Coram Deo Cover Image

Coming soon...

12 April 2019

Hoe om reg te bid

Image result for hallowed be your name

Matteus 6:9

Party mense sal sê: ‘Daar is nie ‘n regte en verkeerde manier om te bid nie; solank jou hart opreg is.’ Dit ís so dat jy opreg moet wees, maar kan ‘n Moslem nie ook opreg wees nie? En sal ons sê dat hy reg bid, net omdat hy opreg is? Verseker nie. Volgens Matt. 6 is daar ‘n regte en ‘n verkeerde manier om te bid. Ek wil kortliks iets oor die verkeerde manier sê. Daarna sal ek op die regte manier fokus.

 

  1. Soek God se beloning

Soms bid ons elegant voor ander, omdat ons wil hê hulle moet sê: ‘Jy bid pragtig; jou gebed was aangrypend.’ Of ons bly stil in ‘n biduur, omdat ons nie so mooi soos ander kan bid nie. Ons is bang wat mense van ons gaan dink.

Maar vir God gaan dit nie oor wat mense van jou gebede dink nie; dit gaan oor wat Hý sê (v.5-6). Om dan te keer dat jy mense met jou gebede wil beïndruk, moet jy meer op jou eie bid as voor ander (v.5-6). Sorg dat jy ‘n gereelde gebedstyd het waarin jy die Here se beloning soek (v.6, Heb. 11:6). So sal jy jouself leer om die Here se guns te soek en nie die guns van mense nie.

 

  1. Raak stil

Kontemplatiewe gebed is iets wat uit die mistiese tradisie van die Rooms-Katoliekekerk kom. Volgens hulle moet jy ‘n stil plek vind en ‘n ‘heilige’ woord soos Jesus, genade, vrede, ens. kies. Daarna moet jy jou oë toemaak. As jy aan jou besigde dag, ‘n vergadering, of jou probleme dink, moet jy dit met die ‘heilige’ woord vervang. Jy moet hiermee aanhou, totdat die ‘heilige’ woord alle ander gedagtes uitskuif. Daarna moet jy stilsit met jou oë toe en na ‘n paar minute opstaan.

Dit klink na Buddhisme eerder as na Bybelse Christenskap. Dit is nie wat ek bedoel wanneer ek sê jy moet stil raak nie. Ek bedoel eerder dat jy moet dink tot wie jy nader, voordat jy net wegtrek en bid. Hy is die heilige God (v.9, Hab. 2:20). Hy is jou Vader (v.9). Hy sit verhewe as die Koning van die hemel (v.9).

Hy is nie ‘n afgod wie se aandag jy moet probeer trek deur baie woorde te sê nie (v.7, 1Kon. 18:26-29, Pred. 5:1). Jy kan Hom nie manipuleer, omdat jy deur die nag gebid het, vir ‘n week gevas het, of hondernde Christene deur ‘n kettingboodskap oortuig het om saam met jou te bid nie (v.7, Luk. 18:1-8).

Dit gaan nie oor die hoeveelheid woorde wat jy sê, of oor die hoeveelheid mense wat saam bid nie (v.7-8). As jy opreg is en in geloof bid, is ‘n gebed van tien sinne net so aanneemlik soos ‘n nag van gebed (v.9-13, 1Kon. 18:36-38).

 

  1. Onthou die kerk

Ek wil ‘n stelling maak waaroor jy my gaan kwalik neem, maar laat my toe om dit te kwalifiseer en om jou dan uit te daag om jou te bekeer. Hier is die stelling: Oor die algemeen—daar is uitsonderings—is Afrikaanse Baptiste nie mense van gebed nie.

Hoe weet ek dit? Hoeveel bidure (nie Bybelstudies nie) het jou gemeente per week? Hoe baie gesels mense voor die tyd en hoe baie tyd wy hulle aan gebed? Hoeveel mense kom biduur toe?

Dit lyk of ons mense nie Jesus se lering in die Onse Vader verstaan nie: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word... gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.” (v.9, 11-13).

Ons verstaan ook nie die verse in Handelinge wat sê dat die vroeë kerk saam gebid het nie (Hand. 1:14, 2:42, 4:24-31, 6:6, 12:5, 13:3, 14:23, 20:36, 21:5). Ons verstaan nie dat Paulus se opdragte om te bid nie net aan individue gegee is nie, maar dat hy gemeentes beveel het om te bid (Rom. 12:12, 15:30, 2Kor. 1:11, Ef. 6:18-19, Kol. 4:3, 1Tess. 5:17, 25, 2Tess. 3:1, 1Tim. 2:1).

As jy nie deel is van jou gemeente se biduur nie, wil ek jou aanspoor om by een in te skakel. Begin ‘n biduur as jou gemeente nie een het nie. Vra ‘n paar gelowiges om saam met jou te bid vir herlewing, die prediking van God se Woord, sending, evangelisasie, bekerings, geestelike groei, ens. Bid op jou eie en vra die Here om in mense se harte te werk as niemand opdaag nie.

Waar ‘n gemeente in geloof en met die regte gesindheid bid, sal die Here hulle gebede beantwoord (Matt. 7:7-11). Die rede hoekom ons dikwels nie groei, bekerings en seën in ons gemeentes sien nie, is omdat ons nie bid nie (Jak. 4:2). Ons bid vir twee minute voor die diens en probeer dan om nie weer die Here te pla tot volgende Sondag nie. Kom ons bely ons biddeloosheid en begin weer om as gemeentes saam die Here se aangesig te soek.

 

  1. Bid tot die Vader

Ek het laasweek iets gesê oor die leraar van die Grote Kerk in die Kaap wat die Moslems kinders van God genoem het. Baie mense glo dat God almal se Vader is en dat ons almal sy kinders is. Natuurlik is almal God se nageslag in die sin dat Hy ons gemaak het (Hand. 17:28b-29). Hy is egter net die Vader van dié wat in sy Seun glo en deur Hom aangeneem is om sy kinders te wees (Joh. 1:12-13, Gal. 4:5-7, Ef. 1:5, 1Joh. 3:1).

Sonder Jesus is God nie jou Vader nie en het jy nie die voorreg om tot Hom te bid nie. Op ‘n praktiese vlak beteken dit dat jy nie saam met mense van ander gelowe kan bid, asof hulle jou broers en susters is en julle in dieselfde God glo nie (soos op Nelson Mandela se begrafnis). Iemand wat nie in Jesus glo nie, het ook nie die Vader nie (Joh. 14:6, Hand. 4:12, 1Joh. 2:23).

Wat moet jy doen vir God om jou Vader te word? Bekeer jou van jou selfgesentreerde lewe. Glo dat Jesus die Vader se wet perfek in jou plek gehoorsaam het; die wet wat jy onder jou voete vertrap het. Glo dat die heilige Vader sy Seun in jou plek soos stof verbrysel het aan die kruis. Glo dat Jesus begrawe is en na drie dae opgestaan het om die dood se nek te breek. Buig die knie voor Hom as die Here en Baas van jou lewe. Vertrou op Hom soos wat ‘n passasier in ‘n brandende vliegtuig op sy valskerm vertrou.

As jy dit gedoen het, kan jy tot God as jou Vader bid. Hoe beskryf die Bybel God die Vader se wese, karakter en Persoon?

  • Hy het ons gemaak (Deut. 32:6, Jes. 64:8).
  • Hy gee om vir mense wat swaarkry (Ps. 68:6).Hy ontferm Hom oor ons (Ps. 103:12).
  • Hy is goed vir almal (5:45).Hy sorg vir ons (v.8, 26, 32).
  • Hy vergewe ons (v.14, Luk. 15:20-24, 23:34).
  • Hy gee ons die Heilige Geesen alle goeie dinge saam met Hom (7:11, Luk. 11:13, Joh. 14:26, Jak. 1:17).
  • Hy antwoord ons gebede (18:19, Joh. 15:16).
  • Hy seën onsen gee ons sy Koninkryk (25:34, Luk. 12:32, Ef. 1:3, Kol. 1:12-13).
  • Hyis barmhartig en troos ons; Hy gee ons sy genade en vrede (Luk. 6:36, 1:7, 2Kor. 1:3, 2Tess. 2:16-17).
  • Hy gee ons die Brood van die Lewe (Joh. 6:32).
  • Hy hou ons in sy hand (Joh. 10:29).
  • Hy maak sy huis vir ons oop (Joh. 14:2).
  • Hy het ons lief en woon in ons (Joh. 14:21, 23, 16:27).
  • Hy bewaar ons teen die Bose (Joh. 17:11, 15).
  • Hy neem ons aan om sy kinders te wees (Rom. 8:14-17, 2Kor. 6:18).
  • Hy dissiplineer ons in sy liefde (Heb. 12:5-11).
  • Hy gee ons nuwe lewe (Jak. 1:18, 1Pet. 1:3).
  • Hyhet ‘n persoonlike verhouding met ons (1Joh. 1:3).

As jy nog onbekend is met die Vader, kan jy ‘n studie van Jesus se lewe maak. Die Vader openbaar Hom immers in die Seun en is presies soos Jesus (Joh. 1:18, 10:30, 14:9, Kol. 1:15, Heb. 1:3). Dus hoef jy nie bang te wees nie, maar kan jy met groot vrymoedigheid en vertroue tot die Vader bid. Jy hoef nie in sy Vaderlike liefde te twyfel, omdat jy ‘n slegte verhouding met jou aardse pa gehad het nie. Hy is nie ‘n aardse pa nie, maar is jou Vader in die hemel (v.9).

Moet daarom nie soos The Shack, of pro-gay kerke oorreageer en Hom jou hemelse moeder noem nie. Ek weet dat God Gees is en dat Hy daarom nie manlik of vroulik is nie (Joh. 4:24). Hy het Homself egter as ons Vader geopenbaar, met Jesus as sy Seun. Laat ons dan nie die Bybel verander om by ons omstandighede aan te pas nie, maar laat ons ons aan die perfekte Vader onderwerp en tot Hom bid (v.9, 5:48).

Dit is nie sonde om tot Jesus en die Heilige Gees te bid nie (Hand. 1:24, 7:59, 9:13, 17, 1Kor. 16:22, 2Kor. 12:8, Op. 22:20). Die normale patroon is egter gebed tot die Vader, deur die Seun wat vir ons intree, in die krag van die Heilige Gees wat ons lei (v.9, Ef. 2:18).

 

  1. Toon respek

Ek onthou ‘n hoërskool jeugbyeenkoms waar die leier se gebed só begin het: ‘Yes dad!’ Ek self het in my jong dae vir die Here gesê dat hy ‘cool’ is. Ek het al ou mense gehoor praat van ‘die ou man daarbo’. Om vrymoedig te bid, beteken nie jy moet disrespekvol wees en met die Here praat asof Hy jou ‘tjommie’ is nie. Respekteer Hom as jou Vader en onthou dat Hy in die hemel is (v.9, Mal. 1:6).

Die feit dat Hy ons hemelse Vader is, beteken nie dat Hy tot die hemel beperk is nie (1Kon. 8:27). Dit beteken eerder dat Hy die verhewe en soewereine Koning van die hemel is (Ps. 103:19). Bid daarom met vertroue tot die Een wat kan doen ver bo wat ons bid of dink (Ef. 3:20).

Bid ook dat sy Naam geheilig word (v.9). Wat beteken dit? Die Jode het geglo dat God se Naam te heilig is om uit te spreek. Daarom het hulle soms net van ‘die Naam’ gepraat (bv. Lev. 24:11). God se Naam staan vir die volle openbaring van wie Hy is soos opgesom in die Persoon van sy Seun, Jesus Christus (Joh. 1:18, 14:9, 17:6).

Eintlik beteken v.9 dan dat ons sal bid om die Here te heilig (1Pet. 3:15). As die Here hierdie gebed in jou lewe beantwoord, sal jy:

[a] Besef dat Hy uniek is, anders as enigiets of iemand in die skepping. Hy is verhewe bo alles en almal. Hy is geheel en al afgesonder van sonde (1Joh. 1:5). As jy dít verstaan, sal jy jouself nie as die middelpunt van die lewe sien, of dink dat jy die spesiaalste persoon in die wêreld is nie. Jy sal eerder die Here se grootheid sien en Hom bewonder.

[b] Nie die Here se heilige Naam met jou woorde of lewe deur die modder sleep nie (Eseg. 36:20, 22-23, Tit. 1:16). Jy sal eerder só lewe dat mense in jou lewe kan sien hoe heilig die Here is (Matt. 5:16, 1Pet. 1:15-16).

[c] Die Here vrees en Hom respekteer. Jy sal nie grappe maak oor die hemel, die oordeelsdag, of die hel nie. Jy sal die Here eerder aanbid vir sy heerlikheid in die hemel, sy vurige toorn in die hel, sy heiligheid en geregtigheid op die oordeelsdag.

[d] Nooit sy Naam as ‘n vloekwoord gebruik, of ‘n boek of film goedkeur waarin mense dit misbruik nie (Eks. 20:7).

[e] Nie sy Naam as ‘n niksseggende herhaling in jou gebede gebruik nie (v.7): ‘Vader, help ons om U te eer, Vader... Vader, voorsien asb. in ons behoeftes, Vader... Vader, ons vra dat U asb. ons sonde vergewe, Vader.... Vader... ens.’

[f] Nie goedkoop beloftes in die Here se Naam maak en dit dan breek nie (Lev. 19:12). Dit geld vir jou huweliksbeloftes, die belofte om jou kinders in die Here se weë groot te maak, die belofte om dit of dat te doen as Here jou uit die krisis help, ens. (Spr. 2:17, Pred. 5:3-4, Mal. 2:14).

[g] Nie dagdroom nie, maar dink wat jy sê wanneer jy tot die Here bid of sing. Vir dieselfde rede sal jy oor die algemeen ook nie rympies bid nie.

God se Naam is heilig. Saam met die Woord het Hy sy Naam bo alles gestel (Ps. 138:2, NAV). Eerbiedig Hom. As jy só bid, sal dit vir die Here aanneemlik wees. Jy kan nie respek kunsmatig opwek, of dit namaak soos die jong seun wat gehoor het hoe die ou mense bid en sy gebed soos hulle s’n begin het nie: ‘O, Here!’ Dit moet uit die hart kom.

Kategorieë