Coram Deo Cover Image

Coming soon...

17 May 2019

Hoe om oor geld te bid

Image result for old man praying

Matteus 6:11

Die meeste mense bid verkeerd wanneer dit by geld kom. Vir party mense is dit al waaroor hulle bid. Hulle beskou die Here as ‘n kosmiese dobbelmasjien wat bestaan om vir hulle geld te gee.

Ander is ryk en bid glad nie oor geld nie. Hulle erken nie dat hulle besittings van die Here af kom en dat hulle Hom nodig het nie. In Matt. 6:11 leer Jesus ons om gebalanseerd oor geld te bid. In ‘n sekere sin is Matt. 6:11 die Nuwe Testamentiese eweknie van Spr. 30:7-9:

“Twee dinge vra ek van U; onthou dit nie aan my voordat ek sterf nie: Hou valsheid en leuentaal ver van my af; gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is; dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: Wie is die Here? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van my God vergryp nie.”

 

  1. Bid vir jouself

In 2007 het SASOL my broer en skoonsuster Amerika toe gestuur. Hulle moes SASOL se opdragte uitvoer en het nie nodig gehad om oor iets anders te bekommer nie. SASOL het hulle paspoorte, visums, vliegtuigkaartjies, verblyf, etes, alles betaal.

God het jou op die aarde gesit om sy wil te doen (v.10b). Hy sal jou van die nodige kos en energie voorsien om dit reg te kry (v.11, 33). Maar daar is ‘n spesifieke manier hoe Hy dit doen: deur gebed (v.11). Ek bedoel nie dat jy nét moet bid en dan kan terugsit, terwyl jy vir die Here wag om vir jou kos te stuur nie (alhoewel Hy dit maklik kan doen, vgl. 1Kon. 17).

Ek bedoel eerder dat jy nie op jou eie vermoëns en planne moet staatmaak in die maniere waarop jy jou geld verdien nie. Moenie dink dat jy ‘n selfgemaakte mens is en dat jou rykdom uit jouself is nie (Deut. 8:18, 1Sam. 2:7, Spr. 22:2). Erken die Here en vra Hom om in jou behoeftes te voorsien. Die normale manier hoe Hy dit doen is deur werk. Daarom kan jy nie v.11 bid as jy lui is, laat slaap, nie bereid is om werk te soek, of dink dat die kerk of iemand anders vir jou moet sorg nie.

Jy kan ook nie v.11 bid as jy geld op verkeerde maniere probeer kry soos om te kul met besigheid, deur diefstal, deur die LOTTO of ander vorme van dobbel, deur slegte skuld, deur jou bydrae vir die Here se werk terug te hou, deur jouself ryk te ‘spreek’ (‘name-it-and-claim-it’), of deur jouself in die hospitaal in te stres nie (v.25-34, 4:3-4, Eks. 20:15, Spr. 11:1, 22:7, 28:20, 22, Mal. 3:8, Rom. 12:7-8). Om geld op verkeerde maniere te wil kry, wys dat jy nie die Here vertrou nie, dat jy Hom nie as ‘n goeie Vader beskou wat in jou behoeftes kan voorsien nie, dat jy ontevrede is met wat die Here jou gee, of dat geld jou god is. Hoekom bid jy nie eerder vir wat jy nodig het nie (v.11)?

 

  1. Bid vir ander

Ek het eenkeer Martin Holdt se gebedslys gesien. Dit was ‘n boek vol name so dik soos my joernaal. Hy het elke dag vir honderde mense gebid. Hy het Jesus se opdrag in die Onse Vader gehoorsaam deur nie net vir homself te bid nie, maar vir ander: “gee ons vandag ons daaglikse brood” (v.11). Dit is dan nóg ‘n manier hoe die Here in ons behoeftes voorsien; deurdat ons vir mekaar bid en met mekaar deel (v.11, Deut. 15:7-11, Hand. 2:44-45, 4:34-37, 2Kor. 8:14-15, 9:8-11, Ef. 4:28, 1Tim. 6:17-19, Heb. 13:16, 1Joh. 3:17-18).

Bid jy vir arm gelowiges in jou gemeente, jou familie, jou vriendekring, ons land, lande soos Zimbabawe, sendelinge, en die vervolgde kerk? Wanneer laas het jy iets met hulle gedeel? As jy net vir hulle bid en nie ook jou hand in jou sak steek om hulle te help nie, is jou geloof vals (Jak. 2:15-16).

En tog moet jy nie onwys met die Here se geld omgaan nie. Wie moet jy help? Volgens die Bybel moet jy eers jou gesin en die arm mense in jou familie help. As jy dit nie doen nie, is jy skynheilig en slegter as ‘n ongelowige—al gee jy ook hope geld vir die kerk (Matt. 15:5-7, 1Tim. 5:8). As jy klaar jou gesin en familie versorg het, moet jy jou medegelowiges help (v.11, ‘ons’). Gelowiges kry voorkeur bo ongelowiges (Gal. 6:10). ‘Charity begins at home’.

Hoe kan jy weet of jy vir die regte broers en susters gee? Maak in die eerste plek seker dat jou gemeente goeie leiers het. As die leiers ‘n goeie karakter het, kan jy vir die gemeente bydra en vertrou dat hulle die geld reg sal aanwend om die arm gelowiges te help (Hand. 6:1-7, 2Kor. 8:20-21).

Om vir die regte gelowiges te gee, moet jy ook seker maak dat hulle nie lui is nie: “as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” (2Tess. 3:10). Omdat ‘n lui persoon nie sy brood op die Here se manier wil verdien nie, is hy nie deel van die ‘ons’ (v.11) vir wie se daaglikse brood jy moet bid nie. Jy hoef ook nie vir hom iets te gee nie, aangesien dit hom sal help om aan te hou lui wees. Moenie sy luiheid koester nie. Hy wíl nie sy eie brood verdien nie, maar wil dit uit die kerk en individue se monde steel. Hy steel die geld wat ons vir iemand anders kon gee wat dit regtig nodig het.

In plaas daarvan dat jy vir so iemand se daaglikse brood bid, moet jy bid dat hy hom van sy luiheid bekeer. Moet hom nie ’n vis gee nie, maar help hom om werk te kry, sodat hy sy eie vis kan vang en dit met ander kan deel. As hy nie wil ag slaan op jou pogings om hom te help nie, moet jy geen gemeenskap met hom hou nie (2Tess. 3:6, 14).

Daar is nóg ’n les in Jesus se opdrag om vir ‘ons’ brood te bid: vir die Here is dit geen moeite om in al sy kinders se behoeftes te voorsien nie. As Hy ‘n paar miljoen Jode vir veertig jaar van manna kon voorsien, kan hy jou maklik help as jy R100 of R100 000 nodig het.

‘n Predikant in Johannesburg vertel dat hulle gemeente R50 000 nodig gehad het vir ‘n drukker waarmee hulle Bybels wou druk. Toe hy dit die Sondag wou afkondig, toe besef hy dat hulle R100 000 kort. Hy het vir die gemeente gesê dat hulle die volgende Sondag ‘n offergawe vir die drukker gaan opneem. ‘We took up R100 000 to the cent,’ het hy gesê.

Is God jou Vader en jy sy kind? Bring dan jou behoefte na Hom toe. Wees ook bereid om te werk om jou daaglikse brood te verdien en glo dat die Here vir jou sal gee wat jy nodig het.

 

  1. Bid elke dag

Het jy al mense ontmoet wat jou net ken as hulle geld nodig het? Hulle is soos die bedelaar by jou hek, die Prosperity prediker op TV en die rebelse tiener wat jou soos ‘n OTM wil gebruik om geld te kry. Ek kan my kop op ’n blok sit dat hulle gebede ook so lyk en dat hulle net bid wanneer hulle in ’n krisis beland en hulle die Here ‘nodig het’.

Volgens Jesus moet ons nie so wees nie, maar moet ons elke dag bid: “gee ons vandag ons daaglikse brood” (v.11). Ek en jy het die Here nodig vir elke asemteug, elke hartklop, elke tree van die pad, elke kriesel brood en jou hele lewe (Joh. 15:5, Hand. 17:25, 28).

Omdat ons nie vir ‘n daaglikse loon hoef te werk soos die mense in Jesus se tyd, of soos die Israeliete in die woestyn daagliks vir manna uit die hemel hoef te wag nie, erken ons dit nie altyd nie. Ons het genoeg kos, geld en petrol om ons ‘n maand te hou. Omdat dit so is, bid ons nie elke dag nie. Ons ignoreer v.11. Of ons oortree v.34 en raak angstig wanneer die maand se voorraad opraak. Ons vertrou nie die Here vir ons daaglikse brood nie. En hoe is jy veronderstel om ‘n verhouding te bou met iemand as jy hom net aan die einde van die maand ‘pla’ wanneer jy petrol nodig het, of as die suiker op is?

Die Here wil hê dat jy elke dag na Hom toe moet kom. Dit geld ook as jy ryk is. Dank die Here vir sy voorsiening, erken dat alles wat jy het van Hom af kom, bely dat jy Hom nodig het, besef dat Hy jou rykdom in ‘n oomblik kan wegvat en bid vir geleenthede om ander te help (5:45, 14:19, 1Kron. 29:14, Job 1, Ps. 86:1, 145:16, Hos. 2:5, 8, 1Kor. 4:7, 1Tim. 4:4-5, Jak. 1:17).

Beteken daaglikse afhanklikheid jy mag nie geld spaar, of vir die toekoms beplan nie (Spr. 6:6-8, 13:22)? Nee. Die punt is eerder dat jy selfs in jou beleggings die Here moet vertrou en nie angstig moet raak oor die toekoms nie (v.34).

Ons daaglikse brood impliseer verder dat die Here vandag vir jou sal gee wat jy nodig het, en dat Hy vir jou sal gee wat jy vandag nodig het. Hy sal jou m.a.w. nie tot môre laat wag as jy dit vandag nodig het nie (v.11, 7:9-10, Spr. 3:27-28). Maar Hy sal dit ook nie noodwendig vandag gee as jy dit eers môre nodig het nie.

Dalk dink jy jy het dit vandag nodig, maar die Here weet beter. Sy tydsberekening is perfek. Hy sal vir jou genoeg gee om deur die dag te kom. Hoe weet ek dit? Want jy is nog hier. Jy het m.a.w. genoeg gehad om te oorleef en God se wil te doen. “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.” (Ps. 37:25).

Dalk maak jy beswaar dat jy iets nodig gehad het en dat die Here dit nie voorsien het nie. Maar was dit regtig ‘n behoefte? ‘Ja, dit was,’ sê jy. Het jy die Here daarvoor vertrou, of het jy jouself op ‘n verkeerde manier probeer uithelp? Het jy opgehou bid, of met selfsugtige motiewe gebid (Jak. 4:2-3)? Het jy jou linkerhand uitgehou om te ontvang, terwyl jou regterhand besig was met sonde (Ps. 66:18)? As jy jou situasie reg beskou, sal jy sien dat die Here nie die Een is wat ontrou was nie. Jy was.

 

  1. Bid vir jou behoeftes

Mense wat die Prosperity Gospel aanhang, verstaan nie die Bybel nie. Volgens húlle belowe die Here gesondheid, voorspoed en rykdom vir al sy kinders. Maar volgens Jesus moet ons vir ons daaglikse brood bid en nie vir ons daaglikse koek, biltong, kreef, sjokolade, Appletizer, of ingevoerde kaas nie.

‘Ons daaglikse brood’ verwys na die dinge wat ons elke dag nodig het om te oorleef. Ons bid m.a.w. vir reën, kos, klere en ‘n plek om te bly (v.25-34, 1Tim. 6:8). Natuurlik gee die Here soms meer, sodat ons met ander kan deel (1Tim. 6:17-19). Ons moet egter nie kwaad raak as die Here nie vir ons luukshede gee nie. Hy skuld ons niks. Wees daarom dankbaar vir die bietjie wat jy het.

‘Ons daaglikse brood’ verwys ook na geestelike brood. In die Ou Testament het die priesters elke dag vars brood vir die tabernakel, of die tempel gebak. Terwyl die nasies kos vir hulle gode moes offer, het die daaglikse brood in die tempel gewys dat die Here sy volk versorg. Hy is die Brood van die Lewe wat ons siele voed (4:4, Jes. 55:1-2, Ps. 16:5, 73:25-26, Joh. 6). Hy versadig ons met Homself deur die Skrif, vas, gebed en die nagmaal.

Het jy al hierdie warm, soet en vars brood geproe? Voel jy geestelik versadig? Of tas jy nog in die wêreld rond om jou honger te probeer stil? Wanneer sal jy agterkom dat die drank wat jy so graag misbruik, die geld wat jy jaag, die plesier wat jy in seksuele sonde en pornografie soek, die pille wat jy drink jou nie die vervulling bied waarna jy so desperaat opsoek is nie? Selfs met baie vriende om jou voel jy nog eensaam. Die nuwe klere, liggaam en haarstyl waarvoor jy so baie betaal het, is ook al oud. Dit was maar net ‘n quick fix, maar binnekant voel jy nog leeg.

Jesus is die enigste Een wat jou honger kan stil: “Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.” (Joh. 6:35). Hoekom kom jy nie vandag na Hom toe nie? Dalk huiwer jy, omdat jy te veel droog gemaak het en dink Hy kan jou nie vergewe nie. Maar is jou sonde groter as sy genade (Rom. 5:20)? Dalk wil jy nie kom nie, omdat jy te sleg is en oortuig is Hy sal jou nie aanneem nie. Maar sal Jesus soos ‘n Lam geslag word vir sondaars en uitbloei aan ‘n kruis, om jou dan net te ignoreer as jy om genade roep (Rom. 8:32)? Wat moet Hy meer doen om jou van sy liefde te oortuig?

Hy het jou lief; so lief dat Hy nie net in jou aardse behoeftes wil voorsien nie. Hy wil aan jou ‘n Koninkryk gee (v.10a, 25:34, Luk. 12:32). As jy dit bo alles soek, sal Hy ook vir jou die brood gee wat jy nodig het (v.11, 33). Jy sal soos ‘n arm man in Indië wees wat ‘n boodskap ontvang dat hy ‘n biljoenêr se landgoed in Amerika erf. Sal die biljoenêr vir hom die landgoed gee en nie ook sy vliegtuigkaartjie, hotelkamer, huurmotor en etes betaal tot hy in Amerika kom nie? En sal die Here vir jou ’n Koninkryk gee en nie ook die kos wat jy nodig het om veilig daar uit te kom nie?

Kategorieë