Lukas 18:9-14
‘Wanneer ons bid, moet ons nie sê hoe lief ons God het nie, maar ons moet Hom dank dat Hy ons liefhet.’ Dit het ’n vriend eenkeer vir my gesê. My reaksie was die volgende: ‘Aan die begin van Psalm 118 verklaar Dawid sy liefde aan God. In Johannes 21 vra Jesus vir Petrus of hy Hom liefhet. Petrus sê drie keer: “Ja Here, U weet dat ek U liefhet.” ’
Maar vandag verstaan ek wat my vriend bedoel het. Ons roem te maklik dat ons God liefhet, terwyl ons Hom glad nie liefhet soos ons moet nie: “Many a man proclaims his own steadfast love, but a faithful man who can find?” (Spr. 20:6, ESV). Dit is reg dat jy jou liefde vir God verklaar, maar moenie daarin roem nie. Dank God liewer dat Hy jou, ’n sondaar, liefhet. Dit was die verskil tussen die Fariseër en die tollenaar se gebed.
1. Die selfregverdige Fariseër (v.9-12)
Wanneer ek mense vra of hulle hemel toe gaan, sê die meeste ja. As ek vra hoekom, vertrou hulle op hulle eie goedheid. Maar God se oë is te rein om sonde te aanskou (Hab. 1:13). Hy vervloek elkeen wat die wet nie volmaak nakom nie (Gal. 3:10). Ons is in sonde gebore (Ps. 51:7). Voor God is niemand goed nie, maar almal is sondaars (Rom. 3:10-12, 23).
Die meeste mense weet hulle is nie perfek nie, maar glo God sal hulle klein foute oorsien as hulle goeie dade swaarder weeg. Probeer dit in die hof. Gestel jy vermoor iemand. Jy word gevang en skuldig bevind, maar sê vir die regter: ‘My goeie dade is meer as my sonde. Sekerlik kan dit die moord uitkanselleer!’ Sal die regter jou vrylaat? Natuurlik nie. En hoekom dink jy God sal jou aanvaar as jou goeie dade meer as jou sonde weeg?
Iemand sal sê: ‘God is nie ’n aardse regter nie.’ Jy is reg, Hy’s strenger. Nie alleen oordeel Hy mense se woorde en dade nie, maar hulle harte, motiewe en gedagtes (Rom. 2:16, Heb. 4:12-13). Wie sal dit waag om te sê: ‘Oordeel my asseblief volgens al my woorde, dade, gedagtes en motiewe’? Sê liewer saam met Paulus in Fil. 3:4-9:
“As iemand anders dink dat hy op menslike dinge kan vertrou, ek nog meer—Ek is besny op die agtste dag, afkomstig uit die volk Israel, uit die stam van Benjamin, ’n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ’n Fariseër, wat ywer betref, ’n vervolger van die kerk, wat geregtigheid op grond van wetsbeoefening betref, onberispelik. Maar alles wat vir my wins was, reken ek nou as verlies, ter wille van Christus. Inderdaad reken ek alles as verlies, ter wille van die uitnemendheid daarvan om Christus Jesus, my Here, te ken. Ter wille van Hom, het alles vir my ’n verlies geword, en beskou ek dit as vullis, sodat ek Christus as wins kan verkry, en in Hom bevind kan word—nie met my eie geregtigheid op grond van die wet nie, maar met die geregtigheid deur geloof in Christus, die regverdiging wat van God kom, deur die geloof”.1
Wie homself teen die slegtes meet, dink hy is goed. Hy is sag op sy eie sonde, maar hard op sy lewensmaat, kinders, kollegas en ander motoriste s’n. Hy sien splinters in almal se oë, maar mis die balk in sy eie oog (6:41). Die Fariseër was so. Hy het homself as die room van Israel beskou. Hy het die Ou Testament noukeurig bestudeer en gedink sy interpretasie daarvan is gelyk aan die wet self (Mark. 7:1-13). Die Jode het daagliks om 09:00 en 15:00 in die tempel gebid (Num. 28:4, Hand. 2:15, 3:1). Die Fariseër het opsigtelik gebid in die hoop dat mense hom sou raaksien (v.10-11, 13, Matt. 6:5).
Tollenaar het ook gebid (v.10). Mense het hom verag. Hy het van sy eie volk belasting vir die Romeine ingevorder. Gierigheid het hom gedryf om meer in te samel as wat hy moes (3:12-13). Hiervoor het sy volksgenote hom nog meer gehaat.
Die Fariseër het eenkant gestaan en bid (v.11). Fariseër beteken afgesonder. Die Fariseër in ons teks het probeer om homself van onrein sondaars af te sonder (v.11). Hy het gedink die volk is benede hom en dat hy op ’n hoër plein lewe (v.11). Een Rabbi het byvoorbeeld gesê: ‘I have seen members of the caste of the spiritually prominent, who are truly righteous, and they are few. If they number one thousand, I and my son are among them. If they number one hundred, I and my son are among them; and if they number two, I and my son are they.’2
Die Fariseër was so. Hy het sy gebed tot God gerig, maar het sy eie stert geprys. Hy het gesê: “God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is, wat roof, onreg doen en egbreuk pleeg nie, en ook nie soos hierdie tollenaar nie.” (v.11).
Sê jy dieselfde? Sê jy miskien: ‘Darem is ek nie soos die Fariseër nie’? Dan is jy presies soos hy. Soos ’n skaap in groen weiding lyk jy wit. Meet jouself egter aan God se standaard. By Hom is bitterheid gelyk aan moord en pornografie gelyk aan egbreuk. Wie vir ander redes as seksuele sonde skei en weer trou, pleeg egbreuk. Jy mag nie sweer nie, maar moet betroubaar wees. Jy moet jou vyande liefhê en hulle nie terugkry nie. Jy moet so volmaak soos God self wees (Matt. 5:21-48). Hoe lyk jou lewe nou? Skielik is jy so vuil soos ’n skaap in die sneeu!
As die Fariseër homself net teen wou God meet, sou hy nie in sy goedheid roem nie, maar erken hy is presies soos ander mense: hy steel weduwees se geld (20:47), pleeg egbreuk (Matt. 16:1, 4) en oortree die wet deurdat hy die Messias wou doodmaak (Joh. 7:19, 23).
Moet jou sonde nie ontken nie, maar bely dit. 1Joh. 1:8-10 sê: “As ons sê dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself, en is die waarheid nie in ons nie. As ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig. As ons sê dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.”
Roem in die Here en nie in jouself nie (1Kor. 1:31). Die Fariseër het gedink hy het rede om te roem. Nie alleen het hy die wet nagekom nie, maar hy het meer as dit gedoen. Levitikus 16 sê God het van sy volk vereis om een keer per jaar te vas. Die Fariseër het meer as dit gedoen en twee keer per week gevas.3 God se volk moes ’n tiende van hulle inkomste vir die Here gee. Die Fariseër het ’n tiende van sy salaris gegee en as hy kruideniers koop, het hy ’n tiende daarvan gegee—selfs van sy kruie (v.12, 11:42)!
Dit is nie sonde om so te gee of te vas nie. Die probleem is as jy dink God vereis dit, of dat jy daardeur sy guns kan wen. Voor hulle bekering het George Whitefield en die Wesley broers so gedink. In Oxford het hulle die Holy Club gestig in die hoop dat God hulle vir hulle streng dissipline sal aanvaar. Hulle het die gevangenes besoek, arm mense gehelp en Bybels uitgedeel. Hulle het mistiese boeke gelees, daagliks om 09:00, 12:00 en 15:00 gebid, en op Woensdae en Vrydae gevas.4
Mense wat hulle eie geregtigheid probeer opbou, voel skuldig as hulle hulle eie reëls breek en trots as hulle dit nakom. Hulle voel skuldig as hulle nie vir ’n uur bid nie, trots as hulle vas, skuldig as hulle nie ’n sekere dieet volg nie en trots as hulle vir ’n uur die Bybel lees. Hulle soek hulle eie roem en nie God s’n nie. Hulle doen hulle werke om deur mense gesien te word (Matt. 6:16, 5, 2). Daarom sit hulle hulle naam langs ’n EFT as hulle iets vir die kerk inbetaal.
Ware godsdiens is nie so nie: dit roem nie oor die uiterlike nie, maar wil God innerlik behaag (Matt. 6:3-4, 6, 17-18, 23:23).
2. Die sondige tollenaar (v.13-14)
Die tollenaar het besef God is heilig en hy ’n sondaar, daarom het hy op ’n afstand bly staan (v.13, Jer. 30:21). Hy was skaam oor sonde en wou nie volgens die Joodse gebruik opkyk hemel toe nie (v.13, Ps. 123:1, Joh. 17:1). Hy het berouvol op sy bors geslaan (v.13, 23:48). Dit was simbolies van die pyn in sy hart. Nie alleen was hy jammer oor sy slegte dade nie, maar oor wie en wat hy is, naamlik dié sondaar (Gk.). Hy het geweet hy verdien straf, daarom het hy hom op God se barmhartige karakter beroep (v.13, Eks. 34:6-7). Heel moontlik het hy ’n offer gebring en gebid dat God die offerlam in sy plek aanvaar, sy toorn onttrek en gunstig op hom let (v.13, Gk. hilaskomai).
Wens jy vir dieselfde? Is jou sonde so erg jy kan nie eers opkyk nie? Veroorsaak jou hartseer ’n fisieke pyn in jou bors? Besef jy jou sonde is dieper as jou aksies en dat jou hele menswees vol sonde is (v.13)? Besef jy jy is nie goed nie, maar sleg en dat jy die hel verdien? Appeleer tot God se genade in Christus. Sê saam met 1Joh. 2:1-2: “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, sodat julle nie moet sondig nie; en wanneer iemand sondig, het ons Jesus Christus, die Regverdige, as Parakleet (Advokaat of Helper) by die Vader. En Hy is die versoening vir ons sondes—nie net vir óns sondes nie; maar ook vir dié van die hele wêreld.”
Dit maak nie saak hoe sleg jy was nie: deur Christus sien God jou, die prostituut, die predikant en gelowiges in die hemel dieselfde: volmaak deur Christus se geregtigheid. Sag. 3:3-5 sê: “Josua het in besmeerde klere voor die engel gestaan. Hierop het die engel gereageer en aan diegene wat voor hom staan, gesê: ‘Trek sy besmeerde klere uit.’ Vir Josua het hy gesê: ‘Kyk, ek het jou sondeskuld van jou weggeneem en ek sal vir jou feesklere aantrek.’ Daarop sê ek: ‘Laat hulle ’n skoon tulband om sy kop draai.’ Terwyl die engel van die Here daar staan, het hulle die skoon tulband om sy kop gedraai en vir hom die klere aangetrek.”
Sê jy dit is onregverdig, want hoe kan ’n predikant en ’n prostituut voor God dieselfde wees? Wie dit vra begryp maar min van sy eie slegte hart en God se genade. Hy is nog soos die Fariseër wat dink Hy is beter as ander. Niemand kan deur sy eie goedheid reg wees met God nie. God aanvaar nie muffins vol gif, of ’n godsdienstige lewe vol sonde nie.
Wil jy reg wees met God? Verneder jouself. Sien af van jou eie geregtigheid en bely jy is ’n hopelose sondaar (v.13). Hoop op Christus se lewe en dood in jou plek; op sy sondelose lewe en volmaakte offer vir sondaars (2Kor. 5:21). Hoor as God vir jou sê: ‘Ek verklaar jou onskuldig en regverdig (v.14a). Jou sonde is jou vergewe; jou geloof het jou gered (5:20, 7:50).’
As jy jou verneder, sal God jou uit die stof optel (v.14, Ps. 113:7-8).
Sê jy jy’s nie so sleg soos ander nie, sodat jy op hulle neerkyk? God sal jou verneder (v.14, Ps. 147:6, Spr. 16:18, Jes. 14:12-15). Verneder jouself liewer soos die tollenaar en ander Bybelkarakters (v.13, Gen. 18:27, 32:10, 1Kron. 29:14). Buig op jou knieë voor die Vader, terwyl jy erken jy is klein en Hy groot (Ef. 3:14). Dit het Martyn Lloyd-Jones op sy sterfbed besef. Toe Iain Murray hom besoek, toe sê hy: ‘As jy op jou sterfbed lê, is Christus al wat saakmaak. Jou eie geregtigheid beteken niks nie, maar is soos ’n besoedelde kleed. Al wat tel is dat jy in Jesus Christus glo.’
Hierop het Iain Murray geantwoord: ‘Toe ek jonger was, het ek gedink dit is simpel dat ons sterwende voorvaders sê: “Wees my ’n sondaar genadig.” Lloyd-Jones het gesê: ‘Ek het dieselfde gedink, maar nou kan ek soos Daniel Rowland sê: “I am nothing but an old sinner saved by the grace of God.”5
Elke Christen kan dit sê: ‘Ek is die vernaamste van sondaars; wees my ’n sondaar genadig’ (v.13, 1Tim. 1:15). Soos ’n tannie in ons gemeente altyd gesê het: ‘Genade, alles is net genade.’
1 Aanhalings uit die 2020 Vertaling.
2 Talmud Sukkah 45b.5. Verkry by https://www.sefaria.org/Sukkah.45b?lang=bi
3 Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Luke (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1974, 1988, 2008), 282.
4 Nick Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Vol. 5 (Fearn, Ross-shire: Christian Focus, 2023), 103-4.
5 Iain H. Murray, D. Martyn Lloyd-Jones: The Fight of Faith (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1990), 744.