Coram Deo Cover Image

Coming soon...

30 July 2016

Hoe weet ons dat Jesus die Messias is?

Is Jesus the Messiah

Ek is ‘n voorstaander van Ray Comfort se evangelisasie metodes. In een video het ek gesien hoe hy met ateïste die evangelie deel.  Hy het nie met hulle oor die bestaan van God gedebatteer nie, maar aangeneem dat hulle daarin glo.  Op die einde moes hulle erken het dat daar ‘n God is.

 

Net so moet enigiemand wat die Bybel met oop oë lees, erken dat Jesus die Messias is. Om dit te ontken is soos om te ontken dat sirkels rond is, of dat die see nat is.  In Jh.8:12-30 sien ons hoe die Jode hulle oë toegemaak het vir die lig van Jesus se Messiaskap.

 

God se getuienis (v.12-20)

Elke kind gaan deur ‘n stadium waar sy pa die grootste, slimste en sterkste is. My swaer is ‘n eks-provinsiale rugbyspeler.  Hy is byna 1.9 m lank, weeg omtrent 100 kg, en is goed gebou.  Tydens een aanddiens het my dogter by hulle gesit.  Sy het aan sy bo-arms gevat en gesê:  ‘Sjoe, dis sterk!  Maar my pa s’n is sterker.’  Die waarheid is dat sy arms byna so dik soos my bo-bene is.  Tog was ek in my dogter se oë die sterkste.

 

Wanneer dit by ons hemelse Vader kom is daar nie wanpersepsies nie. Hy is werklik groter, sterker, en wyser as almal.  En as Hý sê dat Jesus die Messias is, kan ons nie daarteen stry nie.  Volgens v.12-20 het God self gesê dat Jesus die Messias is.

 

In 7:2, 37 was Jesus by die Huttefees. Volgens 8:20 was Hy nogsteeds in Jerusalem.  In v.12 het Hy gesê dat Hy die lig van die wêreld is.  Die minora of kandelaar wat in die tempel gestaan het, asook die lampies wat gedurende die Huttefees opsteek is, was ‘n illustrasie van die lig wat God en die Messias na die aarde toe gebring het (Jes.42:6, 49:6).  Die volk het onthou hoe die Here hulle voorvaders in die vuurkolom na die Beloofde Land toe gelei het.[1]

 

Jesus het in soveel woorde gesê dat Hy die Messias en die God van die Ou Testament is: ‘EK IS die lig van die wêreld’ (v.12, Eks.3:14, Ps.27:1, Jes.9:1).

 

Soos wat die son lewe gee, het God se lig na die wêreld toe gekom om vir ons hoop en lewe te gee, om vir ons die regte pad te wys, en om die duisternis van sonde te verdryf (v.12, 1:4-5, 9, Ps.36:10). As ons hierdie lig volg sal dit ons na die ware Beloofde Land toe lei (v.12).  Die Fariseërs was nog in die duisternis van hulle sonde, en daarom het hulle nie Jesus se lering aanvaar nie (v.13).  Omdat Hy hierdie dinge van Homself gesê het, het hulle gesê dat sy getuienis nie waar is nie (v.13).

 

Selfs toe Jesus van Homself getuig het was sy getuienis waar (v.14). Hy is immers die Getroue en Waaragtige Getuie (Op.3:14).  Hy het geweet dat Hy van die Vader af gekom het, en dat Hy weer daarheen oppad was (v.14, 13:3, 16:28).  Hy was meer as net ‘n mens en kon nie lieg nie (Nm.23:19, 1 Sm.15:29, Tit.1:2, Heb.6:18).  Die Fariseërs het nie erken dat Hy van die Vader af gekom het, of dat Hy daarheen oppad was nie (v.14, 9:29), en juis daarom het hulle nie erken dat Hy die Messias is nie.

 

Die Fariseërs se oordeel was verkeerd, omdat hulle op grond van die uiterlike besluit het dat Jesus nie die Messias is nie (v.15, 7:24). Hy self het dan nie eers geoordeel nie (v.15, 11, 12:47).  Wie was hulle dan om Hom te oordeel?  Is dit nie ironies dat die ware Regter niemand geoordeel het nie, en dat hulle probeer het om die Regter te oordeel?

 

Waar Jesus wel geoordeel het sou dit regverdig en waar gewees het, omdat sy oordeel nie maar net menslik was nie, maar Goddelik (v.16). Hy het nie alleen getuig nie, maar die Vader het saam getuig dat Hy die Messias is (v.16).  Die wet het mos gesê dat twee mense se getuienis waar is (v.17, Dt.19:15).  Jesus het van Homself getuig dat Hy die Messias is, en die Vader het dit in sy doop, wonderwerke en opstanding bevestig (v.18, 1:32-34, 5:36, Mt.3:16-17).

 

Die Fariseërs het seker gedink dat Hy na een of ander aardse pa verwys het (v.19, 6:42). Jesus het besef dat hulle nie die Vader ken nie, want as hulle die Vader geken het sou hulle sy ewebeeld en openbaring in die Seun herken het (v.19, 1:18, 14:6-7, 16:3, Kol.1:15).  Maar hulle het nie.  Hulle het ‘n oppervlakkige kennis van die Vader en die Seun gehad (v.14, 7:27, 41-42).  Hulle het Hom nie persoonlik geken nie.

 

Jesus het hierdie woorde by die skatkis in die tempel gespreek (v.20, Jos.6:19, 24, 1 Kron.28:11-12, Mt.27:6, Mk.12:41). Ten spyte daarvan dat die Fariseërs se bloed gekook het, het hulle Hom nie gearresteer nie, omdat God se bepaalde uur vir sy dood nog nie gekom het nie (v.20, 7:30).

 

Aanvaar die getuienis van God aangaande sy Seun. Aanvaar ook Jesus se getuienis oor Homself.  Mense wat sê dat hulle die Seun van God of die Messias is en dit nié is nie, behoort in groen dakkies.  Selfs die wêreld sal sê dat hulle versteurd is.  Vir Jesus om te sê dat Hy die Messias is kan een van twee dinge beteken:  of Hy is mal, of Hy het die waarheid gepraat.  Die rekord van Jesus se lewe dui nie in die minste aan dat Hy mal, verstandelik onstabiel of demoon-besete was nie.  Daarom moet ons aanvaar dat Hy die waarheid gepraat het.

 

Gestel jy vertel vir mense dat jy gedurende jou skooljare hoofseun was, vir die eerste span krieket gespeel het, en akademies in die top 10 was. Wat sal jy daarvan dink as hulle jou ‘n leuenaar noem en sê dat jy net besig is om groot te praat?  Sal jy nie sê dat húlle verkeerd is, omdat jy jouself ken en weet dat jy die waarheid praat nie?

 

As jy dan aanstoot neem wanneer mense jou ‘n leuenaar noem, moet jy weet hoe ernstig dit is om die sondelose Seun van God ‘n leuenaar te noem.  Wie is enige mens om te sê dat Jesus nie die waarheid gepraat het nie?  Jesus het Homself geken.  Toe Hy gesê het dat Hy die lig van die wêreld is en dat Hy van God af kom, het Hy dit nie uit sy duim gesuig nie.

 

Ons kan nie op grond van die uiterlike sê dat Jesus nie die Messias is nie (2 Kor.5:16). Dit is soos om ‘n karate wêreldkampioen te sien, en op grond van sy grootte te sê dat hy jou nie kan seermaak nie.  Dit is soos om die 17-jarige Dawid met sy gladde pienk wange te sien, en te sê dat hy nie ‘n reus kan doodmaak nie (1 Sm.16:7).  Om iemand te beoordeel moet jy hom eers goed ken.  Om dan te weet wie Jesus regtig is, moet jy sy lewe bestudeer soos wat dit in die Bybel opgeteken is.  Daarná kan jy beoordeel of Hy die Messias is of nie.

 

Dit is omdat mense in die duisternis is, dat hulle die aansprake wat Jesus gemaak het betwyfel.  As mense na Jesus toe kom, sal hulle in sy lig sien dat Hy regtig die Messias is.  Hulle sal nie meer deur die duisternis van hulle sonde en wêreldse filosofieë verblind word nie, maar die waarheid sien.  Indien ons weier om na sy lig toe te kom, sal Hy ons vir ewig in die duisternis van die hel werp.

 

Die mense wat vir Jesus verwerp, het nog nooit sy Persoon, lewe en lering noukeurig en met ‘n oop gemoed bestudeer nie. Hulle het nie ‘n goeie rede om Hom te verwerp nie.  Hulle het ook gewoonlik ‘n agenda vir hoekom hulle Hom nie wil erken nie.  Hulle is bang dat dit hulle iets gaan kos, of dat hulle een of ander sonde sal moet prysgee.

 

Hulle vermy die Woord van God. Hulle skram weg, omdat hulle bang is dat hulle sonde blootgelê gaan word.  As hulle na Hom toe kom gaan Hy hulle verander, en dit wil hulle nie hê nie.  Miskien vermy hulle Hom, omdat dit aanstoot gee wanneer Hy sê dat hulle niks kan doen om hulleself te red nie, maar dat Hy hulle enigste hoop is.  Is dit nie tragies dat hulle Hom tot hulle eie ondergang verwerp nie?

 

Die Jode se reaksie (v.21-30)

‘n Week gelede het ek die evangelie met iemand gedeel. Ek het vir die vrou gevra of sy seker is sy gaan hemel toe.  ‘Nee, ek is nie seker nie,’ het sy gesê.  ‘En wat as jy in jou onsekere toestand doodgaan?’ het ek gevra.  ‘Is jy bereid om die kans te vat en maar net te hoop dat jy hemel toe gaan?’  ‘Wel, ek hoop maar dat die Here op daardie dag genadig sal wees,’ het sy gesê.

 

Volgens Jesus sal daar op daardie dag geen genade wees nie, en ek het dit vir haar gesê. As jy in jou sonde sterf, is die kanse vir jou om gered te word verby.  Niemand kan van die hel af na die hemel toe oorgaan nie (Lk.16:26).  In v.21-30 het Jesus die Jode twee keer gewaarsku om nie in hulle sonde te sterf nie.

 

Soos in v.14, het Jesus weer in v.21 gesê dat Hy weggaan. Hy sou binnekort gekruisig word, uit die dood uit opgewek word, en opgevaar het na sy Vader toe.  Die Jode sou Hom gesoek het, maar nie gevind het nie (v.21, 7:34).  Hulle sou sonder sukses vir ‘n ander messias gewag het (Lk.17:22), en daarom moes hulle nóú in Jesus as die Messias en die Seun van God geglo het.

 

Indien hulle dit nie gedoen het nie, sou hulle op hulle sterfbeddens sonder hoop en vergifnis in hulle sonde gesterf en in die hel beland het (v.21). Omdat die Jode Hom verwerp het, het Jesus gesê dat hulle nie na die hemel toe kon gaan waarheen Hy oppad was nie (v.21).  Jesus sou na sy dood hemel toe gegaan het, terwyl hulle na húlle dood in die hel sou wees (v.21).

 

‘Gaan Hy Homself doodmaak?’ het hulle gespot (v.22, 7:35). Volgens die Jode sou iemand wat selfmoord gepleeg het swaarder gestraf word, en nie die Koninkryk ingegaan het nie.[2]  Die Jode het dus eintlik gesê:  ‘Waarheen is Hý oppad – hel toe?  En is dit nie hoekom ons Hom nie kan volg nie, want ons is oppad hemel toe?’

 

Volgens Jesus het hulle Hom verwerp omdat Hy van die hemel af was en hulle van die aarde af (v.23, 17:14, 16). Anders as hulle was Hy nie deel van die bose wêreldsisteem wat agter die duiwel aangeloop het nie (v.23, Ef.2:2, 2 Kor.4:4, 1 Jh.5:19).  Om te sê dat Christus selfmoord gaan pleeg en hel toe gaan is Godslastering en deur die duiwel geïnspireer (v.22).  Die Jode moes hulle van hulle ongeloof bekeer het en geglo het dat Jesus die Messias en die God van Eks.3:14 is (v.24, Gk. egō eimi).  Ongeloof is sonde (16:9), en daar is niks erger as om in hierdie toestand te sterf nie (v.24, 21).

 

Die Jode was omgeroer. ‘Wie dink jy ís jy?’ het hulle in v.25 gevra.  Die feit dat Hy Homself EK IS genoem het (v.24), was vir hulle een te veel.  Jesus het Homself nie aan hulle gesteur nie.  ‘Ek het reeds van die begin van my bediening af vir julle gesê wie Ek is, maar julle wil nie luister nie.  Hoekom moet Ek my asem mors as julle in elk geval nie wil glo dat Ek die Messias en die Seun van God is nie?’  Só moet ons Jesus se woorde in v.25 verstaan.

 

Jesus het baie oor die Jode se ongeloof te sê gehad, en sou hulle op die laaste Dag daarvoor geoordeel het (v.26, 16). T.s.v. húlle ongeloof het die Vader in waarheid getuig dat Jesus van Hom af gekom het (v.26).  En vir Hom was dit al wat saakgemaak het.  Die getuienis wat Hy in v.12 oor Homself gegee het, het Hy by die Vader gehoor (v.26).  Maar omdat die Jode Hom nie geken het nie (v.19), het hulle nie verstaan toe Hy met hulle oor die Vader gepraat het nie (v.27).  Hulle het nie geweet dat die Vader die Een was wat Hom gestuur het nie (v.26-27).

 

Eers as hulle vir Jesus gekruisig het en Hy uit die dood uit opgestaan en na die Vader toe teruggekeer het, sou hulle geweet het dat Hy die Messias en die Seun van God is, dat die Vader Hom gestuur het en Hy God se woorde aan hulle verkondig het (v.28, 3:14, 12:32, Eks.3:14, Dn.7:13-14). Sommige van hulle sou dit met ‘n gewillige hart bely het (Hd.2:36-37, 41, 6:7), terwyl ander dit onder dwang sou doen (Mt.26:64, Fil.2:10-11, Op.1:7).

 

Alhoewel Jesus se eie volk Hom verwerp het, was sy Vader altyd met Hom (v.29, 16:32). Hy was met Hom om siek mense te genees en duiwels uit te dryf (Hd.10:38).  Omdat Hy die Vader behaag het en sy wil gedoen het, was die Vader met Hom (v.29, 4:34, 6:38, Mt.3:17).  Die Jode het wel gedink dat die Vader Hom aan die kruis verlaat het, maar ook dít was net vir ‘n wyle toe Hy ons sonde op Homself geneem het (Mt.27:43, 46).  Toe Jesus al hierdie dinge gesê het, het baie van die Jode in Hom geglo (v.30).  Volgens v.31-59 het baie van hulle ‘n vals geloof gehad.

 

Is jy ‘n ongelowige wat jou nog nie van jou sonde bekeer het nie? Is jy ‘n gelowige wat van die Here af weggedwaal het?  Het jy ongeredde geliefdes met wie jy die evangelie moet deel?  Dan is Jesus se boodskap in v.21-30 vir jou.  Hier is hoe jy dit moet toepas.

 

Gebruik die kans wat die Here vir jou gee om jou te bekeer (v.21). Moenie sy hand wegklap, op sy aanbod spoeg, of jou hart teen Hom verhard nie.  As jy dit doen sal die tyd kom wanneer jy sy hulp nodig het, maar dit nie vind nie (v.21, 1 Sm.28:6). Carpe Diem – gryp die geleentheid aan!  Jesus het nie gekom om die wêreld te oordeel nie (v.15), maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word (3:17).  Hy sal egter binnekort terugkeer om die wêreld te oordeel (v.16, 26).  Sorg dan dat jy aan sy kant is, want as Jesus teen jou is, is jy soos ‘n jong vlakvark wat deur ‘n leeu verskeur word – niemand kan jou red nie (Dt.32:39, Jes.43:13, Ps.50:22, Hos.2:9, 5:14, Heb.10:31).

 

Moenie dink dat die Here vir ewig geduldig sal wees nie. “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.  Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.” (Jes.55:6-7).  Jy wil nie by die wederkoms erken dat jy anders moes geleef het nie.  Jy wil nie dán besef dat Hy die ware Messias en die Seun van God is, en dat jy nie in Hom geglo het nie.

 

Jy kan ook nie sê dat jy nie geweet het, of dat Jesus jou nie gewaarsku het nie (v.25, Esg.3:18). Jy kan nie sê dat jy getwyfel het en tyd nodig gehad het om daaroor te dink nie.  Hierdie is nie iets wat jy kan uitstel nie.  Jy kan nie maar net hoop dat jy op jou sterfbed dinge met die Here sal regmaak nie.  Wie sê dat jy ‘n sterfbed gaan hê – dalk sterf jy in ‘n motorongeluk?  Of dalk kom Jesus terug terwyl jy nog op die aarde is.  Miskien kry jy breinskade of jy lê vir maande in ‘n koma.  Dalk maak die morfien dat jy nie ‘n helder oomblik het om die evangelie te hoor en daarop te reageer nie.

 

Jy kan nie met hierdie dinge speel nie. Jy kan dit nie bekostig om in jou sonde te sterf, of om onseker te wees of Jesus die ware Messias en Verlosser is nie (v.21, 24).  Dit gaan my verstand te bowe dat mense grappe maak oor hulle ewige bestemming.  Mense wat sê dat hulle nie bang is om hel toe te gaan nie, weet nie wat die hel is nie.  ‘Hel is die swaarkry wat ek op die aarde moet deurmaak,’ is wat hulle sê.  Maar hulle weet nie waarvan hulle praat nie.

 

Ander is bang vir die hel, maar hou nie op met hulle sonde nie. Ook húlle verstaan nie hoe erg die hel is nie.  Ander mense hoop maar dat die Here hulle op grond van hulle goeie lewe in die hemel sal toelaat.  Hulle postmoderne familie en kollegas sê vir hulle dat die Here hulle in die hemel sal toelaat omdat hulle opreg was – selfs al was hulle ook Hindoes of ateïste.  Hulle weet nie dat hulle in ‘n gekkeparadys lewe nie, omdat almal wat nie in die ware Jesus glo nie maar in ongeloof sterf, hel toe gaan (v.24).  Dit laat my dink aan Moslems wat oortuig is dat hulle hemel toe gaan, omdat hulle met ‘n vliegtuig in ‘n gebou vas gevlieg het, of omdat hulle hulleself in ‘n winkelsentrum met ‘n bom opgeblaas het.

 

Jy kan nie op jou eie terme en voorwaardes in die hemel inkom nie. Probeer maar, dit sal nie werk nie (v.21, Lk13:24).  Jy wil ook nie die kans vat om maar te hoop dat jou lewe met die Here reg was nie (Mt.7:21-23).  Jy moet weet, want net dán kan jy in vrede jou laaste asem uitblaas.  Sorg dan dat jou sonde vergewe is en dat jy ‘n skoon gewete het.  Om vergewe te word moet jy jou bekeer en besef dat God jou net sal aanvaar as Jesus in jou plek staan.  As jy op Jesus vertrou kan jy vir Hom dankie sê dat Hy dit reeds deur sy kruisdood in jou plek gedoen het.

 

Om te ontken dat Jesus die Seun van God en die Messias is, is om in te druis teen dit wat voor die hand liggend is. Maar natuurlik is dit nie voor die hand liggend as jy blind is nie.  En om ‘n blinde mens te oortuig dat daar so iets soos lig bestaan, is so te sê onmoontlik.  Net die Here kan dit doen.

 

[1] John MacArthur, The MacArthur Study Bible, note on Jn.8:12-21

[2] Leon Morris, The Gospel According to John, p.446 n.34

Kategorieë