Psalm 56
Verledejaar is ’n graad 11 skoolboelie van KwaZulu-Natal voor die hof gedaag. Toe sy versuim om op te daag, is sy tot drie maande tronkstraf gevonnis.1
Was jy al die slagoffer van boelies? Het die persoon jou fisiek of verbaal geboelie? Het die persoon met jou voorkoms gespot? Het hy (of sy) jou name genoem, jou uitgeskuif of seksuele opmerkings teenoor jou gemaak? Het die persoon jou eiendom beskadig: jou skooltas, huiswerk of kar? Hoe moet jy dit hanteer? Psalm 56 is God se anti-boelie handleiding.
1. Dawid se omstandighede (v.1)
Bloot die wete dat daar iemand anders is wat soos jy ly, verlig die lyding (1Kor. 10:13, 1Pet. 5:9). Ons sien dit in v.1: Dawid het hierdie woorde vir gemeentesang geskryf en dit as ’n troos bedoel vir dié wat soortgelyke ervarings deurmaak. Dit is op die wysie van ’n duif in die terebintebome in die verte of van ’n stil duif in ver lande (v.1). So lees die Hebreeus. Dawid vergelyk homself met ’n duif wat in die verte kerm of met ’n stil een in ’n ver land, Filistia.
Wat was sy omstandighede? Hy het vir Saul gevlug en was in die Filistynse stad Gat. Gat was die tuisdorp van Goliat (1Sam. 17:4). Soos jy weet het Dawid hom doodgemaak. Die Filistyne het dit onthou, vir Dawid gevange geneem en hom voor hulle koning Agis gebring. Dawid was doodbenoud. Om weg te kom, het hy gemaak of hy mal is. Sy plan het gewerk. Agis het met veragting na hom gekyk en sy manskappe beveel om hom weg te jaag (1Sam. 21:10-15).
Vrees jy soos Dawid? Is daar ’n boelie by jou skool of werk. Ek onthou die boelies vir wie ek bang was. Toe ek 11 was, het ’n boelie my in die maag geslaan. Op 12 het ’n boelie my na ’n krieketwedstryd in die maag geskop. Ek was bang vir albei van hulle. Vir party slagoffers raak die vrees so erg dat hulle selfmoord oorweeg. Moenie. Psalm 56 gee vir ons die oplossing.
2. Dawid se toevlug (v.2-5)
Soms probeer Christene elke moontlike oplossing as hulle in die moeilikheid is. As niks werk nie sê hulle: ‘Al wat ons nou kan doen is bid.’ Die waarheid is dat gebed die eerste en belangrikste oplossing is. Dit is wat Dawid gedoen het: “Wees my genadig, o God...” (v.2). Volg sy voorbeeld as mense jou boelie. Stort jou hart voor die Here uit (62:9). Bid oor die krisis en werp jou sorge op die Here (55:23, Fil. 4:6, 1Pet. 5:7). Dawid het oor ’n vyand gebid wat hom vertrap en verdruk (v.2). Die Hebreeuse werkwoord sha’aph beteken ook hyg. Die idee is van ’n vyand wat hyg soos hy vir Dawid jaag. Wanneer hy hom vang, trap hy hom in die grond in. In Dawid se geval het dit die hele dag en elke dag gebeur (v.2, 3, 6).
Voel jy soos Dawid deurdat jy elke pouse en elke dag by die skool of werk geboelie word? Die boelie is veglustig (v.2). Hy wíl baklei en het ’n klomp trawante by hom (v.3). Die meervoud (vyande) wys dat boelies soos hiënas in ’n groep is. Daar is mag in getalle. In baie gevalle is die boelie ’n lafaard as hy op sy eie is. Hy is ook hoogmoedig (v.3). Hy verhef hom bo sy slagoffer. Inderwaarheid is hy ’n swak mens. Hy is vol vrees en word waarskynlik self geboelie. Sy boeliegedrag is ’n manier om die seer weg te steek en homself te oortuig dat hy nie swak is nie. Hy vrees mense en boelie hulle om te intimideer. Let op Farao in Eksodus 1: om sy eie vrees vir die Israeliete weg te steek, het hy hulle geboelie.
Mense is die boelie se verwysingspunt. As hy hulle nie kan beheer nie, stort sy wêreld in duie. Ek het so iemand geken. Hy het ander volwassenes, sy vrou en kinders in die kerk se jeug geboelie. Dit was ’n ernstige saak. Toe hy in die moeilikheid beland en mense nie meer kan beheer nie, toe neem hy sy eie lewe.
Die slagoffer vrees ook mense. Dawid was doodbang vir Agis en die Filistyne (v.1, 4, 1Sam. 21:12). ’n Paar jaar gelede was ek bang vir ’n boelie. Eendag het ek gedink hy gaan my slaan.
Vrees jy ’n boelie, sodat jy nie skool toe of werk toe wil gaan nie? Jy is bang jy loop jou in hom vas en daarom wil jy nie alleen wees nie. Dit het al so erg geraak dat jy pille drink vir depressie. Jy het jou tot alkohol of dwelms gewend om die situasie te hanteer. Jy het siek geword. Jy kry spanningshoofpyne en ’n beklemming of pyne op die bors. Jy het ’n doktersbrief gekry, sodat jy nie skool toe of werk toe hoef te gaan nie. Omdat die boelie jou dreig, wil jy nie oor die situasie uitpraat nie.
Manipuleer die persoon jou miskien deur kuberboeliery (Eng. cyberbullying)? Die persoon verkleineer jou deur ’n epos waarin hy almal in die kantoor ‘cc’. Of hy plaas pornografie op jou sosiale media profiel en dreig om dit te versprei as jy nie doen wat hy sê nie. Dra jy skuld deurdat jy in ’n oomblik van dwaasheid ’n lelike selfie aangestuur het waarmee die boelie jou nou manipuleer? Wat moet jy doen? Bely as jy gesondig het. Vertrou die Here om jou te help (v.4). Glo dat Hy die boelie in sy spore kan stuit en hom kan verander. Vra jou pa of die polisie om te help indien dit nodig sou wees. Dink na oor God se beloftes en praat met jouself soos Dawid hier gedoen het—prys God vir sy Woord: “Die dag wanneer ek bang is, vertrou ek op U. Op God—ek loof sy woord—op God vertrou ek. Ek sal nie bang wees nie; wat kan vlees en bloed aan my doen?” (v.4-5).
Ek onthou toe die Here dit vir my gedoen het. ’n Boelie met wie ek ’n paar keer koppe gestamp het, het my gebel. Hy het my sleggesê, op my geskreeu en my kinders belaster. Ek was bang, ontsteld, kwaad en mismoedig. Die volgende dag toe lees ek Jesaja 41 in my stiltetyd. Die Here het my uit v.10-14 bemoedig:
“Moenie bang wees nie, want Ek is by jou; moenie vrees nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou; ook help Ek en ondersteun Ek jou met my seëvierende regterhand. Kyk, hulle sal beskaamd staan en verneder word—almal wat vir jou kwaad is. Hulle sal soos niks wees en tot niet gaan, daardie manne wat teen jou ’n regstryd voer. Jy sal hulle soek, maar hulle nie vind nie, daardie manne wat teen jou stryd voer. Hulle sal soos niks, soos iets niksseggends wees, daardie manne wat teen jou oorlog voer. Want Ek, die Here jou God, gryp jou regterhand vas, Ek wat vir jou sê, ‘Moenie bang wees nie—Ek is die Een wat jou help.’ Moenie bang wees nie, wurm Jakob, mense van Israel, ‘Ek is die Een wat jou help!’ is die uitspraak van die Here. ‘Jou losser is die Heilige van Israel.’”
Wat kan ’n mens doen (v.5, 12, 118:6, Jes. 2:22, 51:7-8, 12-13, Heb. 13:6)? Die mens is vlees en nie gees nie; hy kan teen jóú veg, maar nie teen die onsigbare God nie (v.5, Jes. 31:3). Hy kan jou siel nie beskadig of meer doen as wat die Here toelaat nie (Matt. 10:28, Job 1:12, 2:6). John Paton het dit besef. Toe ’n groep kannibale hom en sy medewerker met wapens omring, toe sê hy:
‘My heart rose up to the Lord Jesus; I saw Him watching all the scene. My peace came back to me like a wave from God. I realized that I was immortal till my Master’s work with me was done. The assurance came to me, as if a voice out of Heaven had spoken, that not a musket would be fired to wound us, not a club prevail to strike us, not a spear leave the hand in which it was held vibrating to be thrown, not an arrow leave the bow, or a killing stone the fingers, without the permission of Jesus Christ, whose is all power in Heaven and on Earth.’2
3. Dawid se vyande (v.6-8)
Die Engelse spreekwoord lui: ‘Sticks and stones may break my bones but words will never harm me.’ Soos jy goed weet, is dit nie waar nie. Volgens die Hebreeuse teks het Dawid se vyand hom met woorde seergemaak of sy woorde verdraai (v.6). Lank na die wonde aan iemand liggaam genees is, is die letsels van mense se skerp woorde nog daar.
Dawid se vyande het kwaad teen hom bedink (v.6). Hulle het ’n obsessie met boeliegedrag gehad, sodat hulle nie kon rus tot hulle hom vernietig het nie (vgl. Spr. 4:16). Dink gerus aan Saul wat hom alewig agterna gesit het. Saul se optrede wys meer van sy eie hart as van Dawid s’n. Dit wys dat hy emosionele probleme gehad het, dat hy ’n dissipel van die duiwel was en dat hy ander kon beheer maar homself nie (v.6, Spr. 16:32, 25:28).
Duidelik is sulke mense ongered (Gal. 5:20). Voel jammer vir die persoon en bid vir sy redding. Hy hits rusie aan en soek rede om te baklei (v.7, Heb. guwr). Ek het dit beleef toe ek in die hoërskool was. Ek was in graad 8 en was 1.5 meter lank en het 33 kilogram geweeg. ’n Groot seun het my by die dorp se skou raakgeloop en my vir geen rede nie begin rondstamp. Hy het my gevloek en gedreig dat hy my gaan slaan.
Boelies is soos Dawid se vyande wat hom ingewag het (v.7, 59:1, 4, 1Sam. 19:11, vgl. Luk. 11:53-54). Saul se informante het Dawid se bewegings dopgehou (1Sam. 22:6, 9, 23:7, 19, 24:1, 26:1). Party mans doen dit met hulle vroue: hulle monitor waar sy ry, wat sy koop en wie sy bel. Die Here sal sulke boelies straf en nie toelaat dat hulle wegkom nie (v.8, Rom. 12:19). Dawid het teen sy vyande gebid dat God hulle in sy toorn moet straf (v.8). Hy het nie self wraak geneem nie, maar het die Here gevra om dit te doen. Los die boelie vir die Here, terwyl jy Rom. 12:14, 17-21 toepas:
“Seën julle vervolgers; ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie... Moet niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar rig julle gedagtes op dit wat vir alle mense goed is. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Geliefdes, moet julle nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf: ‘Aan My kom die wraak toe; Ek sal vergeld,’ sê die Here. Maar: ‘As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink. Deur dit te doen, stapel jy vurige kole op sy hoof.’ Moenie dat die kwaad jou oorwin nie, maar oorwin die kwaad met die goeie.”
Gaan sê die polisie as die boelie jou aanrand. Dit is een manier waarop die Here sy toorn uitoefen (Rom. 13:4). Bid teen volke soos Afghanistan wat gelowiges verdruk (v.8). Tree ook vir die slagoffers in. Ek ken ’n Amerikaner wat dit gedoen het. Toe hy sien hoe ’n dronk man sy vrou slaan, het hy hom gegryp en teen die grond vasgepen.
4. Dawid se God (v.9-12)
Toe die skool een middag uitkom, het ’n skelm een van die skoliere met ’n mes gedreig en sy selfoon gesteel. Toe die seun se pa hom ’n paar minute later oplaai, het hulle die skelm agterna gesit. Die skelm wou oor my ouers se heining spring. Die pa het hom byna met sy bakkie teen die heining vasgepen. Die skelm was gelukkig om weg te kom.
Alhoewel die Here nie wraakgierig is nie, is hy in ’n sekere opsig soos hierdie pa deurdat hy vir Dawid geveg het. Die Here weet alles en was bewus van waar Dawid heen moes vlug (v.9, Hebreeus). Volgens die ESV het God gesien hoe Dawid in die nag op sy bed rondrol en huil. Die Here sien ook jou trane (v.9, Gen. 21:15-17, 2Kon. 20:5). Hy hou rekord van wat met jou gebeur (v.9, Mal. 3:16, Op. 20:12).
Toe Dawid desperaat uitroep, het die Here gou geantwoord en die vyand teruggedraai (v.10, 1Sam. 23:26-28). Hy kan dit vir jou ook doen. Vir die Here is dit niks ongewoon om spoedig te antwoord nie (102:3, 138:3, Dan. 9:23, 10:12, Matt. 7:7-8). Moenie op jou onstabiele emosies vertrou nie, maar gaan op wat jy weet: God is vir jou (v.10, Rom. 8:31). Herinner jouself aan wie hierdie God is. Hy is Jahwe, die verbondsgod wat Homself aan Moses bekendgemaak het (v.11, Eks. 3:15). Hy het Homself daartoe verbind om sy kinders te verdedig: “Aan U behoort ek; verlos my... Want so sê die Here, Heerser oor alle magte... wie aan julle vat, vat aan die appel van my oog...” (119:94, Sag. 2:8). Vertrou Hom, sodat jy saam met Dawid kan sê: “Op God—ek loof sy woord—op die Here—ek loof sy woord—ja, op God vertrou ek. Ek is nie bang nie, wat kan ’n mens aan my doen?” (v.11-12).
5. Dawid se lofprysing (v.13-14)
Wyle Martin Holdt het ’n krisis beleef. Hy het op sy knieë gegaan en by die Here gepleit. ‘As U my uithelp, sal ek nooit weer koffie drink nie!’ Toe die woorde by sy mond uitkom, toe sê hy: ‘Ah! Wat het ek gesê?’ Die Here het sy smeekgebed verhoor en hy het sy belofte nagekom.
Met betrekking tot sy situasie het Dawid ’n soortgelyke belofte gemaak (v.13). Die Here het geantwoord en hy het hom voorgeneem om sy belofte te vervul (v.13, vgl. 50:14, Jona 2:9). Het jy al so ’n belofte gemaak? Wees versigtig. “Wanneer jy ’n gelofte teenoor God aflê, moet jy nie uitstel om dit na te kom nie, want Hy hou nie van dwase nie. Wat jy ook al beloof—betaal dit! Dit is beter dat jy nie beloof nie
as dat jy beloof en nie betaal nie.” (Pred. 5:3-4). Moet liewer nie beloftes maak nie, maar sê net ‘ja’ of ‘nee’ wanneer jy jou voorneem om iets te doen (Matt. 5:37, Jak. 5:12).
Die Here het die volgende vir Dawid gedoen: “want U het my lewe uit die dood weggeruk. Het U dan nie my voete van struikeling bewaar, sodat ek voor God kan leef in die lig van die lewe nie?” (v.14). 1Sam. 21:14-15, 22:1 verduidelik hoe dit gebeur het; hoe Dawid uit die Filistyne se hande ontsnap het. Daarna het Saul hom weer gejag. Wat leer ons hieruit? Moenie moed verloor as die Here jou uit ’n situasie red en die boelie later terugkom nie. Gaan eenvoudig weer oor Psalm 56 en stort jou hart voor die Here uit.
Die kanse is goed dat niemand jou boelie nie. Wees dankbaar, maar vra jouself of jy vry van die groter boelies is: Satan, sonde, die dood en die hel? Jesus kan jou vrymaak, omdat hy hierdie boelies deur sy kruisdood gebreek het (Kol. 2:14-15). Vra Hom vir die persoonlike toepassing van sy kruisdood in jou lewe; om die vyand se mag oor jou te breek (107:16, Joh. 8:36). Hy het Dawid uit die duisternis van die dood gered om in sy lig te lewe (v.14). Hy kan dieselfde vir jou doen deur jou van alle sigbare en onsigbare boelies te red, sodat jy as ’n vry mens voor Hom kan lewe (v.14, 116:9). Dit geld vir die boelie soveel as vir die slagoffer: die Here kan jou vergewe en in ’n vredeliewende mens verander wat ander help eerder as om hulle te boelie. As Hy dit met Paulus kon doen (Handelinge 9), kan Hy enige boelie red selfs as die persoon mense al vir jare boelie.
1 https://www.news24.com/news24/southafrica/news/kzn-pupil-accused-of-assault-is-jailed-for-3-months-after-court-no-show-20210321
2 John G. Paton: Missionary to the New Hebrides (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1965 [1889, 1891]), 206-7