Coram Deo Cover Image

Coming soon...

15 June 2012

Regverdigmaking deur die geloof - die hart van die evangelie

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Romeine 8:28-30).

 

(1) God is goed in voorsienigheid (vers 28)

(2) God is goed in verkiesing (vers 29)

(3) God is goed in verlossing (vers 30)

 

'n Regter in 'n hof wat 'n krimineel veroordeel máák nie die persoon sleg nie, maar wys dat hy sleg is.  'n Regter wat 'n persoon onskuldig of regverdig verklaar máák hom nie goed, maar wys dit.  Ludwig Ott van die Rooms-Katoliekekerk skryf in Fundamentals of Catholic Dogma:  “According to the Council of Trent, justification is ‘sanctifying and renewing of the inner man.’” (aangehaal in Wayne Grudem; Systematic Theology; Inter-Varsity Press; NOTTINGHAM; 1994, 2000; p.728).  Maar regverdigmaking verander niks in 'n persoon se hart nie.  Dit is eenvoudig (soos in die bogenoemde illustrasie) 'n verklaring dat iemand onskuldig of regverdig is.  In v.33-34 is dit die teenoorgestelde van veroordeling.  Veroordeling doen tog nie iets in die sondaar se hart nie, maar wys net op iets wat reeds waar is van die persoon.  Dieselfde geld vir regverdigmaking:  dit dui op 'n verklaring wat oor die persoon gemaak word.  Let op hoe die volgende twee verse my punt bewys:

 

“As daar tussen manne ‘n twis is en hulle na die gereg kom en die regters hulle vonnis en die regverdige regverdig verklaar en die skuldige skuldig verklaar” (Deuteronomium 25:1).  Die regter kan mos nie iets in die persoon se hart verander om hom skuldig of onskuldig te máák nie.  Hy verklaar slegs dat dit so is.  Lukas skryf van die volk wat God geregverdig het (7:29).  Dit kan onmoontlik beteken dat mense iets in God se wese of hart verander het.  Dit beteken duidelik dat hulle verklaar het dat Hy regverdig is.  Dít is die betekenis van regverdigmaking.

 

Spreuke 17:15 sê:  “Hy wat die goddelose regverdig verklaar en die regverdige skuldig verklaar, hulle altwee is vir die Here ‘n gruwel.”  Dit gebeur gereeld in ons eie land.  Kriminele word vrygelaat en die onskuldige slagoffer wat die dief doodskiet word beboet of selfs in die tronk gestop.  Maar is God nie self skuldig nie?  Hy het dan die onskuldige Jesus gestraf en regverdig skuldige sondaars.  In 4:5 praat Paulus van Hom wat die goddelose regverdig.  Hoe kan ons hierdie spanning oplos?  James Kennedy gee ’n behulpsame illustrasie in sy beroemde evangelisasie kursus (EE3).  Garcia was 'n man wat lank gelede gelewe het.  Tydens 'n oorlog teen 'n diktator was die voedsel vooraad maar skaars.  Van sy eie mense het kos begin steel.  Garcia het gewaarsku dat indien enigiemand kos sou steel, die persoon gegesel sou word.  'n Tyd later het Garcia se manskappe hom ingelig dat iemand kos gesteel het en gestraf moes word.  Die ‘iemand’ was sy eie ma.  Garcia het geweet dat sy bejaarde ma nie die geseling sou kon verduur nie en dat sy onder die houe sou sterf.  Hy wou ook hê dat geregtigheid moes geskied.  Derhalwe het hy besluit om sy hemp uit te trek en die straf namens sy ma te verduur.  So kon Garcia dus sy skuldige ma vrylaat en terselfdertyd ook regverdig wees.

 

Dit is wat God vir ons gedoen het in Christus.  Ons het God se wet oortree en verdien om gestraf te word.  God het 'n mens geword en ons sondes op Homself geneem aan die kruis.  Dáár het Hy in ons plek die straf vir ons sondes ontvang.  God beskou sy Seun as ‘skuldig’ omdat Hy ons sondes op Homself geneem het.  Sodoende straf God ons sondes en bly Hy tergelyketyd ook regverdig.  Maar dis nie al nie, want 'n Jesus se kruisdood was net ons sondes weg en gee dus slegs vir ons 'n skoon rekord.  Vergifnis van sondes alleen is nie genoeg nie.  Jy gaan miskien nie meer hel toe nie, maar jy gaan ook nie hemel toe nie.  Of erger:  dalk sondig jy môre weer en dan is jou rekord wéér negatief.  Wat jy nodig het is 'n positiewe geregtigheid, en nie bloot 'n kanselasie van jou negatiewe rekord van sonde nie.  Maar nie te bekommer nie, want ook dít is deur Jesus voorsien.  Jesus het die wet volmaak kom onderhou.  Die rekord van sy volmaakte wetsonderhouding word gratis aan ons geskenk.  En so gebeur dit dan dat God die goddelose kan regverdig.  Hierdie is die ruiltransaksie waarvan ons in2 Korintiërs 5:21lees:  “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”  In moderne Afrikaans:  My sonde word syne en sy geregtigheid word myne. 

 

Hoe ontvang jy hierdie geregtigheid?  Nie deur wetsonderhouding nie, want dan probeer jy om die wel te herontwerp.  Jy kon juis nie die wet volmaak onderhou nie, en daarom het Jesus dit namens jou kom doen.  Paulus sê:  “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.” (Romeine 3:28, beklemtoning myne).  Ons word geregverdig deur geloof alleen (5:1).  En hierdie geloof is nie 'n werk soos wat sommige meen nie.  Geloof is 'n vaste en volkome vertroue in wie Jesus is en in wat Hy gedoen het:  Hy is God en mens; Hy is sonder sonde gebore en het die wet volmaak onderhou; Hy het die sonde en straf van miljoene sondaars op Homself geneem aan die kruis; Hy het gesterf en is begrawe; Hy het opgestaan uit die dood op die derde dag.  Dís die evangelie.  Almal wat op híérdie Christus en sy werk vertrou sal gered word.

 

Hoe help hierdie leerstelling van regverdigmaking deur die geloof alleen, gelowiges wat swaarkry of twyfel?  Heel eerste is dit nodig dat ek vir jou sê om nie op jou gevoel te lewe nie.  Moenie dink jy is 'n verlore sondaar omdat jy nie gered vóél nie.  Moenie in depressie verval of na die duiwel luister wat jou voortdurend wil aankla nie.  Luister weer na die apostel se woorde in 8:33-34:  “Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God?  God is dit wat regverdig maak.  Wie is dit wat veroordeel?  Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.”  As jy op Christus alleen vertrou het, het God jou onskuldig en regverdig verklaar en kan nie eers die duiwel self jou veroordeel nie.  As die hoogste Hof in die heelal jou onskuldig verklaar het – tot wie die duiwel appélleer om die saak te heropen en te probeer omswaai?  Glo die feite van jou regverdiging.  Glo dat die sonde van jou verlede, hede, en toekoms vasgenael is aan die kruis van Jesus (Kolossense 2:14).  Moenie dat jou emosies van depressie en twyfel jou onderkry nie.  Sal God vir Jesus straf vir jóú sondes en jou dan weer straf vir daardie sélfde sondes in die hel?

 

Jy hoef nie te vrees dat die lyding wat jy tans deurmaak God se straf op jou is nie.  Jy hoef nie te vrees dat jy op die oordeelsdag voor Hom gaan staan en dat Hy jou gaan wegwys en hel toe stuur nie.  “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie...” (v.1).  Jou sondige rekord is skoongewas deur die bloed van Jesus.  Sy geregtigheid is joune.  God beskou jou so volmaak regverdig soos Jesus self.  God tug ons wel, maar frons nie heeltyd oor ons nie.  Vanoggend toe jy opstaan was daar nie 'n wolk tussen jou en God nie.  Moet dan nie vir jouself sê:  “Die Here straf my seker vir sondes van die verlede” nie.  Moet ook nie, wanneer jou gelowige kinders seerkry, sê:  “Ja, Here straf jou omdat jy nie luister nie.”  Jy leer hulle verkeerd.  Hulle sal soos jy dink as hulle grootword.  Hulle sal dink die Here frons alewig oor hulle.  Hulle sal slawe van 'n harde meester wees.  Hulle sal lyding in 'n verkeerde lig beskou.  Leer eerder vir hulle die volgende rympie wat op v.28 gebasseer is.  Jy kan dit gerus ook vir jouself onthou.

 

Lyding werk vir jou voordeel –

Dis nie God se vurige oordeel

 

Die gelowige wat alewig oor sy redding twyfel doen dikwels so omdat hy regverdigmaking en heiligmaking met mekaar verwar.  Hy dink dat hy by God aanvaar word omdat hy opreg en gehoorsaam is.  Hy vergeet dat hy enkel en alleen deur God aanvaar word op grond van Jesus se lewe en dood.  Soms dink twyfelaars ook dat hulle heiligmaking passief is:  God moet alles doen en hulle het geen aandeel in die proses nie.  “Let go and let God” is wat hulle sê.  Sulke mense sal dikwels wetties word (hulle aanvaarding by God is immers gebasseer op hulle ‘performance’).  Óf hulle sal die Keswick-teologie omhels en dink dat dit moontlik is om sondeloos volmaak te wees voordat jy hemel toe gaan (heiligmaking kan 'n oombliklike verklaring van volmaaktheid wees soos regverdigmaking).

 

'n Verwarring van die orde van wedergeboorte, regverdigmaking, en heiligmaking kan selfs na openlike kettery lei.  In v.30 sê Paulus duidelik dat wedergeboorte (innerlike roeping) eerste plaasvind in die proses van ons verlossing.  Daarná kan die nuwe lewende skepsel in Christus glo en geregverdig word.  En dáárna begin die proses van heiligmaking totdat hy in die hemel is en verheerlik word.  Ek het al mense teëgekom wat die orde verwar.  Hulle glo dat jy eers geregverdig word deur die geloof en daarna groei in heiligheid.  En as jy heilig genoeg is (God sal besluit wanneer) – dán eers word jy weergebore.  God skenk dus wedergeboorte op grond van 'n persoon se werke!  Dit is absolute kettery!  Kan jy dink hoe só iemand verward sal wees en twyfel oor sy redding.  Hy sal nooit weet of hy heilig genoeg was om wedergeboorte te verdien nie.  Dit is dus baie belangrik dat ons die orde reg kry en dat ons hierdie leerstelling van regverdigmaking deur geloof alleen REG verstaan.

 

As jy hierdie leerstelling reg verstaan kan jy hoop skep.  Job se vraag in sy lyding was:  “...hoe kan ‘n mens regverdig wees by God?”  Ons het die antwoord:  deur Jesus se volmaakte wetsonderhouding en dood aan die kruis namens ons.  Ons word geregverdig deur geloof in Jesus Christus alleen.  So Christen:  bely dan jou sondes, bekeer jou daarvan, en dank God vir sy goedheid in verlossing.

Kategorieë