Coram Deo Cover Image

Coming soon...

18 October 2019

Jesus is groter as Moses

Related image

Hebreërs 3:1-6

Toe my seun die tema van my preek sien, toe sê hy: ‘Wat! Al wéér ‘n tema wat sê Groter As?’ Maar dit is waaroor Hebreërs gaan. Jesus is groter as die engele (hfst. 1-2), Moses (3:1-6), Josua en die Beloofde Land (4:8-10), die Sabbat (4:8-10), Melgisedek (hfst. 7), die Levitiese priesters (hfst. 7), Aäron (hfst. 7), die ou verbond (hfst. 8), die tabernakel (hfst. 9), die diereoffers (hfst. 10), die wet (2:2-3, 10:28-29), die geloofshelde (12:2, hfst. 11), en Abel (12:24).

Vandag wil ek fokus op Jesus wat groter is as Moses (3:1-6). Hoe is Hy groter as Moses?

 

  1. Hy is die Apostel en Hoëpriestervan ons belydenis (v.1-2)

Toe ek 8 jaar oud was, toe kyk ek Karate Kid. In die film het ‘n paar moeilikheidmakers die bejaarde Mnr. Miyagi onderskat. Hy het hulle een vir een platgeslaan. Die Hebreërskrywer het dieselfde gedoen met sy Joodse lesers wat Jesus vir hulle Ou Testamentiese rituele en offers wou verruil: hy het hulle argumente een vir een platgeskiet en gewys dat Jesus op elke front groter is.

Jesus is groter as die engele en die wet wat deur hulle aan Moses gegee is (hfst. 1-2). Dus is Hy ook groter as Moses en moes die Joodse gelowiges nie op Moses, of die engele fokus nie, maar op Jesus (v.1, 12:2). Jesus is die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis (v.1). ‘Apostel’ is die hoogste amp in die Nuwe Testament (1Kor. 12:28), terwyl ‘hoëpriester’ die hoogste amp in die Ou Testament is. Apostel beteken ‘gestuurde’. Moses word nooit ‘n apostel genoem nie, maar hy is wel deur die Here gestuur. Aäron was die eerste Hoëpriester. Jesus is groter as Moses en Aäron. Hy is as Apostel deur die Vader uit die hemel gestuur (Joh. 17:18, 20:21). Hy is die Hoëpriester wat Homself geoffer het en vir ons intree (hfst. 5, 7). Daarom moes die Hebreërs op Jesus let en nie op Moses nie.

Baie mense fokus nog op Moses eerder as op Jesus. Ons sê dat Jesus die middelpunt van ons belydenis is (v.1), maar ons glo en doen dinge wat ons belydenis weerspreek. Ons maak dikwels meer van Moses as van Jesus.

  • Die Hebrew Roots Movement fokus bv. op Moses en nie op Jesus nie: die Ou Testamentiese voedselwette, die Feeste, die Sabbat, die besnydenis, ramshorings, ens.
  • Die Katoliekekerk fokus ook op Moses. Hulle het priesters wat vir ander moet intree, engele as middelaars, wierook, kerse, priester-tipe uniforms, ens.
  • Mense wat aan ‘n verbondsteologie vashou fokus op Moses wanneer hulle sê dat gedoopte kinders deel van God se volk is.
  • Mense fokus op Moses wanneer hulle die wet verkeerd gebruik om God se guns te wen. Hulle lewe ook so in hulle ouerskap en hulle medemens verhoudings, asof ander mense hulle guns moet verdien.
  • Mense fokus op Moses wanneer daar baie van hulleself is in hulle persoonlike getuienis en min, of niks van Jesus nie.
  • Predikante fokus op Moses indien hulle preke vol bevele is en nie vol van Jesus nie.
  • Mense fokus op Moses wanneer hulle God se vergifnis probeer verdien. Wanneer hulle gesondig het, bely hulle dit nie dadelik nie. Hulle wil eers die wet genoeg nakom, sodat hulle waardig kan voel om weer te bid, die Bybel te lees, kerk toe te kom en die nagmaal te gebruik.

Moenie vergeet van Jesus en die prys wat Hy reeds betaal het nie. Tot die dood was Hy getrou aan die Vader en het Hy sý wil gedoen om ons te red (v.2, 2:17, Fil. 2:8). Hy het ons afgesonder om sy broers en susters te wees (v.1, 2:11-12). Hy het ons uit die hemel geroep om deel van sy heilige volk te wees (v.1, Eks. 19:6, Gal. 6:16, Ef. 2:11-22, Fil. 3:14, Tit. 2:14, 1Pet. 2:9-10). Hy was getrou soos wat Moses in die Ou Testament getrou was aan sy roeping as leier van die volk (v.2). Net so moes die Hebreërs getrou aan Jesus wees.

Ons moet ook getrou wees aan Hom. Wees getrou aan Jesus soos Hy aan jou getrou is. As jy ontrou is, bedroef jy Hom soos ‘n man wie se vrou egbreuk pleeg (Hosea). Moet daarom nie ontrou wees en die wêreld bo Hom kies (Jak. 4:4), of geen tyd vir Hom hê nie. Al wat Jesus van jou vra, is dat jy getrou moet wees. Moenie vir weke en maande wegbly van die Woord, gebed en die kerk nie. Wees getrou. Mark Jones sê:

‘Ons verwag nie dat mense die krag en toewyding van Dawid moet hê, die wysheid en welvaart van Salomo, of die gawes en heiligmaking van Paulus nie. Ons wil eenvoudig hê dat ons mense in hulle diens aan die Koning getrou moet wees. Nie briljant, ryk, of magtig nie; maar getrou.’ [Vry vertaal uit Mark Jones, God Is (Wheaton, Illinois: Crossway, 2017), 176].

 

  1. Hy is die Bouer van alles (v.3-4)

‘n Bouer wat paleise bou in Italië, Switserland, Hollywood, Clifton en Australië, is in groot aanvraag. Die wêreld se rykes wil hê dat hý hulle huise moet bou. Hy kry meer heerlikheid en eer as sy huise.

So is dit met Jesus en Moses: Jesus is die Bouer van die huis van Israel, die kerk, die hele skepping en die nuwe skepping (v.4, 1:2, 11:10, 16, 2Sam. 7:13, Sag. 6:12-13, Joh. 1:3, 14:2-3, Ef. 2:15, 19-22, Kol. 1:16, 1Pet. 2:5). Net soos wat ‘n huis ‘n bouer veronderstel, veronderstel die skepping ‘n Skepper (v.4). Die huis wat Jesus bou, weerspieël sy heerlikheid (v.3, Rom. 1:20). Die reën wys bv. sy goedheid; sterrestelsels sy krag; duisende soorte skepsels sy kennis; ‘n swaeltjie se migrasie sisteem sy wysheid; verlossing sy liefde, goedheid en genade.

Waar Jesus die Bouer van alles is, is Moses maar net een van die stene in sy huis. Dus is Jesus groter as Moses en waardig van meer heerlikheid en eer as hy (v.3-4). Jesus is die heerlikheid van God (v.3, 1:3, Joh. 17:5, 2Pet. 1:17), terwyl Moses maar net die glans daarvan kon sien (Eks. 33:18-23).

Ek wonder of ons te min maak van Jesus as die Bouer van God se huis? Ons het die idee dat die kerk nie meer groei nie, dat ‘n herlewing nie in ons tyd moontlik is nie, dat evangelisasie nie ‘n verskil maak nie, dat sendingwerk dood is, dat mense nie meer tot bekering kom nie, dat die wêreld die kerk gaan insluk, en dat die duiwel ons gaan oorwin.

Maar staan die belofte van Matt. 16:18 nie meer nie: “...Ek [sal] my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.”? Ek wil jou uitdaag om te bid vir kerkgroei, bekerings, sending, evangelisasie en herlewing. Ek wil jou ook aanmoedig om die Here se hulp te vra om die evangelie met mense te deel. Weet jy nie hoe nie? Ray Comfort se videos (The Way of the Master) op YouTube sal jou help.

 

  1. Hy is die Seun van God (v.5-6)

Pligsgetroue, eerbiedige en gehoorsame kinders is elke onderwyser se droom en ‘n plesier om mee te werk. Moses was so: hy was getrou in elke aspek van sy diens in God se huis, Israel (v.5, Num. 12:7). Tog was hy maar net ‘n dienskneg wat getuig het van die Messias wat sou kom (v.5, Deut. 18:15-19, Joh. 5:46, Hand. 3:22-23). Anders as Moses is Jesus nie net ‘n dienskneg in God se huis nie, maar is Hy die getroue Erfgenaam en Seun oor God se huis, die kerk (v.6, 1:2, 10:21, 1Tim. 3:15). Hy is die Here en Hoof van die kerk (Ef. 1:22).

As die kerk dan vir Hom so belangrik is, moet ons ook ‘n hoë siening daarvan hê. Moenie met die kerk maak wat hedendaagse jongmense met mekaar maak nie. Hulle gaan vir 10 jaar uit, of bly saam, want hulle wil nie plegtig verbind wees nie. Hulle verag die huwelik en het ‘n lae siening daarvan. Ons mag nie so maak met die kerk nie. Wat beteken dit prakties?

[a] Vir party beteken dit jy moet tot bekering kom. Jy kán nie deel wees van die kerk nie, omdat jy nie die Here ken nie.

[b] Vir party beteken dit jy moet ‘n hoë siening van die kerk kry. Moet dit nie verag en dink jy kan net so goed op jou eie regkom by die huis nie.

[c] Vir party beteken dit jy moenie net meer die eredienste bywoon en op die kantlyn staan nie. Bely jou geloof in Jesus en jou verbintenis met sy gemeente in die openbaar: laat jou doop en word ‘n lidmaat van die gemeente. Indien die doop vir jou ‘n struikelblok is, wil ek jou aanraai om ‘n studie daarvan te maak.

[d] Vir party beteken dit jy moet die gemeente se byeenkomste meer getrou bywoon (10:25). Jou flou toewyding wys dat Jesus en sy huis vir jou onbelangrik is. Hoe wil jy in die toekoms in sy hemelse huis wees as sy huis nóú nie eers vir jou belangrik is nie (v.6b)?

[e] Vir party beteken dit jy moet na die Here toe terugkeer. Jy woon nog die byeenkomste by, maar jy is in ‘n staat van afvalligheid. Jy hou nie meer met vrymoedigheid vas aan Jesus en die hoop wat jy in Hom het nie (v.6b). Jy roem nie meer in Hom nie, maar het in die wêreld en in jouself begin roem (v.6b). Miskien dink jy alles is reg, omdat jy ‘n gedoopte lidmaat is. Maar alles is nie reg nie. Jy het van die Here af weggedwaal. En as jy daarmee aanhou, sal dit op die einde bekend word dat jy nooit die Here geken het nie (v.6b, Matt. 7:21-23, 1Joh. 2:19). Om gered te word móét jy tot die einde toe volhard (v.6b, 14, 6:11, Matt. 10:22, Joh. 8:31).

***

Moet dan nie soos die Hebreërs versoek word om Jesus agtertoe te skuif nie. Let op Jesus en hou jou oog op Hom soos wat ‘n atleet die wenstreep dophou, of soos wat ‘n boer die wolke dophou.

Kategorieë