“13:10 Vermetelheid gee net getwis af; maar by die wat hulle laat raai, is wysheid. 16:28 ‘n Man van valse streke saai tweedrag, en ‘n kwaadstoker skei vriende van mekaar. 17:14 Die begin van ‘n onenigheid is soos water wat jy laat deurbreek; daarom, laat die twis vaar voordat dit losbreek. 17:19 Wie twis liefhet, het oortreding lief; hy wat sy deur hoog maak, soek verbreking. 18:19 ‘n Broer teen wie oortree is, is erger as ‘n sterk stad; en geskille is soos die grendel van ‘n paleis. 20:3 Dit is ‘n eer vir ‘n man om van twis weg te bly, maar elke sot breek los. 22:10 Dryf die spotter weg, dan gaan die twis weg; en die stryery en die geskimp hou op. 26:17 Hy wat ‘n verbylopende hond aan die ore gryp, is een wat hom vererg oor ‘n twis wat hom nie aangaan nie. 26:20 Deur gebrek aan hout gaan die vuur dood, en as daar geen kwaadstoker is nie, bedaar die twis. 26:21 Soos kole die gloed en hout die vuur laat opvlam, so is ‘n twisgierige man om ‘n twis aan te hits. 28:25 Die hebsugtige verwek twis; maar hy wat op die HERE vertrou, word verkwik.” (Spreuke).
Die oorsake van konflik
[1] 'n Vriend van my het raad aan sy susterskind gegee. Die jongman wou nie die raad aanvaar nie en het kwaad geword. Dit het natuurlik op twis uitgeloop. Wat was die eintlike oorsaak van die argument? Hoogmoed. 'n Trotse persoon dink hy weet alles en is nie gewillig om raad te ontvang nie: “Vermetelheid gee net getwis af; maar by die wat hulle laat raai, is wysheid.” (13:10). As ander mense nie sý punt insien nie, baklei hy met hulle. Jy kan maar weet dat iemand wat gereeld met ander vassit 'n hoogmoedige mens is. Iemand wat twis vermy is wys. Hy is oop om geleer te word en verkry só wysheid (13:10b).
[2] Skinder laat twis soos 'n brand versprei: “‘n Man van valse streke saai tweedrag, en ‘n kwaadstoker skei vriende van mekaar.” (16:28). Dit laat my dink aan 'n storie wat my kinders gereeld kyk – Die Brakkers. In die storie vertel 'n sekere mnr. Pretorius vir Hendrik dat Gieljan 'n wrok teen hom het. Hy gaan dan na Gieljan toe en sê dat Hendrik 'n wrok teen hóm het. Dié twee is kwaad vir mekaar en wil die ding uitbaklei. Uiteindelik kom die storie uit: Tydens sy vakansie het Gieljan 'n blok (nie wrok) sjokolade vir Hendrik gekoop. Mnr. Pretorius het toe ‘blok’ in ‘wrok’ verander en tweedrag gesaai. Moenie soos mnr. Pretorius wees, en die hout van skinder laai, om so die vuur van twis aan die gang te hou nie: “Deur gebrek aan hout gaan die vuur dood, en as daar geen kwaadstoker is nie, bedaar die twis. Soos kole die gloed en hout die vuur laat opvlam, so is ‘n twisgierige man om ‘n twis aan te hits.” (26:20-21).
[3] Dwaasheid lei na twis, terwyl 'n eerbare persoon dit vermy: “Dit is ‘n eer vir ‘n man om van twis weg te bly, maar elke sot breek los.” (20:3). Dit is kinderagtig vir 'n man en vrou om te stry oor waar die tandepasta gedruk moet word of watse kant toe die toiletrol moet kyk. Hoekom stry ons oor 'n stuk metaal of papier (geld); oor watse kos jý nie kon kry nie? Stop dit. Die dwaas kan net nie die versoeking om te twis weerstaan nie. Volg eerder die voorbeelde en lering van die Bybel: “En daar het twis ontstaan tussen die veewagters van Abram en die veewagters van Lot. Ook het die Kanaäniete en Feresiete destyds in die land gewoon. Toe sê Abram vir Lot: Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou, en tussen my wagters en jou wagters nie; ons is mos broers. Lê die hele land nie voor jou oop nie? Skei jou tog van my af; gaan jy links, dan sal ek regs gaan, en gaan jy regs, dan sal ek links gaan.” (Genesis 13:7-9). “toe [Jesus] uitgeskel is, [het Hy] nie terug uitgeskel nie; toe Hy gely het, [het Hy] nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:23). “Jaag die vrede na met almal...” (Hebreërs 12:14). 1 Petrus 3:11 sê die persoon wat goeie dae wil sien moet “vrede soek en dit najaag.” Natuurlik moet ons nie ten koste van die waarheid konflik vermy nie. Soos die Engelse spreekwoord lui: ‘Peace if possible, truth at any cost.’
[4] Wanneer mense inmeng in sake wat niks met hulle te doen het nie, lei dit tot twis. Om dít te doen is soos om 'n vreemde straatbrak aan die ore te gryp: “Hy wat ‘n verbylopende hond aan die ore gryp, is een wat hom vererg oor ‘n twis wat hom nie aangaan nie.” (26:17). Daar is baie kwaai honde in ons wêreld. As kind is my suster twee keer deur ‘n Rottweiler gebyt toe sy die hond probeer vryf het. Mense in Nelspruit se Rottweiler het nie daarvan gehou dat ‘n mens aan sy ore vat nie. Maar Salomo se beeld in 26:17 moenie in ons konteks geïnterpreteer word nie. Honde in ou Israel was baie wreder en gevaarliker as ons moderne troeteldiere. Dit was nie vreemd vir ‘n hond om ‘n mens se lyk te verskeur en op te vreet nie (sien 2 Konings 9:35-36). Wat is die les? Moenie in argumente betrokke raak wat jou nie aangaan nie – jy sal gebyt word. Soms moet jy intree, maar 26:17 is die algemene reël. Twee ander tekste wat dieselfde les leer is Spreuke 3:30 en 1 Tessalonisense 4:11: “Twis nie sonder oorsaak met ‘n mens as hy jou geen kwaad gedoen het nie... julle eer daarin te stel om rustig te lewe en julle eie sake te behartig en met julle eie hande te werk, soos ons julle beveel het”.
[5] Gierigheid is 'n definitiewe oorsaak van twis: “Die hebsugtige verwek twis...” (28:25a). Een koerantopskrif het gesê: ‘Hou op stry oor Madiba se geld’. Die gierige persoon sal baklei vir meer geld, en as hy dit nie kan kry nie sal hy nog verder baklei: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie...” (Jakobus 4:1-2a).
Die gevolge van konflik
[1] Familie-verhoudings word versuur – so erg dat dit byna onmoontlik word om dit op te los. Dit is soos stadsmure of die grendels van 'n kasteel: “‘n Broer teen wie oortree is, is erger as ‘n sterk stad; en geskille is soos die grendel van ‘n paleis.” (18:19). Dit is maklik om hierdie mure op te bou en baie moeilik om dit af te breek.
[2] Soos die vloedwater van 'n rivier, kan konflik choas veroorsaak: “Die begin van ‘n onenigheid is soos water wat jy laat deurbreek; daarom, laat die twis vaar voordat dit losbreek.” (17:14). Twis kan lei tot egskeiding, gebroke families, lelike skoonfamilie probleme, kerke wat skeur, werksverhoudings wat versuur word, en sonde met die bure.
Die oplossing van konflik
[1] Waar begin hierdie verwoestende vloed waarvan ek nou-net gepraat het? Dit begin dikwels by ‘n kraak in die damwal. As jy dit nie gou keer nie sal die vloed deurbreuk en alles voor dit wegvee. Die oplossing is dan om die twis te keer terwyl jy nog kan: “Die begin van ‘n onenigheid is soos water wat jy laat deurbreek; daarom, laat die twis vaar voordat dit losbreek.” (17:14). Indien dit reeds losgebreek het kan geen mens dit keer nie. Maar Jesus kan. Hy het die grootste gemors nog ooit opgelos (sonde), en daarom kan Hy ook in so ‘n situasie genade en herstel gee.
[2] By ‘n manne byeenkoms in Wallis het ‘n jongman die Godheid van Christus betwyfel. Martyn Lloyd-Jones het die man weggejaag. Die probleem is nie die omstandighede nie, maar die persoon. Daarom moet jy die molesmaker uitdryf: “Dryf die spotter weg, dan gaan die twis weg; en die stryery en die geskimp hou op... Deur gebrek aan hout gaan die vuur dood, en as daar geen kwaadstoker is nie, bedaar die twis.” (22:10, 26:20). Die Nuwe Testament leer dat ons so 'n persoon moet ignoreer en onder kerktug moet plaas: “as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar... Aan ‘n man wat partyskap verwek, moet jy jou onttrek ná die eerste en tweede vermaning, wetende dat so iemand op ‘n verkeerde pad is en sonde doen en selfveroordeeld staan.” (Matteus 18:17, Titus 3:10-11). Bid dat die Heilige Gees hierdie persoon se hart sal verander.
[3] Sien jouself in die lig van God se heiligheid en die kruisdood van Jesus. Dán sal jy besef hoe sondig jy is; jy sal weet jy is niks. Verloën jouself en neem jou kruis op (Lukas 9:23). En wanneer jy jouself verneder het sal die twis opgelos word (sien 13:10).
[4] Vermy die persoon wat skinder. Moenie opsetlik onderwerpe aanraak wat jy weet rusie sal veroorsaak nie. Verlaat die vertrek eerder as om te twis. Verander die onderwerp. Gee toe – jy hoef nie altyd te wen nie. Moenie nog hout op die vuur laai nie, maar smoor dit deur op te hou met skinder. Gaan 'n kompromie aan: hoekom kan albei se antwoorde nie reg wees nie? Al die genoemde dinge is wat Salomo in 16:28, 20:3, 26:20-21 wil leer: “‘n Man van valse streke saai tweedrag, en ‘n kwaadstoker skei vriende van mekaar... Dit is ‘n eer vir ‘n man om van twis weg te bly, maar elke sot breek los... Deur gebrek aan hout gaan die vuur dood, en as daar geen kwaadstoker is nie, bedaar die twis. Soos kole die gloed en hout die vuur laat opvlam, so is ‘n twisgierige man om ‘n twis aan te hits.”
[5] 'n Dwaas stry (20:3b). Word wys deur die evangelie (1 Korintiërs 1:24, 30). Vra vir die Here as jy wysheid kortkom (Jakobus 1:5).
[6] Vertrou die Here vir jou behoeftes – moenie baklei om te kry wat jy wil hê nie: “Die hebsugtige verwek twis; maar hy wat op die HERE vertrou, word verkwik.” (28:25). “...julle het nie, omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.” (Jakobus 4:2b-3, cf. v.1-2a). “Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matteus 6:32-33).
[7] Dit is sonde om vir jare 'n wrok teen iemand te hou (18:19). As jy 'n gelowige is hou Jesus nie 'n rekord van jou sonde teen Hom nie. Wees dan soos Hy en vergewe ander (Efesiërs 4:32). Sorg dat jy die sonde wat die twis veroorsaak het uit die weg ruim. Gaan vra vergifnis vir dit wat jý verkeerd gedoen en gesê het. Onthou dat Jesus die sterk muur wat gebou is (18:19), maklik kan afbreek: “Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het” (Efesiërs 2:14). Kan Jesus nie nogsteeds die mure van konflik en twis afbreek nie?