Coram Deo Cover Image

Coming soon...

5 October 2019

Jesus is groter as die engele

[column width="1/1" last="true" title="" title_type="single" animation="none" implicit="true"]

Image result for jesus greater than the angels

Hebreërs 2:5-9

‘n Groep Joodse gelowiges in die eerste eeu was versoek om die rug op Jesus te draai en terug te keer na die Ou Testamentiese rituele en offers; na die wet wat deur engele aan Moses gegee is (Heb. 2:2, Hand. 7:53, Gal. 3:19). Die Hebreërskrywer wou hulle waarsku om dit nie te doen nie. Daarom het hy hierdie brief geskryf. Hy het in die eerste plek gewys dat Jesus in sy Godheid groter is as die engele (Heb. 1). Die wet wat God dus deur hulle gegee het, kon nie groter wees as die evangelie wat Hy direk deur sy Seun kom gee het nie (Heb. 1:1, 2:2-3).

Party van sy lesers sou die volgende beswaar maak: ‘Ja, maar Jesus het mens geword. Ons weet dat engele groter as mense is, en daarom is die engele groter as Jesus.’

‘Julle is verkeerd; kom ek wys dit vir julle,’ is basies wat die outeur in Heb. 2:5-9 wou sê. Kom ons ontleed die teks en sien wat dit vir ons te sê het.

  1. Die nuwe aarde (v.5)

As jy by ‘n groot konsert is, kos die sitplekke wat naaste aan die verhoog is duurder as die sitplekke agter in die teater. Die feit dat ons in die hemel nader aan die troon sal wees as die engele, wys dat ons ‘n nader verhouding met Jesus het as hulle (Op. 7:9, 11). Thomas Watson sê: ‘We are...nearer to Christ than the angels: they are his friends, we his spouse.’ [Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1965 [1692, 1890]), 158].

Ons sal ook ‘n meer verhewe posisie hê as hulle. God het nie die toekomstige wêreld—die nuwe aarde—aan die engele onderwerp nie, maar aan mense (v.5). Hoe kan die lesers dan sê dat Jesus in sy menslike natuur minder is as die engele? Op die nuwe aarde sal elke knie voor Hom buig en erken dat Hy die Here is: ook die engele (Fil. 2:10-11).

Volgens v.5 en Op. 5:10 sal ons saam met Christus oor die nuwe aarde regeer. Blykbaar sal ons ook die engele oordeel en oor hulle regeer (1Kor. 6:3). A.g.v. jou en my eenheid met Jesus, sal ons groter wees as die engele, net soos wat Hý groter is as hulle. Dit is soos ‘n slavin wat laer is as haar meester, maar hoër is die oomblik wat sy met die koning trou.

As ons dan op die nuwe aarde hoër sal wees as die engele, moet ons deur die Jehova’s Getuies se leuen sien wanneer hulle sê dat Jesus maar net ‘n verhewe engel is. Jesus is groter as die engele, beide in sy Goddelike natuur (Heb. 1) en in sy menslike natuur (Heb. 2). Laat ons Hom dan nie gelykstel met die engele, asof Hy maar net een van hulle is nie. Hy is oneindig keer groter as hulle.

As ons groter gaan wees as engele, moet ons nie soos die Katolieke tot die engele bid, of hulle aanbid nie (Kol. 2:18, Op. 19:10, 22:8-9). As ons groter gaan wees as die engele en oor hulle gaan regeer, moet ons nou al ons eie tugsake kan hanteer en nie na wêreldse howe toe hardloop om geskille tussen Christene te probeer oplos nie (1Kor. 6:1-8). As ons groter gaan wees as die engele, impliseer dit ook dat ons nie engele word wanneer ons sterf nie. Jou geliefdes wat gesterf het, is nie engele wat hulle onsigbare vlerke om jou hou om jou te troos nie, selfs al dink Juanita du Plessis so (‘...Nou is ek die engel wat sy vlerke om jou hou’). [Uit haar lied, In die Hemel].

  1. Die huidige aarde (v.6-8)

Engele is nie vet babas met harpe, onsigbare mense met wit klere en vlerke wat oortyd werk om te keer dat kinders seerkry, of klein wit figuurtjies wat op mense se skouers sit en in hulle ore fluister om te keer dat die duiwel hulle versoek nie. Engele is onsigbare geeste wat in verskillende vorme kan verskyn (1:7, 14, Gen. 18:2, 22, 19:1, 2Kon. 2:11, 6:17, Matt. 28:2-3). Hulle is magtige helde wat baie sterker is as ons (Ps. 103:20). En tog het hulle nie dieselfde gesag as ons ontvang nie. Hulle is soos Jan wat sterker is as die koning, maar nie dieselfde gesag het as hy nie.

Die mens is ‘n spikkel in vergelyking met die groot ronde maan en triljoene sterre (Ps. 8:4). En tog het die Here ons gemaak, dink Hy aan ons en sorg Hy vir ons (v.6, Ps. 8:5). God het die mens vir ‘n kort tydjie minder gemaak as die engele (v.7, Ps. 8:6). Maar selfs al is die mens tydens sy paar jaar op aarde minder as die engele, het hy ‘n groter voorreg as hulle. God het hom met heerlikheid en eer gekroon deur hom na sy beeld te maak (v.7, Ps. 8:6, Gen. 1:26-27).

Die kroning in v.7 skep die idee van ‘n koning en ‘n koningin wat regeer. God het die mens aangestel om namens Hom oor die skepping te regeer: oor die voëls, die landdiere, die seediere en die res van die skepping (v.7-8, Ps. 8:6-8, Gen. 1:26, 28). Die engele het nie hierdie selfde sfeer van invloed ontvang nie. Al is ons dus vir ‘n kort tydjie minder as hulle, het ons voorregte wat hulle nie het nie.

Ongelukkig het die mens in sonde geval (Gen. 3). Toe dit gebeur, het die dood ingetree en kon die mens nie meer oor die skepping heers soos hy moes nie (v.8, 14, Gen. 3:17-19). Alhoewel die mens olifante en ander wilde diere kan mak maak, maak hulle soms mense dood (v.8).

Ons wag vir die wederkoms wanneer Jesus weer die skepping aan ons voete sal onderwerp (Rom. 8:19-25, Jes. 11:6, 8). Tot dan moet ons reg dink oor die posisie wat God ons in die skepping gegee het. Ons is unieke skepsels wat na God se beeld gemaak is. Ons is nie die produk van evolusie, asof ons maar net ‘n meer gevorderde soort dier is nie. Ons is ook nie indringers wat inmeng as ons bome afkap, of diere slag om vleis te eet nie.

Natuurlik moet ons nie die skepping vernietig, of dit besoedel nie. Maar ons moet ook nie soos Greta Thunberg en ander klimaatsverandering gurus ‘n afgod daarvan maak, asof die wêreld binne die volgende paar jaar tot ‘n einde gaan kom, omdat ons te veel skape aanhou, of diesel produseer wat kamtig te veel CO2 in die atmosfeer vrystel nie.

Globale verhitting soos die wêreld dit verstaan, is ‘n mite. Temperatuur verandering is ‘n normale deel van ‘n gevalle wêreld. Dit gebeur elke 50 of 100 jaar. Dus hoef jy nie bang te wees dat die wêreld deur water sal vergaan, omdat die pole blykbaar besig is om te smelt nie. Die wêreld sal nie weer deur water vergaan nie, maar deur vuur wanneer Jesus weer kom (Gen. 9:11, 2Pet. 3:6-7).

Die probleem met die evolusionistiese wêreldbeskouing, is dat dit onderstebo is. Hulle raak angstig oor karre wat nie ‘groen’ genoeg is nie, maar hulle vernietig miljoene lewens deur aborsie. Hulle domineer m.a.w. nie die skepping soos God dit in Gen. 1:28 beveel het nie, maar hulle wil mense domineer (Spr. 30:14). Soos húlle die wêreld sien, het diere meer regte as mense.

Hulle verstaan nie wat dit beteken dat God die mens ‘n bietjie minder gemaak het as die engele, dat Hy ons na sy beeld gemaak het, en dat ons oor die skepping moet heers nie. Die rede hoekom hulle verkeerd dink, is omdat hulle nie weet wie Jesus is nie, en omdat hulle sy Woord verwerp.

  1. Die hemel (v.9)

As jou kop en skouers deur ‘n heining pas, sal die res van jou liggaam gewoonlik ook pas. Jesus is die Hoof en ons is die liggaam (Ef. 1:22-23). Omdat Hy as ‘n mens laer was as die engele en nou bo hulle verhef is (v.9, Ef. 1:21, 1Pet. 3:22), sal ons in sy voetspore volg.

Jesus was vir die kort tydjie van 33 jaar minder as die engele (v.9, 7). Toe Hy op die aarde was, het die engele Hom gehelp, bedien en versterk (Matt. 4:11, 26:53, Luk. 22:43). In sy Goddelike natuur was Hy nog altyd bo die engele, maar in sy menslike natuur was Hy laer as hulle. Hy het Homself tot die dood toe verneder deur aan die kruis te sterf vir ons sonde (v.9, Fil. 2:8).

Omdat Hy ander op hierdie manier bo Homself gestel het, het die Vader Hom opgewek en Hom met die hoogste eer gekroon (v.9, 7, Ps. 24:7-10, Fil. 2:9-11, vgl. Joh. 10:17). Hy was nog altyd God oor alles, maar a.g.v. sy liefdesdaad het die Vader Hom in sy menslike natuur as Koning bo die skepping aangestel (Gen. 1:28).

Wat ‘n groot liefde het Hy nie aan ons bewys nie? Die Vader se genade het Hom gehelp om die aakligheid van die dood vir ons te smaak (v.9). Hy het die bitter beker van die dood leeggedrink. Hy het nie ‘n bietjie laat oorbly soos wat party mense koffie, of tee drink nie. Hy het die laaste druppel van sy Vader se toorn in die dood gesmaak (v.9). Hy is vir ons gegesel, met die vuis geslaan, gespot, gespoeg, het dorings in sy skedel gehad, is sonder klere aan ‘n kruishout vasgespyker, het tussen twee misdadigers gesterf, het dors geword, en is met ‘n spies deurboor (v.9, Joh. 3:16, 15:13, Rom. 5:8, Gal. 2:20, 1Joh. 3:16, 4:10). Hy het die dood vir ons gesmaak (v.9): vir sy kinders, vir sy broers, vir die nageslag van Abraham, vir elkeen wat in Hom glo (v.10-18, Joh. 3:16).

Glo jy in Hom? Het jy jou al van jou sonde bekeer en jouself aan Hom toevertrou? Dan sal jy nie die sterk wyn van die tweede dood hoef te smaak nie (Op. 20:14-15, 21:8). Jy sal soos die res van ons jou asem uitblaas en begrawe word. Jou siel sal egter in die hemel voortlewe en saam met Christus regeer (Luk. 23:43, 46, Joh. 8:51-52, 11:25-26, Fil. 1:23, 2Kor. 5:8, 2Tim. 2:11-12).

Jy sal ook oor die engele regeer. In hierdie lewe reeds staan die engele in verwondering oor die voorregte wat ons het. Hulle kyk met belangstelling hoe mense uit alle nasies in een liggaam saamkom om die Here te aanbid, hoe ons Jesus aan die wêreld bekend maak, hoe mense tot bekering kom, hoe die gemeente Christus se Woord uitvoer en aan Hom gehoorsaam is (Luk. 15:10, 1Kor. 11:10, Ef. 3:10, 1Tim. 5:21, Heb. 12:22-23, 1Pet. 1:12).

In die hemel sal hulle hul nog meer verwonder. Hulle sal die Here saam met ons aanbid vir wat Hy aan die kruis gedoen het (Op. 5:9-14), maar in dieselfde asem verstaan hulle dit nie soos wat ek en jy dit verstaan nie. Hulle was immers nog nooit verlore, sodat hulle gered moes word nie.

There is singing up in Heaven

such as we have never known,

Where the angels sing the praises

of the Lamb upon the throne,

Their sweet harps are ever tuneful,

and their voices always clear,

O that we might be more like them

while we serve the Master here!

Holy, holy, is what the angels sing,

And I expect to help them

make the courts of Heaven ring;

But when I sing redemption’s story,

they will fold their wings,

For angels never felt the joys

that our salvation brings.

But I hear another anthem,

blending voices clear and strong,

Unto Him who hath redeemed us

and hath bought us, is the song;

We have come through tribulation

to this land so fair and bright,

In the fountain freely flowing

He hath made our garments white.

Then the angels stand and listen,

for they cannot join the song,

Like the sound of many waters,

by that happy, blood-washed throng,

For they sing about great trials,

battles fought and vict’ries won,

And they praise their great Redeemer,

who hath said to them, Well done.

So, although I’m not an angel,

yet I know that over there

I will join a blessèd chorus

that the angels cannot share;

I will sing about my Savior,

who upon dark Calvary

Freely pardoned my transgressions,

died to set a sinner free.

Johnson Oatman (1856-1922)

[/column]

Kategorieë