“14:17 Wie kortgebonde is, begaan sotheid; en ‘n slinkse man word gehaat. 14:29 Die lankmoedige is groot van verstand, maar die kortgebondene behaal sotheid. 15:1 ‘n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ‘n krenkende woord laat die toorn opkom. 15:18 ‘n Driftige man verwek twis, maar die lankmoedige laat die geskil bedaar. 16:32 Die lankmoedige is beter as ‘n held; en hy wat sy gees beheers, as een wat ‘n stad inneem. 19:3 ‘n Mens se sotheid bederwe sy weg, maar sy hart is vertoorn op die HERE. 19:11 Die verstand van ‘n mens maak hom lankmoedig, en dit is vir hom ‘n eer om die oortreding te vergewe. 19:19 Hy wat groot van woede is, sal die straf dra; want as jy wil red, dan maak jy dit nog erger. 22:24 Verkeer nie met ‘n driftige man nie, en met ‘n opvlieënde man moet jy nie omgaan nie, 22:25 sodat jy nie gewend raak aan sy paaie en ‘n strik vir jouself span nie. 25:23 Die noordewind bring ‘n reënbui voort, en die tong wat agteraf praat—kwaai gesigte. 27:3 Swaar is ‘n klip, en die sand het gewig; maar die ergernis oor ‘n sot is swaarder as altwee. 27:4 Woede is wreed, en toorn kook oor; maar wie kan voor jaloersheid standhou? 29:8 Manne wat spot, bring ‘n stad in oproer, maar die wyse bring die toorn tot bedaring. 29:9 Het ‘n wyse man met ‘n sot ‘n regsaak, dan gaan die sot te kere en lag, sonder bedaring. 29:22 ‘n Opvlieënde man verwek twis, en ‘n driftige man is ryk aan oortreding. 30:33 Want drukking van melk bring botter voort, en drukking van die neus bring bloed voort, en drukking van die toorn bring twis voort.” (Spreuke).
Die oorsake van die probleem
- Dwaasheid (14:29). Iemand wat maklik sy humeur verloor is soos 'n oop vlam by petrol. Die persoon is ongehoorsaam en pas nie die Bybel se wysheid toe nie. Prediker 7:9 sê: “Wees nie haastig in jou gees om jou te vererg nie, want ergernis rus in die boesem van die dwase.”
- Ander se slegte woorde en skindertaal (15:1, 25:23). Onthou hoe Nabal vir Dawid sleggesê het. Dawid het kwaad geword en was gereed om hom dood te maak (1 Samuel 25:10-13).
- Jy het nie 'n kort humeur as gevolg van jou rooi hare, Ierse bloed, of temperament nie. Jy kan kies om selfbeheersing uit te oefen en jou humeur te beteuel: “Die lankmoedige is beter as ‘n held; en hy wat sy gees beheers, as een wat ‘n stad inneem.” (16:32). Om jouself te beheer is moeiliker as om ‘n stad in te neem. Die sterk persoon is nie hy wat ander kan beheer nie, maar hy wat homself kan beheer. Joab was die eerste een om Jerusalem in te neem, maar hoe het hy nie gesukkel om homself te beheer nie! Simson het die stadshekke uitgebreek, maar kon nie sy seksuele drange in toom hou nie!
- 'n Slegte hart (19:3).
- Moles wat jy oor jouself bring (19:3). Ek het al meer as een keer mense teëgekom wat kwaad is, vloek en skreeu oor hulle slegte omstandighede.
- Jy het nie jou les geleer nie. Daarom verloor jy alwéér jou humeur – dalk nog oor dieselfde ding: “Hy wat groot van woede is, sal die straf dra; want as jy wil red, dan maak jy dit nog erger.” (19:19). As jou kind tantrums gooi en in die moeilikheid beland, benadeel jy hom as jy hom elke keer uithelp. Los hom, dat hy die gevolge kan voel en leer. Dieselfde geld vir jou humeurige tiener. As hy kwaad word en iets onverantwoordeliks aanvang, moet jy nie sy borgtog of boete betaal nie. Laat hom leer: wat jy saai sal jy maai (Galasiërs 6:7-8).
- 'n Verkeerde voorbeeld kan daartoe aanleiding gee dat mense met humeurigheid sukkel (22:24-25). Voorbeelde sluit onder meer verkeerde vriende en opvlieënde ouers in.
- Iemand se sotheid kan woede veroorsaak (27:3). 'n Dwaas kan 'n las van woede op jou plaas wat meer weeg as 'n vrag sand en 'n groot klip saamgetel.
- Daar is mense wat dit haat om verkeerd te wees, en kwaad word as ander met hulle verskil (29:9).
Die gevolge van die probleem
- Iemand wat sy humeur verloor doen dwase en onverantwoordelike dinge (14:17a). 'n Vriend van my het 'n gat in die koshuis deur geslaan toe hy kwaad was. Hy moes betaal, en as 'n student het hy nie baie geld gehad nie.
- Twis (15:18, 29:22). So seker as wat room botter word wanneer jy dit karring, of jou neus bloei as iemand dit slaan; só seker kan jy wees dat 'n kort humeur twis sal veroorsaak.
- Lastering teen God (19:3). Adam het vir God beskuldig en verwys na die vrou wat U my gegee het (Genesis 3:12). Jesaja praat van mense wat “hulle in toorn uitbreek en hulle koning en hulle God vloek” (Jesaja 8:21). In Openbaring 16:11 lees ons van mense wat vir God vloek wanneer Hy hulle vir hulle sondes straf. Die Skrif sê vir ons dat ons nie die Here moet beskuldig vir die gemors waarin ons onsself laat beland het nie (Jakobus 1:13). Om kwaad te word vir God is nie aanvaarbaar soos moderne beraders leer nie. Dit is sonde.
- Onvergewensgesindheid (19:11). God is geduldig en vergewe ons sondes. Daardeur sê Hy nie dat ons waardig is om vergewe te word nie, maar eerder dat Hý goed is. Sý geduld en eer word gewys wanneer Hy ons vergewe (19:11). Laat ons ook so wees met mekaar. Of gaan jy vir die res van jou lewe 'n wrok dra, omdat iemand teen jou gesondig het?
- Dalk het jy kwaad geword en iemand gevloek, baklei, of 'n moord gepleeg. Jy sal die straf dra in die hof, die tronk, in siekte, ensovoorts (19:19a).
- Jy sal so vasgevang raak in jou probleem, dat jy sukkel om jou humeurigheid te oorkom (22:25).
- Jy sal 'n slegte voorbeeld wees vir ander (22:25).
- Wreedheid (27:4). Mense wat woedend word sal verskriklike dinge doen teen hulle naaste. Die grusame plaasmoorde in ons land bewys dit.
- Opstande. Die molesmakers blaas die twis aan soos wat 'n mens kole blaas om die vuur te stook (29:8). Onthou jy hoe die Fariseërs die skare aangehits het om te vra dat Jesus gekruisig moes word (Matteus 27:20)?
- Spottery en lawaai – so is die persoon wat kwaad word as hy 'n argument verloor (29:9). Moenie soos 'n sot lag en met woede bewe nie, maar luister na al die feite voordat jy kwaad word of praat.
- Baie sondes (29:22):
- Mense wat kwaad is vloek en skel mekaar.
- Ander skei.
- Party veg en pleeg moord (dis immers waar moord begin – in 'n hart vol van woede, Matteus 5:21-22).
- Vals beskuldiging. Jy sal lieg oor die een vir wie jy kwaad is.
- Kindermishandeling, omdat die kinders ‘my teen die mure uitdryf’.
- Padwoede, sodat jy onverantwoordelike dinge doen.
- Jy is kwaad vir jou vrou en kyk pornografie om haar te ‘spite’.
- Om jou man terug te kry pleeg jy egbreuk.
- Dronkenskap, dwelm misbruik, rook. Dit is hoe party mense hulle woede hanteer of probeer beheer.
- Diefstal. Jy steel die persoon vir wie jy kwaad is se goed.
- Vandalisme. Baie mense wat kwaad is breek goed.
- Bitter gedagtes.
- Skinder om die persoon vir wie jy kwaad is af te breek.
- Biddeloosheid – veral as jy kwaad is vir die Here.
- Onverantwoordelike optrede. Dit spreek vanself.
- Versaking van die gemeentelike byeenkomste en die nagmaaltafel. Jy weet jou gewete is nie skoon nie, en daarom bly jy weg. So hoop jy een sonde op 'n ander.
- Lastering teen God soos reeds hierbo genoem.
- Disrespek teenoor jou ouers. Elke jongmens weet waarvan ek praat.
- Wraak. Iemand wat kwaad is probeer soms om ander terug te kry. Hy sal selfs die reg in eie hande neem.
- Ooreet. ‘Comfort eating’ is wat mense dit deesdae noem.
- Wanbesteding van geld. As 'n vrou kwaad is vir haar man, sal sy sommer sy krediet kaart neem en geld blaas.
- Verkragting. 'n Meisie wat vir 'n man ‘nee’ sê mag dalk sy humeur voel en verkrag word.
- Heksery. Dit is nie ongewoon dat iemand wat kwaad is vir 'n ander, na hekse of ander sulkes toe gaan om 'n vloek te probeer uitspreek nie.
Die oplossing vir die probleem
Woede in jou:
- Praat die saak uit en moet dit nie laat opkrop in jou hart nie (14:17b). “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.” (Efesiërs 4:31-32). Om jou humeur te verloor en ontverantwoordelik op te tree is erg (14:17a). Om in jou binneste te kook is erger (v.14:17b).
- 'n Bul blaas stoom uit sy neus wanneer hy kwaad word (of so wys tekenprente). Jy moenie haastig wees om stoom uit jóú neus te blaas nie. Dis letterlik wat die Hebreeus beteken wanneer dit praat van geduld – 'n lang neus. Om so te wees moet jy jou hart en gedagtes met wysheid en verstand vul uit die Skrif (14:29, 19:11). God vat lank om kwaad te word (Eksodus 34:7), en ons moet ook so wees: “So dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word. Want die toorn van ‘n man bewerk nie die geregtigheid voor God nie.” (Jakobus 1:19-20). “To see a situation calmly is to see it clearly.” (Kidner, Proverbs, p.109). Leer wysheid uit boeke soos Wayne Mack se boek oor die onderwerp: Anger and Stress Management God’s way. Let op Jesus se voorbeeld. Toe Hy kwaad geword het, het Hy nie sy humeur verloor nie, maar die saak goed deurdink. In Johannes 2:15 het Hy 'n sweep gevleg. Dit neem tyd. In Markus 11:11, 15 het hy die onreg gesien, en eers die volgende dag die mense uit die tempel uitgejaag.
- 'n Sagte woord (15:1). Wanneer Chinese tafeltennis sterre die bal hard slaan, staan hulle ver van mekaar af. Hoe harder hulle slaan, hoe verder dryf hulle weg van mekaar af. Maar sodra een van hulle 'n ‘drop shot’ speel, moet die ander speler nader hardloop. En so is dit met woorde. As iemand 'n harde woord spreek en jy nét so reageer, dan dryf jy die ander persoon weg van jou af. Maar as jy met 'n sagte woord reageer, dan trek jy hom dadelik nader. As jy 'n verkeerde woord spreek, moet jy dit bely en jou daarvan bekeer. Hou net aan om jou hierin te oefen. Met herhaling sal jy dit regkry.
- Beheer jouself (16:32). Omdat jy 'n Christen is en die Heilige Gees in jou het, kan jy dit doen, want die vrug van die Gees is selfbeheersing (Galasiërs 5:22).
- 'n Nuwe hart deur die evangelie. Voordat ek tot bekering gekom het, het ek 'n vreeslike humeur gehad. Ek het gedurig my sussie geslaan. Ek het haar selfs eenkeer in die huis gejaag, sodat sy in die muur vasgehardloop en met harsingskudding in die hospitaal beland het. Toe die Here my gered het, het my hart (en gevolglik ook my humeur) verander. Die evangelie, en nie skreeu-of-slaan-die-muur terapie nie, is die oplossing.
- Raak ontslae van verkeerde vriende (22:24-25).
Woede teen jou:
- Spreek 'n sagte woord (15:1).
- Bly kalm (15:18). Die twis tussen Abraham en Lot se skaapwagters kon maklik 'n probleem geword het tussen hulle twee. Maar Abraham het dit met wysheid en kalmte hanteer (Genesis 13:8). Prediker 10:4 sê: “As die toorn van die heerser teen jou opkom, verlaat nie jou pos nie, want bedaardheid voorkom groot foute.” En Jesus: “Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” (Matteus 5:9).
- Wees wys: “Manne wat spot, bring ‘n stad in oproer, maar die wyse bring die toorn tot bedaring.” (29:8). Die wyse persoon kan die oproer van 'n hele stad tot bedaring bring. 'n Wyse vrou in 'n stad genaamd Abel het dit reggekry (2 Samuel 20:15-22).
- Moenie onnodig 'n sensitiewe punt aanraak nie – iets waaroor jy weet iemand sal kwaad word en rusie veroorsaak (30:33). Behou tog 'n gesonde balans, want jy moenie stilbly ten koste van die evangelie wat dalk mag aanstoot gee nie (sien Matteus 23, 2 Timoteus 2:24-26).