1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid, 2 toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Bátseba ingegaan het. 3 Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. 4 Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. 5 Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. 6 Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou. 7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. 8 Kyk, U het ‘n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend.” (Psalm 51:1-8).
Die basis van vergifnis (v.1-4)
Baie van ons ken die storie van Dawid wat egbreuk en moord gepleeg het, maar dalk is dit die moeite werd om dit weer te hoor (2 Samuel 11-12).
Dawid moes saam met sy weermag op die slagveld gewees het. Maar hy was nie. Hy het by die huis gebly en laat geslaap. Nadat hy een laatmiddag geslaap het, het hy opgestaan en op die paleis se plat dak gaan stap. Hy kon deur sy buurvrou se venster sien hoe sy bad. Sy was baie aantreklik. Hy het een van sy boodskappers gestuur om uit te vind wie sy is. Die boodskap het baie helder in sy ore ge-eggo: “Sy is Uria se vrou!” Maar Dawid het haar laat haal en met haar geslaap. 'n Rukkie later het die nuus gekom: “Ek is swanger.” Dawid was in die moeilikheid. Uria sou uitvind. Die volk sou uitvind (om een of ander rede het hy nie omgegee dat God weet nie). Hy het vir Uria van die slagveld af teruggeroep. Dawid wou sy voetspore toeverf: “Gaan 'n bietjie huistoe en spandeer tyd met jou vrou.” Dawid het gehoop Uria slaap met sy vrou, sodat almal sal dink dis hý wat haar swanger gemaak het. Maar die dapper soldaat het nie huistoe gegaan nie.
Die volgende aand het Dawid hom dronk gemaak in die hoop dat hy huistoe sal gaan en met sy vrou slaap. Maar weer het hy voor die paleis se deure geslaap. Wat moes Dawid doen? Hy het 'n brief vir die bevelvoerder van sy weermag geskryf en dit saam met Uria gestuur: “Laat Uria in die voorste linies veg, sodat die boogskuttes hom doodskiet.” Dit het so gebeur. Nou kon Dawid gou met Batseba trou en maak asof sy ná hulle huwelik swanger geword het. Maar God het geweet wat Dawid gedoen het.
'n Jaar het verbygegaan. God het die profeet Natan na Dawid toe gestuur. Natan het vir Dawid 'n storie vertel: ‘Eendag was daar 'n ryk man met baie beeste en skape. Langs hom het 'n arm man gewoon. Hy het niks gehad nie; net een lammetjie. Die skapie het saam met sy kinders groot geword. Hulle was baie lief vir die diertjie. Op 'n dag toe kry die ryk man gaste. Hy wou nie een van sy diere slag nie en toe slag hy die arm man se skapie.’ Toe Dawid dié storie hoor het hy woedend geword: ‘Die ryk man het alles wat sy hart begeer, en dan vat hy nog die arm man se enigste lammetjie! Hy moet vir die arm man vier skape teruggee. So iemand verdien die doodstraf!’ Toe Dawid dít sê het Natan sy vinger onder Dawid se neus ingedruk en dapper gesê: ‘Jý, koning Dawid, is daardie man! God het vir jou baie besittings en vroue gegee. Hoekom het jy Uria se vrou gevat en hom doodgemaak? Jý verdien God se oordeel!’ Dawid het sy sonde besef. God het wel sy kind doodgemaak, maar Hy het Dawid se lewe gespaar. Dawid het diepe berou gehad oor sy sonde en gepleit dat die Here hom sou vergewe. Psalm 51 is sy belydenis (v.1-2).
Dit is moontlik vir 'n Christen om vir 'n lang tyd af te dwaal en om diep te sink in die modderput van sonde. Dawid het in die gehiem gesondig, maar sy sonde in die publiek bely (v.1, vir die musiekleier). As Hy wou, kon God vir Dawid gelos het. Bloot die feit dat God vir Natan gestuur het om sy sonde uit te wys was genade. Moenie soos baie mense sê: “Los daardie persoon wat so sondig. Moet hom nie konfronteer nie; die Heilige Gees sal hom oortuig.” nie. Vergeet jy dat God dikwels mense gebruik om gelowiges van hulle sonde te oortuig (soos Natan in v.2)? Om ons van sonde te oortuig gebruik God ook:
- Ander mense se heilige lewens (jy voel sommer vuil in hulle teenwoordigheid en weet dat jou lewe nie reg is nie).
- Kerktug (Matteus 18:15-17).
- Die Woord (daardie preek wat jou tussen die oë tref).
- God se goedheid (Romeine 2:4)!
- Die nagmaal waar jy sien wat Jesus moes ly vir jou sondes.
- Jou gewete wat jou nie met rus laat nie.
- Swaarkry, sodat jy nie meer op hierdie dwaalweg wíl aanhou nie.
Tensy jy nie die diepte van jou sonde verstaan nie, sal jy nooit God se barmhartigheid verstaan en soos Dawid om genade smeek nie (v.3). Dawid het gesien dat sy sonde soos ink is wat 'n bladsy swartsmeer, soos klere wat permanent gevlek is. Daarom het hy gevra dat God sy sonde moet uitdelg (soos wat 'n mens ink met Tippex toemaak of 'n bevlekte kleed wit maak met JIK): “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde.” (v.3-4). Ander soortgelyke verse sê: “Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil, en aan jou sondes dink Ek nie.” (Jesaja 43:25). “Ek delg jou oortredinge uit soos ‘n newel en jou sondes soos ‘n wolk; keer terug na My, want Ek het jou verlos.” (Jesaja 44:22). “En Ek sal hulle reinig van al hulle ongeregtigheid waarmee hulle teen My gesondig het, en vergewe al hulle ongeregtighede waarmee hulle teen My gesondig en teen My oortree het.” (Jeremia 33:8). “[God het] die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael” (Kolossense 2:14).
Dawid het nie vertrou nie in sy opregte belydenis nie, maar in God se barmhartigheid en genade: “Wees my genadig, o God, na [volgens] u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na [volgens] die grootheid van u barmhartigheid.” (v.3). “Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid.” (103:8). Wees soos Dawid: moenie glo in jou geloof of jou opregte bekering nie. Vertrou op Jesus, sy kruisdood en opstanding alleen. Dink jy jou sonde is te groot om vergewe te word? Onthou vir Dawid – hy het egbreuk en moord gepleeg. Onthou Jesaja 1:18: “al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.” Onthou vir Manasse; die ergste koning wat Israel ooit gehad het. God het hóm vergewe vir al sy gruwelike sondes, en daarom kan Hy jóú ook vergewe (sien 2 Kronieke 33:1-20). Onthou vir Petrus. Hy het vir Jesus verloën en in groot genade is hy herstel (Johannes 18:15-18, 25-27, 21:15-19). Onthou die dief aan die kruis; die moordenaar wat enkele ure voor sy dood tot bekering gekom het (Lukas 23:43). Onthou die Romeinse soldaat wat vir Jesus gekruisig het. Wat is 'n groter sonde as om die Seun van God te kruisig? En tog het Jesus hóm gered (Lukas 23:47). En onthou vir Paulus. Hy het Jesus gelaster en Christene doodgemaak. Maar Jesus het hom gered (1 Timoteus 1:12-17). God is instaat en gewillig om jou te help. As jy ongered is kan Hy jou red. En as jy 'n Christen is wat afgedwaal het kan Hy jou herstel. Sy genade is groter as jou sonde: “waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword” (Romeine 5:20). Maar moenie dít as 'n verskoning gebruik om te sê: “Ek kan soveel sondig soos ek wil – die Here sal my altyd net weer vergewe” nie (Romeine 6:1-2).
Die voorwaardes van vergifnis (v.5-8)
Ek en 'n goeie vriend het 'n debat gehad oor 1 Johannes 1:9: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” Hý sê: “God se vergifnis hang nie af van ons belydenis nie. Al bely 'n gelowige nie sy sonde nie sal God hom nogsteeds vergewe.” Ék sê: “As jy nie jou sondes bely nie sal God jou nie vergewe nie. 1 Johannes 1:9 sê dit.” Miskien praat ons verby mekaar en het beide van ons 'n punt beet. Hy is reg om te sê dat my belydenis nie die basis van God se vergifnis is nie. Jesus se kruisdood is. Maar tog het Gód gesê dat Hy my sal vergewe as ek my sondes bely. Wanneer God my belydenis ontvang en my vergewe, doen Hy dit nogsteeds op grond van Jesus se kruisdood, en nie opgrond van my opregte belydenis nie.
Dawid sê nie dat hy nie geweet het dit was verkeerd nie. Hy verskoon homself nie deur vir Batseba te beskuldig nie. Hy erken dat hy verkeerd was. Hy bely sy sonde. Vyf keer in v.3-5 plaas hy die verantwoordelikheid op homself: “...my oortredinge... my ongeregtigheid... my sonde... my oortredinge... my sonde...” Die res van die Skrif leer dat ons dieselfde moet doen: “My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe.” (Psalm 32:5). “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.” (Spreuke 28:13). “Want ons oortredinge is baie voor U, en ons sondes getuig teen ons; want ons oortredinge staan voor ons, en ons ongeregtighede—ons ken hulle” (Jesaja 59:12).
Pla die sonde van die verlede jou; is dit heeltyd voor jou gedagtes: “Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my.” (v.5)? Die sonde sal voor jou gedagtes bly totdat jy dit bely, jou daarvan bekeer en vergifnis verkry. Hou daarom jou gewete rein. “En Paulus het die oë op die Raad gehou en gesê: Broeders, ek het met ‘n volkome goeie gewete voor God gewandel tot op hierdie dag.” (Handelinge 23:1). “Daarom oefen ek my ook om altyd voor God en die mense ‘n rein gewete te hê.” (Handelinge 24:16). “[jy moet] aan die geloof en ‘n goeie gewete vashou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” (1 Timoteus 1:19). Hoe kan jy hierdie verse toepas en jou gewete skoon hou?
- Bely daaglik jou sonde. Moenie laat dit ophoop, sodat jy na drie weke of 'n maand massa-belydenis (as daar so iets is) probeer doen nie.
- Bekeer jou dadelik van jou sonde. Moenie wag nie. Sonde is soos onkruid wat sy wortels dieper laat sak hoe langer jy dit los.
- Moenie die impulse van die Heilige Gees ignoreer nie. As Hy in jou gewete fluister dat jy moet wegkyk of stilbly, moet jy sy Woord gehoorsaam.
- Moenie toelaat dat die toenemende sonde om jou (in die koerante, by die werkplek, op TV) jou afstomp, sodat gruwelike dinge jou nie meer skok of pla nie.
Dawid se sonde was teen Batseba en Uria, maar uiteindelik het hy God se wet gebreek toe hy egbreuk en moord gepleeg het. Daarom sê hy: “Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë...” (v.6). “En Dawid sê vir Natan: Ek het gesondig teen die HERE!” (2 Samuel 12:13). Josef het dieselfde geweet: “hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?” (Genesis 39:9). Ja, dit is reg dat jy jou sonde bely aan die mense teen wie jy gesondig het. Maar moenie soos die wêreld sê: “Dit maak nie saak wat ek doen nie, solank ek nie ander mense seermaak nie.” Om so te redeneer is onbybels, want alle sonde is teen God en word altyd voor sy oë gedoen (v.6a). Daarom is selfs lelike gedagtes of begeertes gruwelik. Jy kan nie jou vuis teen God lig en sê die hel is onregverdig nie. Dit is nie. Jou sonde is teen God en jy verdien die hel. Jy het geen hoop totdat jy dit erken en bely dat God reg is in sy uitspraak en straf teen jou nie: “Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.” (v.6). Jy moet soos die rower aan die kruis erken dat jý skuldig is en God onskuldig: “ons [word] tog regverdiglik [gestraf], want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.” (Lukas 23:41). God is heeltemal onskuldig in jou en Dawid se sonde (v.6b). Wat jy gedoen het is jou eie skuld.
Wanneer Dawid sê dat hy 'n sondaar gebore is verskoon hy nie sy sonde nie, maar hy erken hoe diep die probleem is (v.7). Die feit dat ons met 'n sondige natuur gebore is, is nie 'n verskoning vir mense om te sê: “Ek is gay gebore... My drankprobleem is geneties” nie. Daar is genoeg bewyse om te wys dat dit nie so nie. As die gay en dronkaard homself kan verskoon, kan die moordenaar ook seker sê: “Ek kan dit nie help nie; ek is so gebore.” Sielkundiges leer vir mense dat hulle neutraal gebore is, en dat dit eksterne invloede is wat hulle sleg of goed maak. Dit is nie waar nie. Die mens is met 'n sondige natuur gebore (v.7). Buiten vir hierdie Psalm, wys ander Skrifgedeeltes dieselfde: “Afvallig is die goddelose mense van die geboorte af; die leuensprekers dwaal van die moederskoot af.” (Psalm 58:4). “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het” (Romeine 5:12). “ons was van nature kinders van die toorn” (Efesiërs 2:3).
Enigiemand met ‘breins’ kan sien dis waar. As dood die gevolg van sonde is (soos Romeine 5:12, 6:23 sê), hoekom sterf babas wat nog nooit sonde gedoen het nie? Dis duidelik omdat hulle sondaars is; hulle het 'n sondige natuur. Waar leer kinders om tantrums te gooi, te lieg en selfsugtig te wees? Hulle weet van nature hoe, want hulle is met 'n sondige natuur gebore. Nog nooit kon die wêreld dit regkry om hierdie probleem op te los deur vir mense te leer om moreel of beskaafd te wees nie. Opvoeding en godsdiens kan dit nie regstel nie. Hierdie probleem is so erg en diep, dat die heiligste mense op aarde (soos Dawid) instaat is tot gruwelike sondes soos egbreuk en moord. Omdat dit so is moet elke Christen 1 Korintiërs 10:12 ter harte neem: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”
Net Jesus Christus is uit 'n maagd (en daarom ook sondeloos) gebore (Lukas 1:35, Hebreërs 7:26). Net Hý is sondeloos en reg in die diepte van sy hart (v.8, 1 Petrus 2:22). Net Hý het die Vader tevrede gestel (Matteus 3:17). En daarom kon net Hý die straf vir ons sonde op Homself neem aan die kruis. Hy kan v.7 regstel en ons maak soos v.8: “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. Kyk, U het ‘n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend.” Hy kan ons sondige dade en natuur reinig. En as Hy dít kan doen is dit nie vir Hom 'n probleem om die Christen wat afgedwaal het te herstel nie.