“3 ‘n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God! 4 Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ‘n gelykte en die rotsagtige plekke ‘n laagte word. 5 En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien: want die mond van die HERE het dit gespreek. 6 ‘n Stem sê: Roep! En hy vra: Wat moet ek roep? Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ‘n blom van die veld. 7 Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die HERE daarin blaas. Voorwaar, die volk is gras! 8 Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid. 9 O Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op ‘n hoë berg! O Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God! 10 Kyk, die Here HERE sal kom as ‘n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig. 11 Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.” (Jesaja 40).
Ek wil nie disrespekvol wees teenoor Mandela nie. Maar ongelukkig praat die wêreld asof hy 'n god was. In die afgelope week was Mandela se naam op almal se lippe. Maar Jesaja wys vir ons hoe Jesus groter is as Mandela.
Sy heerlikheid (v.3-5)
Wanneer 'n antieke koning gereed gemaak het om 'n plek te besoek, het hy mense vooruit gestuur om hindernisse uit die weg te verwyder, valleie (‘slaggate’) op te bou en heuwels om te stoot. Die pad moes gelyk wees (ons het die dieselfde idde as ons 'n rooi tapyt vir 'n belangrike persoon uitrol). Jesaja sê: “Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God! Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ‘n gelykte en die rotsagtige plekke ‘n laagte word.” (v.3-4). “Vul op, vul op, berei die weg, verwyder die struikelblok uit die weg van my volk.” (57:14). “Gaan in, gaan in deur die poorte, berei die weg van die volk! Vul op, vul op die grootpad, gooi die klippe weg, steek ‘n banier op oor die volke!” (62:10).
Jesaja praat van die stem van iemand wat roep. Hy sê aspris nie vir ons wie se stem dit is nie (eers in Johannes 1:23 vind ons uit dat dit Johannes die Doper is), want al wat saakmaak is die Koning wie se weg voorberei moet word: “Hy moet meer word, maar ek minder.” (Johannes 3:30).
Hoekom sê die stem dat God se weg in die woestyn voorberei moet word (v.3)? Toe God die Israeliete uit Egipte verlos het, het Hy hulle deur die woestyn na die Beloofde Land toe gelei. Dieselfde het gebeur toe Hy hulle uit Babilon bevry het. In 35:1-2, 6-7 sê Jesaja: “Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ‘n narsing; dit sal lustig bloei en juig, ja, met gejuig en gejubel; die heerlikheid van die Líbanon is aan hom gegee, die sieraad van Karmel en Saron; hulle dáár sal sien die heerlikheid van die HERE, die sieraad van onse God...in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis. En die gloeiende grond sal ‘n waterplas word, en die dorsland fonteine van water; in die plek van die jakkalse waar hulle gelê en rus het, is gras met riete en biesies.” In 43:19 sê hy: “Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak ‘n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.” Johannes die Doper was in die woestyn toe Hy die koms van die Messias aangekondig het (Matteus 3:1ff.). Nadat Johannes die Messias se weg in die woestyn voorberei het, het Jesus self uit die woestyn uitgekom en sy bediening begin (cf. Matteus 4:1-17). God sal sy kinders veilig deur hierdie aardse wildernis na die hemelse Kanaän toe lei.
Guide me, O Thou great Redeemer,
Pilgrim through this barren land.
I am weak, but Thou art mighty,
Hold me with Thy powerful hand.
Bread of heaven, Bread of heaven,
Feed me now and evermore,
Feed me now and evermore.
Wanneer Jesaja in v.4 praat van valleie wat opgevul word, en berge wat gelyk gemaak word, gebruik hy beeldspraak (v.4). Sy bedoeling is dat God die hoogmoedige Babilon sal verneder (sien Daniël 4), en sy volk wat in die stof lê sal verhef. Ons weet dit, want in 2:12-17 (let veral op 2:14) staan daar: “Want ‘n dag is daar vir die HERE van die leërskare oor al wat trots en hoog is, en oor al wat verhewe is, sodat dit verneder kan word; en oor al die hoë en verhewe seders van die Líbanon en oor al die eikebome van Basan; en oor al die hoë berge en oor al die verhewe heuwels; en oor al die hoë torings en oor al die versterkte mure; en oor al die skepe van Tarsis en oor al die kosbare pronkstukke. Dan sal die hoogheid van die mense neergebuig en die trotsheid van die manne verneder word; en die HERE alleen sal in dié dag verhewe wees.” Voordat Jesus gebore is het Maria gesê: “Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy verstrooi. Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog.” (Lukas 1:51-52). Belangrike mense is soos hoë berge wat gelyk gemaak sal word (v.4); die heerlikheid van die Here sal geopenbaar word (v.5). “Ek sal my eer aan geen ander gee nie.”(48:11). God sal sy eer met niemand deel nie – ook nie met Mandela nie. God se heerlikheid is in Jesus geopenbaar:
- By sy geboorte (Lukas 2:11-14, Johannes 1:14).
- In sy doop (Lukas 3:21-22).
- Op die berg van verheerliking (Lukas 9:28-36).
- In sy wonderwerke (Johannes 2:11).
- Met sy kruisdood (Johannes 17:1).
- In sy opstanding (Romeine 1:4).
- In sy hemelvaart (Handelinge 1:9).
- In sy evangelie-Woord (2 Korintiërs 3:18, 4:6).
- Deur sy Gees (Johannes 16:14).
- By sy wederkoms (2 Tessalonisense 2:10).
Is jy hoogmoedig? Die feit dat jy oor jouself dagdroom, aantrek om aandag te kry, mense vertrap, ongeskik is, dink jy verdien respek, kwaad word as jy nie onmiddellike diens kry in winkels en restaurante nie, is 'n duidelike bewys dat jy hoogmoedig is. Jy moet jouself verneder, bekeer en so voorberei vir die Here se koms (1 Petrus 5:6, Matteus 3:2, 4:17). Sy eerste koms is verby, maar jy moet jouself reg kry vir sy tweede koms. Hier is hoe jy dit kan doen:
[1] Sorg dat jy in 'n regte verhouding staan met God. Begeer saam met Paulus om “in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof” (Filippense 3:9). “Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge [sy wederkoms] verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede.” (2 Petrus 3:14).
[2] Verwag sy koms: “Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.” (Matteus 25:13).
[3] Verlang na sy koms: “Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.” (2 Timoteus 4:8).
[4] Sorg dat jou verhouding met ander mense (veral met jou huweliksmaat) reg is: “Moenie teen mekaar sug nie, broeders, sodat julle nie veroordeel word nie. Kyk, die Regter staan voor die deur.” (Jakobus 5:9).
[5] Wees rein en heilig: “En elkeen wat hierdie hoop [die hoop van die wederkoms] op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.” (1 Johannes 3:3).
[6] Bly naby die Here en moenie wegdwaal nie: “En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie.” (1 Johannes 2:28).
[7] Wees geestelik waaksaam: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ‘n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.” (Lukas 21:34-36). “Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.” (1 Tessalonisense 5:6).
[8] Wees 'n goeie rentmeester van die bediening, gawes en besittings waarmee die Here jou toevertrou: “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.” (1 Korintiërs 3:11-15, cf. Matteus 25:14-30).
[9] Leef 'n lewe van gebed: “Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Lukas 18:7-8).
[10] Dien ander gelowiges, want wat jy aan hulle doen, doen jy aan Jesus (sien Matteus 25:31-46).
[11] Deel die evangelie met ander: “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.” (Matteus 10:32-33).
[12] Doen jou beste by die werk. Die Here sal jou beloon as Hy kom (Efesiërs 6:8).
[13] Wees getrou by die kerk: “laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Hebreërs 10:25).
[14] Moenie skynheilig wees nie, want as jy is sal jy geen beloning van God ontvang nie (Matteus 6:1).
[15] Volhard tot die einde toe, want “wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” (Matteus 10:22).
[16] Koop die tyd uit (Efesiërs 5:16). Verlore tyd kan jy nie terugkry nie. Berei voor vir die ewigheid. Moenie jou tyd op onbenullighede mors nie.
[17] Maak vir jou skatte in die hemel bymekaar (Matteus 6:19-20). Wat jy hier koop kan jy nie saamvat hemel toe nie. Deur vir die Here se werk te gee kan jy skatte in die hemel weglê.
[18] Moenie in Jesus glo eers wanneer jy oud is nie.
[19] Moenie rondsit as jy afgetree het nie. Dien die Here voluit totdat jy doodgaan: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.” (2 Timoteus 4:7).
[20] Hou jou gewete skoon (Handelinge 23:1, 24:16, 2 Timoteus 1:3). Moenie op jou sterfbed wens jy het dinge anders gedoen nie. Spyt kom altyd te laat.
Sy lewe (v.6-8)
Op my grasperk groei klein geel blommetjies wat maar vir 'n dag lewe, voordat die son hulle doodbrand. Mense is soos gras en veldblomme in die woestynson. As die warm woestynwind daaroor waai, dan vrek dit: “‘n Stem sê: Roep! En hy vra: Wat moet ek roep? Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ‘n blom van die veld. Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die HERE daarin blaas. Voorwaar, die volk is gras! Die gras verdor, die blom verwelk” (v.6-8). In v.24-25 lees ons: “Hy maak die vorste tot niet, die heersers van die aarde verander Hy in nietigheid; skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars wortel hulle stam in die grond, of Hy blaas op hulle, sodat hulle verdor, en die storm voer hulle weg soos ‘n stoppel.” So is jy, Mandela en die konings van Babilon, “maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.” (v.8).
As mense dan so sterflik is, moet jy God vrees. Dis heeltemal onnodig dat bang is oor wat mense van jou dink en sê: “Ek is dit wat julle troos! Wie is jy, dat jy bevrees is vir die mens wat moet sterwe, en vir die mensekind wat oorgegee word soos gras? — dat jy vergeet die HERE wat jou gemaak het, wat die hemel uitgesprei en die aarde gegrond het; dat jy gedurigdeur die hele dag bewe vir die grimmigheid van die verdrukker as hy dit daarop toelê om te verwoes? Waar is dan die grimmigheid van die verdrukker?” (51:12-13).
- Moenie bang wees vir die Illuminati of die Antichris nie. Jesus sal sy vyande vernietig met die asem van sy mond (v.7, 11:4).
- Jy hoef nie bang te wees vir enige diktator nie: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.” (Psalm 146:3-4).
- Moenie bang wees vir rykes wat geld het om toutjies te trek en jou te onderdruk nie: “Wees nie bevrees as ‘n man ryk word, as die rykdom van sy huis groot word nie” (Psalm 49:17).
- Moenie bang wees vir dié wat jou vervolg nie: “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.” (Matteus 10:28).
- Moenie bang wees vir mense wat jou fisies, emosioneel of intellektueel boelie nie.
Bid vir jou vyande en wees lief vir hulle. Dink oor die soewereine God en oor sy Woord wat vir ewig duur. As jy diep, lank en gereeld genoeg daaroor peins sal jy God vrees, en nie mense nie. Jy hoef nie bang te wees vir die gerugte wat omgaan, dat swart mense die blankes gaan uitmoor na Mandela se begrafnis nie. Mense se planne sal misluk, maar God se raad en sý Woord sal vir ewig standhou (v.8, cf. Matteus 5:18). Baie hamers het al op die aambeeld van God se Woord gebreek; baie golwe het al teen hierdie ewige Rots gebreek. Voltaire het op sy sterfbed gesê dat daar binne 'n paar dekades na sy dood, geen Bybel in die wêreld sal oor wees nie (net 'n Bybel in 'n museum). Dit word vertel dat sy huis in Geneve, Switserland 'n Bybelhuis geword het (nie sy huis in Ferney, Frankryk nie). Party mense sê dis 'n mite. Maar die feit is dat die ateïs dood is, en dat die Woord van God nogsteeds stand hou. Stel daarom jou hoop in God se Woord en nie in mense soos Madiba of jou spesifieke politieke party nie. Die lewe is kort. Moet dit nie mors nie. Moenie dom wees en dink dis net ou mense wat doodgaan nie. Moenie uitstel om die evangelie te glo nie. Maak gereed om jou God te ontmoet.
Sy sorg (v.9-11)
In Jesaja se tyd was daar nie mikrofone nie. As jy wou hê dat almal jou moes hoor, moes jy op 'n berg gestaan het (v.9). Jerusalem is op 'n berg gebou, en dit was vanuit dié stad wat die goeie nuus na die res van die land en wêreld toe versprei het (v.9, 2:3, Lukas 24:47) :
“O Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op ‘n hoë berg! O Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God! Kyk, die Here HERE sal kom as ‘n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig. Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.” (v.9-11). Die goeie nuus was dat God sy volk uit die vyand se hand sou bevry; dat Hy hulle soos ’n herder sou uitlei. God sou hulle met sy sterk arm red (volgens 53:1, 59:16-18 is die Messias die arm van God). Jerusalem en die stede van Juda sou herbou word (52:7-9, Esra 1:2). Die Nuwe Jerusalem sou God se heerlikheid weerspieël (Openbaring 21:11). Vir sy moeitevolle arbeid sou die Messias self ’n beloning ontvang, en ook sy kinders beloon (53:12, Openbaring 22:12).
In die eerste eeu het die inwoners van Israel God met hulle eie oë gesien (v.9). Ons het Hom nie in die vlees gesien nie, maar ons kan Hom in sy Woord sien. Sien jy Hom in sy Woord? Nee? Miskien is dit omdat jy nie gered is nie. Vir jou is die wonderlikste ding 'n vakansie by die see, seks of 'n lekker ete by DROS. Satan verblind jou oë, sodat jy nie die wonderlikste van alles sien nie: die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus (2 Korintiërs 4:4, 6). Dalk sien jy Hom nie, omdat jy nie meer jou Bybel lees, die nagmaal gebruik of getrou by die kerk is nie. Dalk sien jy Hom nie, omdat jy die Bybel lees om interessante feite te leer, en nie om die Here te ken nie. Dalk sien jy Hom nie, omdat jou sonde 'n blokasie tussen jou en God veroorsaak het.
Vra vir die Herder om jou help; om jou te lei (v.11, soos Hy vir Israel deur die woestyn gelei het, cf. 63:11). Ja, Mandela was in baie opsigte 'n goeie leier wat omgegee het vir mense. Maar Jesus is 'n beter Herder (daar kan eintlik nie eers 'n vergelyking wees nie). Wat kom doen hierdie Herder vir sy skape (sien v.11, Psalm 23, Esegiël 34, Johannes 10)?
- Hy het sy lewe gegee om jou te red en te beskerm.
- Hy sal jou saggies lei as jy moeg en verward is.
- Hy sal jou dra as jy seerkry.
- Hy sal jou beskerm teen vals leraars (wolwe), Satan en ongelowiges.
- Hy sal nie toelaat dat jy die ewige lewe verloor nie.
- Hy sal jou voed en gee wat jy nodig het.
- Hy sal vir jou rus gee en jou verfris as jy geestelik, emosioneel en fisies moeg is.
- Hy sal jou vertroos as jy treur of as jy bang is.
- Hy sal jou genees as jy siek is (al beteken dit jy moet sterf en hemel toe gaan).
- Hy sal jou soek as jy afgedwaal het.
- Hy sal jou tug.
- Hy sal vir jou die regte weg leer.
Jesus het herders (ouderlinge/leraars) onder Hom aangestel. Hy gebruik húlle dikwels om in die bogenoemde behoeftes te voorsien (Handelinge 28:20, Johannes 21:15, 1 Petrus 5:1-3, Jeremia 3:15, Matteus 18:12). Moet asseblief nie huiwer om te vra as jy hulp nodig het nie. Ek glo Mandela was 'n gawe man. Ek is seker as jy vir hóm gevra het om te help, sou hy sy bes probeer het. Maar Jesus is groter as Mandela, en kan help op maniere wat hy nie kon nie.