Image result for real christian

Lukas 8:4-15

Wat is ‘n Christen? Die meeste mense sal sê dit is iemand wat in die Drie-Enige God glo, wat volgens die Bybel probeer lewe, wat glo dat Jesus die Seun van God is, wat gedoop is en aan ‘n kerk behoort. In liberale kringe kan jy ‘n Christen wees al glo jy nie in één van hierdie dinge nie.

Hopelik gee ons nie om oor mense se opinies nie. Wat vir ons saakmaak is hoe Jesus Christenskap definieer. Hy is immers die Stigter daarvan. Meet jouself dus aan sý definisie om te sien of jy ‘n Christen is, of nie.

 

  1. Die gelykenis (v.4-8)

‘n Gelykenis is nie heeltemal dieselfde as ‘n vergelyking nie. ‘n Vergelyking sou wees: ‘So vinnig soos die wind.’ In ‘n gelykenis stel elke deel van die storie iets voor. Om bv. te sê dat die Koninkryk van God soos suurdeeg is, beteken dat dit alles rondom dit beïnvloed.

Op ‘n sekere tydstip in sy bediening het Jesus mense in gelykenisse begin leer. Hulle was bekend met die beelde wat Hy gebruik het, maar het nie noodwendig geweet wat die beelde beteken nie.

In die huidige teks het ‘n groot skare Jesus uit die omliggende dorpe tot by See van Galilea gevolg (v.4, 1, Matt. 13:1). Hy het in ‘n boot gesit en die skare wat op die strand gestaan het, toegespreek (Matt. 13:2). Hy het vertel van ‘n saaier wat in sy lande uitgegaan het om saad te saai (v.5). Die saaier het ‘n band skuins oor sy skouer gedra met die sak aan sy sy. Hy het sy hand in die sak gesteek en die saad met ‘n rughand-aksie in die geploegde lande gestrooi (soos op die Bybelgenootskap se embleem).

‘n Deel van die saad het op die voetpaadjie tussen die rye geval (v.5). Die grond in die voetpaadjie was vasgetrap wat beteken dat die saad nie in die grond ingegaan het nie. Saadvretende voëls het dit opgepik (v.5).

‘n Deel van die saad het op die rots geval (v.6). Jesus praat nie hier van ‘n rots in die middel van die landerye, of langs die kant nie. Hy praat eerder van ‘n onsigbare rotslaag onder die grond se oppervlak. A.g.v. die rotslaag kon die wortels nie diep penetreer soos dit moet nie. Gevolglik het die plant gou opgeskiet, maar net so gou gevrek toe die son te warm skyn en dit die grond uitdroog (Matt. 13:5-6). Sonder diep wortels kon die plant nie vog uit die klam grond onder die rotslaag absorbeer nie (v.6).

‘n Deel van die saad het tussen die dorings geval (v.7). Weereens bedoel Jesus nie dat die saaier tussen doringbosse gaan saai het nie. Hy bedoel eerder dat daar doringsade onder die grond was. Toe die koring opkom, toe groei die dorings saam en verstrengel dit (v.7, Gen. 3:17-18). Die dorings het die koring se sonlig en water gesteel. Die dorings het aangehou groei, terwyl die koring gevrek het.

‘n Deel van die saad het op goeie grond geval (v.8). Die grond se pH was reg. Dit het die nodige minerale in gehad. Dit het genoegsame bemesting gehad. Daar was geen doringsade onder die grond nie. Die grond was diep genoeg om vogtig te bly; dit was los genoeg vir die water om deur te syfer en sodat dit ryk was aan suurstof. Gevolglik het die plante gegroei en ‘n honderdvoudig vrug gedra (v.8, Gen. 26:12). Op party plekke het dit dertig- of sestigvoudig vrug gedra (Matt. 13:8, 23). Die punt bly egter staan dat dit vrug gedra het.

Toe Jesus die storie klaar vertel het, toe roep Hy uit sodat die groot skare Hom kon hoor (v.8, 4). Hy het ook uitgeroep om te wys dat Hy desperaat was vir die redding van sondaars. Dié wie se geestelike ore oop was, sou sy woorde ontvang, gehoorsaam wees en vrug dra (v.8, 10, Op. 2:29). Die hartseer deel is dat almal nie sy woorde aangeneem het nie. Party het dit verwerp sonder om dit eers ‘n kans te gee, terwyl ander dit net vir ‘n tydie aanvaar het en weer verwerp het.

Jesus stel nie belang in mense wat vir ander vertel hoe goed sy preke is as hulle nie ook gehoorsaam is nie. Hy sou saamstem met wat ‘n sekere prediker ‘n paar jaar gelede vir iemand gesê het. Toe mense hom by die deur groet, toe sê iemand vir hom: ‘Die preek was fantasties; dit het my lewe verander!’ ‘Nee, dit het nie,’ het hy die persoon geantwoord. ‘As die preek jou lewe verander het, sou jy nie hier gestaan het om my geluk te wens nie. Jy sou by daardie vrou gestaan het wat sopas haar twee seuns aan die dood afgestaan het.’

Om ‘n verkeerde ingesteldheid teenoor die prediking te hê, is erg. Dit is sleg as jy so min in die Woord belangstel, dat jy nie eers die moeite doen om gereeld daarna te luister nie. Dit is sleg as jy hier sit en nie kan wag dat die preek verby is nie. Maar dit is tien keer erger as jy na goeie predikers soos Steve Lawson, John MacArthur en John Piper luister, of as jy opgewonde is oor die Woord wat jy op Sondag hoor, terwyl jou lewe nog net dieselfde lyk as wat dit in 2019, of vyf jaar gelede gelyk het.

Jy is m.a.w. iemand op wie die saad van die Woord val, maar jy dra nie die vrug van bekering nie, omdat jou hart sleg is. Jy is ‘n liefhebber van die emosie wat jy onder goeie prediking voel, eerder as ‘n liefhebber van Jesus. Vir jou is die prediker se styl en hoe goed hy die boodskap oordra belangriker as die boodskap self. As die boodskap vir jou belangrik was, sou jy die inhoud ter harte geneem het, die Here se hulp gevra het om dit in jou lewe toe te pas, daadwerklike stappe geneem het om dit uit te voer en daarmee volgehou het.

Wat is jou verhouding teenoor die Woord? Hoe luister jy op ‘n Sondag en in die week daarna? Wat doen jy daarmee as jy dit klaar gehoor het? Hoe jy hierdie vrae antwoord, maak nie van jou ‘n Christen nie, maar dit wys verseker of jy alreeds ‘n Christen is, of nie.

 

  1. Die verduideliking (v.9-15)

Voor die boer ‘n stuk land bewerk, moet hy die grond se pH toets. Hy moet weet of die grond suur, of alkalies is, sodat hy kan weet wat om daar te plant.

Net so moet jy vandag die geestelike pH van jou hart toets, sodat jy kan weet of jy ‘n Christen is volgens Jesus se definisie daarvan (2Kor. 13:5). Een van die belangrikste toetse om te sien of jy regtig Christen is, is om te kyk hoe jy met die Woord omgaan. Begeer jy om dit meer te ken? Wil jy die Here beter leer ken? Wil jy weet hoe jy die Bybel meer kan gehoorsaam?

Dit is wat die dissipels anders gemaak het as die skare. Toe Jesus klaar gepreek het, het die skare Hom nie oor die gelykenis uitgevra nie. Hulle het nie werklik in die Woord belanggestel nie. Hulle reaksie het die punt van Jesus se lering huistoe gedryf: party het weggeloop sonder dat hulle die Woord verstaan het. Vir hulle was dit alles maar net ‘n mooi storie. Die dissipels was anders. Saam met ‘n paar ander wou hulle weet wat die gelykenis beteken en het hulle Jesus na die tyd daaroor uitgevra (v.9, Mark. 4:10).

Dit is altyd die ware gelowige se reaksie op die Woord: hy wil meer weet. Hy wil weet hoe hy God se Woord in sy lewe kan toepas. As iemand dit vir hom wys, verstaan hy dit en maak dit hom bly.

Hoekom verstaan Christene die Bybel, terwyl dit vir ander nie sin maak nie? Hulle verstaan dit, omdat hulle nuwe harte het en omdat God se Gees hulle oë oopgemaak het (v.10, 10:21-22, Ps. 119:18, Matt. 19:11, 1Kor. 2:16, 2Kor. 4:6, Ef. 1:17-18). Hulle verstaan dit, omdat hulle God se vriende is en Hy die geheime van sy Koninkryk met hulle deel (v.10, Gen. 18:18, Jes. 41:8, Jak. 2:23, Joh. 15:15, Ps. 25:14).

Hoekom verstaan ongelowiges dit nie? Hulle wíl dit nie verstaan. Hulle maak hulle harte hard, hulle oë blind en hulle ore doof, totdat die Here hulle uiteindelik daaraan oorgee (v.10, Jes. 6:9-10, Hand. 28:26-27). Toe Jesus die evangelie in gewone taal gepreek het, wou die skare dit nie hê nie. Hulle het dit nie aanvaar, of gehoorsaam nie. Israel het ‘n paar honderd jaar kans gehad om hulle te bekeer, maar hulle wou nie. Daarom het Jesus besluit om in gelykenisse met hulle te praat, sodat hulle die boodskap nie kón verstaan nie (v.10, Matt. 13:10-17).

Jesus neem dit nie ligtelik op as Hy aanhoudend met jou praat en jy jou ore vir Hom toedruk nie. Praat Hy al vir maande, of jare met jou oor ‘n sekere saak? Hy het jou al deur sy Woord, jou ouers, ander Christene en jou gewete gewaarsku, maar nog steeds weier jy om Hom te gehoorsaam. In die Naam van Jesus wil ek jou vra om nie aan te hou, totdat die Here uiteindelik besluit om jou ore doof te maak en jy jou nie meer kán bekeer nie. Ek doen dit met die liefde van Jesus Christus. Maak asb. jou ore oop en doen wat Hy jou beveel. Moenie soos die eerste drie soorte grond wees nie, maar wees soos die laaste een.

Toe die evangelie soos saad gesaai is (v.11, 1Pet. 1:23, 25), het ‘n deel daarvan op die vasgetrapte voedpaadjie van mense se harte geval (v.12, Matt. 13:19). Hulle harte was hard en daarom kon hulle die Woord nie inneem nie. Hulle het die Woord gehoor, maar hulle wou nie verder daaraan dink nie. Die duiwel het die Woord uit hulle harte kom steel soos wat voëls saad op pik (v.12). Hy wou keer dat hulle die Woord reg hoor, glo en gered word (v.12, 2Kor. 4:4).

Hy doen dit nog steeds. Hy versoek mense om nie na die preek te luister nie, maar om te slaap, of aan ander dinge te dink. Partykeer hits hy hulle selfs aan om die prediker aan te val, of om weg te loop terwyl hy nog besig is. Ek weet van so ‘n geval waar meer as die helfte van die mense by ‘n begrafnis uitgeloop het toe een van my kollegas die evangelie verkondig het.

Ander mense is soos die saad op die rots: die plante skiet gou op, maar dit vrek net so vinnig as die son daarop skyn (v.13). Hierdie mense is opgewonde oor die preek (Mark. 12:37), maar hulle is soos die blomme in Namakwaland wat nie diep wortels het nie, sodat die paradys gou weer in ‘n woestyn verander.

Dit laat my dink aan ‘n man wat vir ‘n paar weke ons gemeente besoek het. Nadat hy drie weke hier was, toe skryf hy vir my ‘n e-pos om te sê hoe die prediking sy lewe verander het. Twee maande later toe sê hy dat ek ‘n vals leraar is. Soos baie mense het hy ‘n lekker gevoel gesoek en het hy nie wortels gehad om regtig die water en minerale van die Woord te absorbeer nie. Soms beïdruk hierdie mense ons, maar hulle is soos ‘n verskietende ster: hulle belowe om te verander, maar dit gebeur nooit nie. Sodra dinge in hulle lewens skeefloop, of iemand hulle geloof teenstaan en sê dat Christene onverdraagsaam is, val hulle weg (v.13, Heb. 3:12, 1Joh. 2:19).

Die volgende groep is soos die saad wat tussen die dorings geval het (v.14, Jer. 4:3). Dit is mense wat die Woord hoor, maar toelaat dat die sorge, rykdom en plesiere van die lewe hulle verstik, sodat hul nie vrug dra nie (v.14). Hulle ontvang die Woord en lyk soos ware gelowiges. Na ‘n tyd begin hulle egter om vir die wêreld te lewe. Hulle het nie meer tyd vir die Woord nie. Hulle is te besig om te probeer om te oorleef, geld te maak, te ontspan, met vriende te kuier, of hulle lewens te geniet (v.14). Die dorings van sonde wat nog altyd in hulle harte was, word nou vir almal sigbaar (Heb. 6:8). Wanneer hulle hulle oë in die dood sluit, sal hulle agterkom dat hulle eintlik brandarm is, maar dan is dit te laat.

Die laaste groep is ware gelowiges. Hulle harte is soos goeie grond. As die saad van die Woord daarop val, aanvaar hulle dit en dra hulle die vrug van bekering (v.15, Matt. 3:8, Mark. 4:20, Hand. 26:20, Gal. 5:22-23, Fil. 1:11). Die rede hoekom hulle goed lewe, is omdat hulle harte goed en opreg is (v.15, Matt. 12:34, 15:19, Spr. 4:23). Die Gees het hulle van binne af nuut gemaak. Hy het die harde hart van klip uitgehaal en vir hulle ‘n sagte hart gegee wat die Here liefhet (Eseg. 36:26-27). Omdat hierdie mense nou nuwe harte het, sal hulle tot aan die einde van hulle lewens goeie vrug dra (v.15).

Dit is dan Jesus se definisie van ‘n Christen: dit is iemand wie se hele lewe verander het. Dit is asof hulle vir ‘n tweede keer gebore is (Joh. 3:3, 5). Hulle is nuwe mense (v.15, 2Kor. 5:17). Noudat hulle geestelike ore oop is, wil hulle die Herder se stem hoor. Hulle kan nie genoeg daarvan kry nie. Hulle is lief vir die Woord en wil dit gehoorsaam. Hulle wil dit nie net op die aarde doen nie, maar hulle wil ook in die hemel heilig wees en vir die Here lewe (v.15).

Daar het jy dan die litmus toets om te sien of jy Christen is, of nie. So, hoe lyk dit met jou: is jy ‘n Christen soos die wêreld dit beskou, of is jy ‘n Christen volgens Jesus se definisie daarvan in Lukas 8?

As jy nog nie gered is nie, kan jy vandag nog die Here aanroep en glo dat Hy jou sal antwoord (Rom. 10:13). Hoekom sal Hy jou nié red as dit in die eerste plek die rede is hoekom Hy aarde toe gekom het nie? Glo dan dat Jesus die Seun van God is. Glo dat Hy aan die kruis gesterf het om sondaars te red en dat Hy opgestaan het uit die dood. Glo dit met jou hele hart en lewe vir die Seun van God wat jou liefgehad het en Homself vir jou gegee het.

As jy dít doen, kan jy weet dat jy ‘n Christen is. Jou sekerheid lê nie in jouself nie, maar in dit wat Jesus in Lukas 8 van jou sê. Jy is soos ‘n man wat doodseker is hy gaan die hofsaak wen, nie omdat hý goed is nie, maar omdat die Regter sy boete betaal het en omdat dit sy Pa is.