Coram Deo Cover Image

Coming soon...

8 January 2013

Hoekom luister God nie as ek bid nie en hoe kan ek dit regstel?

Praying with tears

“en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe...Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.  Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.” (Matteus 6:12, 14-15).

 

Mense wat in ’n huis bly maar nie hulle maandelikse huur betaal nie nie, raak agterstallig en beland uiteindelik baie diep in die skuld.  In v.11 het Jesus gesê ons moet vir ons daaglikse brood bid.  In v.12 koppel Hy sondebelydenis aan die vorige versoek deur met die voegwoord en.  Die punt is duidelik:  Net soos jy daagliks van die Here afhanklik is vir vars brood (v.11) moet jy daagliks jou sonde bely (v.12).  Moenie dat jou skuld ophoop of agterstallig raak nie.  Hou kort rekening met die Here.

 

Die Bybel gebruik baie verskillende beelde om vergifnis uit te beeld.  Hier is agt.

  1. Sonde is skuld wat ophoop.  Die Here delg dit; Hy skryf dit af (v.12).  Kolossense 2:14 sê God het “die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael”.
  2. Sonde is vuilheid en skaamte wat bedek word.  “Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is.” (Psalm 32:1).
  3. Sonde is 'n geestelike siekte wat genees word.  “[as] my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” (2 Kronieke 7:14).  “En geen inwoner sal sê:  Ek is siek nie; aan die mense wat daarin woon, is die skuld vergewe.” (Jesaja 33:24).
  4. Soos iets skadelik van ons verwyder word, verwyder die Here ons sondes van ons.  “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” (Psalm 103:12).
  5. Iemand wat in jou lewe indring word weggestuur.  God stuur ons sondes weg.  “En as hy die versoening van die heiligdom en die tent van samekoms en die altaar voleindig het, moet hy die lewendige bok laat aankom; en Aäron moet sy twee hande op die kop van die lewendige bok lê en oor hom belydenis doen van al die ongeregtighede van die kinders van Israel en al hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; en hy moet dié op die kop van die bok lê en hom deur ‘n man wat gereed staan, na die woestyn toe stuur.  So moet die bok dan op hom al hulle ongeregtighede na ‘n woeste land wegdra; en hy moet die bok in die woestyn los.” (Levitikus 16:20-22).
  6. Wanneer mense versoen raak besluit hulle om nie die sondes wat hulle aangedoen is teen hulle vriende te hou nie.  God doen so met ons.  “En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê:  Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.” (Jeremia 31:34).
  7. Sonde maak ons vuil.  God was ons skoon.  “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:9).
  8. Sonde is iets lelik wat weggooi en vertrap moet word.  “Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.” (Miga 7:19).

 

Sê v.12, 14-15 jy gaan hel toe as jy nie ander vergewe nie?  Dit kan nie wees nie, want redding en vergifnis is deur genade alleen en nie omdat jy ander vergewe nie.  Bitterheid is ook nie die onvergeeflike sonde nie; God red en vergewe ook sulke mense.  Wat beteken Jesus se woorde dan?  Jesus praat met Christene en nie met ongeredde mense nie.  In v.14-15 praat Hy van julle hemelse Vader.  Die sonde van onvergewensgesindheid is dus hier in die hart van 'n gelowige.  Bitterheid vertroebel die Vader-kind verhouding.  Deur die kruis het Jesus voorsien dat alle sonde vergewe kan word.  “Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.” (Matteus 26:28).  “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Efesiërs 1:7).  “Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.” (1 Johannes 1:7).  Deur Jesus se volmaakte lewe en kruisdood is daar 'n oneindige surplus in die gelowige se rekening.  En tog word die sonde eers vergewe as jy vra.  Anders gestel:  jy het die geld (vergifnis deur Jesus se kruisdood) in jou rekening, maar moet 'n tjek skryf (vergifnis vra) om die geld te kry (1 Johannes 1:9).  Jou hele lyf is gewas.  Jou voete word wel vuil.  Jy hoef nie weer te bad nie, maar sorg asseblief dat jy jou voete was (Johannes 13:10).  God sal jou net vergewe as jy jou sonde bely en jou daarvan bekeer.  En iemand wat weier om ander te vergewe het hom nog nie bekeer nie.  Hoe verwag so iemand dat God hom moet vergewe?

 

Charles Spurgeon het gesê as jy weier om ander te vergewe teken jy jou eie doodsvonnis elke keer as jy die Onse Vader bid.  Vergewe dan soos God jou vergewe (v.12, 14-15).  “En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe.” (Markus 11:25).  Hoe het God jou vergewe?  Hy onthou nie jou sondes teen jou nie (Hebreërs 10:17).  As jy soos Hy vergewe moet jy ook nie ander se sondes voor hulle, jouself, of ander ophaal nie.  En waar jy teen iemand gesondig het, moet jy dit aan hom en die Here bely (Lukas 17:3-4).

 

Ek sê nie dis maklik om te vergewe nie.  Om skuld af te skryf impliseer dat jy 'n verlies ly.  God se vergifnis het nie goedkoop gekom nie – dit het die lewe van sy Seun gekos.  As jy sukkel om ander te vergewe sal dit help om 'n lys van jou eie sondes te maak.  Dink aan hoeveel van jou sondes die Here afgeskryf het.  Jy is soos 'n man wat 200 000 jaar se salaris skuld.  Die skuld wat ander teen jou het is maar 3 maande se salaris (dis letterlik die bedrag in Matteus 18:21-35).  Die Here het jou hope skuld afgeskryf.  En sal jy weier om 'n ander wat jou 'n knippie sout skuld vry te skeld?  Nee my geliefde broer en suster.  “vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.” (Efesiërs 4:32).  Sien ander se sondes oor en bedek dit in liefde (1 Petrus 4:8).  En as jy dit nie kan oorsien nie, praat dit uit (Matteus 18:15-17).  As jy onbarmhartig is sal God so wees met jou op die oordeelsdag (Lukas 6:37, Jakobus 2:13).

 

Saam met onvergewensgesindheid is hier nog 'n paar dinge wat verhinder dat ons gebede beantwoord word.

  • Volhardende sonde.  “As ek ongeregtigheid bedoel het in my hart, sou die Here nie gehoor het nie.” (Psalm 66:18).  “Kyk, die hand van die Here is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.” (Jesaja 59:1-2).
  • Huismoles.  “Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is – sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.” (1 Petrus 3:7).
  • Kleingeloof en ongeloof.  Jy bid maar glo nie die Here wil of kan jou help nie.  “Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.  Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie” (Jakobus 1:6-7).
  • Selfsugtige begeertes.  “Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.” (Jakobus 4:3).
  • Jy volhard nie maar gee te gou op.  “En Hy het ook aan hulle ‘n gelykenis vertel met die oog daarop dat ‘n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie, nie volhard” (Lukas 18:1).
  • Hoe kan die Here jou antwoord as jy biddeloos is?  “...julle het nie, omdat julle nie bid nie.” (Jakobus 4:2).
  • Jy is ongered.  Hoekom moet die Here vir sy vyande iets gee?  “Want die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed, maar die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners.” (1 Petrus 3:12).

 

As daar sonde in die pad is, is die kanaal na God toe geblok en kan jy nie enige versoeke in die Onse Vader reg bid nie.  Stel die probleem nou reg in jou hart, met ander, en met jou Vader.

Kategorieë