Coram Deo Cover Image

Coming soon...

17 October 2021

Jesus se passie vir sondaars

Lukas 9:51-56

Ek is dankbaar dat Jesus nie soos ons is nie. Ons lewe draai om onsself. Ons beperk selfs ons gebede tot ons, ons geliefdes, ons probleme, ons siekte, ons hartseer, ons nood. Ons dink selde wyer as ons eie lewe en omstandighede. Derhalwe bid ons skaars vir die wêreld se verlore massas.

Dit is nie wat Jesus gedoen het nie. Toe Hy aan die kruis sterf, het Hy vir die wêreld se sonde gebid (Jes. 53:12, 1Pet. 2:24, 3:21, 1Joh. 2:2). Mag Jesus se hart ons s’n word, sodat ons ’n passie vir sondaars het wat maak dat ons vir hulle bekering bid en arbei (Rom. 9:2-3, 10:1, 1Kor. 9:19-23, 2Tim. 2:10).

 

1. Sy ywer (v.51)

Rebekah Merkle sê dat haar pa Douglas Wilson nie ’n minuut mors nie. Selfs as hy vir drie minute pendel, luister hy ’n oudio boek. Voordat dié tegnologie beskikbaar was, sou hy ’n boek lees terwyl hy by die rooi verkeerslig wag.1

Jesus was so. Hy het nie ’n oomblik gemors nie, maar gewerk terwyl dit dag was (Joh. 9:4). Volgens v.51 het die dae van sy hemelvaart nader gekom. Tog trek ons nou eers by Lukas 9! Hoeveel het Jesus nie in sy laaste dae op aarde bereik nie?

Ek is verseker nie so nie. Ek is 42 jaar oud en hoe min het ek nie vir die Here bereik nie? Watter impak het ek regtig vir die koninkryk gemak? Baie mense lewer ’n waardevolle bydra tot die samelewing, maar sal dit in die ewigheid ’n verskil maak? Mik jy om dinge in hierdie lewe vir jouself beter te maak of wil jy jou geld, tyd, lewe, getuienis en gawes aanwend om ’n ewige verskil te maak?

Jesus het nie vir die tydelike gelewe nie, maar vir die ewige (Heb. 12:2). Dus het Hy op Jerusalem gefokus waar Hy vir sondaars sou sterf (v.51, 13:22, 17:11, 18:31, 19:11, 28). Hy het ’n ‘single eye’ gehad soos ’n mens in Engels sou sê. Hy het op een ding gefokus en niks het Hom van koers af gebring nie. Hy het geweet Hy sou sterf. Tog het Hy Jerusalem toe gegaan, omdat Hy ons liefhet en wou red. Omdat Hy die Vader liefhet en Hom wou behaag, was Hy tot die dood toe gehoorsaam (Fil. 2:8). Hierdie intense fokus het Hom laat frons, sodat sy gesig so hard soos ’n vuurklip gelyk het (Jes. 50:7). Sy vasberadenheid het gemaak dat dié wat Hom gevolg het, verwonderd en bang was (Mark. 10:32).

Na Jesus se kruisdood, opstanding en hemelvaart het die Heilige Gees die dissipels verander om soos Jesus te word. Hul het een fokus gehad, naamlik om vir Jesus te lewe en mense vir Hom te wen. Paulus was so. Vir hom was Jesus en die taak van die evangelie al wat saakgemaak het (Hand. 20:24, Fil. 1:21, 3:7-14).

Ek wil almal van ons uitdaag om so te wees. Hierdie week het ’n ouer leraar my aangemoedig om ’n leuse vir my lewe te kies; ’n ‘life motto’ soos hy dit genoem het. Dit kan iets soos die volgende wees:

‘Om soos Jesus te word’ (Rom. 8:29).

‘Om Hom te behaag’ (2Kor. 5:9).

‘Om nie vir myself te lewe nie, maar vir Hom’ (2Kor. 5:15).

‘Om Hom te ken’ (Fil. 3:8).

‘Om ten volle behaaglik te wees vir Hom’ (Kol. 1:10).

‘Wandel soos Jesus’ (1Joh. 2:6).

‘Om te groei in die genade en kennis van Jesus’ (2Pet. 3:18).

Sorg dat jy ’n waardige en Bybelse lewensdoel kies; ’n doel wat jou op Jesus en sy kruis laat fokus (v.51). Dit is nodig, sodat jy nie doelloos en rigtingloos deur die lewe gaan nie. Dit is ook nodig, omdat daar nie ’n kroon sonder die kruis is nie. Die kruis is die pad na die kroon (v.22-24, 51, Rom. 8:17).

Het jy dit vergeet? Is jy verbaas as die Christelike lewe moeilik raak, as daar baie beproewings is, as mense jou om Jesus ontwil afskryf? Het jy vergeet dit sou kom (Hand. 14:22, 1Tess. 3:3, 1Pet. 2:21, 4:12)? Dalk het jy dit geweet, maar jy het fokus verloor. Wie of wat het jou aandag van die kruis afgetrek? Was dit jou werk, geld, familie, vriende, ’n romantiese verhouding, sport, iets anders? Jesus wil hê jy moet herfokus. Kry die kruis in jou visier en sien die kroon in die agtergrond (v.51). Moet dit nie in jou eie krag doen nie. Moenie net harder probeer nie. Bely jou sonde en vra die Gees se hulp om op Jesus te fokus. Doen dit by die nagmaal waar die gekruisigde Jesus as’t ware voor jou oë geskilder word (Gal. 3:1). As jy dit gereeld doen, sal Jesus jou passie word. Selfs as jy nie by die nagmaaltafel is nie, sal die kruis jou hart en gedagtes vul en jou lewe rig. Dit sal jou visie word. In alles wat jy doen, sal jy die gekruisigde Jesus beter wil ken, meer wil behaag en aan ander bekend wil maak (1Kor. 2:2, Gal. 6:14). Jou passie vir Jesus sal omskakel in ’n passie vir sondaars.

Give me grace to be a servant,
Give me mercy for the lost,
Give me passion for Your glory,
Give me passion for the cross.

                  —Steve Green

2. Sy liefde (v.52-53)

Gedurende die apartheidsjare het blankes en nie-blankes in verskillende gebiede gewoon. So was dit met die Jode en die Samaritane. Toe Salomo koning was, het sy vroumense hom tot afgodery versoek en sy hart van die Here af weggedraai (1Kon. 11). Toe sy seun koning word, het die koninkryk in twee geskeur (1Kon. 12). Die noordelike ryk was Israel waarvan Samaria die hoofstad geword het. Die suidelike ryk was Judea met Jerusalem as die hoofstad. In 722 v.C. het die Assiriërs Samaria verwoes en die Israeliete weggevoer. Die koning van Assirië het mense van verskillende lande in Israel gevestig. Hierdie nasies het afgode gedien. Die Here het leeus onder hulle ingestuur om hulle dood te maak. Hulle het gesê: ‘Die God van hierdie land maak ons dood, omdat ons Hom nie reg aanbid nie. Laat ’n priester van Israel ons leer om die Here reg te aanbid. So het hulle die aanbidding van Jahwe met die aanbidding van hulle afgode vermeng. Hulle het ook met die Israeliete ondertrou. Die Samaritane was dus nie volbloed Jode nie (2Kon. 17).

In 586 v.C. het die Babiloniërs Jerusalem verwoes en die Jode in Judea weggevoer. Na baie jare is hulle vrygelaat en kon hulle na Jerusalem toe terugkeer. Hulle het die stad se mure en die tempel herbou. Die Samaritane het hulp aangebied, maar die Jode het dit van die hand gewys. Hierop het die Samaritane kwaad geword en die bouwerk probeer teëstaan (Esra 4-6, Neh. 2-4). Later het dinge so erg geraak, dat Jode en Samaritane nie met mekaar gemeng het nie. Hulle sou nie eers hulle eetgerei deel nie (Joh. 4:9). As jy iemand wou slegsê, het jy hom ’n Samaritaan genoem (Joh. 8:48). In Jesus se tyd het die Samaritane ’n groep Galileërs vermoor wat deur Samaria Jerusalem toe gereis het.2

Jesus was nie soos hierdie Jode nie. Hy was vol liefde vir die Samaritane. In Joh. 4:39-40 het Hy ’n klomp van hulle gered. Hy wou nog red en daarom het Hy solank boodskappers vooruit gestuur om ’n herberg te boek en vir die Samaritane te sê dat Hy op pad is (v.52, 10:1). Hy het juis Jerusalem toe gegaan om vir Jode, Samaritane en alle nasies te sterf (v.51, Joh. 11:51-52, Op. 5:9). Maar die Samaritane het Hom nie verwelkom nie (v.53). Soos in Job 21:14-15 wou hulle nie die kennis van die Almagtige hê nie. Hulle was soos die Aucas van Equador wat ’n sendeling genaamd Jim Elliot vermoor het. Hulle was soos die mense van Noord-Sentinel Eiland wat vir John Chau vermoor het. Hulle wil Jesus uit ons land se skole, teologiese fakulteite en publieke sektor hê. Hulle druk vir die wysiging van die Pepuda wetgewing wat die in effek Bybel van haatspraak sal beskuldig.

Jy sien, die verlore sondaar soek God nie (Rom. 3:11). God moet hom eerste soek (15:3, 19:3, 10, Gen. 3:9, Joh. 15:16). In v.52-53 het Jesus verlore sondaars gesoek, maar hulle wou Hom nie hê nie. As jy verlore is, moet jy nie sê: ‘Jesus is onwillig om my te red’ nie. Jesus se kruis en sy liefde vir die Samaritane wys dat Hy meer as gewillig is om sondaars te red (v.52, Eseg. 18:23, 32, 1Tim. 2:4, 6, 2Pet. 3:9). Dit is hoekom Hy Filippus later na die Samaritane toe gestuur het om hulle te red (Hand. 8).

Vandag stuur Hy die evangelie vir jou. As jy verlore gaan, is dit jou eie skuld. Moenie vir Jesus blameer en sê Hy wou jou nie red nie. Lê die blaam voor jou eie voete. Jy het jou sonde meer lief as vir Jesus. Daarom wil jy nie na Hom toe kom om gered te word nie (v.53, 13:34, Joh. 5:40, Rom. 10:21). En wat moet ek vir die Here sê? Ek sal teen jou moet getuig en sê: ‘Here, ek het elke week die evangelie verkondig. Sy het nie belanggestel om te kom nie. Die kere wat sy wel daar was, kon ek sien dat die Woord haar diep sny. Sy het ongemaklik gevoel. Sy het gehuil en haar voorgeneem om te verander, maar daar was niks. My hande is rein van haar bloed.’

In Jesus se Naam dring ek by jou aan: “Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard” nie (Heb. 3:7-8).3 Moet Jesus nie wegwys soos die Samaritane gedoen het nie (v.53). Dit het hulle gedoen, omdat Jesus op pad Jerusalem toe was (v.53). Hulle het die Jode en hulle aanbidding gehaat (Joh. 4:20). Soos die meeste mense was hulle bevooroordeeld:

Jy is wit, daarom is jy ’n rassis.

Jy is swart, daarom is jy ’n dief.

Jy is bruin, daarom is jy aan wyn verslaaf.

Jy is ’n Indiër, daarom is jy ’n skelm.

Jy is ’n Jood, daarom is jy haatlik.

Die Samaritane het nie geweet dat Jesus Jerusalem toe gaan om vir húlle sondes te sterf nie. Weet jy dit? Of is jy soos die Samaritane wat jou kans op die ewige lewe verspeel, omdat jy bevooroordeeld is? Jy gee Jesus nie eers ’n kans nie. Jy skryf Hom sumier af, omdat ’n predikant jou kwaad gemaak het, omdat ’n Christen jou ingedoen het, ’n gemeente jou seer gemaak het en jou ma oorlede is toe jy 12 was. Jy het besluit om nie meer Bybel te lees, te bid of kerk toe te gaan nie. Jy dink dat jy die Here benadeel, maar jy benadeel jouself. ‘Cut your nose to spite your face.’ En hoe sal dit jou op die oordeelsdag help? As jy jou wapens neerlê, sal jy sien dat Jesus nie gekom het om jou te veroordeel nie, maar om jou te red.

 

3. Sy geduld (v.54-56)

Jong Christene raak passievol as hulle God se soewereiniteit in verlossing ontdek. In hulle opgewondheid wil hulle ander oortuig om soos hulle te glo. Hulle doen dit nie altyd met wysheid nie. Omdat hulle mense wil dwing, dryf hulle mense weg.

Johannes en Jakobus was so. Hulle het ’n vurige ywer gehad (Rom. 12:11), maar volgens die Bybel is ywer sonder kennis nie goed nie (Spr. 19:2, Rom. 10:2). Dit is verkeerd gerig soos Allan Donald toe hy begin krieket speel het. Hy het blitsvinnig geboul, maar was onakkuraat. Courtney Walsh het hom gehelp om lyn en lengte te kry. Daarna het hy ’n bietjie stadiger geboul, maar hy was dodelik akkuraat.

Jakobus en Johannes was soos Allan Donald in sy jong dae. Derhalwe het Jesus hulle die seuns van Donder genoem (Mark. 3:17). Hulle was soos vuur in ’n bloekomwoud eerder as in ’n kaggel. Hulle wou die Samaritane met vuur uit die hemel verteer (v.54, vgl. 2Kon. 1). Hulle het nie Jesus se ywer gehad waardeur Hy sondaars wou red nie (v.51). Hulle wou sondaars vernietig (v.54).

Hoe lyk jou ywer? Wil jy mense opbou (2Kor. 10:8, 13:10)? Of stoomroller jy hulle met die Bybel om te wys dat jy reg is en hulle verkeerd? Ek sê nie ons moenie mense reghelp nie. Hóé jy dit doen, is wat die verskil maak. Die Bybel sê:

“’n Dienskneg van die Here moenie rusie maak nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig, geduldig, iemand wat teenstanders met sagtheid teregwys. Miskien mag God hulle tot bekering bring, sodat hulle die waarheid kan ken, en hulle tot hulle sinne laat kom—vry van die strik van die Duiwel, deur wie hulle gevange gehou word om te doen wat hy wil hê.” (2Tim. 2:24-26).

“Wie wys van hart is, word verstandig genoem, en soetheid van lippe bevorder onderrig... Die hart van ’n wyse maak sy mond verstandig en bevorder die onderrig op sy lippe. Vriendelike woorde is ’n heuningkoek wat oorloop—soet vir die keel en helend vir die gebeente.” (Spr. 16:21, 23-24).

“Met geduld word ’n aanvoerder oorreed, en ’n sagte tong breek gebeentes.” (Spr. 25:15).

Niemand word ’n Christen, omdat jy hom met die Bybel vaspen nie. Jou beste argumente is so oneffektief soos ’n vloedgolf teen ’n rots. Wees eerder soos ’n druppende kraan deur jou gebede, liefde en omgee. Dit sal die rots breek. Ons sien dit met die Samaritane. In v.53 het hulle Jesus verwerp. Toe Filippus, Petrus en Johannes in Hand. 8:1-25 en 9:31 vir die Samaritane preek, toe breek daar ’n herlewing uit. Ek leer twee lesse hieruit:

[a] Moenie wanhopig raak oor die redding van enige sondaar nie. Laat Jesus se geduld met die Samaritane jou leer om nie ’n ongeredde familielid, vriend of kollega as hopeloos af te skryf nie. Onthou dat Jesus vir jou sonde moes sterf soos vir hulle s’n; dat Hy jy net soos hulle met vuur uit die hemel vernietig moet word (v.51, 54). Soos Jesus met jou geduldig was, moet jy met hulle geduldig wees (1Tim. 1:16). Moenie ophou om vir hulle te bid nie. Sit die persoon se naam terug op jou gebedslys as jy dit afgehaal het.

[b] Moenie moed verloor as ’n gelowige stadig groei nie. Moenie sê: ‘Hy sal nooit verander’ nie. Is jy heeltemal volwasse? Is die Here besig met jou? Hoekom sal Hy dan nalaat om die ander persoon na sy beeld te verander (Rom. 8:29)?

Het Hy nie vir Johannes en Jakobus verander nie? Jakobus was so ywerig vir die evangelie dat hy van die apostels eerste vir Jesus gemartel is (Hand. 12:2). Johannes was bereid om vir Jesus vervolg te word (Hand. 4:3, 19). Later in sy lewe wou hy nie meer vuur uit die hemel roep om mense te verteer nie. Hy het ’n boodskap van liefde verkondig (1Joh. 4:7-21). Die Seun van Donder het die apostel van liefde geword. Johannes het besef dat Jesus nie gekom het om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word (v.55-56, Joh. 3:17, 12:47).

Wanneer Jesus weer kom, sal Hy die wêreld oordeel (2Tess. 1:7-9, Op. 14:10-11). Maar nou is dit die tyd van verlossing (2Kor. 6:2). Wie sal gered word? Dié mense wat hulle sonde erken en op Jesus vertrou om hulle te red. Hulle sal die vuur van God se oordeel vryspring. Dit sal nie op hulle val nie, omdat dit op Jesus geval het toe Hy aan die kruis vir ons sonde gesterf het (v.54, 12:49-50, Op. 20:9). Hy het die impak van God se straf geabsorbeer, sodat ons dit nie voel nie.

Dit is byna soos ’n goeie krieketkolf. As die krieketkolf nuut is, skok dit jou hande as die bal die onderpunt van die kolf tref. Jy moet die kolf eers inslaan. As jy dit goed ingeslaan het, absorbeer die hout en die rubber die skok, sodat jy dit nie voel nie. Net so het Jesus die skok van God se toorn geabsorbeer, sodat ons dit nie voel nie. Ons plig is om dit vir sondaars te sê en dit met die passie van Jesus te doen (v.56). As ons dit met ’n hart van omgee en gebed doen, sal die sondaar nie dink dat jy hom vir jou kerk wil wen nie. Hy sal sien dat Jesus hom regtig liefhet en dat Hy sy ewige belange op die hart dra. As die persoon nie wil luister nie, gaan Jesus dit nie in sy keel afdruk nie (Joh. 6:66-67). Hy gaan jou nie met sagte musiek en ’n altar call manipuleer om ’n besluit vir Hom te neem nie. As jy die evangelie verwerp, sal Jesus eenvoudig aanbeweeg en dit vir iemand anders gee (v.56). Die God van die Bybel red wie Hy wil, waar Hy wil en wanneer Hy wil (10:21-22, Joh. 3:8, 6:44, 65). Hy het jou nie nodig om in Hom te glo nie. Jy het Hom nodig.

Het jy Hom verwerp, geïgnoreer of weggewys? Vra Hom om terug te kom en jou te red. Hy is die God van tweede kanse (Jona 3:1). Hy sal jou red as jy Hom vra (Rom. 10:13). Ek weet dit, omdat Hy ’n passie vir sondaars het en sy lewe gegee het om hulle te red (Rom. 5:8, 1Tim. 1:15). Ek weet dit ook, omdat Hy selfs dié red wat Hom nie soek nie (Rom. 10:20). Hý het die inisiatief geneem om die Bybel, Christen ouers, ’n Christelike boek, ’n traktaatjie, ’n evangelis oor jou pad te stuur, sodat jy die evangelie kon glo en gered word.

Hy het dit met my gedoen. My ouers het my van Jesus geleer. Hy het ’n gesin van Nelspruit af Louis Trichardt toe gestuur. Die tweede oudste seun was in my klas. Ons het vriende geword. Hy het my na die Baptistekerk toe genooi. My ouers het later lidmate geword. Toe die predikant een aand die evangelie preek, was ek diep bewus van my sonde. Ek het huistoe gegaan, my kamerdeur toegemaak, langs my bed gekniel en by die Here gepleit om my te red. Hy het my gebed beantwoord.

Alles in die evangelie is daar om Jesus se passie vir sondaars te wys; om te wys dat Hy gereed staan om jou en ander te red.

Come, ye sinners, poor and wretched,
Weak and wounded, sick and sore;
Jesus, ready, stands to save you,
Full of pity, joined with power.
He is able, He is able;
He is willing; doubt no more.

                        —Joseph Hart

Sinners Jesus will receive:
Sound this word of grace to all
Who the heav’nly pathway leave,
All who linger, all who fall.

Come, and He will give you rest;
Trust Him, for His word is plain;
He will take the sinfulest;
Christ receiveth sinful men.

                —Erdmann Neumeister


1  Douglas Wilson, Ploductivity: A Practical Theology of Work and Wealth (Moscow, Idaho: Canon Press, 2020), 1-4

2   Flavius Josephus, Complete Works: The Antiquities of the Jews (Grand Rapids, Michigan: Kregel Publications, 1960), 20:6:1, p. 419-20

3  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

Kategorieë