Coram Deo Cover Image

Coming soon...

29 May 2022

Hoe om godvresend te lewe

Galasiërs 5:16-26

“Save, O Lord, for the godly one is gone; for the faithful have vanished from among the children of man... The godly has perished from the earth, and there is no one upright among mankind...” (Ps. 12:1, Miga 7:2, ESV). Dit klink of hierdie verse van ons tyd praat. Daar is baie mense wat godvresend lyk, maar die krag van ’n heilige lewe ontbreek (2Tim. 3:5).

Waar is die ware godvresende persoon en hoe lyk ’n godvresende lewe? Is dit misties soos ’n monnik s’n? Praat ons hier van iemand wat vir dae aanneen vas, growwe klere dra om homself te pynig en homself geheel en al van die wêreld afsny? Verwys ek na iemand wat in tale praat, of wat nie rook, alkohol gebruik en grimering dra nie?

Jy kan al hierdie dinge doen en nog steeds nie godvresende lewe nie. ’n Godvresende karakter word sigbaar in ’n gehoorsame lewe. Die godvresende mens se lewe lyk soos Jesus s’n in die vier Evangelies: “Wie sê dat hy in Hom bly, behoort self ook te leef soos Hy geleef het.” (1Joh. 2:6). Hoe word ’n mens so? Dit is waar Gal. 5:16-26 inkom.

 

1. Wandel deur die Gees (v.16-17)

Om te wandel beteken om te loop. Dit is iets wat jy elke dag doen. Dit is ’n normale aksie. Om dus deur die Gees te wandel, beteken dat jy deur die Gees lewe. Hoe wandel of lewe iemand deur die Gees (v.16)? Jy onderwerp jou aan die begeertes wat Hy in jou hart bewerk. Begeer jy skielik om te bid? Wees gehoorsaam. Prikkel die Heilige Gees jou om jou laaste R100 vir ’n sukkelende weduwee in die gemeente te gee? Doen dit. Belas Hy jou hart om die evangelie met iemand te deel of jou rekenaar na ure af te sit en tyd met jou kinders te spandeer? Luister. Wie hom so aan die Heilige Gees onderwerp, sal nie die begeertes van die vlees of sondige natuur volg nie (v.16).

Hoekom doen ons dit nie altyd nie? Hoekom onderwerp ons ons nie oomblik vir oomblik aan die Heilige Gees nie? “Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees begeer teen die vlees; die twee opponeer mekaar, sodat julle dit wat julle ook al wil, nie kan doen nie.” (v.17). Die vlees staan teen alles wat heilig is. Dit is nie teen godsdienstigheid nie, aangesien laasgenoemde selfgesentreerd is (Matt. 6:5). Die vlees verset hom slegs teen ’n opregte lewe deur die Gees (v.17).

Die Gees daarenteen haat alles van vlees, omdat dit sonde is (v.17). Die Gees en die vlees begeer die teenoorgestelde (v.17, 19-21, 22-23). Die vlees is soos ’n boom wat ons laat afkap het. Alhoewel die boom afgekap is, spruit dit nog uit. Net so is die vlees afgekap, maar nogtans steek dit hier en daar kop uit. Die oorblyfsels van die sonde in ons stry teen die Gees (v.17). Dit koek soos toue om jou enkels, sodra jy wil reg doen. Dit maak jou lui, traag of moeg, sodra jy wil bid of ’n sieke wil besoek. Dit vul jou met vuil gedagtes, terwyl jy jou Bybel lees. Dit trek jou aandag af en laat jou gedagtes tydens die lofgesange of die preek dwaal. Die vlees is die rede hoekom jy nie elke dag reg doen soos jy graag wil nie (v.17). Daar woed ’n oorlog binne jou (Rom. 7:14-25). Dit is asof jy met gewigte om jou enkels swem of met die handbriek op ry.

 

2. Laat die Gees jou lei (v.18-23)

Stuart Olyott vergelyk die vlees met die swaartekrag van die aarde, terwyl die Gees soos ’n boeiing se enjins is. Die kragtige enjins laat die vliegtuig opstyg, sodat dit ten spyte van gravitasie bo die wolke vlieg.

Deur die Heilige Gees kan jy sonde oorwin (v.18, Rom. 8:13). As die Gees jou lei, is jy nie onder die wet nie (v.18). ’n Bietjie agtergrond sal jou help om beter te verstaan. ’n Groep Joodse vals leraars het die Galasiër-gemeentes binnegedring en gesê dat geloof in Jesus nie voldoende is vir redding nie: ‘Julle moet besny word en die seremoniële wet van Moses nakom’ (2:3-5, 11-14, 3:10, 4:9-10, 5:1-4, 6:12-13, Hand. 15:1, 6). Paulus skryf Galasiërs om redding uit genade alleen deur geloof alleen in Christus alleen as die apostels se evangelie vas te lê. In 5:18 wys hy dat ’n godvresende lewe nie deur reëls kom nie—selfs nie deur God se reëls nie: “As julle egter deur die Gees gelei word, staan julle nie onder die wet nie.” In Kol. 2:16-17, 20-23 sê hy dieselfde:

“Moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink, of oor ’n fees, ’n nuwemaansfees of ’n Sabbat nie. Hierdie dinge is net ’n voorafskaduwing van dit wat aan die kom was, maar die werklikheid is Christus... As julle saam met Christus die kosmiese elemente afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog as deel van die wêreld leef, steeds gebonde aan voorskrifte soos: ‘Moenie daaraan vat of proe of raak nie’? Dit is alles dinge wat deur gebruik tot niet gaan, en gebaseer is op mensgemaakte voorskrifte en leringe. Hoewel hierdie voorskrifte met hulle selfopgelegde godsdienspligte, geveinsde nederigheid en liggaamlike kastyding, die skyn van wysheid het, is dit heeltemal nutteloos, maar dien tot bevrediging van die sondige aard.”

Niemand het nog ooit godvresend geword, omdat hy die wet probeer volg nie. Ek ken iemand wat dit gedoen het. Hy wou die Tien Gebooie op ’n plakaat uittdruk en in sy huis op plak. ‘As ek dit elke dag sien, sal ek dit probeer nakom,’ het hy gesê. Dit is nie hoekom God die wet gegee het nie. Die wet is ’n muilband wat straf belowe as jy dit oortree. Dit wys vir jou God se heilige karakter en hoe ver jy van sy perfekte standaard kortskiet (Rom. 3:20, 23). Die wet is ’n padkaart wat die regte weg aandui, maar dit help jou nie om op die pad te kom en daarop te bly nie. Die wet is ’n spieël wat jou sonde uitwys (Rom. 7:7, 1Kor. 15:56, 1Tim. 1:8-10). Niemand was sy gesig met die spieël nie. Jy benodig die water en seep van die evangelie. Jy benodig die Heilige Gees om jou te lei (v.16-18). Die Gees herinner jou aan Christus se woorde en verheerlik Hom in jou hart (Joh. 14:26, 16:13-14).

Die gees van die wêreld, die vlees en die duiwel daarenteen lei jou om jouself te verheerlik. Hierdie vals gees vra hoe ’n gegewe gedagte, woord of aksie jou sal laat goed lyk: ‘Ek moet die laaste koekie kry. Ek moet eerste by die verkeerslig wees. Ek sal mense se aandag trek as ek hierdie mooi hemp dra. Ek gaan hard oefen, sodat ek goed kan lyk. Ek moet meer geld maak, sodat ek meer kan koop en my lewe kan geniet.’ Die Heilige Gees vra hoe hierdie selfde gedagtes, woorde en aksies Jesus sal verheerlik. Dit geld ook vir geestelike dinge. Die vlees vra hoe jou persoonlike Bybelstudie, gebed en kerkbywoning jou sal bevoordeel: ‘As ek die Bybel goed ken, sal mense my bewonder. As ek heilig lewe, sal ek kragtig preek en ’n beroemde prediker word.’ Die Heilige Gees vra hoe hierdie selfde aksies Jesus sal verheerlik: ‘As ek die Bybel goed ken, kan ek teen versoeking staan en die Here gehoorsaam. As ek heilig lewe, sal dit die Here verheerlik en mense na Hom toe trek, sodat ook hulle Hom kan verheerlik.’

Ongelukkig kan nie een van ons hierdie kant van die hemel volmaak so lewe nie. Dit frustreer ons, maar die Bybel bied ’n oplossing. Ons kan ons sonde bely en op grond van Jesus se kruisdood en voorbidding vergewe word (1Joh. 1:7, 9, 2:1-2).

Hoe weet ’n mens of die Gees jou lei en of jy deur die duiwel en die vlees mislei word (Jer. 17:9, 2Kor. 11:14)? Die werke of vrug sal vir jou wys (v.19-23). Die Heilige Gees sal jou nooit lei om te sondig nie. Daarom kan jy nie sê: ‘Die Heilige Gees het vir my gesê om my man te skei’ nie. ‘Die Heilige Gees het my gelei om op 15 November 1988 agt mense dood te skiet (Barend Strydom)... Die Heilige Gees het my gelei om met ’n ongelowige te trou... Die Heilige Gees het vir my gesê ek moenie meer kerk bywoon nie.’

Bogenoemde gevalle is voorbeelde van die werke van die vlees. Die werke van die vlees is duidelik (v.19). Ons kan dit in vier groepe verdeel:

Seksuele sondes

Onsedelikheid, onreinheid en losbandigheid (v.19). Hierdie woorde verwys na enige seksuele sonde teen God se skeppingsorde tussen ’n getroude man en sy vrou (Gen. 1:27, 2:24). Dit verwys selfs na onrein begeertes en woorde (Matt. 5:28, Ef. 5:4).

Die LGBT beweging probeer ons oortuig dat hulle vorm van seksuele sonde liefde is. ’n Jong man het dieselfde van sy losbandige verhouding met sy meisie gesê: ‘Ek is lief vir haar.’ Volgens die Bybel is dit nie liefde nie, maar die selfsug van sy sondige natuur.

Heidense praktyke

Afgodery en towery (v.20). Afgodery verwys na beeldjies, maar ook na enigiets wat tussen ons en God staan (Matt. 6:24, Kol. 3:5). Om jou finale betekenis, vervulling, blydskap en genot in enigiets buite die Here te soek, is afgodery. Towery verwys na die dinge waarvan ons in Deut. 18:9-14 lees:

Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God vir jou gaan gee, moet jy nie die afstootlike gebruike van daardie nasies aanleer nie. Daar mag nooit by jou iemand wees wat sy seun of dogter in die vuur offer, of wat voorspellings maak, voortekens lees, waarsêery beoefen, of ’n towenaar is nie, wat towerspreuke gebruik, waarsêer- of voorvadergeeste oproep, of dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die Here afstootlik. En dit is oor hierdie afstootlike dinge dat die Here jou God hulle voor jou verdryf. Jy moet onberispelik wees voor die Here jou God. Ja, hierdie nasies wat jy gaan verdryf, luister na hulle wat voortekens lees en voorspellings maak; maar wat jou betref, die Here jou God laat jou so iets nie toe nie.”

In ons konteks verwys dit na mense wat met die dooies praat, ’n palmleser besoek, hulle sterre volg, Satanistiese speletjies speel, hulle met sulke films en musiek ophou en by die okkulte betrokke raak.

Gebroke verhoudings

Vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring en afguns (v.20-21, 15, 26). Hierdie dinge is kenmerkend van ongelowiges (Tit. 3:3). Ongelowiges hou daarvan om te baklei. Omdat hulle hoogmoedig is, wil hulle reg wees. As iemand hulle teëgaan, argumenteer hulle of dra hulle ’n wrok.

Losbandigheid

Dronkenskap en gefuif (v.21). Almal weet wat dronkenskap is. Gefuif (Gk. kōmos) verwys na ’n wilde dronkpartytjie vol seksuele losbandigheid. So iemand soek sy eie plesier. Hy gee net om vir homself en nie vir die Here of vir ander nie.

Dit is waar van enige sonde (v.21). Mense wat hierdie dinge doen, sal die hemel mis (v.21, 1Kor. 6:9-10, Ef. 5:5). Dit geld nie as jy jou bekeer nie, maar net as jy so lewe (Gk. voortdurende tyd).

Hoe lyk ’n lewe wat deur die Gees gelei word? Dit dra goeie vrug (v.22). Let op dat vrug in die enkelvoud eerder as die meervoud staan. In enige ware gelowige vind jy die volle paket van v.22-23. Elke kwaliteit groei saam in die Christen se lewe. Jou liefde is geduldig, vriendelik, goedhartig, vol vrede en blydskap (vgl. 1Kor. 13:4-7). In jou selfbeheersing is jy sagmoedig, getrou, liefdevol. Jou vriendelikheid is vol vrede, blydskap, geduld. Jy kry die idee.

Die Heilige Gees produseer hierdie vrug in jou lewe. Hy doen dit nie deurdat jy passief terugsit nie. Heiligmaking is nie iets wat met jou gebeur nie. Die Heilige Gees maak jou gewillig en bekwaam om reg te doen, maar jy moet dit uitvoer (Fil. 2:12-13). Wanneer jy die Woord biddend en deur geloof oordink en gehoorsaam, vloei Christus se lewe deur jou, sodat jy goeie vrug dra (Joh. 15:4-5, 7).

Wat is die vrug van die Gees? Ons kan dit in drie groepe verdeel:

Jou verhouding met God

Liefde, blydskap en vrede (v.22). Al hierdie dinge kom van God af (Rom. 5:1, 5, 15:13).

Jou verhouding met ander

Geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid en sagmoedigheid (v.22-23). Is daar ongelowiges wat so lewe? Ja, maar hulle motiewe is onrein. Hulle doen dit nie om God te verheerlik nie, maar om hulleself te behaag en mense te beïndruk (Spr. 29:25, Matt. 6:1-4). Ware gelowiges wil God verheerlik en ander seën.

Jou verhouding met jouself

Selfbeheersing in jou emosies, gedagtes, aptyte, begeertes, woorde en meer (v.23). 

Hoe word jy godvresend? Nie deur die wet nie, maar deur die Gees (v.18). Tog sal die Heilige Gees jou nooit teen die wet lei nie (v.23). Die Heilige Gees skryf die wet op jou hart, sodat jy dit wil en kan gehoorsaam (Eseg. 36:27, Rom. 8:4, Heb. 8:10). Hy produseer v.22-23 se vrug in jou en vorm jou karakter om soos Jesus te wees.

 

3. Bly in pas met die Gees (v.24-26)

’n Paar jaar gelede het ’n vrou gesê: ‘Ons moet die vrug van die Gees memoriseer en ons beste doen om elke dag daarvolgens te lewe.’ Sy het gedink as sy dit doen sy daardeur heilig sou wees. Dit is nie hoe ’n mens godvresend word nie. Om waarlik godvresend te lewe, moet jy gered wees. Die sondige natuur moet saam met Jesus gekruisig wees (v.24, 2:20). Deur die Heilige Gees moet Jesus jou as God se kind aanneem (4:5-6, 1Kor. 6:19-20).

Is jy sy kind? Is jy gered? Is jou sondige natuur saam met Jesus gekruisig? Dan is die vlees nie jou baas nie (v.24). Sy begeertes heers nie in jou nie (Rom. 6:14). Die Heilige Gees heers in jou. Jou godvresende karakter word sterker hoe meer jy op die Gees se prikkels reageer en nee sê vir die vlees (v.24).

Net soos wat jy as gevolg van die Gees lewe (Joh. 3:3, 5, Tit. 3:5-6), moet jy elke dag deur Hom lewe (v.25, 3:3). Bly in pas met die Gees soos soldate hulle bevelvoerder se ritme volg en met mekaar in pas bly (v.25, Gk. stoicheō). Dan sal jy nie in jouself roem en met ander baklei nie (v.26, 15). Dit is godvresende mense wat eensgesinde huwelike, gesinne en gemeentes vorm (v.13-14). Nie alleen is hulle gesinne, huwelike en gemeentes eensgesind nie, maar dit word godvresend soos hulle (Mal. 2:15, 2Kor. 7:11).

Soek jy so ’n huwelik, huisgesin en gemeente? Soek dit in die eerste plek vir God se eer en nie jou eie nie (2Kor. 5:15). Sit onder die regte lering. Ek bedoel nie net suiwer lering nie, maar suiwer lering met die doel om godvresende dissipels te maak (1Tim. 6:3, 2Pet. 1:3). Rig jou gedagtes op hemelse dinge, sodat jy godvresend sal lewe (Kol. 3:1-4, 2Pet. 3:11). Jaag na ’n godvresende lewe en volhard daarin (1Tim. 6:11, 2Pet. 1:5-8). Maak Robert Murray McCheyne se gebed jou eie: ‘Lord, make me as holy as a pardoned sinner can be made.’1


1  Andrew Bonar, Robert Murray M’Cheyne (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1960, 2012 [1844]), 244

Kategorieë