Coram Deo Cover Image

Coming soon...

19 September 2013

Hoe om af te reken met versoeking

Killing sin

7 Wee die wêreld weens die struikelblokke!  Want dit is noodsaaklik dat daar struikelblokke kom, maar wee die mens deur wie die struikelblok kom. 8 En as jou hand of jou voet jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; dit is vir jou beter om in die lewe in te gaan, kreupel of vermink, as om twee hande of voete te hê en in die ewige vuur gewerp te word. 9 En as jou oog jou laat struikel, ruk dit uit en werp dit weg van jou af.  Dit is vir jou beter om met een oog in die lewe in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word.” (Matteus 18).

 

Verwag dit (v.7b)

Ons land was geskok toe Oscar Pistorius vir Reeva Steenkamp geskiet het.  Was dit moord?  Daar is nog onsekerheid.  Maar gestel dit was moord:  moet ons geskok wees dat 'n held soos Oscar tot so iets instaat was?  Jesus sê dat ons in 'n gevalle wêreld die ergste moet verwag (v.7b).  Versoeking en sonde is binne God se raadsplan, en daarom kan jy seker wees dit gaan kom.  Dit beteken egter nie dat Hý die sondebok en oorsaak van sonde is nie.  Versoeking moet kom, maar wee die een deur wie dit kom (v.7).  Anders gestel:  “Die Seun van die mens gaan wel heen soos daar van Hom geskrywe is [dit was binne God se raadsplan], maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word [dit was Judas se eie skuld en nie God s'n nie]!” (26:24).  Petrus sê in Handelinge 2:23:  “Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is [God se raadsplaan], het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring [mense, nie God nie, het gesondig]”.  Moenie naïef wees oor hierdie bose wêreld en die dinge waartoe mense (ook jy self) instaat is nie.  As jy net geweet het hoe boos jou eie en ander mense se harte is:  “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9).  Dalk glo jy dit nie, maar God sê jy is instaat tot moord, verkragting en ander slegte dinge.  Moenie in jouself roem en sê:  ‘Ek sal dit nooit doen nie’ (26:33, 35, 1 Korintiërs 10:12), maar verneder jou eerder en vra die Here om jou genadig te wees.

 

Pasop vir die wêreld (v.7a, c)

'n Prediker sê wanneer hy by 'n winkel instap hy vir sy seuns sê:  ‘Okay boys, get ready to have your senses assaulted’.  In die kol Jack!  Die wêreld wil hê God se kinders moet teen Hom sondig, en sal ons versoek om dit te doen (die wêreld op sy beurt word weer deur die duiwel aangehits en versoek, cf. Efesiërs 2:2, 1 Johannes 5:19).  Daar wag 'n verskriklike oordeel vir dié wat God se kinders versoek:  “maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.  Wee die wêreld weens die struikelblokke!...wee die mens deur wie die struikelblok kom.” (v.6-7).  Die wee uitsprake in v.7 spreek van God se ewige vervloeking.

 

Die ongelowige is bang om alleen te sondig; om alleen gestraf te word.  Hy hou nie daarvan as die Christen se heilige lewe sy sonde ontbloot nie.  Daarom versoek die wêreld gelowiges om saam met hulle te sondig.  Hulle is “mense wat al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.” (Romeine 1:32).  Indien jy nie saam met hulle wil sondig nie sal hulle jou spot, vloek, uitsluit, vervolg en selfs doodmaak (1 Petrus 4:3-4).

 

John MacArthur skryf:

 

‘One of the young men in our church handicapped ministry came to me one Sunday and said he had done a bad thing.  ‘I got drunk,’ he explained remorsefully.  Upon questioning him, I discovered that, as a prank, his brother and some friends had forced alcoholic beverages down his throat until he was drunk.  But the worst tragedy was not his drunkenness but the guilt he was made to suffer.  He thought he was responsible for becoming drunk and had asked Jesus for forgiveness, but he was so ashamed that he wondered if the Lord would forgive him.  I assured him that Jesus fully understood and had forgiven him, though, of course, the guilt was not his at all.  And those who were guilty for his drunkenness and stricken conscience were in danger of God’s judgment.” (The MacArthur New Testament Commentary:  Matthew 16-23; BHM Books; WINONA LAKE; 1988; p.109).

 

Die wêreld versoek ons onder andere op die volgende maniere:

 

  • Op inbel programme word ons versoek om te kla.
  • Die media versoek ons om bly te wees oor sonde of om oor ander (soos Hansie Cronjé of Joost van der Westhuizen) te skinder.
  • Mense wat staak versoek ons om onvergenoeg te wees.
  • Die advertensie-wêreld versoek ons om materialisties en geldgierig te wees.
  • Die mode-wêreld versoek ons om wellustig te wees.
  • Televisie versoek ons om soos zombies voor ons te staar en ons familie of die Woord van God af te skeep.  Dit versoek ons ook om kosbare tyd te mors.
  • Die samelewing versoek ons om te dink dat homoseksualiteit, saambly en egskeiding normaal en aanvaarbaar is.
  • Winkels en besighede wat oop is op Sondae versoek ons om weg te bly van die eredienste af.
  • Films versoek ons om ook soos die karakters disrespekvol te wees teenoor ons ouers.
  • Die evolusie-teorie versoek ons om aborsie te aanvaar (die mens is net nog 'n soort dier).  Dit versoek ons om rassisties te wees (sekere nasionaliteite het verder gevorder in die evolusie proses as ander).  Dit versoek mense om selfmoord te pleeg, want daar is immers geen doel in die lewe nie.
  • Die wêreld van vermaak en die media versoek ons om nie meer geskok te wees oor sonde nie (‘desensitizing’).
  • Drankwinkels versoek mense om dronk te word.
  • Modelle, akteurs, modes en oordadige rykdom versoek ons om hoogmoedig te word.
  • Sielkunde versoek ons om te ‘blame shift’; om te sê dat diefstal, homoseksualiteit en dronkenskap siektes is, en nie sondes nie.
  • Prosperity predikers versoek ons om gulsig te wees.
  • Godsdienstigheid versoek ons om selfregverdig te wees; om te dink ons het nie genade nodig nie.

 

Pasop!

 

Maak verraaiers dood (v.8a, 9a)

'n Vrou in die V.S.A. is deur 'n alligator in die vlakwater ingesleep.  Sy het geveg, maar kon dit later nie meer uithou nie.  Sy het vir die man wat haar probeer help het gesê:  ‘Sny my arm af’.  Radikaal?  Die O’ Neill familie-wapen het 'n rooi hand op.  Die agtergrond hiervan is interessant.  Toe die seevaarders Ierland se kus nader, het hulle gesê:  ‘Die man wat eerste sy hand aan wal sit, verkry dit as sy eie.  Toe een seevaarder sien dat 'n ander voor hom daar gaan wees, het hy 'n byl gevat, sy hand afgekap, en dit tot op die land gegooi.

 

Jesus bedoel nie letterlik dat jy jou hand of voet moet afkap, of jou oog moet uitpluk nie.  As jy net een ledemaat het, kan jy nog met die ander een sondig.  En as jy geen ledemate het nie, kan jy nogsteeds in jou gedagtes sondig.  Jesus se bedoeling is eerder dat jy radikaal moet optree teen versoeking en sonde.  Jy moet bereid wees om op te offer en selfs pyn te verduur in jou stryd teen versoeking en sonde (v.8a, 9a).  Doen alles wat nodig is om jou siel te red.  Hoe doen jy dit?

 

[1] Bepaal jou versoeking.  Een persoon kan internet hê, maar moet ontslae raak van die bier in sy yskas.  'n Ander kan wyn in sy huis hê, maar moet sy kontrak by die gym beeïndig.

 

[2] Wat veroorsaak dat jy struikel?  Dit is belangrik om uit te vind, sodat jy nie net simptome hanteer nie, maar die oorsaak self kan konfronteer.  Om uit te vind kan jy 'n joernaal hou waarin jy die volgende aanteken:  Waar was jy toe die versoeking gekom het?  Saam met wie?  Wat het gebeur?  Wanneer was dit?  Wat was jy besig om te dink toe dit gebeur het?  Veg teen die versoeking deur te bid, die Skrif te memoriseer, aanspreeklik te wees teenoor iemand, te vlug, tyd te spandeer met mense wat heilig wil wees, voor te berei vir die versoeking en die wapenrusting biddend op te neem (sien Matteus 6:13, Psalm 119:11, Matteus 18:15, 2 Timoteus 2:22, Johannes 16:1, Efesiërs 6:10-18).

 

[3] Moenie jou hand afkap en dan verlang om dit weer terug te hê nie.  “Gooi dit weg” (v.8).  Moenie net die onkruid afbreek nie; ontwortel dit.  Moenie soos sommige Ou Testamentiese konings wees wat afgodery stopgesit het, maar nie die hoogtes verwyder het nie.  Jy sal vasbeslote moet wees om plekke, vriende, ou liefdes, onbeskeie kleredrag, vermaak, musiek te los wat jou versoek.  Dalk sal jy selfs van werk moet verander as die versoeking daar is.  Miskien moet jy jou TV weggee, jou Facebook blad toemaak, jou internet konneksie stop.  Of dalk kontak nommers van ou liefdes uitvee, geskenke en fotos weggooi.  Let op dat baie van hierdie dinge nie noodwendig sondig is nie.  Maar as dit jou versoek om te sondig, is dit erg genoeg.  Moenie sê:  ‘Ek sal die immorele verhouding stop, maar ek wil nogsteeds kontak hê.  Ons sal net vriende wees/Ek wil net op Facebook kyk wat hy deesdae doen/Ek weet ek sukkel met pornografie, maar ek wil net op die internet gaan vir werk’.  Moenie.  Vlug (1 Korintiërs 6:18).  Moenie eers in jou gedagtes met sonde speel nie.  Die oulike klein leeutjie van sonde sal groei en jou verskeur (Jakobus 1:14-15).  Vervang die sondige gewoontes met heilige gewoontes (sien Efesiërs 4:22-24).

 

[4] Moenie die mooi praatjies van die vlees (die verraaier) glo nie.  Maak hom dood.  Bly heeltemal weg van die sonde af.  Ja, dit sal pynlik wees om nee te sê, maar daar is nie 'n beter manier as ‘cold turkey’ nie.

 

Dink aan die gevolge (v.8b, 9b)

John Bunyan het in sy sonde volhard.  Op 'n dag toe eggo daar 'n stem in sy gedagtes:  ‘John, will you leave your sins and go to heaven or have your sins and go to hell?’  Dit is beter om jou slimfoon te verloor as jou lewe (lewe word in v.8 met die ewige vuur gekontrasteer en verwys dus na die ewige lewe).  Die pyn wat jy moet verduur om 'n ‘oog’ te verloor is niks in vergelyking met die pyn van die hel nie.  Geen pyn of koste is te groot om jou siel van die hel te spaar nie.

Kategorieë