Hebreërs 10:1-18
Ek ken ’n man wat glo dat ons nog die seremoniële wet moet hou (dinge soos die Ou Testamentiese voedselwette, Feeste, Sabbat en besnydenis). Na ’n lang gesprek het ek hom gevra: ‘Is geloof in Jesus Christus genoeg om gered te word?’ Hy het vir ’n rukkie stilgebly en toe gesê: ‘Nee.’ Maar die Nuwe Testament—veral boeke soos Galasiërs en Hebreërs—leer anders.
1. Hy is ’n beter Offer (v.1-10)
[a] Die diereoffers (v.1-4)
’n Argitek skets die buitelyne van ’n gebou en daarna bou iemand dit. Die Ou Testamentiese priesters, offers en tabernakel is die buitelyne; Jesus is die gebou. Die Ou Testament is die skaduwee; Jesus is die liggaam (v.1, 8:5, 9:23-24, Kol. 2:16-17). Hoekom wou die Hebreërs dan die Ou Testament priesters, offers en tabernakel (die tempel) vir Jesus verruil? Dit sou wees soos om die gebou vir die planne te verruil, of die liggaam vir die skaduwee.
Ek kan verstaan dat die gelowiges in die Ou Testament offers moes bring: hulle het nog vir die Messias gewag. Maar as die Messias reeds gekom het en jy nog die offers verkies, moet jy Hom noodwendig verwerp. En dan kan jou sonde nie vergewe word nie. Hoe kán dit as jy die enigste Offer verwerp het? Die offers van die Ou Testament kan tog nie ’n mens se sonde wegvat nie. Die feit dat die priesters elke jaar dieselfde offers moes bring, bewys dit (v.1, 7:11, 19, 9:9). As die offers mense se sonde kon wegvat, was dit net nodig vir een offer in plaas van aanhoudende offers (v.2). Die aanhoudende offers het die volk herinner: ‘Ek is ’n sondaar; die diereoffers kan nie my sonde wegvat nie... ek is ’n sondaar; die diereoffers kan nie my sonde wegvat nie...’ (v.2-4).
Slegs Jesus kan ons sonde wegvat en ons gewetens reinig (9:14, 26). Dit is dus nie nodig vir boetedoening, of ’n offer as jy gesondig het nie. Onthou eenvoudig die kruis, bely jou sonde en word vergewe (1Joh. 1:7, 9). Dit is ondere andere hoekom Jesus die nagmaal ingestel het: nie om ons aan ons sonde te herinner soos die Ou Testament offers nie, maar om ons te herinner dat Hy ons sonde deur sy kruisdood vergewe het. Dit is ’n jammerte dat baie Christene dit weet, maar die nagmaal vermy as hulle sonde gedoen het. Hulle hanteer die nagmaal as ’n offer wat hulle aan hulle sonde herinner, eerder as ’n herdenking van Jesus se kruisdood waardeur Hy ons vergewe. Ek wil jou dus mooi vra om die nagmaal reg te beskou. Moenie wegbly as jy gesondig het nie, maar sien dit as ’n geleentheid om jou sonde te bely, jou daarvan te bekeer, en vergewe te word.
[b] Jesus se offer (v.5-10)
’n Ateïs het eenkeer vir my gesê: ‘Ek benodig nie ’n offer om vergewe te word nie.’ Die feit dat hy dit gesê het, wys dat hy nie verstaan hoe offers werk nie. Natuurlik kon die diereoffers nie mense se sonde wegvat nie (v.1-4). Daarom het God sy Seun na die wêreld toe gestuur (v.5, Joh. 6:33, 41, 50-51, 10:36). Soos die Vader, is Jesus ook self God (1:3, Joh. 1:1, 5:18, 10:30, 33, 36, 14:9, 20:28). Die Een wat in ons plek gesterf het móés God wees, omdat nét God mense se sonde kan vergewe, sondaars kan red, en ’n ewige prys kan betaal (Ps. 49:8-10, 16, Mark. 2:5-12).
Maar God kan nie sterf nie (1Tim. 6:16) en daarom moes die Seun ook mens gewees het. Daarom het die Vader ’n liggaam vir Hom berei (v.5, Joh. 1:14, Gal. 4:4). Jesus het nie ’n mens geword deur ’n pa en ’n ma nie (Luk. 1:34). Gód het in die maagd Maria se baarmoeder gewerk en vir sy Seun ’n liggaam voorberei (v.5, Ps. 40:7, Matt. 1:18, 20). Jesus is gebore uit ’n vrou, sodat niemand kon sê: ‘Hy is nie ’n mens nie.’ Hy is uit ’n maagd gebore, sodat niemand kon sê: ‘Hy is nét ’n mens’ nie. Jesus is God en mens.
Deur die maagdelike geboorte het God ook verseker dat Jesus nie Adam se sonde erf, of ’n sondige natuur het soos ons nie (7:26, Luk. 1:35, Ps. 51:7). As Jesus sonde gehad het, dan het Hy God se straf verdien. Hy moes dus sondeloos gebore word, sodat Hy die straf vir óns sonde kon dra. Maar hiervoor was ’n sondelose natuur nie genoeg nie. Adam was ook sondeloos en tog het hy gekies om sonde te doen. Daarom moes Jesus eers perfek lewe, voordat Hy die perfekte offer vir ons sonde kon wees. Hy het geweet dat die Vader gehoorsaamheid bo offers verkies (v.5-6, 1Sam. 15:22, Ps. 51:18, Spr. 15:8, 21:3, Jes. 1:12-15, Hos. 6:6, Matt. 9:13). Dus het Hy die Vader se wil perfek nagekom (v.7, Matt. 26:39, Joh. 4:34). Hy het alles gedoen wat die wet vereis het en ook die profesieë vervul (v.7, Ps. 40:9). Hy was gehoorsaam tot aan die einde (Fil. 2:8). As Jesus gesondig het, sou die Vader sy offer verwerp het, sou Hy in die graf gebly het vir sy eie sonde, sou ons nie vergewe word nie, sou Hy nie ’n perfekte rekord hê om vir ons te gee nie, sou ons nie hemel toe kon gaan nie, sou ons nie ’n nuwe liggaam ontvang het in die toekoms nie, en was die dood vir ons die einde van alles. Sien jy dus dat Jesus se lewe net so belangrik was soos sy dood? Sy lewe is nie maar net die patroon wat ons moet navolg nie, maar daareur voorsien Hy ook die meriete wat ons nodig het om voor God te staan.
Deur sy lewe het Jesus die wet namens ons gehoorsaam; deur sy dood het Hy die straf vir óns wetsoortreding gedra (v.8-9, Jes. 53:4-6, 2Kor. 5:21). So het Hy die eerste verbond vervul en die tweede een in werking gestel (v.9, 8:7-12). Ek sal later meer hieroor sê. Vir nou is dit genoeg om te weet dat die ou verbond met sy tempel, priesters, en offers nie meer bestaan, of sál bestaan nie (v.9, 8:13). Dit maak vir my nie sin dat mense nog onder die ou verbond wil lewe nie (byvoorbeeld die Ou Testament Feeste, voedselwette, Sabbat, of besnydenis), of dat hulle ’n herboude tempel met diereoffers in die toekoms verwag nie. Om die waarheid te sê kán dit nie gebeur nie, omdat die nuwe verbond vir ewig die ou een vervang het (tensy jy natuurlik die buitelyne bo die gebou verkies, of Jesus se skaduwee bo Homself). Ek hoef jou nie te vertel dat dit dwaas sou wees nie. Deur sy hele lewe en die enkele offer van sy liggaam aan die kruis, het Jesus die Vader se wil gedoen en sonder Hy ons af om syne te wees (v.10). Jy behoort dus nie meer aan Satan, sonde, die wêreld, of jouself nie. Daarom het jy ook nie ’n keuse as om te doen wat Hý sê nie.
Laat dit jou opstandig voel, omdat jy jou eie besluite wil neem en nie wil hê dat Iemand vir jou moet voorskryf hoe jy moet lewe nie? Dan erken jy Hom nog nie as jou Here nie, is jy nie syne nie, en is jou sonde nie vergewe nie. Is jy bereid om so te sterf? Of wil jy jou eerder bekeer en vergewe word?
2. Hy is ’n beter Priester (v.11-18)
Onderwysers staan baie en sit nou en dan. Mense in die restaurant bedryf sit nog minder. Die Ou Testamentiese priesters het glad nie tydens hulle werksure gesit nie. Hoekom nie? Want hulle werk was nooit afgehandel nie. Die volk het altyd sonde gedoen en daarom moes die priesters daaglikse offers bring—offers wat buitendien nie mense se sonde kon wegvat nie (v.11, 4, Num. 28:3).
Jesus se offer is anders: Hy het gaan sit nadat Hy ons sonde met één offer verwyder het (v.12). Nou sit Hy as mede-Koning aan die Vader se regterhand, totdat Hy sy vyande aan sy voete onderwerp het (v.12-13, 1:3, 13, Ps. 110:1, vgl. Jos. 10:24, 1Kon. 5:3). Op die einde sal almal voor Hom buig: party gewilliglik en ander uit dwang (Ps. 22:28, 86:9, Jes. 45:22-23, 49:7, Fil. 2:10-11, Op. 4:8-11, 5:8-14, 7:9-12). Geen godsdiens, filosofie, regering, demoon, sameswering van nasies, of geheime organisasie sal stand hou wanneer Jesus weer kom nie. Die Vader sal hulle aan sy Seun se voete onderwerp (1Kor. 15:25). As Hy weer kom en die dooies opwek, sal die dood die laaste vyand wees met wie Hy afreken (1Kor. 15:26).
Die toepassing is nie moeilik om te sien nie: buig die knie voor Jesus Christus. Doen jy dit? Gehoorsaam jy sy Woord? Of lewe jy opstand teen God? Indien jy nie die knie voor Hom wil buig nie, sal Hy jou op jou knieë dwing wanneer Hy weer kom en sal Hy jou soos ’n klei pot in stukke slaan. Wees dan wys: buig voor Hom, soen sy voete, aanbid Hom, en skuil by Hom, sodat Hy jou kan seën (Ps. 2:8-12).
Dalk maak dit jou kwaad dat dit die enigste opsies is: aanbid Hom, of vergaan op die weg. Maar dit is reg. Hy het jou geskep en daarom kan Hy vir jou sê wat jy moet doen. Dié wat Hom ken, sal weet dat Hy nooit sy kinders se nadeel soek nie, maar dat Hy hulle altyd wil bevoordeel (Rom. 8:28, 31-32). Dit is net ongelowiges wat dink dat Hy ’n harde Meester is (Ps. 2:3, Matt. 25:24). Die rede hoekom hulle so dink, is omdat Hy tussen hulle en hulle sonde staan. As hulle van beter geweet het, sou hulle besef het dat Hy eintlik tussen hulle en die hel staan. Hulle moet as’t ware oor sy gekruisigde liggaam loop en deur sy bloed swem om by die hel uit te kom. As hulle ná al sy uitnodigings en waarskuwings nog steeds op die helse pad wil volhard, sal Hy vir hulle gee wat hulle wil hê: ’n ewige bestaan sonder Hom, sy liefde, sy genade, sy goedheid, en sy vrede. Dit is glad nie verbasend dat die hel dan ook ’n plek vol hartseer, skuldgevoelens, pyn, demone en haat is nie.
Maar selfs al sou God nie eers die hel skep nie, sou mense die aarde vir hulleself ’n lewende hel maak as Hy hulle aan hulle sonde moes oorlaat (Rom. 1:18-32). Suid-Afrika en baie ander lande is ’n sprekende voorbeeld hiervan. Die feit dat ons sonskyn, reën, kos, geld, familie, gemeentelewe, en baie ander voorregte geniet, is genade (Matt. 5:45).
Besluit dan wie jy wil dien: Jesus wat sondaars liefhet en sy lewe vir hulle gegee het, of jou eie sonde, die wêreld, en Satan. Net soos wat ’n man jaloers is oor sy vrou, sal die Here nie toelaat dat jy Hom en jou eie sonde dien nie. Jy moet besluit.
Dalk pla jou sonde jou en wonder jy of Jesus jou kan vergewe (veral omdat jy al vantevore jou gewete probeer stilmaak het, maar onsuksesvol was). Maar al kan geen godsdiens, of enigiets wat jy doen jou gewete stilmaak nie (9:9)—Jesus kan (9:14). Sy lewe en die enkele offer wat Hy gebring het, is genoeg om jou te vergewe, jou volmaak voor God te stel, en jou te help om heilig te lewe (v.14). Onder die nuwe verbond gee God ons ’n nuwe hart, skryf Hy die wet op ons harte, en gee Hy sy Gees in ons binneste sodat ons Hom wíl, kán en sál gehoorsaam (v.15-16, 8:10, Jer. 31:33, Eseg. 36:25-27, Rom. 9:4, Fil. 2:13). Hy belowe ook om ons sonde af te skryf, om dit nie teen ons te hou nie, en om nooit weer daaraan te dink nie (v.17, 8:12, Jer. 31:34, Kol. 2:14).
Hoekom sal jy dan teruggaan na die sonde wat jy bely het en wat reeds vergewe is; na die sonde van jou verlede? Hoekom probeer jy jou gewete skoon kry deur ’n dominee wat vir jou bid, of deurdat jy iets probeer opoffer? Hoekom het jy planne om selfmoord te pleeg, as dit net dinge sal vererger (9:27)? Hou op rondtas vir antwoorde—Jesus is genoeg! God sal Hom in jou plek aanvaar; jy benodig nie ’n ander offer nie (v.18).
Buitendien sal geen offer, of iets wat jy doen, werk nie (v.4). Jesus is die finale offer. Hy is genoeg. Die Gees getuig daarvan in die Skrif en bevestig dit aan ons harte (v.15). ‘God said it. I believe it. That settles it.’ Eintlik is dit meer Bybels om te sê: ‘God said it. That settles it; whether you believe it, or not.’ En tog glo ek dit met my hele hart: Jesus is genoeg!