“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Romeine 8:28-30).
(1) God is goed in voorsienigheid (vers 28)
(2) God is goed in verkiesing (vers 29)
(3) God is goed in verlossing (vers 30)
Toe ek in die laerskool was het ek by die dorp se jaarlikse skou, ewe skelm 'n stinkbom in die aankondiger se kantoor gebreek. Vriende het my gewaag om dit te doen. Na 'n paar minute het die aankondiger gesê dat die persoon wat die stinkbom gebreek het na die kantoor toe moes kom en 'n R10 beloning sou kry. 'n Klomp kinders het in die kantoor vergader en gesê dat húlle die stinkbom gebreek het. Maar ek kon bewys presies waar die stinkbom gebreek was en het die beloning gekry. Jy sien, die beloning is nie gegee aan dié wat gesê het dit was hulle nie, maar aan die een wat dit gedoen het.
Die belofte in Romeine 8:28 is nie vir almal wat sê hulle is Christene nie, maar vir dié wat waarlik geroep (weergebore) is en God liefhet. Liefde vir God is 'n kenmerk van en toets toets vir ware roeping. Die ware gelowige bly lief vir God selfs wanneer hy swaarkry verduur (v.18-27, 28). Toe Job en Dawid swaargekry het, het hulle steeds vir God liefgehad en aan Hom bly vashou (Job 13:15, Psalm 18:1). Sodra die vals gelowige swaarkry, dan val hy weg (Matteus 13:18-22). Sy liefde is soos 'n oggend miswolk wat indrukwekkend lyk, maar gou verdwyn wanneer die son opkom (Hosea 6:4).
Uit die bognoemde waarhede moet die nuwe bekeerling leer dat God dikwels sy geloof en liefde toets deur kort ná sy redding beproewing te stuur. Sy aanhoudende liefde vir God wys dat sy redding eg is. Die persoon wat God verloën in swaarkry moet besef dat sy sogenaamde bekering vals was. Te veel mense kom ‘gou’ tot bekering deur sy hand op te steek, 'n kaartjie in te vul, 'n sondaarsgebed te bid, of tot voor te stap in 'n kerk. Later, wanneer die beproewing slaan, word dit duidelik dat hulle nooit waarlik gered en geroep was nie.
'n Jong man in ons kerk is 'n maand of wat gelede geopereer. Toe hy ná die operasie uit die teater uitgestoot was het hy gesing: “Nader my God by U, nog nader by...” 'n Paar uur later het ek hom in die intensiewe sorgeenheid besoek. Sy woorde aan my was: “Ivor, partykeer wonder 'n mens of jy lief is vir die Here. Nou weet ek ek is lief vir Hom.” Daar is twee tipes mense in die wêreld: dié wat God liefhet en dié wat Hom haat. Daar is niks tussen-in nie. Hoe weet jy aan watter kant jy staan? Toets jou liefde vir God aan die hand van die volgende vrae. Is dit vir jou 'n plesier om God te gehoorsaam? Geniet jy dit om jou naaste se belange bo jou eie te stel en om goed te doen aan hom? Is jy versigtig om naasteliefde te bewys soos dit in die tien gebooie uitdrukking vind (sien Matteus 22:37-39, Johannes 14:15,1 Johannes 4:20in hierdie verband)? Indien jy níé hierdie dinge doen nie, moet jy jou bekeer – jy het jou eerste liefde verlaat (Openbaring 2:4-5).
Wanneer iemand Japanees of Spaans praat kan jy hoor wat hulle sê – jy’s nie doof nie. Maar omdat jy die taal nie verstaan nie kan ons sê: Jy hoor hulle, maar hoor hulle ook nie. So kan jy soos die Jode vir Jesus sien, maar jy verstaan nie wie Hy is nie. Jy kan evangelie-roepstem deur die prediker hoor, maar jy hoor nie die innerlike roepstem van die Heilige Gees nie. Johannes 5:39 sê: Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig.” Paulus skryf aan die Korintiërs: “Maar hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word. Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart” (2 Korintiërs 3:14-15). Hoe dikwels het jy voor jou bekering die evangelie gehoor, maar nie verstaan nie? Die Bybel verwys duidelik na twee verskillende tipes roeping. Daar bestaan 'n uiterlike roeping. Dit verwys eenvoudig na die prediking van die evangelie. Dan bestaan daar 'n innerlike roeping. Dít verwys na die Gees wat in 'n dooie sondaar se hart roep: ‘Lewe!’ en dan wedergeboorte skenk en bewerk. Die innerlike roeping van wedergeboorte kan nooit plaasvind sonder die uiterlike roeping van evangelie-prediking nie. Dit is wel moontlik dat die uiterlike roeping soms plaasvind sondat dat die persoon innerlik geroep word en wedergeboorte ervaar. Let op hoe die onderstaande verse na innerlike en uiterlike roeping verwys.
“onder wie julle ook is, geroepenes van Jesus Christus aan al die geliefdes van God, geroepe heiliges wat in Rome is: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!” (Romeine 1:6-7).
“Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig! Maar hulle was nie almal gehoorsaam aan die evangelie nie; want Jesaja het gesê: Here, wie het ons prediking geglo? Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.” (Romeine 10:13-17). Sien hier dat innerlike roeping nie kan plaasvind sonder uiterlike roeping nie.
“Want baie is geroep, maar min uitverkies.” (Matteus 22:14). Die konteks wys hoe baie mense wat die evangelie roepstem hoor, nie innerlik geroep en gered word nie.
“Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” (Johannes 6:44).
“Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.” (Handelinge 2:39). Die belofte van die Heilige Gees is nie vir almal wat die evangelie hoor nie, maar slegs vir dié wat innerlik geroep word.
“En 'n vrou met die naam van Lídia, 'n purperverkoopster van die stad Thiatíre, ‘n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is.” (Handelinge 16:14). Dié vers is 'n duidelike voorbeeld van innerlike roeping. Let ook op hoe innerlike roeping plaasvind in reaksie op uiterlike roeping.
“waartoe Hy julle geroep het deur ons evangelie om die heerlikheid van onse Here Jesus Christus te verkry.” (2 Tessalonisense 2:14). Let weer op hoe innerlike roeping gebeur déúr uiterlike roeping.
“wat ons gered en geroep het met 'n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is” (2 Timoteus 1:9).
“want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly...die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.” (1 Petrus 1:23, 25). Wedergeboorte (innerlike roeping) vind plaas deur die Woord wat verkondig word (uiterlike roeping).
Romeine 8:28 verwys na innerlike roeping en nie na uiterlike roeping nie. Ons weet dit omdat almal wat geroep is, ook geregverdig en verheerlik word (v.30). Dit is mos nie waar dat almal wat die evangelie hoor geregverdig en verheerlik word nie. Daarom móét die roeping in v.28 na die innerlike roeping van wedergeboorte verwys. Ons leer ook uit v.28 dat ons volgens GOD se voorneme en besluit geroep is. Wedergeboorte vind dan nie plaas op grond van 'n persoon se eie besluit nie. Romeine 9:11 sê: “Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep”. 1 Petrus 1:3 sê Gód het die wedergeboorte aan ons geskenk. Jy is nie primêr wedergebore deur jóú keuse nie, maar deur Gód s'n. Die verlore skaap soek nie die Herder nie, maar dit is die Herder wat die skaap soek. Ook wanneer jy deur geloof en bekering tot die Here roep, is jou roepstem 'n antwoord op syne. Jy het lief omdat Hy jou eerste liefgehad het (1 Johannes 4:19). Selfs jou geloof en bekering is 'n geskenk van God af. Só leer die onderstaande verse.
“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” (Efesiërs 2:8-9). Nie alleen is genade 'n geskenk van God nie, maar ook geloof. Dit word bewys deur die feit dat beide ‘geloof’ en ‘genade’ 'n vroulike naamwoord is, maar dat die woord ‘geskenk’ in 'n onsydige vorm staan. Die geskenk van die voorgenoemde vers verwys dus na die hele verlossing en nie net na die genade nie.
“omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly” (Filippense 1:29). Lyding, soos geloof, is aan jou geskenk.
“Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie” (2 Timoteus 2:25).
“Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk.” (Handelinge 5:31).
“En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.” (Handelinge 11:18).
Die groot vraag is dan nie of jy uiterlike geroep is nie, maar of jy innerlik geroep is deur die Heilige Gees? Om innerlik geroep te wees móét die volgende dinge plaasvind. [1] Jy moet die feite aangaande Jesus en sy Persoon hoor. Jy moet weet dat jy 'n sondaar is, dat jy nie deur jou werke gered kan word nie, dat verlossing 'n gratis geskenk is, dat Jesus vir sondaars gesterf het, begrawe is, en dat Hy liggaamlik opgestaan het uit die dood op die derde dag (sien Romeine 3:23, 6:23,1 Korintiërs 15:3-4). Verlossing is wel meer as die erkenning van hierdie historiese feite, maar dit is nie minder as dit nie. [2] Jy moet geheel en al op Christus vertrou om jou te verlos van jou sondes, en jy moet jou van daardie sondes bekeer (Markus 1:15). [3] Jy moet die belofte van God se vergifnis en die ewige lewe aanneem (Johannes 3:16). Slegs wanneer jy dít gedoen het sal jy weet en verstaan dat God goed is.