Coram Deo Cover Image

Coming soon...

17 May 2022

Interpersoonlike Probleme: Kleptomanie

Josua 7

Die woord kleptomanie kom van twee Griekse woorde (kleptō + mania) wat steel en kranksinnig beteken. Dit verwys na iemand met ’n obsessie om te steel al het die item geen waarde nie en het hy die geld om dit te koop. Die persoon beleef intense spanning net voor hy die item steel. Hy put genot daaruit om te steel en daarmee weg te kom.1 In sy jongdae was Augustinus (354-430 n.C.) so. Saam met ’n klomp vriende het hy die buurman se pere gesteel, nie omdat hy honger of arm was nie, maar omdat hy dit geniet het om te steel en daarmee weg te kom. Toe ek elf jaar oud was, was een van my vriende so. Hy het sjokolade uit ’n supermark gesteel en geroem dat niemand hom gevang het nie.2

Ek was nege of tien toe ek die eerste keer van kleptomanie gehoor het. ’n Seun in my laerskool het ander kinders se goed gesteel. Een middag by die atletiek oefening het hy probeer om iemand se fiets te steel. Die afrigter het dit gesien en ’n kind gestuur om hom te slaan. Volgens die Mayo Clinic se webtuiste is dit verkeerd, omdat die seun dit nie kon help nie. Medikasie kan die sirotonienvlakke in sy brein beheer en die drang om te steel verminder, maar ongelukkig is daar geen oplossing vir sy probleem nie.3 ‘Keep in mind that kleptomania is a mental health condition, not a character flaw, so approach your loved one without blame or accusation.’4

Volgens die Bybel is die kleptomaan ’n gewone dief soos die man wat onlangs ons wasmasjien herstel het. Hy het die masjien kom haal en ’n dag later teruggebring. Ons het hom R5000 betaal. Die dag nadat hy die masjien teruggebring het, was dit weer stukkend. Hy het dit vir die tweede keer kom haal om reg te maak en daarmee verdwyn.

In Josua 7 spreek die Here Hom ernstig hierteen uit. Volgens die Bybel is diefstal geen geringe saak nie.

 

1. Israel se nederlaag (v.1-9)

Vladimir Putin se besluit om die Oekraïne binne te val, beïnvloed nie net homself nie; dit affekteer Rusland as ’n geheel. So was dit met Agan. Sy besluit om te steel, het die hele volk beïnvloed. Daarom sê v.1, 11 dat die Here vir Israel kwaad was. Daar bestaan so iets soos die korporatiewe beginsel. As ’n pa dwelms gebruik en steel, benadeel hy nie net homself nie, maar sy gesin. Dit was die geval met Agan en Israel, en vandag werk dit dieselfde. ’n Dief of ander oortreder se sonde beïnvloed die hele gemeente. ’n Bietjie gis laat die hele deeg ruis (1Kor. 5:6). As een deel van jou liggaam infeksie het, word die hele liggaam siek (1Kor. 12:26).

In Agan se geval het dit oor die bangoed gegaan (v.1). In Josua 6 het die Here die volk beveel om Jerigo te vernietig. Hulle moes alles uitwis en niks vir hulleself hou nie (Jos. 6:17-21). Agan was ongehoorsaam deur van die bangoed vir homself te vat, sodat die Here se woede teen Israel gebrand het (v.1). Dit wys hoe ernstig die Here teen diefstal is. Dit is nie ’n klein saak nie.

Israel sou dit binnekort agterkom. As deel van goeie militêre strategie het Josua spioene uitgestuur om die stad Ai5 uit te kyk (v.2, vgl. Num. 13:1-2). Met hulle terugkeer het die spioene gesê dat Ai ’n klein stad is: ‘Ons het nie baie manne nodig om die stad in te neem nie. Twee- of drieduisend sal genoeg wees’ (v.3). Hulle het verneder weggehardloop soos toe die Proteas in 1994 teen Nederland verloor het (v.4-5). Voorheen het Israel se vyande week geword soos water, maar nou het die situasie omgekeer (v.5, vgl. 2:9, 11). Josua en die ouderlinge het voor die ark neergeval. Hulle het hulle klere geskeur en volgens die antieke rougebruik stof op hulle kop gegooi (v.6). Josua het gebid dat die Here vir sy eie eer sy volk sal beskerm (v.7-9, vgl. Num. 14:15-16).

Josua het besef iets is fout. Die Here het belowe om by sy volk te wees indien hulle sy Woord gehoorsaam (1:1-9). Wyle Martin Holdt het dieselfde van die gemeente gesê: ‘As dit nie groei nie, is daar iets fout.’ Is daar sonde in die kamp? Wat moet ’n gemeente in so ’n situasie doen?

 

2. Die Here se opdrag (v.10-15)

Grant bid aanhoudend vir werk, maar hy kry niks. Wat is die rede hiervoor? Hy soek nie werk nie. Grant moet ophou bid en aksie neem. God het dit vir Josua gesê: “Staan op! Waarom lê jy nou op jou gesig?” (v.10). Nou was nie die tyd vir selfbejammering en gebed nie, maar vir aksie! Deurdat Agan die bangoed begeer, gesteel, weggesteek en daaroor gelieg het, het Israel God se verbond oortree soos in die Tien Gebooie vervat (v.11, 21, 6:18-19, Deut. 4:13). Agan het gesien hoe ses en dertig van sy landgenote sneuwel, maar hy het stilgebly!

Gierigheid en diefstal pas nie by ’n gelowige nie. Geen kleptomaan sal die koninkryk van God ingaan nie (1Kor. 6:10). Die dief benadeel homself en ander (v.12, Deut. 28:29). My pa se tuinier is ’n goeie voorbeeld. Hy het my pa se gereedskap gesteel. Kort daarna het iemand by die tuinier se hut ingebreek en hom rot en kaal besteel. Agan was dieselfde. Sy sonde het die volk benadeel en op die einde homself benadeel. Om die volk te tugtig het die Here die manne van Ai gestuur om Israel as ’n offer aan Hom te wy (v.13). Laat ons dan nie enige dief in die gemeente duld en sy sonde ignoreer nie. Sonde is ’n dodelike siekte wat almal se lewe in gevaar stel. Om die situasie reg te stel, moes Israel die gesteelde bangoed in hulle midde uitdelg (v.12). Net so moet ons diewe uit die gemeente sit en geen gemeenskap met hulle hê nie (Matt. 18:15-17, 1Kor. 5:11-13). Anders sal die Here die gemeente tugtig (v.12b, Op. 2:20-23). Jesus sal die rowersnes met ’n sweep uitdryf en sodoende sy Vader se huis reinig (Mark. 11:15, 17).

Wat moes Israel doen? Die Here se opdrag aan Josua was: “Staan op, heilig die volk en sê, ‘Heilig julleself teen môre, want so het die Here, die God van Israel, gesê: “Bangoed is in jou midde, Israel. Jy sal nie standhou voor jou vyande nie, totdat julle die bangoed uit julle midde verwyder het.”’” (v.13, vgl. 3:5, Eks. 19:10, 14, 15). Heiligheid is die sleutel tot oorwinning vir die individuele Christen en die gemeente.

Josua sou die oortreder deur ’n eliminasie proses uitwys: “Kom môreoggend nader volgens julle stamme. Die stam wat die Here uitwys, moet volgens familiegroepe naderkom, en die familiegroep wat die Here uitwys, moet volgens families naderkom, en die familie wat die Here uitwys, moet man vir man naderkom.” (v.14). Hy het dit waarskynlik deur die Urim en Tummim gedoen. Die Urim en Tummim verwys moontlik na swart en wit klip wat die hoëpriester in sy borstas gedra het. As die priester sy hand in die borstas steek en die wit klip vat, het dit een ding beteken en as hy die swart klip vat iets anders. Deur dié proses sou die Here die oortreder uitwys en hom straf: “Die een wat met die bangoed uitgewys word, moet verbrand word, hy met alles wat aan hom behoort, omdat hy die verbond van die Here oortree en heiligskennis gepleeg het in Israel.’” (v.15).

Klink dit wreed? Dale Ralph Davis sê: ‘This verse clearly shows that the penalty is so severe because sin is so serious... The testimony of Josua 7 is that we cannot treat cancer with vitamin pills; it requires radical surgery. We may think cancer is not that big a deal, but that does not alter God’s estimate.’6 Die probleem is nie dat God nie genade verstaan nie. Ons verstaan nie heiligheid nie. Ons verstaan nie dat God ’n verterende vuur is nie (Deut. 4:24, Heb. 12:29). ’n Heilige God verskoon nie kleptomanie, asof die oortreder dit nie kan help nie. Die Here draai nie ’n blinde oog vir mense se sonde nie. Die een wat Josua 7 verstaan, verstaan hoekom Jesus die vuurdoop van die kruis vir ons sonde moes verduur (Matt. 27:46, Luk. 12:49-50). Hy verstaan die erns van sonde en derhalwe verstaan hy ook genade.

 

3. Agan se straf (v.16-26)

Die aand voordat ons ’n derde of vierde tugstap toepas, slaap ek sleg. Josua was seker so. Hy was vroeg op om die saak so gou as moontlik reg te stel. “Josua het vroeg die môre opgestaan en Israel volgens hulle stamme laat naderkom. Die stam van Juda is toe uitgewys. Hy het die familiegroepe van Juda laat naderkom, en die familiegroep van Serag is uitgewys. Daarna het hy die familiegroep van Serag man vir man laat naderkom, en Sabdi is uitgewys. Toe het hy Sabdi se familie man vir man laat naderkom, en Agan, die seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag, van die stam van Juda, is uitgewys.” (v.16-18). Met elke stap van eliminasie kon Agan navore kom en sy sonde erken, maar hy het stilgebly en gedink hy kan dit wegsteek. Die Here sien en weet alles. Hy kan enige dief red en vergewe (Luk. 23:33-34, 43), maar dan moet jy jou bekeer, jou sonde bely en restitusie doen—gee die gesteelde goed terug—terwyl jy die geleentheid het (Jes. 55:6, Spr. 28:13, Eks. 22:1, 4, Luk. 19:8).

Vrees jy wat die gevolge sal wees as jy jou sonde erken: ‘Ek sal my werk verloor en tronk toe gaan’? Kies hierdie gevolge eerder as die hel. Om die gevolge te aanvaar wys dat jy ware berou het (2Kor. 7:11). Bowenal moet jy die saak met die Here uitklaar en vir ’n rein gewete bid (Jes. 1:18, Heb. 9:14, 10:22, 1Pet. 3:21). Jesus is die uitverkore man uit die Juda (vgl. v.17) wat ons straf kom dra het (Gal. 3:13). Bely en erken jou sonde soos Josua vir Agan gesê het: “My seun, gee tog eer aan die Here, die God van Israel, en bring lof aan Hom. Vertel my tog wat jy gedoen het. Moenie vir my iets wegsteek nie.” (v.19). Erken dat jy skuldig is en dat die Here regverdig is om jou te straf (Ps. 51:6). Kry ’n groot beeld van hierdie heilige en alsiende God, sodat jy jou sonde sal haat (v.19, Jes. 6:5). Solank jy jou sonde as kleptomanie verskoon, is daar vir jou geen hoop nie. Bely dit volledig en erken dat diefstal by sondige begeertes en onvergenoegdheid begin (v.20-21, Eks. 20:15, 17). Moet dit nie net bely om jou gewete te stil, die gevolge vry te spring, of omdat jy uitgevang is nie (v.18-21). Bekeer jou en roep gelowig tot Jesus. Maak hierdie verse jou eie en bid daaroor:

“...Moet my nie armoede of rykdom gee nie; breek my porsie brood vir my af, sodat ek nie oorversadig raak en U misken en sê, ‘Wie is die Here?’ nie, of verarm en steel, en die naam van my God geweld aandoen nie.” (Spr. 30:8-9).

“Omdat daar geen betroubaarheid, geen troue liefde, en geen kennis van God in die land is nie, het meineed en bedrog, moord, diefstal en egbreuk toegeneem, en bloedbad volg op bloedbad... My volk kom om weens ’n gebrek aan kennis.” (Hos. 4:1-2, 6).

“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie, daar waar mot en roes verniel, en waar diewe inbreek en steel. Maar maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, daar waar mot en roes nie verniel nie, en waar diewe nie inbreek en steel nie.” (Matt. 6:19-20).

“Die een wat nog steel, moet nie meer steel nie; hy moet eerder werk deur met sy eie hande te doen wat goed is, sodat hy iets het om vir die behoeftige te gee.” (Ef. 4:28).

“Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees. Ek weet wat dit is om te min te hê, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê; ek is in elke opsig in al hierdie dinge ingewy: om versadig te wees, sowel as om honger te ly; om oorvloed te hê, sowel as om gebrek te ly. Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee.” (Fil. 4:11-13).

“Julle leefwyse moet vry wees van geldgierigheid. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê, ‘Ek sal jou beslis nie verlaat nie, en ook nie in die steek laat nie’” (Heb. 13:5).

As jy aanhou met steel, sal die Here jou sonde voor die gemeente bring (v.22-23, Matt. 18:17, Luk. 12:2-3). Jy sal die gesteelde goed en meer as dit verloor. Agan het die gesteelde goed, sy lewe, sy gesin en al sy besittings verloor (v.24-26). Judas was ’n dief (Joh. 12:6). Hiervoor het hy sy lewe verloor (Joh. 17:12). “Wat baat dit ’n mens immers as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor?” (Mark. 8:36). Die volk het Agan, sy gesin, sy besittings en sy diere in die Agor vallei gestenig en verbrand (v.24-26). Dalk dink jy dit is onregverdig. Maar Agan se gesin het van sy sonde geweet en stilgebly. As hulle sy sonde aangemeld het, sou die Here hulle nie gestraf het nie (Deut. 24:16). Wat sy diere betref: Israel het hulle as ’n brandoffer aan die Here gewy.

Agan het moeilikheid oor die volk gebring. Dit is wat sy naam, asook die Agor vallei beteken (v.25-26). Dieselfde sal met jou gebeur as jy steel. Jy maak moeilikheid vir ander, maar dit sal omdraai en jou byt (Sag. 5:1-5). Ons sien dit in die monument in v.26. Hier het ons letterlik ’n geval van die klippe wat uitroep (Luk. 19:40). Net so roep die nagmaal uit dat Jesus in ons plek die Vader se toorn geabsorbeer en versadig het (Rom. 3:25, Kol. 2:14). Wend jou tot Hom as jy gered wil word (Luk. 19:8-10, Rom. 5:20, 1Kor. 6:11). So sal die Agor vallei vir jou ’n plek van hoop word (Jes. 65:10, Hos. 2:15).

Dit sal nie gebeur as jy jouself teen winkeldiewe, inbrekers, kapers, rowers, ’n korrupte regering, mensehandelaars (Eks. 21:16) grondgrypers (Miga 2:2) meet en jouself verskoon nie. Wees eerlik oor jou sonde. Steel jy by jou werkgewer? Betaal hy jou ’n volle salaris vir halwe werk? Steel jy jou werkgewer se tyd, deurdat jy laat inkom, vroeg loop, jou breektye verleng, sekere voordele vir eie gewin misbruik, op jou belastingvorms kroek? Steel jy by jou werknemer, deurdat jy hom te min betaal of sy salaris terughou (Lev. 19:13, Luk. 10:7)? Steel jy by kliënte, omdat jy meer vir ’n produk vra as wat dit werd is (Lev. 19:35-36, Spr. 20:10, 23)? Steel jy by ’n desperate verkoopsman, deurdat jy hom so ver afstry dat hy weinig wins maak (Spr. 20:14)?

Steel jy by die skool, omdat jy huiswerk afskryf of in die eksamen afkyk? Pleeg jy plagiaat, deurdat jy iemand anders se werk as jou eie voorgee? Oortree jy kopiereg (daardie onwettige films en rekenaarprogramme!)? Het jy al iemand anders se handtekening nagemaak? Is jy ’n lui prediker wat ander mense se preke steel (Jer. 23:30)? Manipuleer jy mense om vir jou bediening geld te gee (Luk. 20:47-21:4)? Steel jy by die Here, deurdat jy jou bydrae terughou (Mal. 3:8-9)?

Steel jy by jou ouers (Spr. 28:24)? Lieg jy oor verlore goed (Lev. 6:2-5)? Vat of gee jy omkoopgeld (Eks. 23:8)? Is jy lui, sodat jy ander se brood eet (1Tess. 4:12, 2Tess. 3:7-8)? Het jy agterstallige skuld (Rom. 13:7-8)? Het jy iets geleen wat jy nie teruggee nie (Ps. 37:21)? Het jy iets geleen en dit laat wegraak? Het jy iets geleen en dit stukkend teruggegee (Eks. 22:7-15)?

Om te steel is geen grap nie. Dit is ernstig. ’n Sekere prediker in KwaZulu-Natal het dit nie besef nie. Toe ons eenkeer met vakansie was, toe preek hy uit Josua 7. Die boodskap se inhoud was goed, maar was so vol humor dat ek hom nie ernstig opgeneem het nie. Ek wonder of iemand het?

Laat ons sonde ernstig opneem, sodat ons die Here vrees en ons bekeer.


1  American Psychiatric Association, Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders: Fifth Edition (Washington: American Psychiatric Publishing, 2013), 478-9

2  Aurelius Augustinus, The Confessions of Saint Augustine (New Kensington, PA: Whitaker House, 1996), Book II, p. 42

3  https://www.mayoclinic.org/diseases-conditions/kleptomania/diagnosis-treatment/drc-20364753

4  https://www.mayoclinic.org/diseases-conditions/kleptomania/symptoms-causes/syc-20364732

5  Sien https://biblearchaeology.org/abr-projects/kem/4254-maqatir-home vir die presiese ligging van Ai.

6  Dale Ralph Davis, Joshua: No Falling Words (Fearn, Ross-shire: Christian Focus, 2000), 64

Kategorieë