Coram Deo Cover Image

Coming soon...

24 November 2012

Hoe staan jy vas in vervolging?

“Onthou dat Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dode opgewek is volgens my evangelie” (2 Timoteus 2:8).

Verbeel jou jy is onskuldig en word in die tronk gestop (2:9).  Jy skryf die laaste keer 'n brief vir jou vriend voordat jy onthoof word (4:6-8, volgens oorlewering is Paulus deur Nero onthoof).  Niemand is daar om jou in die hof te verdedig nie (1:15, 4:16).  Daar is iemand wat jou kwaai opponeer en baie moeilikheid vir jou veroorsaak het (4:14).  Net één kollega is by jou; die res is almal weg vir besigheid (4:10-11).  Die lojale ondersteuner wat jy gehad het is nou oorlede (1:16-18, 4:19, uit dié verse blyk dit dat Onesiforus oorlede is omdat Paulus net vir sy gesin groete stuur).  Die een vriend wat jy vertrou is bang (1 Korintiërs 16:10-11) en wou al voorheen gevlug het (1 Timoteus 1:3).  Wat sê jy vir só 'n vriend?  Paulus smeek vir Timoteus om nie vir Jesus en sy evangelie te verloën nie, maar om verdrukking te ly (1:8, 14, 2:3, 4:1-5).  Maar hoe moet hy dit doen?  Hy moet vir Jesus onthou.  In 2:8 gee Paulus twee beskrywings van wie Jesus is.

Die Seun van die Mens

Ek het gehoor van 'n oos-Asiese stam wat tot bekering gekom het toe hulle Jesus geslagsregister in Matteus 1 hoor.  In hulle kultuur is geslagsregisters baie belangrik, en toe hulle dié geslagsregister hoor het hulle geweet Jesus was 'n regte persoon in die geskiedenis.  Jesus is volkome en waarlik mens:  “...uit die geslag van Dawid...” (v.8).  Johannes sê:  “Hieraan ken julle die Gees van God:  elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God” (1 Johannes 4:2).  Jesus is die geregtiglike Koning en Messias uit die geslag van Dawid (sien ook Lukas 1:32).  Hy is die Verlosser, want dit is immers wat die Naam Jesus beteken (Matteus 1:21).  Het jy ooit gedink dat 'n verstaan van kersfees jou sal help in jou lyding?  Jy kan nie sê:  “Wat weet Jesus van ons bloed, sweet, trane, siekte, pyn, en lyding?” nie.  Jesus het mens geword en in 'n krip gelê.  Hy het aan 'n kruis gehang.  Sy volkome mensheid verseker dat Hy weet waardeur ons gaan wanneer ons ly.  Hy sal ons deurdra en vir ons sorg.  Onthou vir Jesus.  Dink aan die woorde van die Hebreërskrywer:  “Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.” (Hebreërs 4:15).

Die Seun van God

Islam ontken dat Jesus aan die kruis gesterf het.  Liberale teoloë ontken dat Jesus liggaamlik uit die dood uit opgestaan het.  Maak dit saak of jy hierdie dinge bely?  Ja, want sonder 'n kruisdood en liggaamlike opstanding is daar geen evangelie nie en geen redding nie.  In v.8 bely Paulus beide hierdie geskiedkundige feite en sê hy dat dít die ware evangelie is.  As enigiemand 'n ander evangelie verkondig sal God hom vervloek (Galasiërs 1:8-9).  In <st1:bcv_smarttag>1 Korintiërs 15 skryf die apostel:  “Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte... En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof...en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes...As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.” (v.3-4, 14, 17, 19).  Die opstanding van Jesus bewys dat God Jesus se soenoffer namens ons aanvaar het.  Dit bewys ook vir ons dat Jesus die Seun van God is (sien Romeine 1:4, 4:25).

In sy vleeswording het Jesus gely, en in sy kruisdood vir ons het Hy gely (Filippense 2:6-8).  Timoteus moet dit onthou.  Dit sal Hom help om ook vir Jesus te ly (v.8, 3).  Petrus sê:  “Want hiertoe [lyding] is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg” (1 Petrus 2:21).

Jesus is wel 'n mens wat ons lyding verstaan en medelye kan hê.  Maar Hy is nie net 'n mens wat hulpeloos op 'n afstand staan as jy ly nie.  Hy is die sterkeGod wat jou kan bystaan en deurhelp in jou lyding.  Word jy by die skool gespot omdat jy 'n Christen is?  Word jy uitgeskuif omdat jy nie by sosiale geleenthede saam dronkword of vuil grappe vertel nie?  Word daar teen jou gediskrimineer by die werk omdat jy 'n Christen is?  Skuif mense jou eenkant omdat jy 'n stand neem vir Jesus en sy Woord; omdat jy opstaan teen homoseksuele regte en aborsie?  Onthou vir Jesus.  Hy het ook gely.  Hy het vir jou gely.  Daar is agt maniere waarop jy vir Jesus kan onthou.

  • Sien hoe gelowiges in die doop Jesus se begrafnis en opstanding uitbeeld.
  • Vier gereeld die nagmaal.  Dáár sien jy Jesus se gebreekte liggaam en bebloede lyk.
  • Preek die evangelie vir ander en luister na Christus-gesentreerde prediking (2:2).
  • Dink ná oor die evangelie (2:7).
  • Dien ander gelowiges – so dien jy vir Jesus (Matteus 25:36, 40).
  • Sien Jesus in ander gelowiges se lyding (2:9-10).
  • Ly self vir die evangelie (2:8).
  • Dink aan Jesus in die krip hierdie kersseisoen.

In 1555 is honderde protestante in Smithfield, Engeland deur Bloody Mary gemartel.  Martelare soos Rogers het sy hande in die vlamme ‘gewas’ asof dit koue water was.  Ander het lofliede gesing.  Party het die kettings gesoen en die brandstapel omhels.  Vriende het hulle aangemoedig om dapper te wees en eerder te brand as om die Here te verloën.  Dikwels is woorde gehoor soos:  “Ons sal vanaand saam met Jesus feesvier.  Hou goeie moed.”  Hoe het hierdie martelare kalm gebly in die vallei van vervolging en dood?  Hulle het vir Jesus onthou (v.8).  Doen jy dieselfde.

Kategorieë