Coram Deo Cover Image

Coming soon...

3 March 2014

Jesus bou sy kerk

Family at churchHandelinge 2:37-47

Eendag toe sê Jesus vir sy dissipels:  ‘Julle beweeg mos tussen die mense en hoor wat hulle sê.  Wie sê die mense is Ek?’  Die dissipels het geantwoord:  ‘Party mense sê U is Elia.’  ‘Ja, en party sê Jeremia,’ het 'n ander gesê.  ‘En party sê Johannes die Doper,’ het nog een gesê.  ‘Goed, maar wie sê júlle is Ek?’ het Jesus gevra.  Petrus het geantwoord:  ‘U is die Messias (Christus), die Seun van die Lewende God.’  ‘Jy is reg Petrus,’ het Jesus gesê.  ‘Jy het dit nie by mense gehoor nie.  My Vader wat in die hemel is het dit aan jou geopenbaar.  Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou.’ (cf. Matteus 16:13-20).  En dít is waaroor Handelinge 2:37-37 gaan:  Jesus bou sy kerk.

1. Vereistes vir lidmaatskap (v.37-41)

Die toepassing in Petrus se preek was nie vaag en algemeen nie.  Dit was op die man af:  ‘Júlle het julle eie Messias verwerp en gekruisig!’ (cf. v.23, 36).  Die Heilige Gees het die Woord soos 'n swaard deur hulle harte gesteek.  Dit is hoe die Gees werk.  Hy stel nie daarin belang om net vir mense te sê:  ‘Trek julle sokkies op; julle het 'n morele bad nodig’ nie.  Petrus se hoorders het onder 'n diep sonde oortuiging gekom en gesê:  “Wat moet ons doen, broeders?” (v.37).  Petrus het geantwoord:

‘Moenie net berou oor julle sonde nie; doen iets daaraan.  Bekeer julle van julle sonde.  Hou op om te ontken dat Jesus die Messias is.  Hou op om Hom te verwerp.  Bely Hom as Here en Messias deur julle te laat doop (v.38).  Die Joodse volk is 'n verkeerde geslag (v.40, cf. Deuteronomium 32:5).  Vlug van hulle boosheid (v.40).  As julle dit nie doen nie, sal julle saam vergaan in die oordeel wat op Jerusalem gaan kom (v.40, 19, cf. Openbaring 18:4).’

Wat sou die gevolg wees indien hulle die Woord geglo het en hulle bekeer het?  Hulle sou die belofte van die Heilige Gees ontvang en vergewe word.  Dit maak nie saak of hulle volwasse Jode, dié se kinders, of heidene was nie (‘almal wat daar ver is’, cf. Efesiërs 2:12-13).  Hierdie voorreg was vir almal wat God na Homself toe geroep het (v.38-39).  Let asseblief op die volgorde:

  • God het 3000 mense tot nuwe lewe geroep.
  • Hulle was oortuig van hulle sonde.
  • Hulle het die Woord geglo.
  • Hulle het van hulle sondes af weggedraai (bekeer).
  • Hulle is gedoop.
  • Hulle is by die gemeente bygevoeg.

Het God jou al tot nuwe lewe geroep?  Het jy besef dat jy sondig en verlore is?  Het jy geglo dat die boodskap wat jy gehoor het nie die woorde van mense is nie, maar die Woord van God?  Het jy opgehou met jou sonde?  Het jy weggedraai van die onderstebo wêreld waarin jy leef?  Het jy jou bekering uitgebeeld in die doop (die Griekse woord baptizo beteken ‘onderdompel’)?  Het jy aangesluit by die gemeente (die feit dat Lukas melding maak van 3000 en later 5000 in 4:4, dui aan dat hulle een of ander rekord van lidmate gehou het)?

Is jou antwoord op die bogenoemde vrae:  ‘Ja, ek het regtig tot bekering gekom, maar het dit nog nie in die doop uitgebeeld en lidmaat geword nie’?  Hoekom nie?  Word gedoop en sluit aan by 'n goeie Bybelse kerk.  Is jou antwoord:  ‘Ek is gedoop en is 'n lidmaat, maar het geen nuwe lewe in my nie.  Ek het geen sondebesef nie.  Ek het ook nie opgehou met my sonde of my rug gedraai op die wêreld nie’?  Daar is baie mense wat hulleself met die kerk assosieer, maar nie weergebore is nie.  Hulle is nie met die geregtigheid van Jesus beklee nie.  Hulle is soos die man wat by die troue was, maar nie die regte klere aangehad het nie.  Sulke mense sal hel toe gaan – al was hulle lidmate van 'n kerk (cf. Matteus 22:11-14).  As jý so iemand is moet jy jou bekeer.

2. Verantwoordelikhede van lidmate (v.42-47)

Wat was die kenmerke van hierdie eerste kerk in Jerusalem?

[1] Bybelse lering en prediking; die leer van die apostels (v.42).  Die apostels het die Ou Testament gepreek (cf. v.14-36) en die Nuwe Testament geskryf.

[2] Gemeenskap (v.42).  Ons is bekend met die Griekse woord koinonia.  Hierdie mense het dieselfde Gees, Verlosser en Vader gehad (2 Korintiërs 13:13, 1 Johannes 1:3).

[3] Die nagmaal (v.42).  In dié vers verwys ‘die breek van brood’ waarskynlik nie na gewone etes soos in v.46 nie (cf. 20:7, 1 Korintiërs 11:23-24).

[4] Gebed (v.42).  Dwarsdeur Handelinge sien ons hoe die gelowiges saamgebid het.  Hier is enkele voorbeelde:  “Hulle almal het eendragtig volhard in gebed en smeking... En Petrus en Johannes het saam na die tempel opgegaan op die uur van die gebed, die negende uur... En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef... daar het ‘n aanhoudende gebed tot God deur die gemeente vir hom [Petrus] opgegaan.” (1:14, 3:1, 4:24, 12:5).

[5] Vrees vir God en krag (v.43).  Gestel jy was 'n Christen in Atene.  'n Man stap by die kerk in en sê:  ‘Ek is 'n apostel van Jesus; my boodskap is geïnspireer’.  Hoe sou jy weet hy jok nie vir jou nie?  Wat as hy 'n vals apostel met 'n vals boodskap is?  Daar was 'n manier om die ware apostels uit te ken.  Hulle kon wonderwerke doen (v.43) om die waarheid van hulle boodskap te bevestig (v.42).

“Die kentekens tog van ‘n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade.” (2 Korintiërs 12:12).

“hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het [die apostels], terwyl God ook nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedélinge van die Heilige Gees volgens sy wil?” (Hebreërs 2:3-4).

Dwarsdeur Handelinge is dit net die apostels en hulle mede-werkers wat wonderwerke doen.  Lees die boek deur en sien vir jouself.  In die geskiedenis was daar net drie tydperke waarin God vir mense die gawe gegee het om wonderwerke te doen:  die tyd van Moses en Josua, Elia en Elisa, Jesus en die apostels.  In elke era het God wonders gegee as 'n bewys dat hierdie mense ware boodskappers was (cf. Eksodus 4:1, 1 Konings 17:24, Matteus 11:3-5, 2 Korintiërs 12:12).  In hierdie tye het God ook nuwe openbaring gegee.  Moses en Josua verteenwoordig die tydperk van die wet.  Elia en Elisa verteenwoordig die profetiese tydperk.  Jesus en die apostels verteenwoordig die tyd van die Nuwe Testament.  Omdat die hele Bybel klaar geskryf is, is dit nie nodig dat iemand wonders hoef te doen om te bewys dat hy 'n ware boodskapper van God is nie.  God doen wel nog wonderwerke in antwoord op gebed.

[6] Eenheid, mededeelsaamheid, gasvryheid (v.44-46).  Moenie dink die vroeë kerk was kommuniste nie.  Ja, hulle het hulle besittings verkoop, maar die geld is nie gelykop tussen almal verdeel nie.  Dit is gegee vir die wat nood gehad het.  Buitendien was dit hulle vrye keuse of hulle hul besittings wou verkoop of nie; of hulle al die geld wou uitdeel of nie (vgl. 5:4). Daar is geen rekord dat ander Nuwe Testamentiese kerke dieselfde gedoen het nie.  Daar is 'n baie logiese rede hoekom die Jerusalem-kerk dit gedoen het:  die stad sou verwoes word (v.19), en daarom het hulle van hulle eiendom ontslae geraak.  So, nie elke gelowige hoef sy eiendom te verkoop en die wins uit te deel nie.  Maar elke Christen moet mededeelsaam en gasvry wees:  “Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ‘n welbehae aan sulke offers.” (Hebreërs 13:16).

[7] Blydskap (v.46).  Die vrug van die Gees is blydskap (13:52, Galasiërs 5:22).

[8] Lofprysing (v.47).  Jy kan seker wees dat hulle God geprys het vir sy vergifnis en verlossing in Jesus.

[9] Hulle was sout en lig wat die samelewing beïnvloed het (v.47).

[10] Hulle het evangelisasie gedoen.  Hoe anders sou die mense in v.47 tot bekering gekom het (cf. Romeine 10:13-15)?

Gee jouself hart en siel vir die kerk van Jesus Christus.  Moenie op die kantlyn sit en kritiseer nie.  Jesus het sy lewe gegee vir die kerk (20:28, Efesiërs 5:25).  ‘The Church was worth His blood, is it not worth your time?’ (Joel Beeke).  Wanneer God mense red plaas Hy hulle in 'n liggaam, nie in 'n hoek nie (v.41, 47, 1 Korintiërs 12:13-14).  Iemand wat geen liefde vir mede-gelowiges het nie, wat nie deel wil wees van 'n gemeente nie, moet sy redding betwyfel:  “Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood.” (1 Johannes 3:14).  Jy kan nie effektief groei as jy jou nie toewy aan goeie prediking, geestelike gemeenskap, die nagmaal, en gesamentlike gebed nie (v.42).

Ek verstaan nie hoe mense wil groei deur e-kerk of preke op die radio, sonder geestelike gemeenskap nie.  Die Skrif sê:  “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.  Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie” (Hebreërs 10:24-26).  Na sy opstanding het Jesus met die dissipels ontmoet.  Tomas was nie daar nie.  Jesus het nie spesiaal moeite gedoen om in die week met hom te ontmoet nie.  Hy moes wag tot die volgende Sondag aand (cf. Johannes 20:24-29).  As jy weier om te wees waar Jesus met sy kerk ontmoet, sal jy uitmis.  Hy sal jou nie spesiaal in jou sitkamer kom ontmoet nie.

Baie van my lesers ken die storie van die ontroue gelowige in die noorde van Skotland.  Hy was baie ongereeld by die kerk.  Die dominee het hom gaan besoek.  'n Kaggelvuur het gebrand.  In doodse stilte het die dominee en die man na die vuur gekyk.  Die dominee het later opgestaan en met 'n ystertang 'n kooltjie uit die vuur uitgehaal en eenkant gesit.  Die kooltjie het al hoe flouer begin brand, totdat dit swart was.  Die dominee het die kooltjie weer in die vuur teruggesit en gou het dit weer rooiwarm gegloei.  Die dominee het opgestaan en die man gegroet.  Die man het die boodskap gekry.  Is jy skuldig soos hierdie man?  Bekeer jou van jou sonde en wees deel van die kerk wat Jesus op aarde bou.

Kategorieë