Open/Close Menu Ken Christus, Maak Christus Bekend

1Timoteus 3:16d

Die groot woord is Christosentries. Dit beteken dat Jesus in die senter is. Hy is die fokuspunt; die belangrikste. Hy is alles. Almal sien dit nie so nie. Volgens ’n redelike bekende leraar in Johannesburg moet ons nié Christosentries preek nie, maar op al drie Persone van die Godheid fokus. Opsigself het ek hiermee nie ’n probleem nie, maar hoe ken ons die Vader anders as deur die Seun (Joh. 14:6, 9)? En het die Gees nie gekom om vir Jesus te verheerlik nie (Joh. 14:16)?

‘As Christus nie die middelpunt van ons prediking is nie, kan ons net sowel in ’n Moskee of ’n sinagoge preek,’ het wyle Martin Holdt gesê. Spurgeon het gesê dat mens uit elke teks in die Bybel ’n ‘beeline’ na Jesus toe moet vat. Ek bedoel nie dat ons die Bybel moet vergeestelik nie. Dit is verkeerd om soos een prediker te sê dat Ragab se rooi tou die bloed van Jesus voorstel. Tog moet Jesus deur ’n verantwoordelike uitleg van die Skrifte die middelpunt van ons prediking wees.

Jesus is die senter van die Bybel, die geskiedenis, die hemel, die heelal en ons lewens. Ons sien dit in ons kalender wat as voor Christus en na Christus ingedeel word. Dionysius Exiguus (470-544 n.C.) het nou wel die presiese jaar van Jesus se geboorte verkeerd bereken, maar dit maak nie ’n verskil nie. Die geboorte van Jesus bly immers die verwysingspunt.1 Dit is ook hoekom Hy aan die middelste kruis gehang het. Die wêreld het dit nie so bedoel nie. Hulle wou wys dat Hy die grootste misdadiger is. Maar God het dit toegelaat om te wys dat sy Seun die belangrikste is. Hy is in die middel.

Volgens Openbaring 5 is dit ook waar van die hemel. Saam met die Vader en die Heilige Gees is Jesus in die middel. Die vier lewende wesens omring die troon. Die 24 ouderlinge omring hulle. ’n Ontelbare skare van engele omring hulle. En dan omring die hele skepping die troon waar hulle vir Jesus, die Vader en die Heilige Gees aanbid.

Gedurende Jesus se jare op aarde, het die Vader en die Gees op Hom gefokus (Matt. 3:16-17, 17:5, 1Joh. 5:7-9). Dit is so, omdat Jesus God aan ons bekendmaak (Joh. 1:18, Kol. 1:15). Sonder Jesus kan ons God nie ken nie.

Jesus is ook die middelpunt van die skepping. Hy is soos die son wat die middelpunt van ons sonnestelsel is. Al die planete wentel om die son. Net so draai die hele skepping om Jesus. Hy is die fokuspunt van die hoogste skepsels: “[Hy is] gesien deur die engele” (v.16d).2 Die Ou Vertaling sê dat Hy aan engele verskyn het. Die Grieks gebruik egter ’n passief eerder as ’n aktiewe werkwoord. Dit verwys na iets wat die engele aan Jesus doen en nie na iets wat Hy aan hulle doen nie. ‘Hy is deur die engele gesien,’ is die korrekte vertaling.

In die konteks van hierdie vers het die engele Hom in sy menswording gesien. Dit het egter nie daar begin nie. Reeds in die Ou Testament het hulle Hom gesien.

 

1. Die Ou Testament

In ’n bekende preek van Spurgeon het hy gesê dat hy nie skroom om homself ’n Calvinis en ’n Baptis te noem nie, maar dat sy belydenis Jesus Christus is.3 1Tim. 3:16 is een van die vroeë belydenisse wat op Jesus fokus. Die belydenis strek van Jesus se bestaan voor Betlehem deur sy menswording tot by sy verheerliking:

Hy is geopenbaar

in ’n menslike liggaam,

regverdig bewys deur die Gees,

gesien deur die engele,

verkondig onder die nasies,

geglo in die wêreld,

opgeneem in heerlikheid.

Bogenoemde waarhede onderskei ons van ander godsdienste. Die Jode glo nie dat Jesus God is nie. Vir die Moslems is Hy ’n belangrike profeet, maar nie God nie. Die Jehovas Getuies beskou Hom as die Seun van God, maar nie God nie. Vir die Hindoes is Hy net nog een van hulle gode. Vir Boeddhiste is Hy ’n wyse man. Die liberales beskou Hom as ’n gewone mens wat goeie waardes geleer het. Hy is dood; die graf is nie leeg nie. Vir die Hebrew Roots Movement is die seremoniële wet bo Jesus se lering. Hy het gekom om ons daarheen terug te vat. Vir die Word of Faith beweging is Jesus ’n kosmiese genie wat ons materieel voorspoedig wil maak. Vir die Mormone is Hy een van baie gode. Soos Hy kan ook ons eendag gode word.

Elkeen van hierdie godsdienste kan sonder Jesus bestaan. Vir die Jode is dit voor die hand liggend, aangesien hulle Hom verwerp. Islam kan voortbestaan al was Jesus nie een van hulle profete nie. Die Jehovas Getuies word deur hulle werke gered en het nie vir Jesus nodig nie. As hy wou, kon Jehova ’n ander plan gemaak het om mense te red. Dit was nie nodig om vir Jesus te stuur nie. Hindoes het Hom nie nodig nie. Hulle het immers baie ander gode. Boeddhiste het Hom nie nodig nie. Liberales het Hom nie nodig nie. Jesus is in die graf en liberalisme leef voort. Die Hebrew Roots Movement het Hom nie nodig nie. Die wet het bestaan voor Jesus gebore is. Die Word of Faith beweging het Hom nie nodig nie; Hy het hulle nodig. Hulle moet lewe spreek en Hom toestemming gee om in die wêreld te werk. Mormone het Hom nie nodig nie. Elohim het sonder Jesus se hulp ’n god geword. Ons kan dit ook regkry.

Dit is net Bybelse Christenskap wat nie sonder Jesus kan bestaan nie: “ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my! Die lewe wat ek nou liggaamlik leef, leef ek in geloof, die geloof in die Seun van God, wat my liefgehad en Homself vir my oorgegee het.” (Gal. 2:20). “En dit is die getuienis: dat God die ewige lewe vir ons gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.” (1Joh. 5:11-12).

Jesus en sy verlossingswerk is die middelpunt van ons geloof. Is dit enige wonder dat die kruis die simbool van ons geloof is? Dit is die waarheid waaraan ons vashou. Dit is meer as ’n belydenis op papier. Dit gryp ons harte aan, bepaal hoe ons lewe en is ons boodskap aan die wêreld (v.14-16). As die engele kon preek, sou hulle dieselfde gesê het: ‘Jesus is alles!’

Lank voor sy menswording het hulle Hom gesien. Hy het hulle gemaak (Kol. 1:16). Hulle het Hom gesien toe Hy die wêreld geskep het (Job 38:4, 7, Joh. 1:3). Hulle het gesien toe Hy die gevalle engele uit die hemel werp (Jud. 6).4 Hulle het gesien toe Hy vir Abraham besoek en toe Hy Sodom en Gomorra met vuur uit die hemel vernietig (Gen. 18-19). Hulle het gesien toe Hy aan die bopunt van die leer in Jakob se droom verskyn het (Gen. 28:12-13, Joh. 1:51). Hulle het Hom gesien kort voor Hy met Jakob geworstel het (Gen. 32:1, 22-32, vgl. Hos. 12:4). Hulle het gesien toe Hy Egipte met die tien plae tref (Eks. 12:23, 1Kor. 10:10, Ps. 78:49, ESV, Heb. mal’akey ra’iym). Hulle het gesien toe Hy die Tien Gebooie vir Moses gee (Deut. 33:2, 4, Gal. 3:19, Heb. 2:2, Eks. 24:10, vgl. Eseg. 1:26-28). Die serafs en gerubs het Hom gesien toe Hy op sy heerlike troon aan Jesaja en Esegiël verskyn het (Jes. 6:1-3, Joh. 12:41, Eseg. 1). Die engele het Hom gesien toe Hy aan Daniël verskyn het (Dan. 10, vgl. Op. 1:9-20).

 

2. Sy menswording

In een van Stuart Townend se liede oor Jesus sê hy: ‘Yet you left the gaze of angels, came to seek and save the lost…’ Dit is so dat Jesus sy hemelse heerlikheid verlaat het (Fil. 2:6). Tog het Hy nie uit die engele se sig verdwyn nie. Hulle het Hom nog steeds bewonder en met groot belangstelling dopgehou: Hy is “gesien deur die engele” (v.16d).

Hulle het gesien toe Hy gereed kry om aarde toe te kom. Hy het engele gestuur om die nuus vir Josef (Matt. 1:18-23) en Maria (Luk. 1:26-35) te breek. Die engele was vol opgewondheid, afwagting, spanning, diepe ontsag, die hoogste eerbied en aanbidding toe Hy in Maria se moederskoot ontvang is: “Maar wanneer Hy die Eersgeborene weer in die wêreld inlei, sê Hy: ‘En laat al die engele van God Hom aanbid.’” (Heb. 1:6). Die engele het gesien toe Hy gebore is. Vol lof en aanbidding het hulle sy geboorte vir die herders aangekondig (Luk. 2:9-14). Die engele het Hom teen Herodes beskerm (Matt. 2:13, 19-20). Deur sy hele lewe was hulle daar om Hom te bewaar (Ps. 91:11-12). Toe Hy in die woestyn deur die duiwel versoek is, was die engele daar om Hom te bedien (Matt. 4:11). In Getsemane het hulle Hom gesien—’n engel het uit die hemel gekom om Hom te versterk (Luk. 22:43). Selfs in sy uur van nood, was die engele onder sy bevel (Matt. 26:53). Daar was engele by die leë graf (Matt. 28:2, Luk. 24:4-5, 23). Die gevalle engele het Hom gesien en geleer dat Hy hulle deur sy kruisdood en opstanding oorwin het (Kol. 2:15). By Jesus se hemelvaart het die heilige engele Hom gesien (Hand. 1:9-11). Toe Hy in die hemel aankom, was hulle daar om Hom te prys en aanbid (Ps. 24:7-10, Dan. 7:13, 10, 1Pet. 3:22, Op. 5:6-14).

 

3. Nou en vir ewig

Het jy al ooit iets in die natuur gesien wat jy gewens het nie wil ophou nie: ’n waterval, ’n reënboog, die see, berge, wolke, iets anders? So is die engele met Jesus, hulle Skepper. Na sy hemelvaart het hulle nie opgehou om Hom te sien nie; hulle verkyk hulle nog steeds aan sy heerlikheid en die werke waarmee Hy besig is. Hulle sien elke keer as Hy ’n sondaar red (Luk. 15:7, 10). Hulle sien sy wonderbare werke in die kerk (1Kor. 11:10, Ef. 3:10, 1Tim. 5:21). Hulle vergaap hulle aan die prediking van Jesus in die evangelie (1Pet. 1:12). Hulle sien hoe miljoene geredde sondaars Jesus se lof in die hemel verkondig (Op. 7:11-12, 9-10). Hulle sal Hom by sy wederkoms en die finale oordeel sien (Matt. 16:27, 25:31, 2Tess. 1:7, Jud. 14-15). Hulle sal Hom sien as Hy gelowiges by die finale oordeel erken en ongelowiges ontken (Luk. 12:8-9). Hulle sal Hom sien as Hy hulle beveel: ‘Maak die goddelose bymekaar en werp hulle in die hel’ (Matt. 13:39, 41-42, 49, Op. 14:10).

Wat sal die gevolge wees as Jesus vir ons die middelpunt is soos Hy dit vir die engele is? Ons sal Godvresend lewe: “En die geheimenis van die ware godvresendheid is sonder twyfel groot” (v.16a). Lewe jy Godvresend? Nee? Is dit omdat jy verkeerd glo? Of is dit omdat Jesus nie die middelpunt van jou gemeente of lewe is nie (v.16)? Volgens die Bybel moet Jesus die middelpunt van ons Christelike bestaan en gemeente wees.

Paulus sê: “Want vir my is om te leef Christus, en om te sterf wins” (Fil. 1:21). ’n Vrou moet aan haar man onderdanig wees soos die gemeente aan Christus onderdanig is (Ef. 5:24). ’n Man moet sy vrou liefhê soos Christus die gemeente liefgehad het (Ef. 5:25). Kinders moet hulle ouers in die Here gehoorsaam (Ef. 6:1). Ouers moet hulle kinders in die tug en vermaning van die Here opvoed (Ef. 6:4). In hulle werk moet gelowige werknemers en werkgewers Christus voor oë hou (Ef. 6:5-9). Ons moet Christus in ons gedagtes hou (1Kor. 2:16, Kol. 3:1-2). In ons lofprysing moet Christus sentraal wees (Op. 5:9). Christus moet die middelpunt van ons prediking wees (1Kor. 2:2). Dink aan Christus se vrygewigheid wanneer jy vir sy werk bydra (2Kor. 8:9). Bid en dank die Vader in Christus se Naam (Joh. 14:13-14, Ef. 5:20). Dink daaraan dat jy in die doop saam met Christus begrawe word en weer opstaan (Rom. 6:3-4). Heriner jouself in die nagmaal aan Christus se verlossingswerk aan die kruis (1Kor. 11:23-26). Wanneer ons kerkdissipline toepas, moet ons dit met die gesag van Christus doen (1Kor. 5:4). Erken jou posisie in Christus wanneer jy teen sonde stry (Rom. 6:6, 11). Groei geestelik en dra goeie vrug deur Christus (Joh. 15:4, Fil. 1:11). Verduur lyding deur die krag van Christus (2Kor. 12:9, Fil. 4:13). In alles wat jy doen moet jy Christus onthou, want sonder Hom kan jy niks doen nie (Joh. 15:5).

Moenie selfgesentreerd wees, oor jouself roem, jouself bejammer, die middelpunt van die aandag wil wees en alewig oor jouself praat nie. Vra die Vader om jou nederig te maak soos Jesus, sodat Hy meer kan word en jy minder—Jesus in die middel eerder as ek (Joh. 3:30, Fil. 2:5, 3-4).

As Jesus so die middelpunt van jou lewe is, sal jy Hom sien soos die engele Hom sien (v.16d, Joh. 17:24, 1Joh. 3:2). Vir ons sal dit ’n groter voorreg wees as vir hulle. Die engele is sy knegte (Ps. 103:20-21, Heb. 1:7); ons is sy vriende, sy liggaam, sy bruid en sy kinders (Joh. 15:15, Ef. 1:22-23, 5:25-32, Heb. 2:13). Anders as die engele is ons ook die begunstigdes van sy verlossing: “Want Hy is vir seker nie oor engele besorg nie; inteendeel, Hy is oor Abraham se nageslag besorg. Daarom moes Hy in elke opsig gelyk word aan sy broers, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester kon word, om as offer te dien tot versoening van die volk se sondes.” (Heb. 2:16-17).

There is singing up in Heaven

such as we have never known,

Where the angels sing the praises

of the Lamb upon the throne,

Their sweet harps are ever tuneful,

and their voices always clear,

O that we might be more like them

while we serve the Master here!

 

Holy, holy, is what the angels sing,

And I expect to help them

make the courts of Heaven ring;

But when I sing redemption’s story,

they will fold their wings,

For angels never felt the joys

that our salvation brings.

 

So, although I’m not an angel,

yet I know that over there

I will join a blessèd chorus

that the angels cannot share;

I will sing about my Savior,

who upon dark Calvary

Freely pardoned my transgressions,

died to set a sinner free.

                       —Johnson Oatman

Sal jy deel van die menigte wees wat die voorreg het om vir Jesus te sien? As jy onheilig is; as jy sonde liefhet en daaraan vashou, sal jy Hom nie sien nie (1Kor. 6:9-10, Heb. 12:14, Op. 21:27, 22:15). Maar as dit jou hartsverlange is om by Hom te wees en jy jou klere wit was in die bloed van die Lam, sal jy Hom sien (Fil. 1:23, Op. 7:14, 22:14). Op jou sterfbed sal jy soos my oupa wees. Jare voor sy dood het my ouma eendag vir hom gesê: ‘Jeff, you never go to church.’ ‘That’s because I’m not a religious fanatic,’ het hy geantwoord. Toe hy die dag op sy sterfbed lê, het hy vir my pa gesê:

‘I am going to see Jesus with my own eyes. He might not say, “Well done, good and faithful servant,” but I am going to see Him.’

Oor Jesus en sy verlossingswerk het hy gesê: ‘The world will never see something like that again.’

Hy het ook gesê: ‘I wonder why people do not bow the knee to Jesus now, because one day they will have to bow the knee.’

Êrens het daar iets in my oupa se lewe gebeur. Ek weet nie hoe of wanneer nie, maar op sy sterfbed was dit duidelik dat hy verander het.

Net soos wat my oupa hemel toe is om vir Jesus te sien, sal jy Hom sien as Hy jou persoonlike Here en Verlosser is. Wat ’n dag sal dit nie wees nie as ons Hom van aangesig tot aangesig sien en Hy vir ewig die middelpunt van ons bestaan, die hemel, die heelal en van alles is?


1  Dit geld ook as ongelowiges v.C. en n.C. met BCE (Before the Common Era) en CE (Common Era) vervang. Jesus se geboorte bly die verwysingspunt waarvolgens hulle hierdie datums uitwerk. Daar is byvoorbeeld geen verskil 1947 n.C. en 1947 CE nie.

2  Aanhalings kom uit die 2020 Vertaling.

3  C.H. Spurgeon, Autobiography: Vol. 2 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1973), 34

4  Volgens die Griekse teks van v.5 het Jesus sy volk uit Egipte verlos (https://biblehub.com/interlinear/jude/1.htm). 1Kor. 10:4, 9 bevestig dit. Volgens Judas is dit dieselfde Jesus wat die rebelse engele in ewige boeie bewaar (v.6). Sommige vervang v.5 se ‘Jesus’ met ‘Here’, maar dit maak nie ’n verskil nie, omdat Jesus die Here is (v.4). Derhalwe is dit Hy wat die Israeliete uit Egipte verlos het en die gevalle engele straf (v.5-6).