Coram Deo Cover Image

Coming soon...

9 April 2016

Hoe wyd moet die kerk haar deure oopmaak?

Open church doors

Toe liberalisme in Amerika begin versprei het, het die fundamentaliste gereageer en gesê dat slegs dié wat aan die basiese waarhede van die Christelike geloof vashou, gered is. Die basiese waarhede het dinge ingesluit soos Jesus se soendood, sy liggaamlike opstanding en die inspirasie van die Bybel.  Mettertyd het die lys langer geword.  Skielik was ‘n sekere siening oor die eindtyd ook ‘n fundamentele waarheid.  ‘As jy nie presies soos ons glo nie, is jy nie gered nie,’ het hulle gesê.

 

Dit laat my dink aan ‘n kerk wat ‘n paar jaar gelede hulle dienste in Kempton Park se plaaslike koerant geadverteer het. Bo-aan die advertensie het daar gestaan:  ‘Sabbatarians and Calvinists welcome!’  Maar volgens 2 Johannes moet die kerk se deure wyd genoeg oop wees om alle gelowiges in te laat, terwyl die kosyne smal genoeg moet wees om die vals leraars uit te hou.

 

Die fondasie van gemeenskap (v.1-3)

Met die opening van hulle nuwe kerkgebou het Charles Spurgeon die volgende woorde gesê: ‘I am never ashamed to avow myself a Calvinist; I do not hesitate to take the name of Baptist; but if I am asked what is my creed, I reply, “It is Jesus Christ.”’[1]

 

Ek glo ek kan met eerlikheid saam met Spurgeon sê dat ek meer lojaal is aan Jesus en die evangelie as aan die Baptiste. Ek het in Desember by ‘n EG-Kerk predikant gaan kuier en gevoel dat hy soveel my broer is soos enige Baptiste leraar.  In 2012 het ek die Church of England in Ballito besoek en geweet dat ek tussen ware gelowiges is.  Ek ken ‘n lieflike AGS broer, en het in 2014 by hulle gemeente gepreek.

 

As die Baptiste ooit van die waarheid af wegdwaal, sal ek nie twee keer dink om by ‘n ander groep aan te sluit nie. Maar solank as wat die Here my help, sal ek nooit my rug draai op die evangelie nie.  Ons eenheid met ander Christene lê nie in ons siening van die doop of die eindtyd nie, maar in Jesus en die evangelie.  Volgens Johannes is dít die fondasie van ons gemeenskap (v.1-3).

 

Die brief stem op baie plekke ooreen met 1 en 3 Johannes, asook met die Johannes-Evangelie. Dit is dan duidelik dat die apostel Johannes die outeur is.  Weens sy ouderdom en leiersposisie, het hy van homself gepraat as ‘die ouderling’ (v.1, 3 Jh.1, 1 Pt.5:1).  Hy het sy brief aan die uitverkore vrou en haar kinders geskryf (v.1).  Dit mag wees dat Johannes ‘n spesifieke vrou en haar kinders in gedagte gehad het.  Maar dit is ook moontlik dat ‘die vrou en haar kinders’ ‘n gemeente en haar lidmate is (v.1, 13, 3 Jh.4, Ef.5:31-32, 2 Kor.11:2).

 

Johannes het van haar gepraat as ‘die uitverkore vrou’ (v.1). In v.13 het hy van haar ‘uitverkore suster’ gepraat.  Die Nuwe Testament praat van Christene as God se uitverkorenes (Mt.24:31, Rm.8:33, 2 Tm.2:10, Tit.1:1, 1 Pt.1:2).  Nog voordat God die wêreld gemaak het, het Hy ons uitverkies om gered te word (Jh.15:16, Rm.8:29, 9:11, Ef.1:4, 2 Ts.2:13).  Johannes het nie net gesê dat die uitverkorenes mekaar moes liefhê nie (v.5-6), maar hy self het hulle opreg liefgehad in die waarheid (v.1).  Almal wat God se waarheid geken het, het ook die uitverkorenes liefgehad (v.1).

 

God se waarheid dan is die fondasie van ons gemeenskap, eenheid en liefde (v.1-2). Die waarheid wat in ons is, trek ons na mekaar toe soos wat ‘n magneet yster aantrek (v.2).  Ons is een met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.  Almal wat in sy waarheid en liefde bly, ontvang ook sy genade, barmhartigheid en vrede (v.3).

 

Assosieer met dié wat aan die waarheid vashou. As jy dit nié doen nie, sal jy jouself in die probleme vasloop waarvan Johannes in v.7-11 praat.  Moet egter nie jou definisie van die waarheid te nou maak nie.  Mense kan oor die doop verskil en nogsteeds Christene wees.  Die Engelse gesegde sê:  ‘In essentials unity, in non-essentials liberty, in all things charity.’  Ek sê nie jy moet ruggraatloos wees, sodat jy jou Gereformeerde identiteit of oortuiging oor die geestelike gawes prysgee nie.  ‘Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees.’ (Rm.14:5).  Maar ons kan een van hart en sin wees, sonder dat ons aan dieselfde denominasie behoort.  ‘Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon!’ (Ps.133:1).

 

John Newton het gesê: ‘Provided that a man loves God and hates sin, I will have fellowship with him any day.’  George Whitefield het gesê:  ‘I love all that love the Lord Jesus Christ.’[2]  Om so te wees en ander lief te hê, moet jy eers in ‘n nouer gemeenskap met die Here wandel.  Die gemeenskap wat ons met ander gelowiges het, vloei immers uit ons gemeenskap met die Vader en die Seun (1 Jh.1:3).  Dit is wat dit beteken om mekaar in die waarheid liefhê, die fondasie van gemeenskap (v.1).

 

Die karakter van gemeenskap (v.4-6)

Mense wat Bybellering by die deur wil uitgooi en bang is om op ander se tone te trap, roep uit: ‘Doctrine divides!’  Die Emerging Church wil hê dat ons almal moet insluit.  In hulle gedagtes moet Christene en Moslems saam Ramadan vier en die nagmaal gebruik.  ‘n Kollega van my was lidmaat by ‘n kerk wat die woord ‘grace’ in hulle naam gehad het.  Hulle het hom sleg behandel, sodat hy gesê het:  ‘Grace Church isn’t very gracious.’  Liefde sonder die waarheid is sentimenteel, en die waarheid sonder liefde is koud en hard (Op.2:2, 4).  Volgens Johannes moet die waarheid en liefde mekaar uitbalanseer (v.4-6, Ef.4:15).

 

Sommige van die lidmate het die waarheid van die evangelie verloën en die gemeente verlaat (v.7, 1 Jh.2:19). Ander het daaraan vasgehou en hulle lewens daarvolgens ingerig (v.4).  Dit is oor húlle wat Johannes hom verbly het, omdat hulle die Vader se gebod gehoorsaam het (v.4).  “En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê soos Hy ons ‘n gebod gegee het.” (1 Jh.3:23).

 

Omdat mense soms met ‘n kritiese gesindheid aan die waarheid vashou, het Johannes hulle aan die liefdesgebod herinner (v.5, Jh.13:34-35, Lv.19:18). Wat is hierdie liefde?  Dit is nie ‘n warm gevoel in jou bors nie.  Ware liefde gehoorsaam God se gebooie en verbly hom in die waarheid (v.6, Jh.14:15, 1 Kor.13:6).  Ware liefde het respek vir gesag en vir ander mense se lewens, reinheid, eiendom, reputasie, en voorspoed (v.6, Rm.13:9).

 

Vind die balans tussen die waarheid en liefde. Watter een van die twee skeep jy af?  As dit die waarheid is, moet jy meer tyd aan die Bybel bestee.  Lees dit, bestudeer dit, luister daarna, en doen dit alles biddend.  Werk deur Wayne Grudem se Systematic Theology of Thomas Watson se Body of Divinity.  Stoor God se waarheid in die skure van jou hart, sodat dit vir jou die belangrikste word.  ‘Peace if possible.  Truth at any cost.’

 

As jy kortkom in liefde, moet jy diep nadink oor Jesus se liefde aan die kruis. Bestudeer sy lewe, volg in sy voetspore, doen praktiese dade van liefde (1 Jh.2:6, 3:16-18).  Bou jou liefde op die waarheid, en laat die waarheid jou dring om ander lief te hê.  As jy so lewe dan sal Jesus aantreklik wees vir die mense met wie jy in aanraking kom.

 

Die perke van gemeenskap (v.7-11)

‘n Paar jaar gelede het twee mans my kom sien met die idee om op Sondae middae ons kerkgebou te huur. Ons wil nie graag met vals leraars geassosieer word nie, en daarom het ek gevra wat hulle glo.  Hulle het die Drie-Eenheid verwerp, en geglo in redding deur goeie werke.  Ek het hulle afgewys.

 

Verlede jaar het dit weer gebeur. ‘n Groep van drie mense het my kom sien en gevra dat hulle ons gebou wil huur.  Ek het hulle geloofsbelydenis ondersoek en gesien dat Jesus vir hulle niks meer is nie as ‘n genie om hulle ryk te maak.  Weereens het ek hulle afgewys.

 

Volgens Johannes moet gelowiges nie met hierdie mense assosieer nie. Dit is jammer dat daar goeie Christene is wat Johannes se woorde ignoreer.  Wanneer Christene soos Billy Graham, John Stott, David Jeremiah en J.I. Packer met die Katolieke, liberales, en prosperity predikers saamwerk, dan wonder jong gelowiges of v.7-11 regtig so belangrik is.

 

Om te verhoed dat die antichristelike verleiers die gelowiges sou uitvang (v.7), moes hulle in God se waarheid en liefde gewandel het (v.4-6). Hulle kon die verleiers van ‘n myl af aan hulle defektiewe Christologie uitken:  hulle het nie geglo dat Jesus die Messias is, of dat Hy die vleesgeworde Woord van God is nie (v.7, 1 Jh.2:22, 4:2-3, Jh.1:1, 14).  In hulle gedagtes het hulle verby Jesus en die apostels se ‘oppervlakkige’ evangelie gevorder na ‘n dieper kennis van God toe (v.9).  Johannes het tong-in-die-kies gesê dat hulle ook verby God gevorder het, want wie die Seun verloën het ook nie die Vader nie, terwyl iemand wat aan hierdie lering vashou, beide die Vader en die Seun het (v.9, 1 Jh.2:23, Gal.1:8-9).

 

Die gelowiges moes op hulle hoede wees (v.8). Johannes het sy beste gedoen om hulle reg te leer.  Hulle kon nie toelaat dat die waarheid soos ‘n vis uit hulle hande ontsnap nie, maar moes styf daaraan vashou sodat hulle ‘n volle beloning kon kry (v.8).  Hulle kon nie hulle redding verloor het nie, maar as hulle die rondreisende vals leraars in hulle huiskerke verwelkom het (v.10, Filem.2), sou hulle God se volle beloning soos ‘n kontaklens verloor het (v.8, 1 Kor.3:12-15, Hb.10:35, Op.3:11, Mt.10:41-42, 25:40).

 

Daarom het Johannes gesê dat hulle nie hierdie mense moes groet, asof hulle medegelowiges was wat maar net ‘n bietjie anders geglo het nie (v.9-10, 1 Kor.16:19-21). Om hierdie Judasse in die gemeente te verwelkom, was om vir hulle ‘n platvorm te gee om die gif van hulle valsheid te versprei (v.11).  En as die gemeente dít gedoen het, het hulle indirek in die bedrieërs se boosheid gedeel – die deler is so goed soos die steler (v.11).

 

Pasop vir dié wat bely dat hulle die Here ken, maar wat die waarheid van Jesus en die evangelie verdraai (v.7-11). As hulle by die Bybel byvoeg of daaruit wegneem, moet jy hulle nie in jou huis of in die gemeente verwelkom nie (v.9-10).  As hulle ontken dat Jesus volkome God en volkome mens is, of sê dat Hy nie die straf vir ons sondes aan die kruis gedra het nie, of sê dat Hy nie liggaamlik uit die dood uit opgestaan het nie, of sê dat ons nie deur geloof alleen gered word nie, is hulle ongered.  Maak gerus saam met hulle ‘n geblokte pyp reg, maar moenie saam met hulle bid, evangelisasie doen, of ‘n erediens hou nie.  Moet hulle nie finansieel ondersteun nie, want anders help jy om hulle valsheid te versprei (v.11).

 

Johannes wil nie hê ons moet hom verkeerd verstaan nie. Hy praat nie van ongelowiges in die algemeen nie, maar verwys spesifiek na vals leraars.  Ons huise en kerke moet vir hulle gesluit wees.  Ons moenie die Jehova’s Getuies innooi, en maak asof hulle broers is wat op een of twee punte van ons verskil nie.  Ons moet ook nie die vals leraars in ons huise verwelkom deur die boeke, tydskrifte, en blog inskrywings wat ons lees, die preke wat ons op die radio en internet luister, of die Christelike DVD’s en TV programme waarna ons kyk nie.

 

As jy nie weet hoe om vir mense ‘nee’ te sê nie, of as jy altyd ‘nice’ wil wees sodat mense van jou kan hou, is jy in die moeilikheid. Jy gaan móét leer om die vals leraar aan sy kraag te vat en vir hom te sê:  ‘Jy is nie welkom nie – vat jou goed en maak dat jy hier wegkom!’

 

Die vreugde van gemeenskap (v.12-13)

Enige verliefde paartjie weet dat dit baie lekkerder is om mekaar te sien, as om e-posse te tik of te bel. Om iemand se gesig op jou rekenaar se skerm te sien is beter, maar nie eers Skype is dieselfde as om by iemand te wees nie.  Johannes het dit geweet, en daarom het hy in v.12 gesê dat hy die gelowiges wil sien.

 

Johannes kon nog baie gesê het, maar dit sou beter gewees het om ‘n gawe stem te hoor en ‘n vriendelike gesig te sien, as om met ‘n houtkool-, water-, en boomgom mengsel op papirus te skryf (v.12). Om vir hulle te skryf het hom bly gemaak.  Maar om hulle te sien en te hoor sou sy blydskap volkome gemaak het (v.12).  Johannes het die brief afgesluit deur ‘n sustergemeente en haar lidmate se groete oor te dra (v.13).  Ons hou nie net gemeenskap met dié wat in ons eie gemeente is nie, maar ook met gelowiges wat in ander dorpe bly (v.13).

 

Party mense het die slegte gewoonte om van die gemeentelike samekomste af weg te bly (Hb.10:25).  Moenie so wees nie.  Ons kerk se blog bestaan om ongelowiges met die evangelie te bereik, lidmate se geheue te verfris as hulle die preek vergeet het, ou mense en siek mense wat nie by die kerk kan uitkom nie te verkwik, en Christene wat in ‘n heidense land werk te bemoedig.  Moet asseblief nie die blog, aanlyn preke, e-kerk, of radio preke as ‘n verskoning gebruik om van die kerk af weg te bly nie.  Die kerk is nie maar net ‘n preeksentrum nie – dit is die liggaam van Christus.

 

Buiten vir die feit dat gemeenskap belangrik is (Hd.2:42), bring dit ook blydskap (v.12). As jy nie ‘n begeerte het vir geestelike gemeenskap nie, maar eerder in die mall of by die see wil wees, moet jy wonder of jy gered is.  ‘Wees asseblief net konsekwent.  As iemand in jou familie sterf moet jy nie vir die kerk vra om hom te begrawe nie.  Gaan na die mall of na die see toe vir jou vertroosting.’[3]

 

Daar is ‘n Engelse idoom wat sê: ‘Birds of ‘n feather flock together.’  Dit beteken dat mense wat dieselfde belangstelling het, mekaar se geselskap geniet.  Alhoewel dit in die wêreld so werk, moet ons dit nie in die kerk toelaat nie.  Ons moet die katte - die vals - leraars vermy.  Maar ons kan nie soos Indiese spreeus wees wat die ander voëls weggejaag nie.  Ons moet die ander voëls wat nie soos ons lyk nie liefhê, en by die drinkbak van die evangelie verwelkom.

 

[1] Autobiography: vol.2, p.34

[2] Aangehaal in Iain Murray, Heroes, p.48

[3] Vry vertaal en aangepas uit Iain Murray, D. Martyn Lloyd-Jones: The First Forty Years, p.138

Kategorieë