Coram Deo Cover Image

Coming soon...

22 August 2021

Jesus kan jou vry maak

Lukas 8:26-39

In 2011 het die NG Sinode ruimte gemaak vir mense wat nie in die persoonlike bestaan van die duiwel glo nie.1 Tydens my eerstejaar van studies het iemand uit hulle geledere vir ons klas gegee. ’n Derdejaar student het ons vertel dat dié persoon vir hulle gesê het die duiwel bestaan nie. In 1942 het C.S. Lewis gesê dat demone ons versoek om hulle bestaan te ontken of om met hulle behep te wees.2

Volgens Lukas 8 is die bestaan van die duiwel en demone ’n werklikheid. Maar daar is ’n groter les: as Jesus ’n paar duisend demone uit iemand kon dryf, is niemand buite die bereik van sy genade nie.

 

1. Die bevryding (v.26-33)

In Afrika-godsdiens is dit die sangoma of toordokter se werk om bose geeste deur allerhande rituele te verdryf. Dit werk nie. Die feit dat mense in hierdie kultuur slawe van seksuele losbandigheid, drank, jaloesie, bygelowigheid, vrees en ander sondes bly, bewys dit. Jesus alleen het die mag om mense van die duiwel te bevry. Ons sien dit in Luk. 8:26 toe Hy na die oorkant van die See van Galilea toe gevaar het. Die mense in hierdie gebied het met onrein varke boer wat wys dat hulle heidene was. Griekse manuskripte verskil oor waar presies hierdie streek was. Volgens sommige was dit die Gadara-streek, 8 km suid-oos van die See van Galilea. Ander dink dat dit die Gerasa-streek was, sowat 50 km suid-oos van die meer. Maar die varke kon nie by een van hierdie plekke teen die helling afstorm en verdrink nie. Die ligging is meer waarskynlik Gergesa (vgl. die Girgasiete in Gen. 15:21) teen die ooskus van die See van Galilea soos die kerkvader Origines (185-254 n.C.) gesê het.3 Gergesa val onder die groter munisipale streek van Gadara.

Toe Jesus op die strand uitklim, toe kom daar twee demoonbesete mans na Hom toe (Matt. 8:28). Lukas fokus een van hulle wat seker namens albei gepraat het (v.26). Hy was al vir ’n lang tyd sonder klere (v.26). Hy is uit die samelewing verdryf en het in die rotsgrafte skuiling gesoek (v.26). Vandag nog is Satanisme en heavy metal music met naaktheid, seksuele losbandigheid, die dooies, kopbene en geraamtes behep. ’n Mens sien dit op hulle T-hemde en tatoeëermerke.

Toe die man in ons verhaal vir Jesus sien, toe val hy met ’n harde skril stem voor Hom neer (v.28, Gk. anakrazō). “Los my uit, Jesus, Seun van God, die Allerhoogste!” het hy gesê (v.28).4 Anders as die dissipels in v.25, het die demone geweet wie Jesus is. Hulle het Hom as hulle Skepper herken (Kol. 1:16); die Een wat hulle in die hemel aanbid het voor hulle gesondig het. Dit is Hy wat hulle uitgewerp het toe hulle in opstand kom. Daarom het hulle gesidder (Jak. 2:19) en gesê: “Ek smeek U, moet my nie pynig nie!” (v.28). Hulle het geweet dat Jesus die Regter is wat hulle gaan oordeel en was bang toe Hy hulle beveel om uit die man uit te gaan. Hulle het gedink dat Jesus hulle dadelik in die hel gaan pynig (v.28-29, Matt. 8:29). Jesus het egter gekom om die man te bevry. Die demone het hom gedurig beetgepak, geteister en in die woestyn ingedryf (v.29, 11:24). Sodra die demone hom uitgeput het, het die dorpsmense hom gebind en geboei, maar deur die demone se krag het hy weer losgebreek (v.29, Mark. 5:4). Alhoewel hy die kettings kon breek, kon hy nie die duiwel se mag oor hom breek nie.

Jesus kon. Toe Hy nader kom, het hy die demone se naam gevra (v.30). Daardeur het Hy gewys dat die demone teenoor Hom aanspreeklik is. Die demone het geantwoord: ‘My naam is Legioen’ (v.30). ’n Legioen is ’n militêre eenheid van 6000 soldate. Dit is hoeveel demone in hierdie man was. Onthou dat demone geeste is (Ef. 2:2, 6:12). Hulle word nie soos ons deur spasie beperk soos as jy in ’n oorvol hysbak klim nie.

Die demone het geweet Jesus gaan hulle uitdryf. Hulle het Hom gesmeek om hulle nie in die bodemlose put of gevangenis te gooi nie (v.31, 28, 2Pet. 2:4, Jud. 6). Hulle het toestemming gevra om in 2000 varke in te gaan (v.32, Mark. 5:13). Demone is onrein geeste (v.29) en daarom sal hulle ’n onrein tuiste soek: ’n ongeredde sondaar, ’n begraafplaas, varke of iets soortgelyk (v.27, 32, Lev. 11:7, Num. 19:16, Op. 18:2). Toe Jesus hulle toestemming gee, toe vaar hulle in die varke in, sodat die hele trop teen die helling afgestorm en in die see verdrink het (v.32-33). Dit wys vir ons dat die man nie ’n mediese toestand gehad het nie. As sy probleem psigies of fisies was, moet ons vra hoe hy onmiddellik geweet het wie Jesus is (v.28), hoe hy skielik genees is, en of die hele trop varke sielkundige probleme ontwikkel het. Dit is beter om die teks letterlik te verstaan, naamlik dat Jesus ’n paar duisend demone uit die man gedryf en toegelaat het dat hulle in die varke invaar. So het Jesus die man verseker dat hy waarlik vry is en dat die demone nie sal terugkeer nie.

Party mense sal sê dat Jesus nie sou toelaat dat die varke in die see verdrink nie. Maar dit was die demone en nie Jesus nie wat hulle vernietig het. Jesus se hart was vir die man wat bevry moes word. Ons samelewing veroordeel sulke mense en behandel hulle soos diere. Jesus bejammer, genees, bevry en red hulle. Hy doen dit nie deur iemand wat sewe keer om jou huis loop en dit met olie salf? Hy doen dit nie deur iemand wat die bloed van Jesus oor elke kamer pleit, demone bind, vloeke breek of deur ’n audio Bybel wat 24/7 in die agtergrond speel nie.

Hy doen dit deur sy kruisdood waar Hy ’n beslissende oorwinning oor die duiwel behaal het (Gen. 3:15, Matt. 12:29, Joh. 12:31, Kol. 2:15, 1Joh. 3:8). Om in sy oorwinning en vryheid te deel, moet jy gered wees. Jy moet God se Woord glo, hoor en dit doen. Jy moet gedurig bid, heilig en opreg lewe, van Jesus getuig en vasstaan (Matt. 6:13, Joh. 8:32, 36, Ef. 6:10-20, 2Tim. 4:18, Jak. 4:7). As jy weergebore is, hoef jy nie die duiwel, demone of die 666 te vrees nie. Jy hoef nie bang te wees jy gaan sterf as jy die Covid-entstof kry of nie kry nie. Vrees Hom liewer wat mense en demone, liggaam en siel in die hel kan werp (v.28, 31, Matt. 10:28, 25:41, 2Tess. 1:7-9, Op. 14:10-11, 20:10). Vrees Hom wat soewerein is oor die duiwel.

Is iemand ’n instrument in die duiwel se hande om jou aan te val, te kritiseer en die lewe vir jou moeilik te maak? Vind jou berusting in Jesus wat die duiwel soos ’n pion kan rondskuif om sy goeie planne te vervul (Gen. 50:20, 2Kor. 12:7-10, Joh. 13:2, Heb. 2:14-15). Op die oomblik lyk dit nie of daar iets goed uit die situasie kan kom nie, maar wees verseker: die duiwel kan niks doen tensy die Here hom toelaat nie (v.32, Job 1:12, 2:6, Luk. 22:31-32). Moet dus nie angstig raak as hy wêreldleiers teen die kerk aanhits, as die Taliban Christene vervolg of as iemand jou onregverdig behandel nie. Al hierdie dinge is in die Here se hande. Hy weet waarmee Hy besig is en sal dit gebruik om jou meer soos Jesus te maak en sy Naam te verheerlik (Rom. 8:28-29).

 

2. Die reaksie (v.34-39)

Ek onthou ’n paar preke waar ek wou vlug en alleen met die Here wees toe die diens klaarmaak. Daar is iets omtrent die heiligheid van God wat maak dat ’n mens onheilig voel en voor Hom wil wegvlug. Ons sien dit toe Adam en Eva gesondig het en tussen die bome gaan wegkruip het (Gen. 3:8). Ons sien dit toe God van berg Sinaï af spreek en die Israeliete op ’n afstand gebly het (Eks. 20:18). Ons sien dit in Jesaja se visioen van Christus toe hy gewens het om te sterf (Jes. 6:5). Ons sien dit toe Petrus Jesus se wonderwerk aanskou het en gevra het Hy moet weggaan (5:8).

Ons sien dit in die verse voor ons. Toe die varkwagters gesien het wat gebeur, toe vlug en vertel hulle oral wat Jesus gedoen het (v.34). Lukas noem dit om te wys dat hy nie die storie opgemaak het nie, maar dat daar getuies is: die varkwagters, die dissipels, die twee besete mans en Matteus (v.36, Matt. 8:28-34).

Toe die mense die varkwagters se getuienis hoor, toe gaan hulle om te sien wat gebeur het (v.35). Hulle het die man wat besete was aan Jesus se voete gesien sit (v.35). Dit wys dat hy ’n nuwe dissipel was, dat hy Jesus as Here erken het, dat hy hom aan sy Woord onderwerp het (10:39, Matt. 8:33, Hand. 22:3). Die man was geklee en by sy volle verstand (v.35, 27). Iemand wat min klere aan het, is nie by sy volle verstand nie. Iemand wat nie aan Jesus se voete sit en Hom bewonder nie, is nie by sy volle verstand nie (Pred. 9:3, Rom. 1:21-22, 28, Ef. 4:17-18). Ek sê nie hy kan nie wiskunde doen of ’n resep volg nie. Ek bedoel dat hy moreel dwaas is. Hy sal byvoorbeeld sê dit is verkeerd as jy ’n kleuter pak gee, maar reg as jy ’n baba vermoor (aborsie). Hy dink dit is verkeerd as jy ’n ou diesel kar ry wat te veel gasse uitlaat (klimaatsverandering), maar glo nie dit is verkeerd as mense met opset gif (dagga) inasem nie. Jesus kan jou vry maak om reguit te dink (v.35). Hy kan jou sy gedagtes gee wat nuut, regsinnig en rein is (Rom. 12:2, Ef. 4:23, Fil. 4:8). Sy gedagtes is in die Bybel, God se Woord (1Kor. 2:14-16). Vul jouself daarmee, sodat die wêreld jou nie met hulle skewe gedagtes beïnvloed en jy alles glo wat jy op Netwerk 24 en sosiale media lees nie. Hier verwys ek ook na sogenaamde Christelike boodskappe. God se Woord sal jou help om vir jouself te dink en nie te glo dat alles wat skeefloop rassisme, die Wêreldgesondheidsorganisasie, Bill Gates, die Covid-entstof en klimaatsverandering se skuld is nie. Iemand wat die sondeval en sy eie sonde as die probleem beskou, sal jy weet dat Jesus die oplossing is.

Dit is jammer dat die mense in ons teks dit nie gesien het nie. Hulle het die hele afvere as ’n ekonomiese ramp beskou en nie besef dat Jesus hulle die geleentheid bied om gered te word nie (v.37). Net so bekommer baie mense hulle meer oor die effek wat Covid op die ekonomie het as oor Suid-Afrika se verlore massas. Hulle gee nie om as dronk mense simpel dinge aanvang of as talle huwelike en gesinne deur drank geteister word nie—solank die verbod op alkohol nie die ekonomie sink nie! Hulle gee nie om as duisende demone in twee mense bly nie—solank hulle varke net nie verlore gaan nie! As daar nou ’n herlewing in ons land moes uitbreek en duisende drankverslaafdes tot bekering kom, sou daar mense wees wat die kerk wil toemaak net soos hulle in v.37 vir Jesus gevra het om hulle streek te verlaat. As hulle maar geweet het wat hulle in Jesus het en wat Hy hulle bied, sou hulle nie so dwaas gewees het om Hom weg te wys nie. Soos die bevryde man sou hulle gesê het: ‘Kan ons saamgaan; ons wil by Jesus wees?’ (v.38).

Hoekom het Jesus die demone en die mense van die gebied se versoek toegestaan (v.32, 37), maar nie die bevryde man s’n nie (v.38)? Dit is omdat die man uit die duiwel se mag bevry was, maar sy familie, vriende en die mense van die omgewing nie. Daarom het Jesus hom teruggestuur om te vertel wat die Here vir hom gedoen het (v.39). Die man was vir jare nie by die huis nie (v.27). Nou moes hy huistoe gaan en vir sy familie en vriende vertel wat Jesus vir hom gedoen het (v.39, Mark. 5:19). Hulle het hom die beste geken en het geweet wie hy was. Hulle sou dadelik kon sien dat die Here hom verander het.

Dalk is dit die rede hoekom jou planne om te immigreer, trek of bedank nog nie uitgewerk het nie: Jesus wil hê jy moet die mense naby jou vertel wat Hy vir jou gedoen het. Soos Hy jou vrygemaak het (v.35), wil Hy hulle deur jou getuienis vry maak (v.39). Bid vir hulle en sê dat Jesus jou gehelp het toe niemand anders (jouself inkluis) kon nie.

Wie kan met jou persoonlike getuienis stry? Wie kan sê dit het nie met jou gebeur nie, veral as die mense weet wie jy was en wie jy nou is? Jy hoef nie opgelei of ’n teoloog te wees om jou verlore geliefdes vir die Here te wen nie. Jy hoef net bereid te wees om te vertel dat Hy wat jou vrygemaak het die Seun van die Allerhoogste God is (v.28). Jesus is God self (v.39). Omdat die bevryde man dit geweet het, het hy meer gedoen as wat Jesus gevra het. Nie alleen het hy sy verlore geliefdes van Jesus vertel nie, maar hy het ’n sendeling onder sy eie mense geword (v.39, Mark. 5:20).

Het Jesus jou gered en uit die duiwel se mag bevry? Het Hy jou van jou sonde gered? Vir wie sal jy dit vertel? Sal jy dalk ’n prediker, evangelis of sendeling word om die goeie nuus van Jesus ver en wyd te versprei? Sal jy soos die man wees wat ek in Louis Trichardt gesien het? Hy het ’n blok van ons af gebly. Sy seun was ’n jaar of twee ouer as ek. Toe die man tot bekering kom, toe sien ek hoe hy in die strate traktaatjies uitdeel. Dit is asof hy nie vinnig genoeg by mense kon uitkom om hulle van Jesus te vertel nie.

Nie een van ons of die mense met wie ons praat verdien om gered te word nie. Jesus verdien dit egter dat ons die mense vertel hoe wonderlik Hy is en wat Hy vir sondaars kom doen het.


1  https://www.glodiebybel.co.za/ng-kerk-laat-ruimte-vir-botsende-sienings-oor-duiwel-2011-10-12/ en https://www.glodiebybel.co.za/2011-ngk-besluit-oor-die-duiwel/

2  C.S. Lewis, The Screwtape Letters (Glasgow: Collins, Fount Paperbacks, 1985 [1942]), 9

3  Origen of Alexandria, Origen’s Commentary on the Gospel of John, Book 6, par. 24, p. 482. Verkry by https://www.documentacatholicaomnia.eu/03d/0185-0254,_Origenes,_Commentarii_in_evangelium_Joannis_%5BSchaff%5D,_EN.pdf

4  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

Kategorieë