2Tessalonisense 1:1-4
Een van my vriende het onlangs van sy 7-jarige seun gesê: ‘Dit is oulik dat hy nie die letter R kan sê nie. Ek wens dit wil altyd so bly. Aan die ander kant sal dit seker nie oulik wees as hy op 25 ‘n meisie vra om met hom te twou nie.’
Daar is sekere dinge wat ons verskoon in iemand wat nog net vir 3 jaar ‘n Christen is. Dit is egter hartseer as iemand wat al vir 40 jaar ‘n Christen is, geestelik onvolwasse is. Ek wil nie so wees nie, maar soos die Tessalonisense wil ek geestelik groei. Hoe het hulle gegroei en wat kan ons uit hulle voorbeeld leer? 2Tess. 1:1-4 wys vir ons.
- Jy moet gered wees (v.1-2)
‘n Oom het eendag vir my gesê dat John MacArthur ‘n vals prediker is: ‘In sy boek oor die sleutels tot geestelike groei, noem hy nie die Heilige Gees as een van die sleutels nie. Ek gaan vir hom ‘n brief skryf en vir hom sê dat hy vals is.’
Dit is eenvoudig nie waar dat John MacArthur die Heilige Gees se rol in ons geestelike groei ontken nie. Die waarheid is eerder dat hy glo dat ons die Heilige Gees volkome ontvang wanneer ons gered word, en dat Hy sekere middele gebruik om ons geestelik te laat groei.
Die Gees is m.a.w. nie een van die sleutels tot geestelike groei nie. Hy is eerder die Een wat die sleutels tot die skatkamers van God se genade in sy besit hou. Hy sluit die kamers van die Woord, gebed, die geestelike gawes, die doop, die nagmaal, die gemeenskap van die gelowiges en die res van God se genademiddele oop, sodat ons daardeur kan groei. Deur sý krag is hierdie middele voldoende om ons geestelik volwasse te maak.
Daarom is die eerste nodige stap om geestelik te groei nie die prediking van God se Woord, die doop, gebed, of een van die ander genademiddele nie. Die eerste stap is bekering en geloof. Jy moet m.a.w. gered word. So was dit vir die Tessalonisense. Paulus, Silvanus (Silas) en Timoteus het die evangelie aan hulle verkondig, sodat baie van hulle gered is (v.1, Hand. 17:1-4). Hulle was in God die Vader en die Here Jesus Christus (v.1). God het deur sy Gees in hulle gewoon, terwyl hulle deur geloof in Christus, sy Woord en deur gebed in Hom gebly het (Joh. 14:16-17, 23, 15:7, Gal. 2:20, 1Joh. 2:24, 4:13, 15).
God het hulle aangeneem om sy kinders te wees (Joh. 1:12-13, Rom. 8;15-16, Ef. 1:5, Gal. 4:6). Paulus praat twee keer in hierdie verse van God ons Vader (v.1-2). Eers as jy ‘n kind van God is, kan jy geestelik begin groei.
Sonder geloof in Jesus Christus kan geen hoeveelheid kerkbywoning, betrokkenheid in die gemeente, of stiltetyd jou laat groei nie. Maak daarom seker dat jy gered is. Vra die Here om sy genade oor jou uit te stort (v.2). Vra Hom om jou sonde deur Jesus se kruisdood te bedek, sodat daar vrede tussen jou en Hom kan wees (v.2, Rom. 5:1, 20, Kol. 1:20).
Wanneer die Here jou gebed verhoor, kan jy die lering van God se Woord, die nagmaal en ander gewigte begin optel, sodat jy geestelik kan groei en sterk kan word.
- Jy moet deel wees van ‘n gemeente (v.1)
Deesdae is daar baie mense wat glo dat dit nie nodig is vir ‘n Christen om deel te wees van ‘n gemeente nie. Hulle is oortuig dat ‘n mens nie ander gelowiges nodig het om te groei nie, maar dat jy op jou eie met die Here kan aangaan.
Volgens 2Tess. 1:1 en die res van die Nuwe Testament moet jy deel van ‘n gemeente wees as jy ordentlik wil groei. Paulus het hierdie brief vir ‘n gemeente geskryf en nie vir ‘n belydende Christen wat op sy eie probeer groei het nie.
In die Nuwe Testament is die kerk nie ‘n bysaak nie. God het die kerk uit die wêreld geroep om aan Hom te behoort [Gk. ekklēsia]. Jesus het gesterf om die kerk met sy bloed te koop en is besig om dit te bou (Matt. 16:18, Hand. 20:28, Ef. 5:25). As die Heilige Gees mense nuut maak, sit Hy hulle nie eenkant in ‘n hoek nie. Hy voeg hulle by die kerk (Hand. 2:38, 41, 1Kor. 12:13).
As die kerk dan vir die Vader, die Seun en die Heilige Gees belangrik is, mag ons dit nie ignoreer nie. Die hele Nuwe Testament bevestig die belangrikheid van die kerk. Elke brief in die 27 boeke van die Nuwe Testament is gerig aan ‘n gemeente, die leraar van ‘n gemeente, of ‘n individu in wie se huis die gelowiges bymekaar gekom het.
Om deel te wees van ‘n plaaslike gemeente is nie ‘n opsie as jy jouself ‘n gelowige noem nie. Dit is God se wil dat jy deel moet wees van sy kerk. Volgens die Nuwe Testament is die kerk sy liggaam, sy huisgesin, die nuwe tempel, sy kudde, sy bruid, sy kinders, sy broers, sy vriende, sy volk, sy erfdeel, sy saailand, sy brief vir die wêreld, die Nuwe Jerusalem, ‘n heilige priesterdom, ‘n pilaar en fondasie van die waarheid, en meer.
As die kerk dan vir God so belangrik is, is dit ongehoorsaam en onbybels om nié deel te wees van ‘n gemeente van ware gelowiges nie. Dit sal ook jou groei benadeel as jy nie met jou hele hart en siel in so ‘n gemeente betrokke raak nie. Het Christus sy bloed vir die kerk gestort, terwyl jy dit as ‘n opsie beskou om jou lewe daaraan te wy?
As jy tevrede is dat ons ‘n Bybelse gemeente is, wil ek jou aanmoedig om ‘n lidmaat te word. Natuurlik geld dit nie vir almal nie. Jy moet weergebore wees en gedoop word om ‘n lidmaat te wees. Om seker te maak dat jy die Here ken, wil ons ‘n pad met jou stap. Ons wil sien of jy die evangelie verstaan, en of jy die vrug van bekering dra. As die ouderlinge en die gemeente tevrede is, sal dit vir ons ‘n voorreg wees om jou amptelik in ons midde te verwelkom. Daarna wil ons saam met jou in die gemeente dien, sodat almal van ons geestelik kan groei.
- Jy moet bid (v.2-3)
My ma het onlangs ‘n prentjie van ‘n hoop grond aangestuur en gesê: ‘Sien julle die luiperd?’ Ek kon dit nie die eerste keer sien nie, totdat sy ‘n opvolg prentjie met ‘n geel pyltjie gestuur het.
Gebed as ‘n sleutel tot geestelike groei is sigbaar in v.2-3, maar jy moet mooi kyk. Paulus gebruik nie die woord ‘gebed’ nie, maar v.2-3 is ‘n gebed. Hy bid vir God se genade en vrede oor die gemeente, en sê ook dankie dat Hy hulle laat groei (v.2-3).
Baie gelowiges groei nie soos wat hulle moet en kan nie, omdat hulle nie bid nie. Hulle bid nie op hulle eie nie en hulle bid ook nie saam met ander gelowiges nie. Hoe sal jy groei as jy nie vir jouself en vir ander bid nie, en as húlle nie vir jou bid nie? Hoe sal enige van die genademiddele jou help as jy nie die Here se seën daarop bid nie? As die Here jou nie help nie, sal die lering van sy Woord, die nagmaal, die geestelike gawes, die gemeenskap van die heiliges en God se dissipline jou nie bevoordeel nie.
Vra Hom dus om hierdie dinge aan jou en die res van die gemeente te seën (v.2). Doen dit in jou stiltetyd en doen dit by die bidure. Onthou ook om Hom te dank wanneer Hy jou gebede beantwoord (v.3).
- Jy moet die Bybel inneem (v.3)
In Augustus 1989 was Donald Whitney op ‘n uitreik Kenia toe. Hy was geskok dat diefstal, leuens en immoraliteit algemeen was onder die Christene en selfs onder kerkleiers. Hy het vinnig uitgevind hoekom dit gelyk het of die kerk in Kenia deur die Korintiërs geplant is: nie een van die leiers of lidmate het ‘n Bybel gehad nie—nie één nie [Donald Whitney, Spiritual Disciplines for the Christian Life (Colorado Springs, Colorado: NavPress Publishing Group, 1991), 27].
Paulus het geweet dat die gelowiges in Tessalonika die Woord van God moes hoor. Hy het dit dus aan hulle verkondig en in sy eerste brief aan hulle geskryf (1Tess. 2:13, 5:27, Hand. 17:2). Omdat hulle die Woord ingeneem het, het hulle geloof geweldig gegroei (v.3).
Niemand kan sonder die Bybel groei nie. Wil jy hê jou geloof moet groei? Lees die Bybel soos wat Koos koffie drink en ek sjokolade eet. Gehoorsaam wat jy lees en vra die Here om jou te laat groei. As jy dít doen, sal jou geloof groei: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die Woord van God.” (Rom. 10:17).
- Dien mekaar (v.3-4)
Net soos wat een hand die ander een was, help jy jouself én ander gelowiges as jy hulle dien. Jy gehoorsaam die Here én jy vervul ‘n behoefte wat iemand anders het.
Die Tessalonisense het mekaar gedien; hulle het mekaar liefgehad (v.3, 1Tess. 1:3, 4:9). As ek die konneksie tussen v.3 se liefde en die vervolging van v.4 reg verstaan, het die vervolging gemaak dat hulle liefde vir mekaar gegroei het. Wat bedoel ek? Toe die gemeente deur die wêreld vervolg is, het party van hulle geld verloor (Hand. 17:9). Dit mag wees dat sommige van hulle hulle werke verloor het. Dalk is ‘n paar van hulle in die tronk gegooi. Miskien het party van hulle hulle lewens verloor (1Tess. 2:14, 4:13). Wat sou van hulle gesinne geword het; wie sou vir hulle sorg? Ah! Die Here het ons deel van sy huisgesin gemaak. Hier bedien ons mekaar.
Ek dank die Here dat ons dit oor die afgelope paar maande kon doen. Toe party van ons siekte, finansiële probleme, kar probleme, die dood van geliefdes en die teenkanting van ongelowiges beleef het, het ons vir mekaar gebid en mekaar op praktiese maniere gedien (v.3-4, 1Joh. 3:17-18). Laat ons dit meer en meer doen (1Tess. 4:10).
- Moenie selfvergenoeg wees nie (v.3)
Moenie dink jy is die kat se snor nie. Moenie dink jy het gearriveer nie. Moenie selftevrede wees, omdat jy ‘n sekere mate van groei bereik het nie. Wees soos die Tessalonisense. In 1Tess. 1:3 het Paulus hulle vir hulle groei geprys. Dit het egter nie gemaak dat hulle selftevrede geraak het nie. Hulle wou meer hê (v.3). Paulus het daarvoor gebid en hulle aangespoor om dit te soek (1Tess. 3:12, 4:10).
Moenie bang wees om meer te wil hê in die Christelike lewe nie. Moenie maar net die status quo wil handhaaf nie. Moenie soos ‘n lui student wees wat tevrede is om net-net te slaag nie. Moenie op jou sitvlak deurskuur nie. Doen jou beste. Hardloop om te wen. Streef daarna om die prys te behaal. Gaan vir goud. Volg die apostel se voorbeeld:
“Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” (Fil. 3:12-14).
As jy selfvergenoeg is, sal jy nie groei nie. Jy sal gered word, maar soos deur vuur heen (1Kor. 3:15). Omdat jy geestelik lui was, sal jy nie ‘n beloning ontvang nie (1Kor. 3:12-15).
- Leer by ander (v.4)
Wie het jou beïnvloed, sodat jy geestelik gegroei het? In my lewe was dit Martin Holdt, my pa, Andries Rossouw, Jannie Vosloo, Seth Meyers, Paul Schlehlein, Johann Odendaal, John MacArthur, John Piper, Iain Murray, Charles Spurgeon en nog ‘n paar vriende en vyande.
Paulus het die Tessalonisense as ‘n voorbeeld vir die ander gemeentes opgehou (v.4, 1Tess. 1:8). Hy het dit gedoen om hulle en ons aan te spoor.
Niemand van ons is ‘n eiland nie. Om geestelik te groei, moet ons by ander leer (v.4, 1Kor. 4:16, Fil. 3:17, Heb. 6:12, 11:4-12:1, 13:7). Ons moet veral Jesus se voorbeeld volg en tyd deurbring met die mense wat die meeste soos Hy is (1Kor. 11:1, 1Joh. 2:6).
- Volhard deur vervolging (v.4)
Ek het hierdie week ‘n tragiese artikel gelees van ‘n goeie Amerikaanse prediker (Joshua Harris) wat gesê het dat hy besig is om van sy vrou te skei en dat hy die Christelike geloof verwerp het. Hy het ook die LGBTQ+ beweging om vergifnis gevra, omdat hy hulle seergemaak het.
Moenie soos hy wees nie. Moenie soos Demas wees nie (2Tim. 4:10). Moenie soos die mense in 1Joh. 2:19 wees nie. Moenie vir ‘n paar jaar op die regte pad loop en dan terugdraai nie (Heb. 10:38). Wees eerder soos die gelowiges in Tessalonika wat deur die vervolging volhard het (v.4, 1Tess. 2:14, Hand. 17:5-9). Moenie toegee aan die druk van die wêreld nie. Beskou die vervolging eerder as iets wat die Here toelaat om jou na Hom toe te dryf, sodat jy tot die einde toe sal volhard.
Ons word nou wel nie vervolg soos die Tessalonisense, of die Christene in Sirië nie. Tog word ons versoek om stil te bly as mense nie na ons wil luister wanneer ons die evangelie met hulle deel nie. Moenie toelaat dat hulle jou stilmaak en jou geestelike groei belemmer nie. Bid vir nog krag, vra ander om saam met jou te bid, en gaan voort met die Here se werk. Storms help bome om hulle wortels stewig in die grond te anker. Die koue help hulle om goeie vrugte te dra wanneer die somer aanbreek. Net so help die vervolging en ander beproewings ons om geestelik te groei as ons ons krag by die Here kry.