulle kinders om die belangrikste posisie te kry. Hulle borg die skool of soek ’n top plek op die beheerliggaam in die hoop dat hulle kind in die eerste span sal wees of ’n hoofleier word. Hulle doen dit nie vir die kind se onthalwe nie, maar wil deur hulle kind goed lyk.
Ander mense soek die beste kantoorspasie by die werk. Hulle speel saam met die direkteure gholf. By dinees en vergaderings sit hulle langs die CEO. In hulle hart hoop hulle hulle word bevorder. In die kerk is dit nie anders nie. In die ou dae het mense met hulle swart pakke en wit dasse in die ouderlingbank gesit. Die idee was goed, naamlik om naby die kansel te wees en seker te maak die prediker verkondig nie dwaling nie. Maar later het dit ’n statusposisie geword. Almal moes sien hulle sit voor in die kerk. Soms kies lidmate ’n kerkbank met dieselfde doel. Hulle dink hulle bank is beter as almal s’n, veral as hulle dit vir hulleself toe-eien. Almal moet weet oom Salie en tannie Koekie sit al vir 65 jaar daar. As iemand anders op hulle plek sit, word hulle weggejaag.
Party mense voel selfbelangrik agter ’n kansel. Hulle beskou dit as hulle ereplek vanwaar hulle die septer swaai. Hulle geniet dit as mense hulle pastoor of dominee noem (Matt. 23:7). Hulle lus na mag dryf hulle om bekend te wil wees. Hulle adverteer hulleself vir optredes en Christelike ontbyte. By konferensies wurm hulle hulleself in die bekende spreker se teenwoordigheid in. John Piper sê hy het ’n weersin daarin dat mense fotos saam met hom wil neem. In ’n preek het Paul Washer leraars teen hierdie lus na grootheid gewaarsku. Gestel iemand nooi jou om by ’n konferensie te preek. Tydens die breek nooi vername predikers soos John MacArthur en Voddie Baucham jou om saam met hulle te eet. Net voor jy gaan, wil ’n arm predikant van Ghana met jou gesels. Hy het raad nodig. Wat doen jy? Wys jy hom weg, omdat jy saam met die groot manne gaan eet? Of help jy hom? Iemand wat hoogmoedig is, sal die arm leraar wegwys. Hoekom is ons so? Hoekom wil ons fotos saam met bekende predikers neem? Hoekom soek ons die prediker se selnommer of epos adres? Ons soek spogregte. Ons wil vernaam voel en kan roem oor wie ons ken.
Party mense hoop in die geheim die beroemde persoon sê sy of haar naam voor ander. Hulle wil goed lyk. Toe ek ’n tiener was, het Jan de Wet in ons dorp kom sing. ’n Sekere man het heel voor in die kerk gaan sit. Tussen die liede het Jan de Wet die man herken. ‘My genugtig,’ het hy gesê. ‘Is dit jy? Ons het saam studeer.’ Blykbaar het die man baie trots gevoel. Jesus waarsku hierteen: “Wanneer jy deur iemand na ’n bruilofsfees uitgenooi word, moet jy nie op die ereplek gaan sit nie, ingeval iemand van groter aansien as jy deur hom uitgenooi is, en hy wat hom en jou uitgenooi het, dan vir jou kom sê, ‘Maak plek vir hierdie man.’ Dan sal jy met skaamte die verste plek gaan inneem.” (v.8-9). In ons konteks lyk dit as volg: ’n man gaan sit heel voor by ’n troue om gesien te word. Maar dan kom die seremonie meester en sê: ‘Ekskuus tog. Kan jy asseblief skuif? Die bruidegom se ouers sit hier.’ (vgl. Spr. 25:6-7).
Moenie meer van jouself dink as wat jy moet nie (Rom. 12:3). Onthou wat jy is: stof en as (Gen. 18:27). Ons is diensknegte en niks belangrik nie (1Kor. 3:5-7, 4:1, 9-13). Paulus noem homself die minste van die apostels, die minste van die gelowiges, die vernaamste van sondaars (1Kor. 15:9, Ef. 3:8, 1Tim. 1:15). Hy het homself nie verkondig nie, maar Christus as Here en homself as ’n dienskneg (2Kor. 4:5). Hy was ’n kleipot in wie Christus die skat van die evangelie gebêre het (2Kor. 4:7).
Onthou wie jy was: ’n verlore sondaar. Onthou jy het geen vermoë gehad om jouself te red nie. Sien jou bebloede Verlosser aan die kruis en besef dit was vir jou sonde. Ons het verdien om daar te hang. Onthou dat jy God nie gesoek het nie, maar jy het teen Hom gesondig (Rom. 3:10-12, 23). Onthou dat Christus vir jou gesterf het toe jy ’n sondaar was (Rom. 5:6, 8, 10). Onthou dat jy geestelik dood was en uit genade alleen gered is (Ef. 2:1-3, 8-9).
Beskou jouself in die lig van wie God is. Jy is ’n spikkel op ’n spikkel (die aarde) in ’n spikkel (ons sonnestelsel) in die heelal: “Wie kan die waters in die holte
van sy hand afmeet, die hemel met sy handspan peil, met ’n derde van ’n efa die stof van die aarde opvang, met ’n handskaal die berge weeg, die heuwels met ’n weegskaal? Wie kan die Gees van die Here peil, wie is die mens wat aan Hom sy raadsbesluit bekend maak? Met wie beraadslaag Hy, en wie hou Hom op hoogte,
wie onderrig Hom oor die verloop van ’n regsaak? Wie dra aan Hom kennis oor, en die pad van wyse beskikking, wie maak dit aan Hom bekend? Kyk, nasies is soos ’n druppel uit ’n leersak; hulle word beskou as net ’n lagie stof op ’n weegskaal. Kyk, eilande weeg Hy asof dit fyn stof is. Die Libanonbos se hout is nie genoeg om ’n vuur te maak, en sy wilde diere nie genoeg vir ’n brandoffer nie. Al die nasies is soos niks voor Hom; deur Hom word hulle beskou as minder as iets niksseggends, minder as ’n nietigheid.” (Jes. 40:12-17).
Is die mens so klein teen die skepping? Hoe klein is ons dan teen die oneindige God? Wie God en homself reg beskou, sal nederig wees. Moses het met die Here gepraat soos ’n man met sy vriend (Num. 12:6-8). Hy het homself en God geken, daarom was hy nederig (Num. 12:3). Jesaja het die Koning van die hemel op sy troon gesien (Jes. 6:1-4), daarom was hy nederig (Jes. 6:5). Laat almal van ons so wees en nederig met ons God wandel (Miga 6:8).
Iemand wat so lewe, dink nie hy verdien die ereplek by ’n dinee nie, maar hy is soos ’n vername professor by die gradeplegtigheid. Toe die geleerde professor in die prosessie teen die verhoog se trappe opstap, het die gehoor in applous uitgebreek. Die professor het omgedraai en vir die man agter hom hande geklap. Hy het nie besef die applous is vir hom bedoel nie.
Wees soos Iain Murray wat baie boeke geskryf het. Toe hy by ’n konferensie in Suid-Afrika kom preek, het die gehoor hom toegejuig. Hy het hulle onmiddellik stilgemaak en gesê: ‘Please don’t. Please don’t.’ Wees soos John MacArthur toe hy twee of drie jaar gelede by die Ligonier konferensie moes preek. Toe hy opstap en die gehoor vir hom hande klap, toe sê hy: ‘There goes my reward.’ (sien Matt. 6:2).
Verheerlik Christus alleen en beskou jouself as ’n onwaardige slaaf: “Wanneer julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan, ‘Ons is nikswerd slawe. Ons het net gedoen wat ons moes doen.’ ” (17:10). Die nederige Christen gee nie om vir mense se applous nie. Hy weet dit kan hom nie versadig nie, want as 100 mense jou prys, soek jy later 1000, 10 000, 100 000, 1000 000, 10 000 000 se applous. Later word jy ’n tirran soos Robert Mugabe en wil jy mense stadion toe dwing om na jou toespraak te luister. Of jy bejammer jouself en pleeg selfmoord, omdat niemand jou prys nie.
Moenie mense se applous soek nie. Jy kan tog nie hulle begeerte na grootheid versadig nie. Al lewe jy vir ewig op die aarde: mense sal verveeld raak met jou. Net God se roem, heerlikheid, majesteit en eer is verbysterend en oneindig. Hy alleen kan mense se begeerte na grootheid versadig.
Ken jou plek en doen v.10; dan sal die Here jou beloon: “Nee, wanneer jy uitgenooi word, gaan na die verste plek, sodat die man wat jou uitgenooi het, kan kom en vir jou sê, ‘Vriend, skuif nader!’ Dan sal jy aansien kry by almal wat saam met jou vir ete aanleun.” Jesus bedoel nie jy moet die laagste plek kies met die doel om vereer te word nie. Dit sou wees om te hoop mense prys jou vir jou nederigheid. Wat is dit anders as hoogmoed in geskeurde klere? Wees nederig en verheerlik God alleen (v.10, Ps. 115:1, Rom. 15:17-19, 1Kor. 1:31, Gal. 6:14). As jy die Here so verheerlik, sal Hy jou eer en bo ander verhef (v.10, 1Sam. 2:30, Spr. 3:34, 15:33, 18:12, 22:4). Dit het met my pa se rektor by die onderwys kollege gebeur. Toe hulle eenkeer laat was vir ’n byeenkoms, het hulle agter in die saal gaan sit. Van voor af het die gasheer die rektor navore geroep en gesê: ‘Welcome Mr Wepener, the rector of the College of Education. Please would you join us on stage?’
Waak dat jy jouself nie verhef as die Here jou so vereer nie. Bly nederig en besef jy verdien niks. Die eer wat jy ontvang, kom van die Here af (Gen. 32:10, Deut. 8:17-18, 1Kron. 29:12, Ps. 75:7-8, Jer. 9:23-24, 1Kor. 4:7). Sê dit vir jouself, anders versoek die duiwel jou om jouself op die skouer te klop. Die nederige Christen roem nie oor sy kroon nie, maar werp dit in aanbidding aan die Here se voete (Op. 4:10-11). Laat dit oor aan die Here om jou te vereer en vir jou ’n naam te maak (v.11b, Gen. 12:2, Eks. 11:3, 1Kron. 17:8, Ps. 147:6a, Jes. 57:15, Jak. 4:10, 1Pet. 5:6). As jy soos Hitler vir jouself ’n naam probeer maak, sal die Here jou verneder (v.11a, Gen. 11:4, 7-9, Ps. 147:6b, Hand. 12:21-23). Hy sal jou soos die Titanic sink. Moet jouself nie vir jou intellek gelukwens nie (of vir jou kwalifikasies, rykdom, sport-, kultuur- of akademiese prestasies, talente, toekennings, vermoëns, geestelike gawes of posisie).
Toe Charles Spurgeon verder wou studeer, het hy in een vertrek gewag en die persoon wat die onderhoud moes voer in ’n ander verder. Hulle het mekaar gemis, sodat Spurgeon nooit verder studeer het nie. Toe Spurgeon daar wegloop, toe herinner die Heilige Gees hom aan Jer. 45:5: “En jy, soek jy vir jouself groot dinge? Moet dit nie soek nie...”4 Die Here is nie teen verdere studies nie—Paulus was tog ’n geleerde man—maar dit was nie vir Spurgeon beskore om te studeer nie. Ons kan tog so maklik trots raak oor ons geleerdheid.
Vir die wêreld is hoogmoed ’n deug en nederigheid ’n bewys van swakheid. Mohammed Ali was hoogmoedig en arrogant. Hy het oor sy bokstalent gespog. Toe ’n jong sportster vir ’n beter span gekies word, toe vra die keurders: ‘Is jy goed?’ Die jong speler was nederig en het gesê: ‘Ek doen my beste en geniet dit om te speel.’ Toe sy afrigter dit hoor, toe sê hy: ‘Moenie so wees nie. Verkoop jouself. Sê vir die keurders: “Ek is ’n fantastiese speler. Ek kan enige bouler uit die park slaan. Bring julle beste en ek wys julle.” ’
Jesus sê ons moenie so wees nie. Nederigheid is ’n deug en hoogmoed ’n bewys van swakheid (v.11). Hoogmoed maak jou soos die duiwel; jy sal tot ’n val kom (v.11a, Spr. 16:18, Jes. 14:12-15, 1Tim. 3:6). Nederigheid maak jou soos Jesus; die Vader sal jou verhoog (v.11b, Fil. 2:3-11). Thomas Watson sê: ‘Hast thou an estate? Be not proud. The earth thou treadest on is richer than thou. It has mines of gold and silver in its bowels. Hast thou beauty? Be not proud. It is but air and dust mingled. Hast thou skill and parts? Be humble. Lucifer has more knowledge than thou. Hast thou grace? Be humble. Thou hast it not of thy own growth; it is borrowed. Were it not folly to be proud of a ring that is lent? I Cor iv.7. Thou hast more sin than grace, more spots than beauty. Oh look on Christ, this rare pattern, and be humbled! It is an unseemly sight to see God humbling himself and man exalting himself; to see a humble Saviour and a proud sinner.’5
1 Aanhalings uit die 2020 Vertaling.
2 https://my.clevelandclinic.org/health/diseases/12564-edema
3 Robert H. Stein, The New American Commentary: Luke (Nashville, Tennessee: B&H Publishing Group, 1992), 389
4 Aanhalings uit C.H. Spurgeon, Autobiography: Vol. 1—The Early Years (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1962), 207-8
5 Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1958, 1965 [1692, 1890]), 197-8