Open/Close Menu Ken Christus, Maak Christus Bekend

Psalm 8

Hierdie was my oupa se gunsteling Psalm. Wanneer ons by hulle gaan kuier het, het hy dit gelees voor ons terugkeer huistoe. Dawid antwoord die basiese vraag van elke mens: hoekom is ek hier; hoekom het God my gemaak?

 

1. Om onder Hom te wees (v.1-5)

In November 2009 het ek op die berg by Klein Kariba gaan sit om te kyk hoe die son opkom. Ek het ’n stukkie van die hemel ervaar toe ek oor God dink. Ek kon my lof nie inhou nie, maar ek moes die Here prys en tot Hom sing.

         Dit is wat Dawid in Ps. 8 gedoen het. Hy was nie tevrede om net te dat God groot is nie. Hy wou hê dat almal daarvan moet sing (v.1). Die Psalm is op die wysie van die Gittiet (v.1). Dit mag ook wees dat die Gittiet ’n soort harp of lier is.

     Dawid sing hierdie Psalm tot die HERE ons Heer (v.2). Die Hebreeuse woorde vir ‘HERE’ en ‘Here’ is Jahwe en Adonai. Jahwe is God se Naam en verwys na die ‘Selfstandige Een wat is’ (Eks. 3:14-15). Adonai is die mees verhewe titel vir God en beteken ‘Here, Meester, Eienaar’.

         God se Naam is majestieus, heerlik, groot, magtig, beroemd, verhewe, edel en waardig (Heb. addir van adar). Sy Naam is sigbaar oor die hele aarde (v.1). Dit is asof die skepping sy karakter uitstal (19:2, Rom. 1:20). Die berge, storms en golwe openbaar sy krag. Reën, vrugte en gewasse wys sy goedheid. ’n Seekat, die seisoene en die mens se oog openbaar sy wysheid. Die verskeidenheid van skepsels openbaar sy kennis. Die Great Barrier Reef, pragtige musiek en blomme wys sy skoonheid.

         Moenie verby God se heerlikheid in die skepping lewe nie. Laat jou sintuie jou help om God se vingerafdrukke rondom jou te sien. Hoor die Janfrederik in die oggend. Voel die son se hitte op jou vel. Proe jou gunsteling kos; moenie net sluk nie. Sien hoe die oggendson die vaal bome van bo af met skakerings van groen inkleur. Ruik die yesterday-today-and-tomorrow (Afr. verbleikblom).

         Onthou dat hierdie dinge net die weerkaatsing van God se heerlikheid, majesteit en glans is wat Hy bo die hemel gevestig het (v.2). Nie eers die sondelose hemelwesens kan sy volle heerlikheid aanskou nie (Jes. 6:1-3). As die Here ons egter red en vergewe, sien ons sy heerlikheid in Christus (Joh. 1:14, 18, 2Tess. 1:10, Heb. 1:3). In die hemel sal ons meer daarvan sien (Jes. 24:23, 33:17, Op. 22:4). God se heerlikheid sal jou meer oorweldig as om die wonderlike dinge van die skepping gelyktydig te hoor, te sien, te proe, te ruik en te voel.

         Iemand mag wonder: as Jesus se heerlikheid so wonderlik is en ons dit nou reeds geniet, hoekom gryp dit ons nie meer aan nie? Hoekom dagdroom ons tydens die preek of wanneer ons die Bybel lees, bid en lofliede sing? Sonde verblind ons. Ongeloof verhoed dat ons God se heerlikheid sien. Ons luiheid om die Bybel te bestudeer en te oordink verhinder ons. Ons is gans te ingenome met die wêreld eerder as met God. Ons is biddeloos. Ons is selfversekerd dat ons God kan uitwerk. Derhalwe laat ons na om die Gees te vra om God aan ons te openbaar.

         Ons kort meer van Dawid se gesindheid: “Here, my hart is nie hoogmoedig en my oë nie verwaand nie. Ek hou my nie besig met groot dade of wat te wonderbaar is vir my nie.” (Ps. 131:1).1 Tog moet ons die Here met vrymoedig vra om sy heerlikheid aan ons te openbaar (Eks. 33:18). Daardeur wys ons dat ons nie net soek wat Hy ons kan gee nie, maar dat ons Hóm soek.

         Dit is hoekom Hy jou gemaak het: nie om aangegryp te word deur die heerlikheid van mense, superkarre, geld, of selfs die skepping nie, maar om sy heerlikheid te sien waarvan die skepping net ’n refleksie is. Martyn Lloyd-Jones sê: ‘We are like children paddling in the sea. There is the mighty ocean and its depths, what do we know about that?’2

         Jou skeppingsdoel is om God te verheerlik en te bewonder (Joh. 17:24, 1Kor. 10:31).3 Doen jy dit? Indien wel, sal jy altyddeur meer wil hê. Jy sal soos iemand wees wat die vars strome drink, maar nie tevrede is voor hy by die fontein gekom het nie.

         Baie mense sê daar is nie ’n fontein nie: ‘Wat die Bybel oor God en die hemel sê, is onsin.’ Om hierdie mense se monde te snoer, openbaar God dit aan babas en kleuters (v.3, Matt. 21:14-16). Dit is asof die Here sê: ‘Selfs kinders kan sien dat Ek God is, maar julle is so blind soos ’n mol onder die grond wat sê daar is nie ’n son nie.’ Ek maak my evangelie bekend aan eenvoudiges, sodat niemand kan sê: ‘Deur my groot kennis het ek die waarheid ontdek’ nie (v.3, Matt. 11:25, 1Kor. 1:27).

         Net so kan niemand sê nie: ‘Die evangelie is ingewikkeld en is vir geleerdes bedoel. Daarom kon ek dit nie verstaan nie.’ As jy soos ’n kind kom en jou eie hopeloosheid erken, sal die Here dit aan jou bekendmaak. Maar as jy jouself slim hou en beïndruk is met jou kennis, sal Hy die waarheid vir jou wegsteek (Luk. 10:21). Dit herinner my aan die dogtertjie op die trein. Sy het die oom in haar kompartement gevra: ‘Ken oom vir Jesus?’ ‘Ek is ’n teoloog,’ het hy haar geantwoord. ‘Ek het nie gevra of oom ’n teoloog is nie,’ het sy gesê. ‘Ek het gevra of oom vir Jesus ken.’

Alhoewel dit net ’n storie is, steek daar ’n groot waarheid in. Die liberale teoloë in ons land sit in oordeel oor die Bybel. Hulle dink dat hulle vir God kan uitwerk. Intussen verstaan eenvoudige Christene wat in die kerkbank sit meer van die Bybel as hulle. Dit is húlle wat God se grootheid sien en Hom prys (v.3). Hoekom sien hulle dit? Want hulle kyk nie na hulleself en die fantastiese kennis van die wetenskap nie. Hulle kyk na die hemelkoepel bo hulle en voel klein wanneer hulle die maan en die sterre sien (v.4). Hulle voel veral klein as hulle ’n supermaan sien of as hulle besef dat daar meer sterre as sandkorrels is (v.4). Hulle voel nóg kleiner as hulle onthou dat God die getal van die sterre bepaal het en dat Hy aan elke ster sy naam gee (147:4).

Hulle voel klein, omdat hulle weet dat God groter is as die uitspansel. Hy het dit met sy vingers geskep soos as jy gare tussen jou vingers vat (v.4). Vir God om die hemelkoepel uit te strek is ’n klein werk (Jes. 40:12). Hoe klein is die mens dan nie? Hy is seker nie eers ’n miljoenste van ’n spikkel nie (v.5). Tog dink God aan ons, tel Hy ons hare en sorg Hy vir ons (v.5, Matt. 10:30).

Hoekom sê ons dan wanneer dit sleg gaan: ‘Die Here het van my vergeet; ek wonder of Hy my nog liefhet’? Hoor wat sê Jes. 40:26-31:

Kyk boontoe en sien!

Wie het hierdie dinge geskep?

Dit is Hy wat die hemelse leër

een vir een uitlei,

hulle almal op die naam roep.

Deur die toedoen van Hom

wat groot vermoëns

en geweldige krag het,

ontbreek nie een nie.

 

Waarom sê jy dan, Jakob,

en beweer jy, Israel:

“My lewenspad is verborge

vir die Here,

my reg gaan by my God verby”?

 

Weet jy dit nie?

Het jy dit nie gehoor nie?

’n Ewige God is die Here,

Skepper van die eindes

van die aarde.

Hy word nie moeg nie,

Hy raak nie afgemat nie –

ondeurgrondelik is sy insig.

 

Dit is Hy wat vermoeides krag gee,

wat lewenskrag vermeerder

vir dié wat geen vermoëns het nie.

 

Jong seuns word moeg

en raak afgemat;

jong manne struikel en val.

 

Maar wie op die Here wag,

herwin hulle krag;

hulle kry nuwe vere soos arende.

Hulle hardloop,

maar raak nie afgemat nie,

hulle loop,

maar word nie moeg nie.

 

2. Om oor alles te heers (v.6-10)

Een van ons lidmate het ’n paar weke gelede uit Genesis 1 gepreek. In sy preek het hy gesê dat baie jong mense selfmoord pleeg, omdat hulle nie die doel van die lewe sien nie. En hulle sien nie ’n doel nie, omdat die wêreld hulle leer dat hulle uit slym ontstaan het en geen doel het nie.

Die Bybel sê dat God die mens na sy beeld gemaak het (v.6, Gen. 1:26-27). Ons is nie net nog ’n soort dier soos evolusioniste sê nie. God het ons geskep om oor alles te heers (v.7-9, Gen. 1:28). Ja, die mens is klein (v.4-5). Maar as beelddraer van God beskik hy oor ’n waardigheid wat geen ander skepsel op aarde het nie (v.6). Buiten vir God wat die heelal geskep het, is net die hemelwesens hoër as die mens (v.6, Heb. 2:7). Maar dit geld net vir ’n rukkie.

Wat bedoel ek? In sy Goddelike natuur is Jesus ver bo die engele (Kol. 1:16). Toe Hy aarde toe gekom het, was Hy in sy menslike natuur laer as die engele (Heb. 2:7). Nadat Hy uit die graf opgestaan het en opgevaar het hemel toe, het die Vader Hom in sy menslike natuur verhef om bo elke skepsel in die hemel, op die aarde en onder die aarde te wees (Ef. 1:20-22, Fil. 2:9-11, Kol. 2:15, Heb. 2:5-9, 1Pet. 3:22). As jy in Hom glo en een is met Hom, sal die Vader jou saam met Hom bo die ganse skepping verhef. Eendag sal jy oor die engele regeer (1Kor. 6:3). Selfs die aartsengel Migael en Gabriël sal onder jou wees!

Met dit in gedagte wonder ek of ons nie die outoriteit wat ons in Christus het, geringskat nie? Ons bid oor die chaos in ons land en wêreld asof die duiwel in beheer is en hy die stryd gaan wen. Ons preek die evangelie asof die kerk verskoning moet vra dat sy bestaan; asof Jesus jou miskien kan help; asof God mense se toestemming nodig het om hulle te red; asof die evangelie een van vele opsies is.

Dit ís so dat die bose mense van hierdie wêreld onder die mag van die duiwel is (2Kor. 4:4, Ef. 2:2, 1Joh. 5:19). Maar dit beteken nie dat die aarde aan die duiwel, die VSA, die Verenigde Nasies, Sjina of iemand anders behoort nie. Dit behoort aan Jesus wat namens die kerk daaroor regeer (Ps. 24:1, Matt. 28:18, Ef. 1:22, 1Kor. 3:21-23). By die wederkoms sal alles onder Jesus se voete wees en sal ons saam met Hom oor die aarde regeer (v.7-9, 1Kor. 15:25-28, Heb. 2:8, Op. 5:10). Ons sal God se heerlikheid volmaak weerspieël (v.6, 1Kor. 11:7).

Daar het jy die oplossing vir die persoon wat minderwaardig voel. Die antwoord lê nie in die spieël nie. Die Bybel sê nie jy moet jouself bewonder nie. Dit sê dat jy jouself, jou doel, jou identiteit en jou waarde in God moet vind. Herinner jouself daaraan dat jy nie ’n redelose dier is nie, maar ’n mens wat na die beeld van God geskep is (v.6). Sonde het God se beeld in die mens geskaad soos as iemand ’n klip in die water gooi en dit jou weerkaatsing vertroebel. Toe Jesus aarde toe kom, het hy die perfekte weerkaatsing kom wys. Hy is ook besig om ons te verander om soos Hy te word, sodat ons God se beeld kan weerkaats. Dit was van die begin af sy plan, maar gebeur stelselmatig namate ons geestelik groei (Rom. 8:29, 2Kor. 3:18, Kol. 3:10). Eers by die wederkoms sal ons finaal soos Jesus wees en God se beeld volmaak weerkaats (1Joh. 3:2).

Om dan te weet wie jy is en wat jou doel is, moet jy jou bekeer, in Jesus glo en die middele gebruik wat God jou gee om te groei: die Woord, gebed, die nagmaal en die gemeenskap van die gelowiges (Hand. 2:42). As jy weet wie Jesus is, sal jy weet wie jy is. Jy sal weet dat God jou geskep het om sy heerlikheid te weerspieël en om so te lewe dat mense Hom in jou sien. Jy hoef nie verder rond te tas en te wonder wat jou doel is nie.

As jy nié vir die Here lewe nie, is jy soos ’n superkar wat in ’n garage bly staan of soos ’n voël met geknipte vlerke wat heeldag in ’n hok sit: jy mis jou skeppingsdoel. Jy sal nooit vrede hê en vry wees nie. Dien daarom die Here en heers oor die skepping. Moenie dat die wêreld jou verwar en laat wonder wie jy is nie. Moenie dat hulle vir jou sê: ‘Jy mag nie die bome afkap nie, maar jy mag babas vermoor.’ Om so te dink, is onderstebo (v.7-9). Die mens moet oor die skepping heers en nie andersom nie.

Ek moes dit onlangs op ’n tasbare manier leer. My dogter het ’n Yorkshire Terrier wat drie jaar oud is. Die hond het tot ’n paar maande gelede nog drie keer ’n nag opgestaan om ’n draai te loop. Dit het my dogter se slaap patroon onderbreek, sodat sy nie in die oggend kon opstaan nie. Toe die hond weer een aand opstaan, toe herinner die Here my aan Gen. 1:28, naamlik dat ons oor die skepping moet heers. Ek het besef dat hierdie hond besig is om ons lewens te regeer. Die volgende dag het ek haar in die oggend gevoer en haar water 17:00 weggevat. In die begin wou sy nie in die oggend eet nie, maar ek het volgehou. Vir drie dae het sy geweier om in die oggend te eet. Ek het geweier om na 10:00 vir haar kos te gee. Op die vierde dag het sy geëet. Daarna het sy nog in die middel van die nag opgestaan om te speel en uit te gaan, maar ons het haar geïgnoreer. Na byna twee weke het sy deur geslaap en nie verder probleme gegee nie.

As mense moet ons die skepping domineer. Roei die muise uit wat vir jou ’n probleem geraak het. Trek die onkruid uit wat jou tuin oorneem. Sê nee vir die gegiste druiwe en -hops (wyn en bier) wat dreig om jou gesin uitmekaar te skeur. Heers oor die tabak (sigarette) wat jou sy slaaf wil maak en jou begroting wil omkrap. Regeer oor die kos of geld wat jou lewe probeer oorneem.

Hoekom moet jy so oor die skepping regeer? Dit is nie sodat jy beter oor jouself kan voel nie, maar sodat jy God kan verheerlik. God se doel is dat die hele aarde van sy heerlikheid vol sal wees soos wat die waters die seebodem oordek (v.10, Hab. 2:14). Uiteindelik gaan dit nie oor die mens nie, maar oor God (v.2, 10). Laat ons dan nie alles in ons vermoë doen om uit te vind wie óns is nie, maar laat ons die Vader deur sy Seun ken. As ons dit nie doen nie, sal ons verward wees en in die donker bly. In Martyn Lloyd-Jones se woorde: ‘There is no doubt but that 99.9 per cent of our troubles as Christians is that we are ignorant of God.’4


1  Aanhalings uit die 2020-Vertaling.

2  Martyn Lloyd-Jones, Revival (Wheaton, Illinois: Crossway, 1987), 178

3  Dit is hoe die Westminster Shorter Catechism dit opsom.

4  Lloyd-Jones, ibid., 217

Category Beeld van God, Mens, Psalm 8