Coram Deo Cover Image

Coming soon...

25 May 2019

Is dit nodig om jou sonde te bely?

Related image

Matteus 6:12

In sy boek Destined to Reign, sê Joseph Prince dat jy nie jou sonde hoef te bely om vergewe te word nie en dat sonde nie jou verhouding met die Here affekteer nie [Destined to Reign (Tulsa, Oklahoma: Harrison House Publishers, 2007, 2011), 53].

‘Maar wat van 1Joh. 1:5-10 wat sê dat sonde jou verhouding met die Here beïnvloed en dat jy dit moet bely?’ wil iemand weet. Prince reken dat Johannes vir vals leraars geskryf het, en dat 1Joh. 1 nie vir gelowiges geld nie [Ibid., 53-54].

Die feite is egter dat Johannes juis vir Christene skryf. In die derde vers sê hy dat ons gemeenskap met die Vader en die Seun is. In v.6 sê hy dat sonde ons gemeenskap met God verhinder. Indien jy sê jy het geen sonde het nie, bedrieg jy jouself en noem jy God ‘n leuenaar (1Joh. 1:8, 10). As jy egter jou sonde erken en berou het daaroor, sal God jou op grond van Jesus se kruisdood vergewe en jou hart skoon was (1Joh. 1:7, 9). Maar as jy dit nie erken en bely nie, sal die Here jou nie vergewe nie. Dink gerus aan Dawid se belydenis in Ps. 51. Luister ook na die volgende tekste:

“Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is. Welgeluksalig is die mens aan wie die Here die ongeregtigheid nie toereken nie en in wie se gees geen bedrog is nie.Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag; want u hand was dag en nag swaar op my; my murg het verander soos deur somergloed. My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die Here my oortredinge bely; en Ú het die ongeregtigheid van my sonde vergewe.” (Ps. 32:1-5).

“Ja, my ongeregtigheid bely ek, ek is bekommerd oor my sonde.”(Ps. 38:19).

“Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.” (Spr. 28:13).

Die Nuwe Testament leer dieselfde. Buiten vir 1Joh. 1:9, is dít ook die punt van Matt. 6:12: “en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe”? Hoekom sou Jesus ons leer om ons sonde te bely en vergifnis te vra as dit nie nodig is nie? Dit fasineer my dat Prince glad nie Matt. 6:12 in sy boek aanhaal of eers die moeite doen om dit te verduidelik nie. En tog wil ek in dieselfde asem sê dat ek Prince se dilemma verstaan: hoekom móét ons ons sonde bely as Jesus reeds aan die kruis daarmee afgereken het?

Iemand sal sê: ‘Wanneer jy tot bekering kom, vergewe God die sonde van jou verlede. Die sonde wat jy gáán doen is nog nie vergewe nie en daarom moet jy vergifnis vra.’ Maar is dit waar? 1Joh. 1:7 sê dat die bloed van Jesus ons van alle sonde reinig (verlede, hede en toekoms). ‘n Man in Nelspruit was dus verkeerd toe hy gesê het: ‘Christene sal geoordeel word vir die sonde wat hulle nie bely het nie’ (kontra Joh. 5:24, Rom. 8:1).

Hoekom bely ons dan ons sonde? Die dag toe jy in Jesus geglo het, het God jou sondige rekord op grond van sy Seun se kruisdood skoongevee (regverdigmaking). Omdat jy egter nog sonde doen, moet die Here jou hart reinig (heiligmaking). Hy skryf dus nie weer die sonde op jou rekord nie. Dit besoedel egter jou hart en versteur jou verhouding met Hom. Daarvoor het jy vergifnis en reiniging nodig.

Om Jesus se beeld te gebruik, kan ons sê dat jy reeds gebad het, maar dat jou voete nog vuil word en gewas moet word (Joh. 13:10). Of ons kan sê dat Jesus jou skuld betaal het en sy oorvloedige genade in die rekening van jou lewe gestort het. Wanneer jy sonde doen, kan jy die tjek van belydenis vir God se genadevolle vergifnis wissel. Jesus het hiervoor voorsiening gemaak. Jy hoef nie te vrees dat jy ooit die rekening sal leegtap nie, aangesien sy genade meer is as jou sonde (Rom. 5:20).

Om die konsep van belydenis en God se vergifnis verder te verduidelik, moet ons tussen geregtiglike vergifnis en Vaderlike vergifnis onderskei. ’n Illustrasie sal help.

Theo is ‘n 19-jarige straatkind sonder ouers. Hy het die regter se kar gesteel en sy huis afgebrand. Die boete is R10 miljoen of 25 jaar in die tronk. Soos jy seker weet, kan hy dit nie betaal nie. Om sy skuld af te skryf, betaal die regter sy boete. Maar dit is nie die einde van die storie nie. Die regter het hom ook aangeneem. Die verhouding het verander van ‘n regter-misdadiger verhouding na ‘n vader-seun verhouding. As hy nou teen die regter sondig, verloor hy nie sy kindskap nie. Maar dit versteur die verhouding. Om dinge reg te stel, moet Theo sy skuld erken en die saak met sy pa uitpraat (Jes. 1:18). Hy benodig nie geregtiglike vergifnis soos in die verlede nie, maar vaderlike vergifnis.

Ek hoef nie die illustrasie te verduidelik nie. Ek is seker jy verstaan wat ek bedoel. Ek hoop ook jy kan sien dat Joseph Prince verkeerd is, en dat Christene nog steeds vergifnis moet vra as hulle gesondig het. Hoe doen ‘n mens dit? Matt. 6:12 sê vir ons.

 

  1. Bely dit daagliks

Miems laat haar skuld vir ‘n jaar ophoop voor sy dit betaal. Rita betaal haar skuld sodra sy dit maak. Miems laat haar skottelgoed vir tien dae ophoop. Rita was haar bord, mes en vurk sodra sy dit klaar gebruik het. Wanneer dit by sonde kom, moet jy soos Rita wees en nie soos Miems nie. Moenie jou sondeskuld vir weke en maande laat ophoop nie, maar bely dit daagliks. ‘Keep short accounts with God,’ het die Puriteine gesê.

‘Waar sê die vers jy moet daagliks jou sonde bely?’ wonder iemand. Wat is die eerste woord in v.12? ‘En...’ Jesus koppel dit aan die vorige vers: “gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde”. Die punt is dat jy jou sonde daagliks moet bely, net soos wat jy daagliks vir jou behoeftes bid.

Moet dan nie eers jou sonde wil bely as jy ver weggedwaal het en tien tree van die hel af is nie. Bely dit daagliks. Om dit in die praktyk reg te kry, moet jy so gereeld as moontlik die nagmaal gebruik. Jesus het nie die nagmaal ingestel, sodat jy kan wegbly omdat jy in die week gesondig het en onwaardig voel om dit te gebruik nie. Hy het juis vir onwaardige mense gesterf en die nagmaal ingestel om jou die kans te bied om jouself te ondersoek, jou sonde te bely en jou daarvan te bekeer met die wete dat jou Vader jou op grond van Jesus se offer vergewe (1Kor. 11:28, 31).

Om jou sonde daagliks te bely, moet jy ook elke dag vir die Here vra om jou hart te ondersoek. Dink aan wat gister gebeur het. Bely jou sonde so spesifiek as moontlik. Vertrou dat die Heilige Gees jou saggies sal herinner aan die dinge wat jy vergeet het (Ps. 139:23-24). Natuurlik sal jy nooit alles onthou nie, maar daarvoor het die Here ook voorsiening gemaak toe Hy aan die kruis gesê het: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Luk. 23:34, vgl. Lev. 4, Ps. 19:13).

In jou selfondersoek moet jy jou sonde raaksien, maar nie daarop fokus nie. Fokus eerder op die kruis en sê dankie dat die Here bereid is om jou te vergewe. As jy op jou sonde fokus, sal jy depressief raak. As jy op die kruis fokus, sal jy God se vrede en genade beleef. Robert Murray McCheyne (1813-1843) het gesê: ‘For every look at yourself, take ten looks at Christ.’ [Andrew A. Bonar, The Life and Remains, Letters, Lectures and Poems of the Rev. Robert Murray M’Cheyne (New York: Robert Carter & Brothers, 1866), 220].

 

  1. Erken jou skuld

‘n Paar jaar gelede wou ‘n man sy finansiële probleme met my bespreek. Hy was oortuig dat sy skoonfamilie iemand gehuur het om ‘n vloek op hom te plaas en dat dít die rede was hoekom hy finansieel gesukkel het. Hy het egter R2000 per maand aan drank en sigarette spandeer. Vir die man om sy probleme op te los, moes hy ophou om sy skoonfamilie en die duiwel te blameer en erken dat hy vir sy eie gemors verantwoordelik is.

Dit geld ook in jou verhouding met die Here. Totdat jy nie jou skuld erken en jou bekeer nie, kan jy nie vergewe word nie (v.12). Moet dus nie ‘n honderd verskonings hê vir hoekom jy aan die Here ongehoorsaam is nie. Moenie jou lewensmaat en jou kinders vir jou kort humeur blameer nie. Moet dit nie aan jou Duitse bloedlyn toeskryf, of jou ouers beskuldig omdat hulle jou nie reg opgevoed het nie. Moenie sê dit is die Here wat jou nie wil help nie. Moenie sê dat dit ‘n demoon van woede is nie. Moenie jou sonde verskoon deur dit ‘n hormoon-wanbalans te noem nie. Moenie sê dit is die pille wat jy gebruik, of jou moeilike omstandighede nie.

Erken eenvoudig jou skuld en bely dat jy die Here se vergifnis nodig het (v.12, Spr. 28:13, 1Joh. 1:8-10). Hoekom het jy die Here se vergifnis nodig? Want jy het sý Woord oortree. Jou sonde was nie hoofsaaklik teen X of teen Y nie, maar teen die Here (Ps. 51:6). Prakties beteken dit dat jy nie jou sonde teenoor ‘n priester, of een of ander kultus leier moet bely nie, maar teenoor die Here (v.12). As jy in die geheim teen die Here gesondig het, moet jy dit in die geheim bely. As jy voor ander mense teen die Here gesondig het, moet jy dit voor hulle bely.

Let ook op dat Jesus jou nie beveel om jouself te vergewe nie. God alleen kan jou vergewe (Mark. 2:7). Jy het nie die mag om jou eie sonde te vergewe nie. Maar selfs al het jy die mag gehad, help dit nie jy vergewe jouself as die Here jou nie vergewe nie.

En ás Hy jou vergewe het, hoekom wil jy aanhou om jouself te slaan oor iets wat vergewe is, wat in die diepste see gegooi is, wat so ver van jou verwyder is soos die ooste van die weste (Ps. 103:12, Miga 7:19)? Wat het die verlede te doen met die hede? Moenie die Here bedroef soos Josef se broers hóm bedroef het, omdat hulle nie sy vergifnis kon aanvaar nie (Gen. 50:15-21). Die Here het jou vergewe. Glo sy beloftes en sê vir Hom dankie dat Hy jou vergewe het.

 

  1. Bely dit gesamentlik

Elke dekade of so hoor ons van iemand wat namens ‘n hele land of groep verskoning aanbied vir die seer wat hulle mense veroorsaak het. Ek dink bv. aan die NG Kerk of Afrikaners wat vergifnis gevra het vir apartheid. Is daar ‘n plek hiervoor? Soms. Maar soms nie. Hoe kan jy dan weet as ‘n hele gemeente of groep hulle sonde moet bely en wanneer dit voldoende is om net jou eie sonde te bely? Wanneer geld Matt. 6:12: “en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe”?

In ‘n sekere sin geld dit altyd. Jy kan skaars deel wees van ‘n gemeente sonder dat ander mense se sonde jou beïnvloed. Dink maar aan hoe Esra, Nehemia en Daniël nie net hulle eie sonde bely het nie, maar die volk s’n. Ook in die Nuwe Testament sien ons hoe Jesus hele gemeentes aantree, omdat hulle die sonde in hulle midde geïgnoreer het. Een slegte appel het die res laat vrot word (vgl. 1Kor. 5:6). Toe een van die skape afdwaal, toe volg die res.

Daarom moet ons erns maak om nie net ons persoonlike sondes te bely nie, maar ook die sonde wat ons as ‘n gemeente doen. Wat is hierdie sondes? In óns gemeente is dit die volgende:

  • Die meeste van ons mense gee nie ag op Jesus se opdrag om saam met ander te bid nie (‘OnsVader...’).
  • Baie mense in ons gemeente hou ‘n sitplek Jy is nie besig om ander te dien nie, maar dink dat jy jou deel gedoen het as jy op ‘n Sondagoggend hier was.
  • ‘n Groot deel van ons mense sit op ‘n Sondagaand by die huis en TV kyk, terwyl die res van die gemeente die Here prys, sy dood in die nagmaal herdenk en na die Woord luister.
  • Ons het nie ‘n hart vir verlorenesnie. As dit so was, sou ons gebou na 44 jaar (vandat dit opgerig is) te klein gewees het.
  • Ons beskou kerkdissipline as die ouderlinge se werk. Ons ignoreer mekaar, of skinder van mekaar, maar is nie bereid om deur ‘n saak te werk as iemand teen ons gesondig hetnie.
  • Dit het onder my aandag gekom dat ‘n groepie van ons mense te veel drink by sosiale geleenthede. Ek het nie al die namenie, maar as dit jý is, wil ek jou vra om jou te bekeer. As ek al die feite het, sal ek persoonlik en in liefde met jou kom praat.

As ek Jesus se woorde reg verstaan, is dít wat Hy bedoel wanneer Hy ons beveel om ons sonde te bely. Die vers het niks te doen met mense wat hulle voorvaders, of die volk se sonde bely nie. Jy hoef net jou oupa se rassisme te bely as jy sy slegte voorbeeld gevolg het en self ‘n rassis is. Dit geld ook in die gemeente. As jy opstaan vir wat reg is en nie die ander skape se verkeerde voorbeeld volg nie, sal die Here jou nie saam met die res tugtig nie (Op. 2:24-25, 3:4).

 

  1. Vergewe mekaar

In Matt. 18:21-35 vertel Jesus die storie van ‘n man wat die koning tien duisend talent geskuld het (een talent is twintig jaar se salaris!). Toe hy die koning vir nog tyd vra, toe kry die koning hom so jammer dat hy sy skuld afskryf.

Toe die man by die koning se paleis uitstap, sien hy iemand in die straat wat hom ‘n honderd denarii skuld (een denarius is ‘n dag se loon). Hy het hom aan die keel gegryp. Toe die man hom vir uitstel vra, het hy geweier en hom laat toesluit. Toe die koning hiervan hoor, was hy briesend. Hy het sy wagte laat roep en die man in die tronk gesit, totdat hy die laaste sent betaal het (wat natuurlik nie gebeur het nie). Jesus sluit die gelykenis soos volg af: “So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie.” (Matt. 18:35).

Het jy iets teen iemand en verwag jy die Here moet jóú vergewe? Hoe sal jy Matt. 6:12 bid as jy nie jou naaste wil vergewe nie: “en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe”? Wil jy regtig hê die Here moet jou vergewe soos jy ander vergewe? Hoekom onthou jy nie liewer hoe die Here jou vergewe het, sodat jy ook dié mense kan vergewe wat teen jóú gesondig het nie (Ef. 4:32)? Wat help dit om ‘n wrok in jou hart te dra? Dit sal net jou verhouding met die Here benadeel en jou siek maak (v.12, Spr. 14:30, 1Pet. 3:7). Vergewe mekaar, sodat die Here jou kan vergewe (v.14-15, Mark. 11:25).

Oor die afgelope paar jaar het drie verskillende mense vir my gesê dat Jesus ons reeds deur sy kruisdood vergewe het, en dat ons daarom nie vergifnis hoef te vra nie. Ek hoop dat jy na vanoggend se preek weet dat hulle verkeerd was en dat Jesus reg is.

Kategorieë