Coram Deo Cover Image

Coming soon...

26 March 2022

Interpersoonlike Probleme: Skinder

Efesiërs 4:29-30

Jare gelede het iemand in Nelspruit lelike stories van ’n gelowige in die koerant geskryf. Dit was nie waar nie, maar die skade is gedoen. Mense het die stories geglo en die gelowige met agterdog bejeën.

Om te skinder is soos vuurhoutjies wat ’n veldbrand veroorsaak of soos iemand wat gif drink: “Kyk watter klein vuurtjie steek ’n groot hoop hout aan die brand! Die tong is ook ’n vuur, ’n wêreld van ongeregtigheid. Die tong is deel van ons ledemate, maar besoedel die hele liggaam. Dit steek die hele lewensloop aan die brand, en word uit Gehenna aangesteek... dit is ’n onbestendige kwaad, vol dodelike gif.” (Jak. 3:5b-6, 8).

In Ef. 4:29-30 waarsku Paulus ons teen die verkeerde gebruik van die tong en leer hy ons om dit reg te gebruik.

 

1. Hoe moet jy praat?

Om te skinder en ander afbrekende woorde te praat, is soos vrot, nuttelose, verdorwe en korrupte vrugte of vis (v.29, Gk. sapros, Matt. 7:17-18, 13:47-48). Dit wys dat jy ’n slegte hart het en dat jou godsdiens nutteloos is (Spr. 10:20, Matt. 12:34, Jak. 1:26). As jy ’n gelowige is, het God jou gekies om heilig en opreg voor Hom te lewe (1:4). Hy het jou vooruit bestem om sy kind te wees (1:5). Deur sy bloed het Jesus jou verlos en vergewe (1:7). Hy het jou bestem om die hemel as erfdeel te verkry (1:11). Hy het jou saam met Christus uit die graf opgewek en in die hemel laat sit (2:4-7). Hy het jou uit genade en deur geloof gered (2:8-9). Hy het jou ’n nuwe skepping gemaak, sodat jy ywerig sal wees vir goeie werke (2:10). Moet dan nie meer soos ’n ongelowige lewe nie:

“Julle moenie meer soos die heidene met hulle niksbeduidende gedagtes leef nie. Hulle denke is verduister, hulle is vervreem van die lewe met God, omdat hulle onkundig is, deur die hardheid van hulle harte. Omdat hulle gevoelloos geword het, het hulle hulleself oorgegee aan losbandigheid, om onversadigbaar allerhande onrein dade te pleeg.” (v.17-19).

Dit is wie jy was toe jy ander mense gehaat en belaster het (2:1-3, Tit. 3:3). Dit is nie meer wie jy is nie. Laat ons dan niemand met vrot woorde afbreek en hulle beskinder nie (v.29). Daardeur maak jy jouself en ander geestelik siek. Hoe gebeur dit?

[a] Jy besoedel jou gewete en benadeel jou verhouding met die Here: “Jy gee jou mond vrye teuels vir boosheid, en jy span jou tong in vir bedrog. Jy sit en konkel teen jou broer, jou moeder se seun beswadder jy. Hierdie dinge het jy gedoen, maar Ek het stilgebly. Jy het gedink Ek is net soos jy! Ek gaan jou teregwys en vir jou die saak duidelik uiteensit. Verstaan dit tog, julle wat God vergeet, anders verskeur Ek, en daar is niemand wat kan red nie... Maar julle sondeskuld, dit het skeiding gebring tussen julle en julle God. Julle sondes het Hom sy gesig vir julle laat verberg, sodat Hy nie luister nie” (Ps. 50:19-22, Jes. 59:2).

[b] Jy gooi jou getuienis weg. Kan dit anders wees as jy mense haat en van hulle skinder? Hoe moet die ongelowige wat jou sien skinder glo dat God liefde is? Hoe moet hy glo Jesus kan mense red as jou tong onder die mag van die duiwel en jou eie sonde is?

[c] Jy maak mense bevooroordeeld teen iemand of ’n situasie waarvan hulle niks weet nie: “The one who states his case first seems right, until the other comes and examines him.” (Spr. 18:17, ESV).

[d] Jy verbreek vriendskappe: “’n Verdorwe mens ontketen stryd, en ’n kwaadstoker

skei boesemvriende... wie ’n saak telkens ophaal, skei boesemvriende... Sonder hout gaan ’n vuur dood, en in die afwesigheid van ’n kwaadstoker raak ’n stryery stil. Gloeiende kole vir houtskool, hout vir ’n vuur, dit is ’n twissieke man by die aanblaas van ’n geskil.” (Spr. 16:28, 17:9, 26:20-21). Die persoon van wie jy skinder, sal jou beswaarlik in die toekoms vertrou: “Wie as ’n skindertong rondgaan, openbaar geheime, maar ’n betroubare persoon hou die saak verborge... Wie as ’n skindertong rondgaan, openbaar geheime; moet dus nie betrokke wees by iemand wat sy lippe oopsper nie.” (Spr. 11:13, 20:19).

Miskien skinder jy nie, maar jy eet skindernuus op vir soetkoek: “Die woorde van ’n kwaadstoker is soos lekkernye—dit gaan af na die binneste van die liggaam.” (Spr. 18:8, vgl. 26:22). Om na skindernuus te luister, maak jou so skuldig soos die persoon wat die stories aandra. Thomas Watson sê: ‘He that raises a slander, carries the devil in his tongue; and he that receives it, carries the devil in his ear.’1 Wie skindernuus aanhoor, soek iets nuut om te deel en is self ’n skinderbek: “’n Kwaaddoener gee aandag aan lippe vol boosheid; ’n leuenaar spits sy oor vir ’n tong vol vernietiging.” (Spr. 17:4). Mense wat skindernuus oordra of aanhoor, sal verseker ook van mekaar skinder! ‘Those who will fetch will carry,’ sê Charles Spurgeon, ‘and no doubt the gossips go from your house and report every observation which falls from your lips, with plenty of garnishing of their own. Remember that, as the receiver is as bad as the thief, so the hearer of scandal is a sharer in the guilt of it. If there were no listening ears there would be no talebearing tongues.’2

Wat moet jy doen as mense stories aandra? Vra vir jouself of dit skinder is. Soek die nuusdraer iemand anders se voordeel? Het hy al op ’n sagmoedige, nederige en liefdevolle wyse met die persoon gaan praat (Matt. 18:15, Gal. 6:1-2)? Is die nuusdraer bereid om die persoon saam met jou te sien? Het die nuusdraer bewyse vir wat hy sê? As die persoon nie ten minste bereid is om ’n beëdigde verklaring af te lê nie, dra sy woorde geen gewig nie.

In ’n geval waar die nuusdraer iemand afbreek, is dit skinder (v.29). ’n Nuusdraer begin sy gesprekke as volg: ‘Het jy gehoor?... Ek wil skinder nie, maar... Belowe my jy sal vir niemand sê nie...’ Die ergste is as iemand onder die dekmantel van gebed skinder. Toe ’n vrou eenkeer van iemand wou skinder, toe sê sy: ‘Hoor hier; ons moet vir so en so bid.’ Ek het haar mond gesnoer en gesê ons moenie van ander mense praat nie. Sy het aanstoot geneem en gesê ek neem mense se vrymoedigheid weg om te praat.

Wat moet jy doen as mense by jou skinder? Sê vir hulle wat wyle tannie X gesê het: ‘My ore is nie ’n asblik nie.’ Doen wat my vriend gedoen het. Nadat een van my kollegas dood is, toe bel hy my. ‘Ek is regtig jammer om hiervan te hoor. Was jy na aan die persoon?’ Toe ek vertel dat die persoon selfmoord gepleeg het om sy skandes weg te steek, toe sê hy: ‘Ek het medelye met jou pyn, maar ek wil asseblief nie verder hoor nie.’

’n Ander vriend het ’n nuusdraer stilgemaak en gesê: ‘Kom ons bel dadelik die persoon om te hoor wat aangaan.’ Die skinderstories het baie vinnig gesterf.

’n Paar jaar gelede het iemand haar skoondogter teenoor my beswadder. Ek het die vrou stilgemaak en haar gevra om nie verder te skinder nie. Sy het my kwalik geneem en my daarna my by ander mense beskinder.

Wil jy skinder oorkom? Jy moet ’n nuwe hart ontvang, omdat mense se woorde uit die hart ontspring (Eseg. 36:26, Spr. 4:23, Tit. 3:5). Glo in Jesus Christus, omdat God ons harte deur geloof in Jesus se bloed reinig (Hand. 15:9, 1Joh. 1:7). Reinig jou hart deur gebed en bekering: “Skep ’n rein hart vir my, o God, vernuwe ’n bestendige gees in my binneste... Nader tot God, dan sal Hy tot julle nader. Reinig julle hande, sondaars, en suiwer julle harte, dubbelhartiges!” (Ps. 51:12, Jak. 4:8).

As die Here jou hart verander het, vra Hom om ’n wag voor jou lippe te plaas (Ps. 141:3). Memoriseer en gehoorsaam Spr. 10:19 en Jak. 1:19: “By ’n oorvloed woorde bly oortredings nie uit nie; maar wie sy lippe in bedwang hou, is verstandig... Let op, my geliefde broers, elke mens moet flink wees om te luister, stadig om te praat, stadig om kwaad te word.”

Bely dadelik as jy gesondig het (1Joh. 1:9).

Doen restitusie en gaan maak reg met die persoon van wie jy geskinder het, asook met die mense teenoor wie jy geskinder het. Dit is vernederend—ek weet. Maar dit sal verhoed dat jy in die toekoms maklik van ander skinder.

Vra jouself die vraag as jy van ander wil skinder: Is wat ek nou gaan sê gaaf; is dit waar; is dit nodig?

Hou jou neus uit ander mense se sake (Spr. 26:17, 1Pet. 4:15).

Moenie ledig wees nie, maar bepaal jou by jou werk. Dit is wanneer mense niks het om te doen nie wat die duiwel hulle versoek om in ander mense se sake in te meng en van hulle te skinder (2Tess. 3:11, 1Tim. 5:13).

Vermy skinderbekke (2Tim. 3:3, 5) en sê vir jouself dat die Griekse woord vir kwaadspreker en duiwel dieselfde is (diabolos). Om van ander mense te skinder, maak jou soos die duiwel.

Dit opsigself is nie genoeg om skinder te vermy nie (v.22, 29a). Jy moet ook ander mense opbou (v.24, 29b). Die persoon wat reg praat, bou sy eie gees op. Hy bou die mense van wie hy praat op, asook die mense met wie hy praat, die gemeente (v.11-12, 1Tess. 5:11) en die samelewing.

Wat moet jy sê om ander mense op te bou? Fokus op die positiewe eienskappe in hulle lewe ten spyte daarvan dat hulle baie sondes en foute het. Paulus het dit gedoen. Geen gemeente het so baie probleme gehad nie as die Korintiërs. Tog begin Paulus sy eerste brief aan hulle met die woorde: “Ek dank my God deurentyd oor julle, en vir die genade van God wat aan julle gegee is in Christus Jesus. Want deur Hom is julle in alle opsigte verryk in elke woord en in alle kennis. Net so is die getuienis oor Christus stewig onder julle gevestig, sodat julle, terwyl julle wag op die openbaarmaking van ons Here Jesus Christus, nie in enige genadegawe tekort skiet nie. Hy sal julle ook tot aan die einde standvastig maak, sodat julle sonder blaam sal wees op die dag van ons Here Jesus Christus. God is getrou, deur wie julle geroep is tot verbondenheid met sy Seun, Jesus Christus, ons Here.” (1Kor. 1:4-9).

In 2008 het hierdie waarheid my gehelp. Ons gemeente het deur diep waters gegaan. Mense was kwaad vir my. Ek het teen hulle gesondig en hulle het teen my gesondig. Dit het gevoel of ek alleen staan. Vir ’n tyd lank het ek elke dag die goeie kwaliteite van hierdie mense neergeskryf en die Here daarvoor gedank. Deur die Here se genade het dit my staande gehou.

Om mense op te bou, moet jou gesprekke vir die Here aanneemlik wees (Mal. 3:16). Leer, bemoedig en vermaan mense uit God se Woord (Luk. 24:27, 32, Rom. 15:14, 1Tess. 4:18). Om egter opbouend te praat, gaan nie net oor die inhoud nie, maar oor die tydsberekening (v.29, chreia, ESV). Spreek die regte woorde op die regte tyd. Dit is nie verkeerd om ’n skoon grap te vertel nie, maar om dit by ’n oop graf of na ’n aangrypende preek oor die hel te vertel, bou niemand op nie. Dit is goed om jou vrou te komplementeer en te sê sy is aantreklik. Moet dit egter nie voor ’n spul mans in die slaghuis doen nie. Dit is goed as jy ’n afgedwaalde skaap op ’n liefdevolle wyse aanspreek. Moet dit egter nie voor ander mense by ’n braai doen of as die persoon sopas gehoor het dat sy kind terminaal siek is nie. Dit is goed as jy iemand seën. Moet dit net nie 3 uur in die oggend doen nie (Spr. 27:14).

 

2. Hoekom moet jy so praat?

By ’n konferensie het ek die geleentheid gehad om vir ’n lang tyd met een van die sprekers te gesels. By ’n ander geleentheid het ’n goeie prediker een Sondag by ons huis kom eet. Albei die gesprekke het my geestelik verkwik en opgebou.

Gebruik jou woorde as ’n kanaal waardeur God se genade na ander toe kan vloei (v.29, charis). Hiervoor moet jy Bybelse waarhede en waardes in jou gesprekke inweef. Maak ’n punt daarvan om die Here in jou gesprekke in te bring. Ek het dit al met verskeie gelowiges beleef. Jy kan skaars met hulle praat sonder dat hulle oor die Here praat. Hulle woorde is opbouend en gee genade aan die siel. Bêre die Bybel in jou hart, sodat dit by jou lippe uitborrel en jy aan ander genade kan gee (v.29, Kol. 3:16).

Voel mense geestelik verkwik as hulle by jou gekuier het? Of praat jy te min van God en sy Woord en te veel oor die dinge van hierdie lewe: skoon grappe, sport, Covid, jou kinders, skool en werk, wêreldgebeure, ditjies en datjies?

Wat van die mense wat inluister; wat jou gesprek met iemand anders hoor: bou dit hulle op? Moet jy die onderwerp verander as iemand per ongeluk op julle gesprek inloop?

***

Nog ’n rede hoekom jy skinder moet vermy en ander mense moet opbou, vind ons in v.30: “En bedroef nie die Heilige Gees van God, deur wie julle met die oog op die dag van bevryding verseël is nie.” Die Grieks vir bedroef (lupeō) dui op ’n diep emosionele hartseer, benoudheid of pyn. Lupeō is vir die siel wat geboortepyne vir die liggaam is (Gen. 3:16, LXX, lupē). Die Heilige Gees voel baie hartseer (v.30) as ’n gelowige skinder (v.29). God se Gees is so sensitief soos ’n duif. Deur sonde jaag ons Hom maklik weg. Ek bedoel nie dat Hy sy kinders verlaat nie. Maar jy verloor die sin van sy nabyheid en ervaar nie sy krag soos in die verlede nie. Voel jou stiltetyd en jou verhouding met die Here koud en dood? Mag dit wees dat jy v.29-30 oortree het?

Onthou: iemand wat skinder sondig nie net teen mense nie., maar teen die Heilige Gees wat verse soos v.29-30 en Lev. 19:163 geskryf het! Voor jy besluit om te skinder of dit aan te hoor, sê vir jouself: ek maak die Heilige Gees hartseer (v.30). As dit nie genoeg is om te verhoed dat jy skinder nie, moet jy onthou dat die Heilige Gees ’n Persoon is wat emosie voel (v.30). Hy is nie ’n onpersoonlike krag soos die Jehovas Getuies sê nie. Hy doen die volgende vir jou:

  • Hy bring jou onder sonde-oortuig waarna Hy jou na Jesus toe wys, sodat Hy jou kan red en jy Hom kan verheerlik (Joh. 16:8, 14).
  • Hy wederbaar jou en gee jou nuwe lewe (Joh. 3:5, Tit. 3:5-6).
  • Christus verseël jou met sy Gees en gee Hom as waarborg dat jy die ewige lewe het, dat jy by die wederkoms ’n nuwe liggaam sal ontvang en dat die hemel jou ewige erfenis is (1:13-14, 4:30, Rom. 8:11, 23, 2Kor. 1:22, 5:5).
  • Hy leer jou aangaande God en sy Woord (1:17, Joh. 14:26).
  • Hy leer en help jou om reg te bid (2:18, Rom. 8:26-27).
  • Hy woon in jou en bring die Vader en die Seun na jou hart toe (2:22, 3:16-17, 19, Joh. 14:17, 23).
  • Hy gee jou sy volmaakte Woord (3:5, 2Pet. 1:20-21).
  • Wanneer jy swaarkry, verseker Hy jou van Christus se liefde (3:13, 16-19, Rom. 5:5, 15:30).
  • Hy maak jou een met ander gelowiges (4:3-4, 1Kor. 12:13).
  • Hy beïnvloed jou om reg te lewe (5:18).
  • Hy help jou om teen versoeking te staan (6:17-18).
  • Hy help jou om teen sonde te stry (Rom. 8:13, Gal. 5:16-18).
  • Hy gee jou ’n geestelike gawe (1Kor. 12:4, 11).
  • Hy gee vir jou sekerheid van redding (Rom. 8:15-16).
  • Hy kom langs jou in om jou te help, te troos, te verdedig en raad te gee (Joh. 14:16, Gk. paraklētos).
  • Hy gee jou krag om van Jesus te getuig (Hand. 1:8).
  • Hy maak jou heilig deurdat Hy jou karakter vorm om soos Jesus te lyk (Gal. 5:22-23, 2Tess. 2:13, 1Pet. 1:2).

Ek kan nog baie sê. Die punt is dat iemand wat v.30 onthou moeilik van ander mense sal skinder. As die waarheid van v.30 jou nie keer om te skinder en ander op te bou nie is jy moontlik nog ongered. Op die laaste dag sal Jesus bekendmaak dat jy ’n skinderbek was (Luk. 12:3). In die hel sal jy die einste tong kou waarmee jy so lekker geskinder het (Op. 16:10).

Hoef dit so te wees? Dit hoef nie. Jy het nog die geleentheid om jou te bekeer en in Jesus te glo wat vir skinderbekke aan die kruis gesterf het. Vra Hom om jou te red en met sy Gees te verseël. Vra Hom om jou ’n nuwe natuur te gee wat ander mense sal opbou eerder as om hulle af te breek en van hulle te skinder.

‘The boneless tongue, so small and weak,
can crush and kill,’ declares the Greek.
‘The tongue destroys a greater hoard,’
the Turk asserts, ‘than does the sword.’

A Persian proverb wisely saith,
‘A lengthy tongue—an early death!’
or sometimes takes this form instead,
‘Don’t let your tongue cut off your head.’

‘The tongue can speak a word whose speed,’
the Chinese say, ‘outstrips the steed’;
while Arab sages this impart,
‘The tongue’s great storehouse is the heart.’

From Hebrew wit this maxim sprung,
‘Though feet should slip, ne’er let the tongue.’
The sacred writer crowns the whole,
‘Who keeps his tongue doth keep his soul!’4


1  Thomas Watson, The Ten Commandments (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1959, 1965 [1692, 1890]), 169-70

2  Charles Spurgeon, Lectures to my Studentes (London: Marshall, Morgan & Scott, 1954), 328

3  “Jy mag nie as ’n kwaadstoker tussen jou mense rondgaan nie; jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here.”

4  https://www.poetrynook.com/poem/tongue-1

 

Kategorieë