Handelinge 5:1-11
In 1575 is Anne Avarie daarvan beskuldig dat sy iets uit ’n winkel gesteel het. ‘Mag ek dood neerslaan as ek nie hiervoor betaal het nie,’ het sy gesê. Sy het onmiddellik gesterf.1
Eusebius van Caesarea (c. 260-339 n.C.) vertel van die godvresende Narcissus wat van onsedelike gedrag beskuldig is. Die eerste aanklaer het gesê: ‘Mag die Here toelaat dat ek doodbrand as ek lieg.’ Die tweede een het gesê: ‘Mag ek deur siekte wegteer as ek lieg.’ Die derde het gesê: ‘Mag ek blind word as ek lieg.’ Dit het presies so gebeur. Die eerste aanklaer het saam met sy gesin in hulle huis doodgebrand. Die tweede een is van kop tot tone met siekte getref en het weggeteer. Die derde het bely dat hulle saamgesweer het. Hieroor het hy so baie gehuil dat hy sy sig verloor het.2
God haat leuens. Die geskiedenis van Ananias en Saffira onderstreep dit.
1. Ananias (v.1-6)
Die vroeë Christene in Jerusalem het hulle eiendom verkoop en die geld onder die arm gelowiges verdeel (Hand. 2:45, 4:34-37). Ananias en Saffira wou dieselfde doen; nie om ander te bevoordeel nie, maar om mense se guns te wen en ’n naam vir hulleself te maak (Matt. 6:2). Hulle was skynheilig. En is dit nie ’n leuen as jy voor mense iets is wat jy nie in werklikheid is nie? “Iemand wat sê, ‘Ek ken Hom,’ maar sy gebooie nie onderhou nie, is ’n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie” (1Joh. 2:4).
Nog ’n les wat ons hier leer, is dat sommige leuenaars in die kerk skuil. Ons het hulle al in ons gemeente gehad. Moenie dink ek of jy is immuun nie. Almal van ons is daartoe in staat: “Alle mense is leuenaars.” (Ps. 116:11). Dit kom van ons kinderdae af: “Vanaf die moederskoot dwaal goddeloses af, vanaf hulle geboorte raak leuenaars die pad byster.” (Ps. 58:4). Selfs Christene trap in die strik, sodat Paulus dit nodig gevind het om te waarsku: “Daarom, vermy die leuen, en praat elkeen die waarheid met sy naaste, want ons is lede van een liggaam... Moenie vir mekaar lieg nie, aangesien julle die ou mens en sy gewoontes uitgetrek het” (Ef. 4:25, Kol. 3:9).
Mense lieg op baie maniere. Saffira het haar man se plan goedgekeur (v.2). Sy het daartoe ingestem en stilgebly. Om dus van ’n leuen te weet en stil te bly, is om te lieg. Hou jy jou onnosel or jou broer wat vir jou pa lieg, jou vriend vir die onderwyser, jou kollega vir die baas? In so ’n geval is jy medepligtig en leuenaar.
Nog ’n manier waarop mense lieg, is deur oordrywing. Ananias het dit gedoen toe hy vir Petrus sê hy gee al sy geld (v.2). Hoekom oordryf mense? Sommige doen dit om goed te lyk. Hulle lieg oor hulle rykdom, talente, beroemdheid, suksesse en vermoëns. Hulle is soos iemand wat gedurende my kinderjare by ons gebly het. Die oom het deur sy tande gelieg. Hy was soos ’n arm man wat ek ’n paar gelede ontmoet het. Almal het geweet hy is arm, maar hy het ons van sy Porsche, besighede en miljoene Rande vertel.
’n Ander man het eenkeer by ons huis kom bedel. Toe ek hom vra by watter gemeente hy aanbid, toe sê hy by ons gemeente. ‘Ek is ’n lidmaat van hierdie gemeente,’ het hy gesê. ‘Jy lieg; ek is die gemeente se predikant!’ het ek geantwoord. Hy het voet by stuk gehou dat hy ’n gemeentelid is en dat hy ons gemeente bywoon.
Ek self het al so gelieg. Toe ek 9 jaar oud was, moes ons voor die klas vertel wat ons die vakansie gaan doen. Ek het gesê dat ons by my vriend in Richardsbaai gaan kuier en dat ons met ’n Concord soontoe vlieg.
Sommige mense oordryf, sodat hulle ander in ’n negatiewe lig kan stel en hulleself in ’n goeie lig. Waar getroudes soms met mekaar baklei, sê hulle: ‘Ek moet altyd vir jou wag... Jy doen nooit iets om my te help nie.’ Dalk oordryf jy om jouself te bevoordeel. Isebel het dit gedoen. Sy het mense gevra om ’n vals beskuldiging teen Nabot in te bring, sodat hulle hom kon stenig en sy wingerd vir haar man (koning Agab) kon gee (1Kon. 21:10). Dieselfde beginsel geld as iemand op sy CV oor sy kwalifikasies lieg of as ’n verkoopsman een van sy karre se kilo’s terugdraai en nie aandui dat die voertuig in ’n ongeluk was nie.
Nog ’n manier waarop mense lieg, is deur oneerlik te antwoord. ’n Oom in ons gemeente het my gevra: ‘Pla iets jou?’ ‘Nee oom,’ het ek gesê. Maar daar was iets wat my gepla het. Ek moes my sonde aan hom bely en om vergifnis vra.
Wat sê jy as iemand jou vra hoe dit met jou gaan? Antwoord jy eerlik? Sê jy dit gaan goed, terwyl dit eintlik met jou sleg gaan? Ek sê nie jy moet alles met almal deel nie. Maar praat asseblief met iemand wat jy vertrou. Vir die vreemdeling wat vir jou vra hoe dit gaan, kan jy sê: ‘Beter as wat ek verdien.’
Nog ’n manier waarop mense lieg, is deur vals lering. Sommige verkondig dit (1Tim. 4:1-2), terwyl ander daarna luister (2Tim. 4:3-4). Albei groepe is leuenaars.
’n Laaste manier waarop mense lieg, is deur leë beloftes te maak: “Stapelwolke en wind sonder enige reën, so is ’n man wat spog oor ’n geskenk waaroor hy lieg.” (Spr. 25:14). ’n Mens dink hier aan politieke partye voor ’n verkiesing. Hulle maak allerhande beloftes wat hulle nie nakom nie. En doen ons nie maar dieselfde nie? ‘Ek sal dit more vir jou doen,’ maar dan doen jy dit nie. Jy maak beloftes aan die Here wat jy nie nakom nie (Pred. 5:3-4). Jy belowe jy sal by jou kind se prysuitdeling of sportbyeenkoms wees, maar jy daag nie op nie. Jy belowe om vir iemand te bid, maar versuim om dit te doen.
Hou jou beloftes, selfs as dit jou benadeel. Ps. 15:2, 4 beskryf die regverdige as “Hy wat onberispelik leef en regverdig optree, wat van harte die waarheid praat... Al sweer hy tot sy nadeel, hy verander nie.” (Ps. 15:2, 4). Ek het ’n oom geken wat so was. Hy het vir iemand gesê: ‘As jy ooit ’n finansiële krisis het; ek sal jou help.’ Die oom het terminaal siek geword en groot finansiële uitgawes gehad. Sy vriend het in ’n krisis beland en vir die oom gevra: ‘Kan jy my asseblief help?’ Die oom moes van sy spaargeld vat om sy vriend te help, maar hy het sy belofte nagekom.
***
Waar het Ananias se leuen begin? Die duiwel het sy hart gevul (v.3). Satan is die aartsleuenaar en die vader daarvan (Gen. 3:1, 4, Joh. 8:44, 2Kor. 11:3, Op. 12:9). Om te lieg, maak jou soos die duiwel en wys dat jy sy kind is. Nie dat die duiwel enigiemand dwing om te lieg nie. Die leuens lê soos kole in jou hart. Die duiwel blaas dit net aan (v.3, 1Kon. 22:19-23). Dus is die oplossing vir leuens nie duiweluitdrywing nie, maar ’n nuwe hart (v.3, Ps. 51:8, Matt. 15:19). Smeek die Here daarvoor. Bely jou leuens en doen restitusie vir die skade wat jy mense aangedoen het. Dit het onlangs met een van my vriende gebeur. ’n Vrou in die gemeente het leuens oor hom versprei. Dit het groot probleme veroorsaak. ’n Paar jaar na sy die gemeente verlaat het, het sy hom gebel en hom om vergifnis gevra.
Iemand wat die waarheid wil praat, moet sy hart met die waarheid van die Bybel vul (Joh. 17:17), want wat die hart van vol is, loop die mond van oor (Matt. 12:34). Vra die Here om jou van leuens te bevry (Ps. 121:2) en om ’n wag voor jou mond te plaas (Ps. 141:3).
Om te lieg is ernstig. Ananias het gelieg vir die Heilige Gees wat God is (v.3-4, Gen. 1:2, Job 33:4, Ps. 139:7-8, 1Kor. 2:10-11, Heb. 9:14). Die probleem is nie dat hy te min gegee het nie. Hy kon die geld en die eiendom gehou het as hy wou (v.4). Die probleem is dat hy gelieg het. Hoe baie mense lieg nie oor geld nie: vir die gemeente (v.3), vir jou lewensmaat, ouers, kliënte (Spr. 11:1), baas of vir SARS? Hoeveel prokureurs sal nie in die hof lieg as jy genoeg geld aanbied nie?
Hoekom is leuens vir die Here ernstig? Want Hy is die waarheid wat nie kan lieg nie (Num. 23:19, Joh. 14:6, Tit. 1:2, Heb. 6:18, 1Joh. 5:6). ’n Skepsel wat na sy beeld gemaak is en leuens vertel, sê in effek dat God ’n leuenaar is. Geen wonder Hy haat dit as mense lieg nie (Spr. 6:16-17, 19, 12:22). Geen mens sal sy leuens agter geslote deure hou nie. Die Here sal dit uitbring: “’n Betroubare lip hou stand vir altyd, maar ’n vals tong net vir ’n oomblik.” (Spr. 12:19).
Toe Ananias se leuen aan die lig kom, toe maak die Here hom dood (v.5). Hierna het die hel op hom gewag (Op. 21:8, 22:15). Dié wat van Ananias se dood gehoor het, het gevrees (v.5). Dit was veral erg vir die jongelinge wat hom moes begrawe (v.6). As die Here Ananias gelos het en daar geen gevolge vir sy leuen was nie, sou die gemeente gedink het almal kan lieg en daarmee wegkom. Dit sou soos suurdeeg deur die gemeente versprei. Om te lieg is aansteeklik. Abraham het gelieg (Genesis 12, 20). Sy vrou Sara het sy voorbeeld gevolg (Gen. 18:15). Hulle seun Isak ook (Genesis 26). Isak se seun Jakob het gelieg (Genesis 27; 33:14, 17). Jakob se vrou Ragel het gelieg (Gen. 31:34-35). Jakob se seuns het gelieg (Genesis 37).
Dit is nodig dat leuens gestraf word, sodat gelowiges sal vrees en van leuens en ander sondes sal wegdraai (v.5, 1Tim. 5:20, Job 1:1, 28:28, Spr. 8:13, 16:6).
2. Saffira (v.7-11)
Ek ken ’n tannie wie se seun gesterf het. Sy het eers drie weke later daarvan uitgevind. Saffira het vir drie ure nie geweet dat haar man dood is nie. Sonder kommer of vrees het sy voor Petrus gekom. Hoekom was sy daar? Het sy gekom om geprys te word en te hoor hoe die apostels haar bedank?
In plaas van die verwagte applous het Petrus vir Saffira gesê: “Sê my, het julle die grond vir sóveel verkoop?” (v.8). Petrus het haar die geleentheid gegee om haar sonde te bely en haar te bekeer. Maar sy het gelieg (v.8). Was dit omdat sy bang was? Hoe baie mense lieg nie om hulleself uit die moeilikheid te kry nie: by die skool, by die werk, voor die regter, in die huwelik, vir jou ouers? As iemand hulle uitvang en weet dat hulle lieg, sê hulle: ‘Ek grap net!’ (Spr. 26:18-19). Maar dit is nie ’n grap nie en dus is dit beter om die leuen te bely en jou te bekeer. Ongelukkig doen mense dit nie. Soos Saffira dink hulle: ek sal wegkom; niemand sal weet nie; daar sal geen gevolge wees nie.
Saffira het gedink sy bedrieg die Heilige Gees; dat Hy haar sonde miskyk of dat Hy nie omgee nie (v.9). Op die einde het sy haarself bedrieg en vir haar sonde gesterf. Sy is langs haar man begrawe (v.9-10). Hulle grafte was ’n monument van God se haat vir leuens. Almal wat hulle grafte gesien het, sou weet dat daar twee leuenaars lê. Wie wil so onthou word: die man of vrou wat daar begrawe lê, kon lieg.
Dank die Here dat Hy nie elke leuenaar of ander sondaar met die dood tref nie. As Hy dit moes doen, sou almal van ons dadelik sterf. Sê dankie dat Jesus geen leuens vertel het nie en dat Hy sondeloos is (1Pet. 2:22). Hy het vir ons sonde gesterf (Jes. 53:4-6, 1Kor. 15:3). Het jy Hom al gevra om jou daarvan vry te maak? Moenie soos Saffira die geleentheid om jou te bekeer, misloop nie. Dit het tot haar dood gelei, sodat dié wat binne en buite die kerk was, gevrees het (v.11). Almal het geweet: God vee nie sonde onder die mat in nie. Hy straf dit in Christus vir dié wat hulle daarvan bekeer en in die hel vir dié wat daarmee aanhou.
Neem jy aanstoot dat ek van die hel praat? As ek dit nie doen nie, dan vlei ek jou: ek weet goed dat leuenaars hel toe gaan, maar ek steek dit vir jou weg. In daardie geval is ek leuenaar! Ek hoop jy besef dat ek die waarheid in liefde praat (Ef. 4:15). Dit maak seer soos die merthiolate wat my ma op ’n rou wond gesit het toe ek 10 was. Alhoewel dit verskriklik gebrand het, het sy geweet dit sal die wond genees.
1 Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1958, 1965 [1692, 1890]), 102
2 Eusebius of Caesarea, Ecclesiastical History, Book 6, ch. 9, par. 4-5, 7-8. Verkry by https://www.newadvent.org/fathers/250106.htm