Coram Deo Cover Image

Coming soon...

19 March 2022

Interpersoonlike Probleme: Rassisme

Lukas 10:25-37

’n Paar jaar gelede het ’n groep predikante beplan om saam te kom en oor rassisme te praat. Toe ’n sekere leraar dit hoor, was hy baie kwaad. Hy het redes vir sy misnoë verskaf en gesê: ‘As rassisme die onderwerp van bespreking is, kom ek nie.’ Ek kan sy frustrasie verstaan, omdat alles wat in ons land verkeerd loop apartheid se skuld is. Rassisme is eensydig. Julius Malema kan gruwelike rassistiese opmerkings maak en daarmee wegkom, terwyl ’n blanke persoon wat dieselfde probeer, beboet word. Deesdae is dit ’n misdaad om wit te wees (soos dit in die verlede ’n misdaad was om swart te wees).

En wat van Black Lives Matter (BLM)? Volgens John MacArthur en Voddie Baucham dryf BLM ’n transgender agenda. Derhalwe is dit nie rassisties as jy staande bly, terwyl ander rondom jou hulle vuis lig en die knie buig nie. ’n Mens kan rassisme en BLM in dieselfde asem as anti-God en anti-Bybels verdoem.

MacArthur, Baucham en ’n paar ander bied ’n Bybels-gebalanseerde siening in The Statement on Social Justice and the Gospel.1 Daarin sê hulle dat rassisme sonde is, maar hulle besef ook dat die probleem na die anderkant toe kan gaan. Dink byvoorbeeld aan die NG Kerk wat gedurig hulle voorvaders se sonde van apartheid bely. Of dink aan BEE (Black Economic Empowerment) se reaksie teen apartheid. Onder die apartheidsregering is wit mense bevoordeel. Onder die nuwe bedeling word dit omgedraai. BEE is niks anders as omgekeerde apartheid nie.

Hoe moet Christene daaroor dink? Jesus gee hier vir ons ’n Bybelse perspektief op rassisme.

 

1. Die vraag (v.25-28)

Gedurende my studiejare het een van my dosente ons assosiasie se konstitusie goed geken. Die studente het met hom gespot: ‘As dr. X met sy Bybel en die konstitusie in ’n boot sink, gryp hy sy Bybel, want hy ken die konstitusie.’

In Jesus se tyd het die wetgeleerdes die Ou Testamentiese wet of Tora so geken. Hulle was spesialiste op die letter van die wet, maar in Jesus se tyd het hulle nie ’n verhouding met God gehad nie (v.25, 21, 7:30). Op ’n dag wou een van hulle vir Jesus vastrek. ‘Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?’ het hy gevra (v.25). Daar was twee probleme met sy vraag. Eerstens het hy gedink die weg tot die ewige lewe begin by hom: “...wat moet ek doen...” (v.25, eie beklemtoning).2 Alistair Begg verduidelik dit mooi. As die Here jou sou vra hoekom Hy jou in die hemel moet toelaat en jy antwoord: ‘Want ek...’ het jy reeds die toets gedruip. Die enigste korrekte antwoord is: ‘Want Hy...’ (‘Hy’ verwys natuurlik na Jesus).

Die tweede probleem met die wetgeleerde se vraag was sy klem op werke: “...wat moet ek doen...” (v.25, eie beklemtoning). Volgens die Bybel word niemand op grond van sy goeie werke gered nie, alhoewel ons gered word om goeie werke te doen: “Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God. Dit kom nie uit eie werke nie, sodat niemand op iets mag roem nie. Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef.” (Ef. 2:8-10).

Hierdie waarheid is belangrik voor ons oor rassisme praat. Sonder Jesus en sy kruisdood is jy onaanneemlik vir God, selfs al neem jy kinders met ’n ander velkleur aan. Sonder wedergeboorte en die nuwe natuur bly jy selfgesentreerd. As gevolg hiervan is daar party mense wat ander volke ignoreer. ’n Amerikaner moes dit vir my uitwys: ‘Ek het al menigmale gesien hoe ’n Afrikaner my vriendelik groet, terwyl hy die swart man wat langs my staan, ignoreer. Hy erken die man nie en maak glad nie oogkontak nie.’ Nadat hy dit gesê het, het ek besef dat ek dieselfde doen. As ’n blanke loodgieter ’n verstopte drein by my huis kom regmaak, groet ek hom met die hand. Ek erken skaars sy swart handlanger.

Party mense ignoreer nie ander volke nie, maar hulle haat hulle aktief. Toe ek in graad 11 was, het die eerste nie-blanke in ons skool ingekom. Toe hy eendag by die klas wou inkom, toe keer ’n groot seun hom voor. Hy het kras en rassistiese opmerkings gemaak. ‘Kan ek asseblief inkom?’ het die nie-blanke hom gevra. ‘Asseblief baas,’ het die blanke seun gesê.

‘Asseblief Jacques.’

‘Asseblief baas!’

‘Ek vra jou mooi Jacques.’

‘Asseblief baas!’

Uiteindelik het die blanke seun hom in die klas toegelaat. Het jy al anderskleuriges geïntimideer of hulle kras name genoem? Vertel jy grappe oor hulle? Toe ek in die laerskool was, het ons dit gereeld gedoen. Ons sonde het meer van ons eie onkunde gewys as van hulle s’n.

Party mense skuif ander volke uit en behandel hulle stief. Ek ken ’n man vir wie daar direk gesê is hy sal nooit bevordering kry nie, omdat hy die verkeerde velkleur het. Dink aan die kwotastelsel waarin ’n sekere persentasie gekleurde spelers in ons nasionale sportspanne moet wees. Hulle doen dit om rassisme te bekamp, maar eintlik gebeur die teenoorgestelde. Onthou jy hoe Ashwin Willemse gedurende ’n gesprek op Supersport kwaad geword het toe Naas Botha en Nick Mallett oor kwota spelers praat? Ek kan mnr. Willemse se sentiment verstaan. Met die kwotastelsel in plek word nie-blanke spelers as tweederangs beskou. Dit maak seer as mense in effek sê: ‘Jy is nie in die span omdat jy goed is nie, maar omdat jy die regte velkleur het.’

Dan is daar mense wat ander volke doodmaak bloot omdat hulle ’n ander velkleur het. Die Ku Klux Klan in Amerika is so. Hulle haat swart mense en het al verskeie van hulle doodgemaak. Adolf Hitler het die Jode gehaat en hulle vermoor. Ek het gehoor van ’n oom en sy vriende wat ’n nie-blanke gevang het toe hy ’n radio steel. Hulle het van hom ontslae geraak. Genadiglik het die oom tot bekering gekom en vandag is hy in die hemel. In Suid-Afrika word talle boere op gruwelike maniere vermoor. In 1998 het ’n groep blanke mans ’n swart man genaamd James Byrd geslaan en met kettings om sy enkels aan ’n bakkie vasgemaak. Hulle het hom 3.2 km ver op die pad gesleep totdat hy onthoof is.3

Êrens sal ’n ongelowige hierdie dinge lees en dit verdoem. Hy is ’n filantroop of weldoener onder mense wat ’n ander velkleur as hy het, maar sy motiewe is onrein. Vir hom gaan dit oor homself. Hy soek mense se applous. Of hy wil die ewige lewe vir homself wen. Hy is soos die Jehovas Getuie in Phalaborwa. Toe hy ’n kollega vir die koninkryk probeer wen, toe vra die kollega: ‘Ek wil jou iets vra en ek verwag ’n eerlike antwoord: wil jy met my praat, omdat jy oor my besorg is of gaan dit vir jou oor jou eie siel?’ Die Getuie was eerlik: ‘Ek doen dit vir my eie siel.’ En hoe is die ongelowige weldoener anders as die Jehovas Getuie? Sy omgee vir ander volke, is om homself te laat goed lyk; om homself te bevoordeel.

Maar leer Jesus nie dieselfde nie; sê Hy nie dat ’n mens deur wetsonderhouding die ewige lewe verkry nie: “...‘Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te erf?’ Jesus sê toe vir hom: ‘Wat staan in die Wet geskryf?’...” (v.25-26, eie beklemtoning)? Jesus gebruik die wet om die man se selfgeregtigheid af te breek. Hy wil hom onder sonde-oortuiging bring, sodat hy sy nood vir ’n Verlosser kan raaksien.

In reaksie op Jesus se vraag oor die Tora, haal die wetgeleerde Deut. 6:5 en Lev. 19:18 aan: jy moet die Here jou God met jou hele menswees liefhê—met alles wat jy is en het, innerlik en uiterlik—en jou naaste soos jouself (v.27). Almal van ons faal hierin. Ons sien dit onder andere deur rassisme. Ons vloek en beswadder mense wat na God se beeld gemaak is (Jak. 3:9). Daardeur wys ons dat ons die God wat hulle na sy beeld gemaak het, haat: “As iemand sê, ‘Ek het God lief’, en sy broer haat, is hy ’n leuenaar. Want wie sy broer, wat hy sien, nie liefhet nie, kan nie God liefhê, wat hy nie sien nie. En dit is die gebod wat ons van Hom ontvang het: Wie God liefhet, moet ook sy broer liefhê.” (1Joh. 4:20-21).

Iemand sal sê: ‘Die mense wat ek haat, is my broers nie. Hulle het nie siele nie en daarom is hulle nie mense nie.’ Ene Charles Kingsley het gesê: ‘The Black People of Australia, exactly the same race as the African Negro, cannot take in the Gospel… All attempts to bring them to a knowledge of the true God have as yet failed utterly… Poor brutes in human shape… they must perish off the face of the earth like brute beasts.’4

In die 1700’s het mense dit van die Amerikaanse slawe gesê: hulle is bokant ’n dier, maar is nie heeltemal mense nie. ‘Het ek ’n siel?’ het een van hulle vir George Whitefield gevra.5 ’n Vrou uit die Israel-visie het my vertel dat Adam ‘rooi’ beteken. ‘Swart mense kan nie bloos nie en daarom stam hulle nie af van Adam nie.’ Sy het basies geïmpliseer dat swartes nie mense is nie.

Charles Darwin se evolusie-teorie is seker die groot sondebok wat rassisme bevorder. Die volledige titel van sy boek oor evolusie is: On the Origin of Species by Means of Natural Selection, or the Preservation of Favoured Races in the Struggle for Life.6 Volgens Darwin is blankes verder gevorderd as swart bevolkingsgroepe.7 Maar wat sê die Bybel? God het die mens na sy beeld gemaak (Gen. 1:26-27). Alle mense kom van een voorvader af: Adam en later weer Noag (Hand. 17:26). Alle mense het gesondig en moet op dieselfde manier gered word, naamlik deur geloof in Christus alleen (Rom. 3:23-24, 10:12-13).

Wie God liefhet (v.27a), sal almal wat na sy beeld gemaak is, liefhê (v.27b). Jy sal nie bloot die persoon verdra nie, maar jy sal hom pro-aktief liefhê: “Alles wat julle dan wil hê die mense aan julle moet doen, doen ook julle net so aan hulle...” (Matt. 7:12). Wat is die motief vir hoekom jy jou naaste so moet liefhê? Liefde vir God (v.27a, Joh. 14:15, 1Joh. 5:3). Volgens Jesus is hierdie twee gebooie—liefde vir God en liefde vir jou naaste—die korrekte opsomming van die wet (v.28, Matt. 22:40). ’n Mens sien dit in die tien gebooie. Die eerste vier gebooie gaan oor liefde vir God: aanbid Hom alleen, aanbid Hom reg, respekteer sy Naam, sonder een dag uit sewe af om Hom te aanbid. Die laaste ses gebooie gaan oor liefde vir jou naaste: eer jou ouers; respekteer ander mense se lewe, seksuele reinheid, eiendom en reputasie; moenie jou naaste se goed begeer nie.

Dit is nie genoeg om te sê jy is nie ’n rassis nie. Om die ewige lewe te verkry, moet jy God en jou naaste volmaak liefhê (v.27-28). Daar is net Een wat dit kon regkry en dit het Hy in ons plek kom doen.

 

2. Die gelykenis (v.29-37)

Volgens die kerkvader Augustinus het alles in Jesus se gelykenis ’n spesifieke betekenis. Ek wil ’n paar uitlig. Die man verteenwoordig Adam. Jerusalem is die hemel. Die rowers is die duiwel. Die Samaritaan is Christus. Die donkie verwys na Jesus se vleeswording. Die herberg is die kerk. Die twee muntstukke is liefde vir God en liefde vir jou naaste. Die herbergier is die apostel Paulus. Die Samaritaan se terugkeer verwys na die opstanding van Christus.8

Waar kom Augustinus se idees vandaan? Hy het dit uit sy duim gesuig. Hy praat onsin. Die wetgeleerde se vraag en Jesus se gelykenis gaan oor wie jou naaste is (v.29). Die wetgeleerde wou homself regverdig en het gehoop dat slegs ander Jode sy naaste is (v.29). Hy het die groter kwessie gemis: hy het die Here nie met alles in hom liefgehad nie. Deur die gelykenis wys Jesus vir die wetgeleerde dat hy nie eers sy naaste soos homself liefhet nie, wat nog te praat van sy liefde vir God! Die storie begin as volg: “’n Man het van Jerusalem afgegaan na Jerigo, en is deur rowers oorval. Hulle het sy klere uitgetrek, hom geslaan en toe weggegaan, en hom half dood agtergelaat.” (v.30). Die reis van Jerusalem na Jerigo is 25 km met ’n daling van 1012 m (mense wat die Cape Argus ry klim 1200 m oor ’n afstand 109 km). Jerusalem is 754 m bo seevlak en Jerigo 258 m laer as seevlak. Rowers skuil in die klowe en sou redelik gemaklik ’n enkellopende reisiger kon oorweldig (v.30).

Nadat die rowers die man oorval het, het ’n godsdienstige man, ’n priester verbygekom. Hy het die gewonde man eenkant gesien lê en anderkant verbygeloop (v.31). Het hy gedink die man is dood, sodat hy hom vermy het, omdat hy nie seremonieel onrein wou raak nie (vgl. Lev. 21:1)?

Later het ’n Leviet wat in die tempel werk verbygekom en dieselfde as die priester gedoen (v.32). ’n Rassis is soos die priester en die Leviet: hy is lief vir niemand behalwe homself nie en die mense wat hom ondersteun (vgl. Matt. 5:46-47). Sy hart is vol haat. Hy haat mense wat hy nie ken nie, bloot op grond van hulle velkleur. Hy haat hulle, omdat hy ongered is: “Want ons was ook voorheen onverstandig, ongehoorsaam, verdwaal, verslaaf aan allerlei begeertes en luste. Ons het in kwaadwilligheid en naywer geleef, ons was haatlik en het mekaar gehaat.” (Tit. 3:3, eie beklemtoning).

Die Samaritaan was anders: hy het die gewonde man liefgehad (v.33). Onthou asseblief dat die Jode en Samaritane mekaar gehaat het (Joh. 4:9, 8:48). Die Samaritane was ’n vermenging van Israeliete en die heidennasies wat hulle grondgebied beset het (2Koning 17). Toe die res van die Jode uit Babilon na Jerusalem toe terugkeer, wou die Samaritane hulle help om die tempel te herbou. Die Jode het hulle hulp van die hand gewys (Esra 4-6, 9-10, Nehemia 2-4, 13). Die Samaritane het kwaad geword en hulle eie tempel by berg Gerisim opgerig.9 In 128 v.C. het ’n Jood genaamd Johannes Hirkanus die Samaritane se tempel verwoes.10 Die Samaritane het wraak geneem en tydens die Joodse Pasga menslike bene op die tempel terrein gestrooi.11 In die 1ste eeu n.C. het die Samaritane ’n groep Galileërs wat deur Samaria na Jerusalem opreis was, vermoor.12 Vir Jesus om ’n Samaritaan die held van sy storie te maak, sou die wetgeleerde skok.

Die Samaritaan het die gewonde Jood bejammer. Hy het die deernis tot in sy ingewande gevoel (Gk. splagchnizomai). Elke Christen behoort dieselfde te doen, ook vir ander volke en nasies: “By die nuwe mens is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar of Skittiër, slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal. Daarom, omdat julle God se uitverkore heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld.” (Kol. 3:11-12). Moontlik sal ’n sendinguitstappie jou hiermee help. Gaan sien en beleef ’n ander volk se omstandighede, sodat jy jou oor hulle kan ontferm.

Maar deernis is nie genoeg nie. Die Samaritaan het iets omtrent die saak gedóén: “Hy het na hom gegaan, sy wonde verbind en olyfolie en wyn daaroor gegiet. Toe help hy hom op sy eie rydier, neem hom na ’n herberg en versorg hom daar.” (v.34). Die Samaritaan het gehelp ten spyte van die feit dat die man van ’n ander nasie was (kontra kerke wat dink jy moet eers jou ‘eie mense’ help). Die Samaritaan het hierdie man nie as ’n ander ras gesien nie, maar as ’n mens in nood. Die Bybel ken verskeie tale, volke, stamme en nasies, maar net een ras, naamlik die menslike ras. Help daarom die persoon met die grootste nood eerder as die een met dieselfde skakering as jy.

Hoe help ’n mens? Die Samaritaan het die man se wonde met olie gestreel om die pyn te verlig, dit met wyn ontsmet en dit verbind om genesing te bevorder (v.34, Jes. 1:6, 1Tim. 5:23). Sy liefde het iets gekos. Hy moes opoffer deur die man op sy pakdier (Gk. ktēnos) te laai en vooruit te loop (v.34). Hy het ’n herberg gevind en vir die man se slaapplek en versorging betaal (v.34). Hy het die nag oorgebly om die man te versorg (v.35). Omdat die rowers die man se geld gesteel het (v.30), het die Samaritaan die herbergier twee denarius betaal om na die man om te sien (v.35). Een denarius was die dagloon vir ’n arbeider (Matt. 20:2). Hiermee kon die man ’n maand of twee in die herberg bly.13

Die Samaritaan moes vetrek en het vir die herbergier gesê hy sal enige ekstra koste betaal as hy terugkeer. Hoe het die herbergier geweet hy sal betaal? Want hy was ’n Samaritaan wat ’n Jood gehelp het! Hy het sy eie olie, wyn, pakdier en geld gebruik om die man te help. Hy het die man se wonde verbind en hom deur die nag versorg. Duidelik het hy die gewonde man as sy naaste liefgehad (v.36, 29). Natuurlik sou hy dan terugkeer om enige ekstra koste te betaal.

Jesus het hierdie verhaal gebruik om te wys wie jou naaste is: jou naaste is enigiemand wat die Here oor jou pad stuur. As jy jou naaste nie liefhet nie (mense met ’n ander velkleur ingesluit), lê die probleem in jou hart: jy is ongered. Jy is soos ’n man wat ek ontmoet het. Hy het pastorale hulp nodig gehad. Ek het na sy huis toe gegaan om hom te help. Toe ek hom na ons kerk toe nooi, toe sê hy: ‘Is daar anderskleuriges in julle kerk?’ Toe ek ja sê, het hy geweier om na ons kerk toe te kom.

Hoogmoed maak dat jy jouself beter as ander beskou. Die nederige hart sien homself as ’n hopelose sondaar wat van stof gemaak is. Hy besef dat hy niks goed verdien nie. Hy kyk nie neer op ander nie, maar hy dien en help hulle (v.37). Jesus het dit gedoen. Hy trek niemand voor nie, maar het vir alle nasies gesterf (Joh. 3:16, Hand. 10:34-35, Op. 5:9). Hy het onder andere vir die sonde van rassisme gesterf, sodat Hy jou kan verander van iemand wat ander nasies haat na iemand wat hulle dien en liefhet. Hy het dit vir die dissipels gedoen, sodat hulle die evangelie aan die Samaritane verkondig en hulle met ope arms as broers in die Here verwelkom het (Hand. 1:8, 8:4-17, 25, 9:31).

Wie sukkel jy om lief te hê: Indiërs, Zoeloes, Chinese, Jode? Wees lief vir hulle uit die nuwe natuur wat God jou gegee het en deur die krag van die Heilige Gees binne jou. Vertel hulle dat Jesus onder andere gesterf het, sodat gelowiges uit alle nasies in Hom een kan wees en sodat Hy vir Hom ’n nuwe volk kan skep waar velkleur en nasionaliteit nie saakmaak nie (Joh. 17:21, 23, Gal. 3:28, Ef. 2:14-16, Tit. 2:14, 1Pet. 2:9-10).

Party mense raak omgekrap as jy dit sê. In hulle gedagtes is die hemel net vir hulle nasie. Dit het gebeur toe ek ’n kind was. Ons predikant het ’n advertensie in die koerant geplaas: ‘Alle mense is welkom by ons gemeente.’ Blanke Afrikaners in die dorp het ’n dreigbrief geskryf en dit by ons kerk se voordeur gelos. Hulle het rassistiese opmerkings gemaak en ons predikant daardeur sleggesê. As hulle maar net geweet het hoe verkeerd hulle was, want volgens die Bybel is die evangelie, die hemel en Jesus vir alle nasies (Matt. 28:19, Op. 7:9).


1  https://statementonsocialjustice.com/wp-content/uploads/2018/09/SSJG-FINAL.pdf

2  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

3  John Piper, Brothers, We Are Not Professionals (Nashville, Tennessee: Broadman & Holman Publishers, 2002), 198

4  John G. Paton: Missionary to the New Hebrides (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1965 [1889, 1891]), 263-4

5  Arnold Dallimore, George Whitefield: Vol. 1 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1970), 498-9

6  Beklemtoning my eie.

7  https://answersingenesis.org/charles-darwin/racism/did-darwin-promote-racism/

8  Robert H. Stein, The New American Commentary: Luke (Nashville, Tennessee: B&H Publishing Group, 1992), 318-9 n. 49

9  Flavius Josephus, Complete Works: The Antiquities of the Jews (Grand Rapids, Michigan: Kregel Publications, 1960), 11:8:2 & 4, pp. 243-4

10  Ibid., 13.9.1, p. 279

11  Ibid., 18:2:2, p. 377

12  Ibid., 20:6:1, pp. 419-20

13  Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Luke (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1974, 1988), 209

Kategorieë