Efesiërs 3:14-21

Saam met baie ander mense in Suid-Arika en die wêreld gaan ons gemeente deur moeilike tye. Mense sukkel finansieel, verloor hulle geliefdes deur die dood, word siek van Covid, het ander kwale, sit eensaam en alleen in oue tehuise, kan nie by die eredienste uitkom nie, en meer. Hoe moet ’n mens in sulke tye bid? Dit is waar Ef. 3:14-21 inkom.

1. U is my Vader (v.14-15)

Sommige kinders is so bang vir hulle pa’s, dat hulle hulle nie met vrymoedigheid iets kan vra nie. Party mense is so met God, maar dit is onnodig. God is ’n perfekte Vader. Sy deur is altyd oop. Paulus het dit geweet en kon met vrymoedigheid tot die Vader bid (v.14). Hy het veral gebid dat die Efesiërs God se krag en liefde sou ken (v.14-19), omdat hulle hartseer was dat Paulus in die tronk was (v.1, 13).

Voel jy hartseer en onseker in hierdie tyd? Bid v.14-19 vir jouself en vir ander mense wat swaarkry. Buig nederig voor God en stort jou hart voor Hom uit (v.14). Dank Hom dat Hy jou Vader is (v.14). Hy is die Vader van die familie van engele, gerubs, serafs en ander hemelwensens (v.15, Heb. 12:9). Hy is ook die Vader van die hele geslag, of familie van gelowiges wat in die hemel en op aarde is (v.15).

Geen gelowige, of Christen-gemeente val buite sy liefde en sorg nie. Selfs al sterf jy bly jy nog sy kind en is Hy jou Vader. Dit geld net as jy in Jesus glo en Hom as jou Verlosser het (Gal. 4:4-7). Is daar ’n groter voorreg en troos as dit in ’n tyd soos hierdie? Dit is soos om gedurende ’n oorlog en hongersnood te sê dat die sterkste en rykste koning op aarde jou pa is.

2. Versterk my deur U Gees (v.16)

As een beproewing op ’n ander ons tref, sê ons: ‘It never rains but it pours.’ Hoe kom ’n mens deur al hierdie beproewings? God is skatryk (v.16). Hy het genoeg genade, krag, en liefde om elkeen van ons ’n triljoen keer oor te vul. En dan maak dit nog nie ’n duik aan sy voorraad nie, aangesien Hy ’n oneindige Wese is (Job 11:7-9). Vra dus vir soveel genade, krag, en ’n sin van God se nabyheid en liefde as wat jy wil: jy sal nie die myn van sy heerlikheid uitput nie (v.16, Ps. 145:3, 147:5, Jes. 40:28, Klaagl. 3:22-23).

Deur sy heerlike rykdom skenk Hy ons sy krag. Ons benodig dit in ons harte, sodat ons sy oorweldigende liefde kan begryp (v.16). Dit is veral nodig as 2021 soos laasjaar gaan wees, of erger. Jy kan nie soos ’n Boeddhis op sogenaamde innerlike bronne wil staatmaak nie. Jy sal vir die bonatuurlike versterking van die Gees in jou binneste moet bid (v.16). Eers as jy dít het, kan jy sterk wees, selfs al is jy fisies siek, of swak: “Daarom gee ons nie moed op nie, want selfs al vergaan ons uiterlike mens, word ons innerlike mens van dag tot dag vernuwe.” (2Kor. 4:16).1

3. Woon asseblief in my (v.17a)

Hoe verstaan ’n mens v.17 as Jesus reeds deur die Heilige Gees in elke gelowige woon (vgl. Rom. 8:9): “sodat Christus deur die geloof in julle harte mag woon”?

Dit werk soos as jy ’n huis koop. Alhoewel die huis joune is, is dit nog nie huislik soos jý dit wil hê nie. Dit is dieselfde met Jesus. Alhoewel Hy reeds in jou woon, wil Hy jou hart verander in ’n plek waar Hy sal tuis sal voel (v.17). Daarom gooi Hy die ou meubels van sonde uit en vervang Hy dit met die nuwe meubels van die vrug van die Gees. So word jy stadig maar seker meer soos Jesus en woon Hy in jou deur sy Gees (v.16-17a, Joh. 14:17, 23, 2Kor. 3:18, Gal. 2:20). Dit gebeur deur geloof: as jy glo dat Jesus alles vir jou sal wees wat Hy in sy Woord belowe (v.17a).

Ek moes onlangs hieraan herinner word. Na ’n stryd van meer as twee dekades, het die Here my gewys hoe om onrein gedagtes gevange te neem en dit te oorkom. Ek is egter ’n paar dae gelede weer hiermee versoek. Ek het nie daarteen gestry soos ek moes nie. Die volgende dag in my stiltetyd, toe waarsku die Here my: ‘Ek het belowe om alles te wees wat jy nodig het. Ek het belowe om jou te versadig, maar jy wou My nie glo nie. Jy het die leuen geglo en gedink dat slegte gedagtes jou gelukkig kan maak. Dit kan nie, maar Ek kan.’ Ek prys die Here vir sy liefde, genade en hulp. Ek kon weer v.17 bid, naamlik dat Christus in my sal woon.

4. Gee my krag om U liefde te ken (v.17b-19a)

D.L. Moody (1837-1899) vertel van ’n ervaring wat hy in New York gehad het: ‘…one day, in the city of New York—Oh, what a day—I cannot describe it, I seldom refer to it; it is almost too sacred an experience to name. Paul had an experience of which he never spoke for fourteen years. I can only say that God revealed himself to me, and I had such an experience of His love that I had to ask Him to stay His hand. I went to preaching again. The sermons were not different: I did not present any new truths; and yet hundreds were converted. I would not now be placed back where I was before that blessed experience if you should give me all the world—it would be as the small dust of the balance.’2

Soos Moody benodig ons die Gees se krag, sodat Christus in ons kan woon, asook dat ons God se liefde kan ken (v.16-17). Ons verstaan reeds iets van sy liefde deur die kruis, sodat ons soos ’n boom in Jesus gewortel is en soos ’n gebou op die fondasie staan (v.17b, Rom. 5:8). Deur die Gees kan ons egter ’n voller ervaring van sy liefde hê (v.19, Rom. 5:5). Hiervoor moet jy deel van ’n gemeente wees: ‘…saam met al die heiliges…’ (v.18). John Stott sê: ‘It needs the whole people of God to understand the whole love of God.’3 Hoe sal jy die volheid van God se liefde leer ken as jy op jou eie is? Sal jy dit nie meer ervaar as jy deel van ’n gemeente is waar die mense vir mekaar bid as hulle swaarkry, waar hulle mekaar se laste dra, met mekaar deel, en mekaar dien nie (v.18)?

Natuurlik stop dit nie by ons gemeente nie, maar verstaan ons hierdie liefde saam met al die heiliges (v.18). Ek kan twee voorbeelde hiervan noem. Toe twee van ons lidmate se seun dodelik siek was, het Christene dwarsoor die wêreld vir hom gebid. Toe my dogter in die hospitaal was, het gelowiges wat sy nie eens geken het nie, haar gebel, vir haar WhatsApp’s gestuur, en vir haar data gekoop. By twee geleenthede het gelowiges wat sy nog nooit ontmoet het nie, vir haar betaal om spesialiste te sien.

Dit is lekker as jou eie gemeente daar is vir jou. En tog word Jesus se liefde in ’n sekere sin duideliker gesien as Hy wildvreemde gelowiges stuur om jou te bedien en vir jou te bid. Doen asseblief dieselfde vir ander. Ondersteun byvoorbeeld ons sendeling in die vervolgde kerk in Afghanistan. Bid vir hom, selfs al het jy hom nog nooit ontmoet nie. Om wildvreemde gelowiges so te ondersteun, dra vir hulle die boodskap oor: ‘Die Here het jou nie vergeet nie, maar Hy stuur sy helpers om jou te bemoedig.’

Jy kan nie Jesus se liefde verstaan soos jy moet as jy eenkant is nie (v.18). As jy dit regtig nie kan help nie is dit ’n ander saak. In daardie geval sal Jesus na jou toe kom (vgl. Hand. 16, Op. 1). Maar oor die algemeen moet jy God se liefde in die gemeente ervaar. Dan sal jy die breedte, lenge, hoogte, en diepte daarvan verstaan (v.18).

Die breedte van sy liefde omarm alle gelowiges en selfs ongelowiges (Joh. 3:16). Sy liefde is sonder bodem, of strand. Moet dan nie dink dat jy die een persoon is wat Hy nié liefhet nie. Hy sal jou liefhê, selfs al het jou ouers jou nie liefgehad nie (Ps. 27:10, Jes. 49:15).

Die lengte van sy liefde is soos ’n liniaal sonder punte: dit strek van die ewige verlede tot in die ewige toekoms’ (Ps. 136, Jes. 54:8, 10, Jer. 31:3, Joh. 13:1, 1Kor. 13:8, 13, Ef. 1:4-5).

Die hoogte van sy liefde is soos ’n PhD in wiskunde wat ver bo ’n graad R kind se kop is (Ps. 36:6). God het jou lief met die liefde waarmee Hy sy eie Seun liefhet (Joh. 17:23)!

Die diepte van sy liefde het gemaak dat Hy sy hemelse woning verlaat het om aan ’n vervloekte kruishout vir ons sonde te sterf (Fil. 2:6-8)! Hoe peil ’n mens die diepte van sy liefde? Wat verstaan ons regtig hiervan? En hoekom twyfel ons so maklik daaraan as dinge sleg gaan? “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het—hoe sal Hy nie ook saam met Hom alles aan ons skenk nie?” (Rom. 8:32).

Laat ons vir krag bid om Jesus se liefde te ken. Ek praat hier van ’n intieme kennis en persoonlike ervaring wat jy nie in boeke kan leer nie (soos die kennis in Gen. 4:1). Hierdie liefde is te groot vir die mens se verstand (v.19). Die wêreld se biblioteke het nie genoeg plek om dit te verduidelik nie (1Joh. 4:8, 16). Om dit te ervaar, moet die Gees jou na die kruis toe vat en jou leer wat Jesus se liefde beteken. Dan sal jy die liefde ken wat nie geken kan word nie (v.19a). Dan sal jy in die diepste donker jou hand op jou mond lê, oorweldig wees met Jesus se liefde, en Hom aanbid.

5. Vul my met U volheid (v.19b)

As die reënseisoen in Angola goed was, vloei die water tot in Botswana se Okavango. Die rivier se walle oorstroom, loop uit in ’n delta, en vorm ’n waterparadys vir voëls en diere.

Dit werk dieselfde met God se liefde en daarom bid Paulus dat God die Efesiërs met sy volheid sal vul (v.19b). Dit doen Hy deur sy Gees wat hulle innerlik versterk (v.16), deur Christus wat in hulle harte woon (v.17), en deur die Vader wat hulle met sy volheid vul (v.19). Dit is verstommend om te dink dat die God wat hemel en aarde vul en selfs buite dit is omdat die hoogste hemel Hom nie kan bevat nie, in sy volheid in ons woon (v.19b, 1Kon. 8:27, Ps. 139:7-10, Jes. 57:15, Jer. 23:24)!

En as Hy jou dan vul, sal Hy altyd by jou wees. Hy sal jou nooit verlaat nie (Heb. 13:5), maar sal vir jou sorg asof jy die enigste mens op aarde is. Sy teenwoordigheid in jou beteken ook dat sy krag onmiddellik beskikbaar is as jy swak is, en dat sy liefde altyd by jou is. Dus bid jy nie tot ’n God wat daar ver is nie, maar tot Een wat nader aan jou is as jou asem en selfs as jou eie gedagtes.

6. Ek weet U kan alles doen (v.20)

Martin Luther het vir Desiderius Erasmus geskryf: ‘…your thoughts concerning God are too human.’4 Hy het vir Erasmus gekritiseer, omdat hy van God gepraat het, asof Hy sekere sogenaamde klein dinge nie kan, of sal doen nie.

Ons is dikwels dieselfde. Ons wil God inperk, asof Hy net op sekere maniere kan werk. Hy kan byvoorbeeld nie maak dat ’n donkie praat nie… tot dit gebeur! Luister asseblief mooi: God kan enigiets doen (Gen. 18:14, Jer. 32:17, 27, Luk. 1:37, 18:27). Ons brein is te klein om te bid, of te dink oor dit wat Hy alles kan doen (v.20). Die wonders wat jy in jou lewe, die skepping, of selfs die Bybel sien, is maar net die buitewyke, of fluistering van sy krag (Job 26:14). Ons het nie ’n idee wat sy almag beteken nie. As ons het, sou dit ons gebede verander het. Ons sou nie nét vir ons klein probleme en ons geliefdes gebid het nie. Ons sou nie aangehou het om Hom vir sandkorrels te vra as Hy ons ’n feesmaal bied nie. Ons sou vir lande, nasies, die geslagte wat kom, herlewing, en die ewigheid bid. Ons sou geweet het dat Hy al ons gebede kan antwoord (v.20).

Ons sou nie soos Prosperity kerke in die strik trap om vir klein goedjies soos aardse rykdom te bid nie. Ons sou dit verag het, omdat ons gehoor het van dinge wat ’n triljoen keer groter is as dit. Ons sou geweet het dat dit vir God soos niks is om ons gebede te beantwoord (v.20, Matt. 17:20, 21:21-22). Ons sou geweet het dat Hy dit deur sy Gees kan doen wat kragtig in ons werk (v.20).

Laat ons dan nie net bid oor die dinge wat rondom ons aangaan nie, maar laat ons vir gróót dinge bid met die volle wete: God kan ons gebede verhoor (v.20).

7. Verheerlik U Naam (v.21)

Soms laat die Here toe dat ons in ’n desperate situasie beland waaraan ons niks kan doen nie. Dit is asof Hy die krukke wegvat en ons planne, organisasie, geleerdheid, en alles van die tafel afvee. As ons besef dat Hy ons enigste hoop is, sal ons Hom aanroep en sal Hy sy krag vir ons wys (soos vir die Israeliete by die Rooi See). Sodoende kry Hy alleen eer.

Dit is wat in v.21 aan die gang is. As God ons in tye soos hierdie met sy bonatuurlike krag en onbegryplike liefde vul, gee ons aan Hom alleen die eer. Alles begin en eindig by God se heerlikheid (v.16, 21, Rom. 11:36). Ons sien veral sy heerlikheid in Jesus—nie net in sy wese as God nie (Joh. 17:5, Heb. 1:3), maar in sy heerlikheid wat Hy in die kerk weerspieël (v.21, 2Kor. 8:23).

Jesus het gekies om nie volkome te wees sonder die kerk nie, net soos wat ’n Hoof nie volledig is sonder ’n liggaam nie (Ef. 1:22-23, 4:13). Jesus was ons om ’n skoon bruid vir Hom te wees (Ef. 5:26-27). So weerkaats ons sy heerlikheid soos ’n spieëlgladde meer die berge weerkaats. Ons sal dit op die aarde doen, totdat Jesus weer kom en alles tot ’n einde bring (v.21). Daarna sal ons dit vir ewig op die nuwe aarde doen (v.21).

Laat dít dan ons grootste gebed wees in die tye waarin ons leef: ‘Verheerlik U Naam! Omdat U heerlikheid volmaak is, kan ek U nie meer heerlik maak as wat U reeds is nie. Laat ander mense egter ’n klein weerkaatsing van U heerlikheid in my lewe sien, veral deur my goeie werke, liefde, gebede, en my gesindheid in moeilike tye, sodat hulle U sal prys.’

Dit laat my dink aan ’n WhatsApp wat ek hierdie week van een van ons lidmate ontvang het. Toe ek die persoon vra hoe dit met hulle beproewings gaan, toe antwoord sy my: ‘…ek probeer hard om te onthou dat ek nie God se heerlikheid klein moet maak en my probleme groot nie. Dit gaan immers nie oor my lewetjie hier op aarde nie—dit gaan oor Hom en die vooruitsig wat ons het op die perfekte lewe.’

Om God so te verheerlik, wys iets van sy waarde, naamlik dat dit beter is om saam met Hom in die storm te wees as in die sonskyn sonder Hom.


1  Tensy anders vermeld, kom aanhalings uit die 2020-Vertaling van die Afrikaanse Bybel.

2  Iain Murray, Pentecost—Today? (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1998), 98

3  Aangehaal in D.A. Carson, A Call to Spiritual Reformation (Grand Rapids, Michigan: Baker Academic, 1992), 198

4  Martin Luther, The Bondage of the Will (Peabody, Massachusetts: Hendrickson Publishers, 2011), Sect. 16, p. 41

Category Efesiers 3:14-21, Gebed