Romeine 8:31-39
Onthou jy toe Saambou Bank kort na die jaar 2000 gevou het? Sal ons land se ekonomie in die nabye toekoms vou? Is jou geld en jou beleggings veilig? Wat gaan met die plase in ons land gebeur? Sal die regering oor ‘n paar jaar nóg private eiendom vir hulleself vat?
Wat gaan met ESKOM gebeur en vir hoe lank is ons nog verseker van die daaglikse voorsiening van krag? Is jou en jou kinders se lewens veilig in ‘n land waar ons daagliks van ontvoering, moord en ander misdade lees? Sal kerke se deure vir nog 10 jaar oop bly as ons weier om gays te trou? Wat sal met die ouers gebeur wat hulle kinders pak gee?
My doel is nie om jou bang te maak nie, maar om te wys dat jy nie veilig kan wees as jy op die wêreld vertrou nie. Net by die Here kan jy veilig wees. Dit geld ook vir jou redding: volgens Rom. 8:31-39 is jy veilig.
- God is vir jou (v.31)
Sal jy veilig voel as jy in ‘n gevaarlike gebied slaap en jy ‘n Yorkshire terrier het om jou op te pas? Nie eintlik nie. Wat as jy 5 boerboele op jou werf het? Dit is beter, maar dit waarborg nog steeds nie jou veiligheid nie, omdat die skelms honde vergiftig. Wat as ‘n weermag van 200 soldate wag staan om jou huis? Dit is heelwat beter, maar selfs húlle kan uitgehaal word deur ‘n sterker weermag.
As God vir jou is, kan jy heeltmal veilig voel, omdat niks of niemand sterker is as Hy nie. Meer as dit: Hy is soewerein oor jou vyande en besluit wat hulle mág en nié mag doen nie. Daarom kan jy saam met Paulus sê: “Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” (v.31).
‘Hierdie dinge’ verwys na die goue ketting van verlossing in v.28-30, maar ook na die res van ons verlossing in die vorige hoofstukke. Paulus vereis reaksie daarop (v.31). Maar om reg te reageer moet jy diep myn om die ryk teologie van Romeine te ontgin. Kan jou lofprysing hoog styg as jy nie eers na die asemrowende koraalriwwe van Paulus se teologie afduik om Jesus te bewonder nie? Iemand sonder ‘n goeie teologie van Jesus en sy verlossing sal nie veilig voel nie. Jy sal bang wees dat God jou deur sy vingers laat glip. En as jy so voel, sal jy Hom nie met vrymoedigheid prys nie.
Maar dit help ook nie dat jou teologie reg is as dit net in jou kop bly nie. As jy dit nie uitleef en die Here daarvoor loof nie, sal jy so hard en koud word soos ‘n vis op ‘n ysbed in Checkers. Hoe kan jy dit verander? Lees die Bybel reg. Moet dit nie primêr lees om ander te leer nie. Moet dit ook nie maar net lees as ‘n kits oplossing vir jou probleme, of om skietgoed te kry om ‘n debat te wen nie. Lees dit eerder vir jou eie siel, om God beter te ken en gemeenskap met Hom te hê, om sy wil te ken en te doen, om Hom te aanbid en te bewonder. Lees, bid en peins, totdat die Skrif in jou hart brand en jy soos Paulus die Here vir jou verlossing prys.
Prys Hom o.a. dat Hy vir jou is (v.31b). Toe jy nog in sonde geleef het, was God teen jou (hfst. 1-2). Maar omdat Jesus in jou plek gesterf het en jou vergewe het, is Hy vir jou (3:21-26, hfst. 5). En “[a]s God vír ons is, wie kan teen ons wees?” (v.31b).
Dit beteken nie dat niemand teen ons is nie, maar eerder dat God die opposisie oorheers en tot ons voordeel laat uitwerk (v.28, Gen. 50:20, Fil. 1:12-18). Martin Luther het bv. gesê dat hy nie so ‘n goeie teoloog sou wees as dit nie vir die duiwel se opposisie deur die Pous was nie: ‘I myself...owe my papists many thanks for so beating, pressing, and frightening me through the devil’s raging that they have turned me into a fairly good theologian, driving me to a goal I should never have reached.’
As ek moes kies tussen die duiwel of God teen my, kies ek die duiwel. Waar hy jou familie, vriende, kollegas, bure, skoliere, vyande en die regering teen jou aanhits, sal God hulle teenkanting tot jou voordeel laat uitwerk (v.31b, 28).
Maar as Gód teen jou is, kan niks of niemand jou help nie. Op die einde sal jou rykdom, rustige lewe, gelukkige gesin, suksesvolle besigheid, kinders wat presteer en elke ander goeie ding téén jou werk.
- God het sy Seun gegee om te red (v.32)
Die Latynse frase, a fortiori, beteken dat jy van die sterker argument na die swakker een toe redeneer. Vat bv. ‘n pa wat vir sy seun ‘n plaas met goeie weiding, 500 skape en ‘n skaapkraal gee: sal hy nie ook werkers voorsien om hom met die skape te help nie? Paulus gebruik dieselfde argument in v.32: “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?”
Soos Abraham nie vir Isak gespaar het nie (Gen. 22:12, 16), het die Vader nie sy eie, unieke en geliefde Seun gespaar nie (v.32, Matt. 3:17, 17:5, Joh. 3:16). Hy het nie gekeer dat Jesus die galbitter beker van sy toorn drink nie, maar het Hom uit liefde gegee om ons te red (v.32, Matt. 26:36-46, Joh. 3:16, 1Joh. 4:10). Jesus het nie teen die Vader se wil geskop nie, maar Homself uit liefde gegee om die straf vir ons sonde te dra (Joh. 10:18, Gal. 2:20, 3:13).
As God Homself dan in Christus gegee het, hoekom sal Hy nie in alles genadig wees en sy hand wyd oopmaak om goeie dinge vir ons te gee nie (v.32, Matt. 7:11)? Ongelukkig glo ons dit nie altyd nie. Wanneer dit met ons sleg gaan of as God nie dadelik ons gebede beantwoord nie, dink ons Hy wíl ons nie help nie─ons dink dat Hy teen ons is.
Maar die rede vir ons twyfel oor v.32b, is dat ons v.32a nie verstaan nie. As ons besef watse groot geskenk God ons in Christus gegee het, sal ons nie m.b.t. kleiner dinge sê: ‘Die Here wíl my nie help nie.’
Vra daarom dat die Here jou sal help om opnuut te verstaan hoe groot Jesus se offer is. Daarvoor moet jy eers besef hoe heilig God is en hoe sleg jy is, want sonder dit sal jy nie besef wat dit Jesus regtig gekos het om jou te red nie. So, wie is God en wie is jy?
God is lig. Hy is helderder as 10 000 sonne. Hy begin of eindig nêrens, beide m.b.t. tyd en grootte. Hy word omring deur engele en hemelwesens wat hulle gesigte bedek en nie na Hom kan kyk nie, omdat Hy te heilig is. Hy het honderde miljoene sterrestelsels met ‘n gedagte, ‘n woord en met die asem van sy mond geskep. Hy ken elke ster se naam en bepaal hulle getal.
Hy het sterre, komete, engele, duiwels, weerlig, stormwinde, oseane, die aarde, reën, vuur en alles tot sy beskikking om sy vyande in te sluk, maar Hy het nie een van hierdie dinge nodig nie, omdat Hy in Homself almagtig en soewerein is.
Ek kan nog baie sê, maar dink asb. vir ‘n oomblik saam met my oor wie jý is. Jy is so swak dat ‘n piepklein virus jou maklik platslaan. Selfs met die heel beste mediese tegnologie kan jy nie jouself jonk hou of keer dat jy doodgaan nie. Jy word in die graf gelê en verander in stof.
Wat jou siel betref raak jy kwaad wanneer dinge nie volgens jou wil uitwerk nie. Jy leef asof niemand belangriker is as jy nie, maar oor ‘n paar jaar sal jy sterf en gaan die lewe aan sonder jou. Binne 60 jaar na jou dood sal niemand meer aan jou dink nie en oor ‘n 150 jaar sal niemand eers weet jy het bestaan nie. Jy is verlore sonder God. Jy lyk groot voor ander, maar t.s.v. die mense om jou voel jy alleen. Jou gewete pla jou oor jou verlede. Jou hart en jou gedagtes is ‘n pot vol gif.
Dit is genoeg. As ek aanhou, sal jy depressief raak. Die punt is bloot om te wys hoekom jy Jesus nodig het, asook hoe groot die offer was wat nodig was om jou te red. Die punt is ook om te wys hoe groot die liefde was wat gemaak het dat hierdie God mens word en sy lewe uitstort om stof en wurms te red.
Ons benodig ‘n sterker teologie en belewenis van Jesus se kruisdood. Eers dan kan ons sonder agterdog glo dat alles wat in ons lewens gebeur, plaasvind omdat God ons liefhet: “...hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (v.32). Selfs die beproewing wat jy vanjaar moes deurmaak was deel van die alles wat God se genadige geskenk was om jou karakter te vorm en jou meer soos Jesus te maak (v.28-29, Fil. 1:29).
Dalk het jy te veel begin vashou aan hierdie wêreld, sodat jy van Jesus vergeet het. Of dalk het jy moeg geraak om die wedloop te hardloop. God het die beproewing gestuur soos ‘n hond wat jou jaag om te maak dat jy vinniger hemel toe hardloop (Jak. 1:2-4, 17).
- God het jou regverdig verklaar (v.33)
Katy se buurvrou haat haar. Die buurvrou het haar eie baba vermoor en vir Katy aangekla. Toe die hof Katy onskuldig bevind, toe appéleer haar buurvrou tot die hooggeregshof. Sy het die regter ‘n miljoen Rand betaal om Katy skuldig te bevind. Haar plan het gewerk. Katy het 25 jaar in die tronk gekry.
Sulke dinge kan nie in God se hof gebeur nie. Hy het voor die skepping besluit om ons te red (v.33, 29, Ef. 1:4-5). Jesus het die wet gehou wat ons oortree het en het die straf ontvang wat ons moes kry. Sy bloed het ons sondige rekords skoongewas en deur die geloof kom sy perfekte rekord op ons boeke (v.33b, 2Kor. 5:21).
God is regverdig en straf nie twee keer vir dieselfde sonde nie: eers sy Seun aan die kruis en dan die uitverkorenes in die hel nie. Moet daarom nie bang wees dat die duiwel jou sal aankla van iets wat God misgekyk het nie. Hy sal probeer, maar sal nie suksesvol wees nie. Satan beteken ‘teëstander of aanklaer’. Hy sal jou in jou gedagtes aankla en sê dat jy te erg gesondig het, dat daar nie hoop is vir jou nie, dat God se beloftes van redding nie vir jou is nie, dat jy die onvergeeflike sonde gepleeg het, dat jy jou redding kan verloor, ens.
Wys hom uit v.33 dat hy nie tot ‘n hoër hof kan appéleer om die saak om te keer nie, aangesien God die hoogste hof is en Hy jou reeds onskuldig en regverdig verklaar het deur Jesus (Jes. 50:8-9, Sag. 3, Op. 12:9-10). Omdat God se besluit finaal is, is jy veilig.
Maar hoe weet jy sy besluit is finaal? Wat as Hy tóg besluit om die uitspraak om te keer? Dit kan nie gebeur nie. Hoe weet jy? Want v.34 sê so.
- Jesus bid vir jou (v.34)
Ek moes eenkeer my kar invat om die ‘timing belt’ te laat regmaak. Die man het vir my gesê om die parte koop en dat hy dit dan verniet sal insit. Later het hy gesê dat hy die parte ook wil betaal. Toe hy alles klaar reggemaak het, toe kry ek geld vir brandstof en ‘n sak droëwors.
Dit is wat Jesus volgens v.34 gedoen het: Hy het vir ons gesterf, maar meer as dit: Hy het ook opgestaan. Meer as dit: hy het opgevaar na die hemel en bid vir ons. Niemand kan jou dus aankla of jou tot die hel verdoem nie (v.33-34). Die wêreld sal jou aankla as jy verkeerd trap. Jy moet hulle nie rede gee nie, maar as jy sonde doen kan jy dit bely en het jy die perfekte Advokaat wat vir jou intree (v.34, 1Joh. 2:1).
God het Jesus se offer aanvaar en dit bewys deurdat Hy Hom opgewek het uit die dood (v.34, 7:25, Gal. 1:1). Jesus is nie ‘n dooie profeet nie, maar sit as die lewende Koning, Messias en Here aan die regterhand van God. Hy bid vir ons teen die vyand; Hy bid vir ons beproewings en die detail van ons lewens; Hy bid vir God se vergifnis as ons sonde gedoen het; Hy bid dat ons tot in die hemel volhard (v.34, Ps. 110:1, Hand. 2:34-36, 1Kor. 15:25, Ef. 1:20-22, Kol. 3:1, Heb. 1:3, 7:25, 10:12, 12:2, 1Pet. 3:22).
Omdat dit so is, hoef jy nie te vrees as die wêreld frons omdat jy anders is en in Jesus glo nie. Robert Murray McCheyne sê: ‘If I could hear Christ praying for me in the next room, I would not fear a million of enemies. Yet the distance makes no difference. He is praying for me.’
Die vlees sal jou ook aankla (veral as jy te veel introspeksie doen). Vergeet van jouself en kyk na Jesus. Lees oor Hom. Dink oor Hom. Praat met Hom. Praat van Hom. Sing tot Hom. Kry die fokus van jouself af. Op die ou end is dit buitendien nie jou opinie van jouself wat tel nie, maar God se uitspraak dat elkeen wat op sy Seun vertrou en in Hom rus, veilig is (v.33-34, 1Joh. 3:20). In Jesus is jy veiliger as ‘n dassie agter ‘n rots. Daarom kan jy so min jou redding verloor as wat God jou naam kan vergeet.
- Niks kan jou van God se liefde skei nie (v.35-39)
Toe ek op hoërskool was, het een van die onderwysers vir ‘n gr. 9 seun gesê: ‘Kom Charlie, jy wil mos nou ander kinders slaan. Ek daag jou uit om my te slaan. Kom, slaan my... slaan my.’ Die kind was stom; hy het nie ‘n woord gesê nie.
Soos hierdie onderwyser het Paulus die heelal uitgedaag om vir hom te sê wie ons uit God se hande kan ruk. Daar was geen antwoord nie. Sy argumente in Rom. 8:31-39 was soos die piramides se stene: niemand kon dit omstoot nie. Ons het reeds na vier argumente gekyk en kom nou by die laaste een.
Ek het eenkeer met ‘n jong man gesels wat baie oor sy redding getwyfel het. Hy het nie God se liefde in die kruis betwyfel nie, maar gewonder of dit vir hóm is. In die mid- tot laat 1700’s het die Engelse digter, William Cowper dieselfde stryd gehad. Sulke mense het v.35-39 nodig. Hulle moet hoor dat niks hulle van God se liefde in Christus kan skei nie. Toe Adam en Eva gesondig het, het die lig van God se glimlag nie oor hulle geskyn nie en het Hy hulle uit die tuin van Eden gestuur (Gen. 3:24). Maar deur Jesus is ons met God versoen en kan niks ons van sy ewige verbondsliefde skei nie (v.35).
- Verdrukking deur die wêreld kan nie.
- Vervolging en benoudheid wat ons ervaar kan nie.
- Honger en naaktheid (armoede a.g.v. verdrukking en vervolging) kan nie.
- Die gevare van hierdie wêreld kan nie.
- Om doodgemaak te word vir ons geloof kan nie.
Paulus het dit uit persoonlike ervaring geweet (2Kor. 11:23-28). Die 27-jarige sendeling, John Chau wat op 16 Nov. deur die inboorlinge van Noord-Sentinel vermoor is, weet dit. Jý weet dit as jy al ooit ‘n siekte of beproewing moes deurmaak. Jesus het jou nie vergeet nie.
As die beproewings van v.35 dan wys dat Jesus ons nie vergeet nie, hoekom gebeur hierdie dinge? Moenie outomaties aanneem dat beproewing God se straf oor is nie. Soms wil die wêreld ons eenvoudig soos skape slag, omdat ons God se kinders is (v.36, Ps. 44:12, 23). Ja, die wêreld sal jou haat en vervolg net omdat jy ‘n Christen is, omdat jy Jesus volg, omdat Hy jou gekies het om sy kind te wees en omdat jy anders is (Joh. 15:19, 21, 2Tim. 3:12). Moenie probeer dat almal by die skool, by die werk of in jou familie van jou hou nie. Dit sal nie werk nie (Matt. 10:25, Luk. 6:26).
Wanneer mense se kritiek kom en die wêreld jou uitlag, vloek en vervolg omdat jy ‘n Christen is, onthou Rom. 8:35-39: niks kan jou van God se liefde skei nie. Al verloor jy ook jou lewe kan dit jou nie van Jesus se liefde skei nie, maar gaan jy dadelik na Hom toe. As Hy weer kom sal Hy jou liggaam opwek. Jy is dus meer as ‘n oorwinnaar oor die wêreld se vervolging en oor die dood (v.37, 1Kor. 15:57).
Dalk is jy bang dat jy nie sal vasstaan en die Here sal liefhê as die regering Christenskap onwettig maak nie. Is jy bang dat jy nie vir Jesus sal opstaan as jou kollegas en vriende Hom uitlag nie? Dit sal nie reg wees as jy Hom soos Petrus verloën nie, maar gelukkig is jy nie ‘n oorwinnaar deur jou wankelrige en flou liefde vir Hom nie, maar deur sy ewige en onveranderlike liefde vir jou (v.37, Op. 1:5).
As jy maar net geweet het hoe lief Jesus jou het, sal geen beproewing jou laat vrees nie. Jy sal ‘n vrede in jou hart beleef wat jy vir niemand kan verduidelik nie. Jy sal so seker wees van sy liefde as wat die son warm is. Soos Paulus sal jy uit persoonlike ervaring, God se beloftes en Jesus se kruisdood kan sê: ‘Ek weet dat God my liefhet en dat niks my van sy liefde kan skei nie’ (v.38-39).
Jy sal nie soos die wêreld hoef bang te wees nie. Ek ken ‘n vrou wat die evangelie met haar vriende gedeel het. Hulle wou nie luister nie. Sy het gebid dat die Here hulle moet bang maak. Een aand het die man wakker geword. Toe hy hoor sy vrou is wakker, het hy gesê:
‘Is jy wakker?’
‘Ja,’ het sy gesê.
‘Hoekom kan jy nie slaap nie?’
‘Ek is bang.’
‘Ek ook.’
‘Waarvoor is jy bang?’
‘Vir die lewe, die dood, die toekoms, God, die oordeelsdag, die duiwel, mense, ons land, vir alles.’
‘Ek ook.’
Die storie eindig mooi, want kort daarna het hulle tot bekering gekom. My punt is egter om te wys dat gelowiges nie hoef bang te wees soos ongelowiges nie. Niks kan ons immers van God se liefde skei nie (v.38-39). Paulus gee voorbeelde van wat hy bedoel.
Dood
Die dood kan jou nie van Jesus se liefde skei nie, maar vat jou direk na Hom toe sodat jy sy liefde dieper ervaar, verstaan en geniet (Fil. 1:21, 23).
Lewe
Soms is dit ‘n beproewing om aan te hou lewe, veral as jy baie siek is of intense pyn het. Meer as een ou mens het al vir my gesê dat hulle nie meer wil lewe nie. Maar die lewe met sy lyding en probleme kan jou nie van Jesus se liefde skei nie.
Engele, owerhede en magte
Geen heilige engel sal jou van Jesus se liefde wil skei nie. Paulus praat hier van gevalle engele of demone. Owerhede en magte verwys na rangordes van demone (Ef. 6:12). Jesus het hulle deur sy kruisdood oorwin (Kol. 2:14-15, Heb. 2:14-15, 1Joh. 3:8). Demone kan nie jou redding wegvat nie (Job 1-2).
Owerhede
Owerhede mag dalk ook na aardse regerings verwys. Waar die regering die kerk vervolg, Bybels verbrand en ons verbied om Jesus te aanbid, kan hulle nie ons redding wegvat of ons van God se liefde skei nie.
Teenwoordige dinge
Niks wat op die huidige oomblik met jou gebeur, kan jou van God se liefde skei nie.
Toekomstige dinge
Jy hoef nie bang te wees dat jy in die toekoms jou redding sal verloor nie. Vir jou is die toekoms onseker, maar vir Jesus nie. Moet daarom nie die toekoms vrees nie (Matt. 6:34). Jy is veilig in God se liefde.
Hoogte
‘n Man het gesê dat hy as kind op die gras gelê en na die sterrehemel bo hom gestaar het. Hy het wonder waar dit eindig en het bang geraak. Hoef jy bang te wees vir die dag wat die sterre en planete bo jou smelt (2Pet. 3:10, 12)? Hoekom nie? Want geen hoogte kan jou van Jesus se liefde skei nie.
Diepte
Spurgeon vertel dat hy as kind uit Op. 9:1 gehoor het dat die hel as ‘n bodemlose put beskryf word. Om vir ewig te val! Die idee het hom bang gemaak. Hy het diepte gevrees. Maar niks wat bo, onder, voor of agter jou is, kan jou van God se liefde skei nie. Sy liefde is dieper, hoër, breër en langer as enigiets (Ef. 3:18).
Geen ander skepsel
Dit sluit alles in. ‘Maar kan ek myself nie van God se liefde skei en my redding ongedaan maak nie?’ wil iemand weet. Sorteer jy onder skepsel of Skepper? As jy dan ‘n skepsel is, sê v.39 dat jy jouself nie van God se liefde kan skei nie. ‘Maar sal Gód nie maak dat ek my redding verloor nie?’ wil jy weet. Net as Hy ‘n leuenaar is en nie die belofte van v.38-39 nakom nie. Is jy bereid om te sê dat God ‘n leuenaar is? Ek ook nie.
Sy liefde is groter as enigiets in hierdie wêreld en groter as die heelal self. As jy ongered is en nog in sonde lewe, sal jy dit nie verstaan nie. Maar as jy besef het hoe verlore jy is en deur geloof gesien het hoe Jesus sy lewe vir jou gee, sal jy weet wat ek bedoel. Jy het nie maar net van God se liefde gelees of soos die wêreld vlinders in jou maag gevoel nie. God se liefde het jou harde hart gesmelt. Jy kon nie meer ‘nee’ sê vir Jesus nie. Toe jy die spykermerke in sy hande en voete sien en die spieswond in sy sy, het jy geweet dit was vir jóú. Jy kon nie anders as om saam met Frederick Martin Lehman (1868-1953) te sing:
Could we with ink the ocean fill,
And were the skies of parchment made;
Were every stalk on earth a quill,
And every man a scribe by trade;
To write the love of God above
Would drain the ocean dry;
Nor could the scroll contain the whole,
Though stretched from sky to sky.