Related image

Hebreërs 12:1-2

Op 5 Des. 2018 het ons ons Bybelstudie afsluiting gehou. Na die ete het elkeen ‘n kans gekry om te sê wat hy hierdie jaar geleer het. Byna elke persoon het begin met die woorde: ‘2018 was ‘n moeilike jaar…’

Met drie sterftes (in ‘n gemeente van 70 voel jy dit!) en ‘n spul ander probleme, was dit inderdaad ‘n moeilike jaar vir ons gemeente. Dit was ook ‘n moeilike jaar vir ons land. Met so baie probleme raak ons soms versoek om op te gee en die handdoek in te gooi.

Wat moet jy doen om nié in 2019 uit te sak nie, maar aan te hou? Heb. 12:1-2 gee vir ons die antwoord.

 

  1. Kyk om jou (v.1a)

Sal jy bang wees as jy sien hoe nege rowers met wapens oor jou heining klim? Sal jy nog steeds bang wees as die Here jou oë oopmaak en jy ewe skielik honderde vlammende wesens tussen jou en die rowers sien?

Soms wil ons opgee omdat ons dink ons is die enigstes wat in die Christelike wedloop hyg, sweet en miltsteek kry. Maar as jy om jou kyk, sien jy atlete wat deur die geskiedenis volhard het: Abel, Henog, Noag, Abraham, Isak, Jakob, Josef, Moses, Ragab, Gideon, Samuel, Dawid, Petrus, Johannes, Paulus, Lukas, Timoteus, Titus, Maria Magdalena, Augustinus, Bernard van Clairvaux, Martin Luther, Johannes Calvyn, John Bunyan, John Wesley, Charles Spurgeon, R.C. Sproul, Martin Holdt en Andries Rossouw om net ‘n paar te noem (sien hfst. 11).

Hulle sit so hoog soos Cumulonimbus wolke op die hemelse pawiljoen en getuig deur hulle lewens dat die Here getrou is om sy kinders tot in die hemel te bewaar (v.1). Soos ‘n ma wat langs die kantlyn staan en haar kind aanspoor om uit te hou, roep die voorbeeld van hierdie mense se lewens dat jy nie halfpad of selfs kort voor die einde moet uitsak nie, maar jou beste moet gee totdat jy die wenstreep kruis.

Dit impliseer dat aftrede soos die wêreld dit sien, nie Bybels is nie. Jy kan aftree van jou werk, maar dit beteken nie jy moet vir die laaste 15 of 20 jaar van jou lewe vakansie hou nie. Waar leer die Bybel dit? John Piper sê:

‘Is there any biblical warrant for the modern, Western assumption that old age or retirement years are to be years of coasting or easing up or playing? I am not aware of such a principle in the Bible. In fact, it is a great sadness to see so many older Christians adapting to this cultural norm and wasting the last decades of their lives in innocent lounging around.’ [John Piper, 21 Servants of Sovereign Joy (Wheaton, Illinois: Crossway, 2018), 312-313].

Gebruik die tyd wat jy het om die Here meer effektief te dien. Hierin was wyle oom Andries Rossouw vir my tot voorbeeld. Tot op die laaste het hy die Here getrou gedien in die gemeente en het hy meer gedoen as die meeste. Wees soos hy en eindig sterk. Selfs as jou kragte op is, kan jy nog bid en ander aanspoor om jou voorbeeld te volg.

Nog ‘n les wat hieruit vloei, is dat jy moet leer uit die voorbeeld van dié wat die wedloop voltooi het (v.1, 6:12, 13:7). Hoe doen jy dit prakties? Lees oor die lewens van gelowiges in die Ou- en Nuwe Testament en vra wat jy daaruit kan leer (hfst. 11). Hoe kan jy ‘n vlekkelose karakter hê soos Daniël, die Here liefhê soos Dawid en ander mense vergewe soos Josef? Wat is die strikke waarin Noag, Dawid en Salomo getrap het en hoe kan jy dit vermy?

Om verder by die wolk van getuies te leer, help dit nie jy lees net teologie aan die een kant of Christelike fiksie aan die ander kant nie. Lees die biografieë van Christene deur die geskiedenis. Wat my betref is Iain Murray se biografieë die beste. John Piper s’n is ook goed en is gratis beskikbaar op die internet (beide die manuskripte en die audio preke).

Dit is ook goed om tyd te spandeer met mense wat soos Jesus is en hulle voorbeeld na te volg (1Kor. 4:17, 11:1, Fil. 3:17, 4:9, 1Tess. 1:6, 2Tess. 3:9, 2Tim. 3:10). Jy is nie alleen in die resies nie. Jy het ander se aansporing nodig en hulle het joune nodig: “laat ons…” (v.1, 4:1, 11, 14, 16, 6:1, 10:22-24, 12:28, 13:13, 15). Dit is nie net dom nie, maar onbybels om te dink dat jy die Christelike lewe op jou eie kan leef. Vers 1 se wedloop is ‘n ware Comrades Maraton waarin ons mekaar nodig het (vgl. Pred. 4:9-12, 1Kor. 12). Moet dan nie soos party mense in die slegte gewoonte verval om die gemeentelike samekomste te versaak nie (10:25). Daar is ‘n opmerklike verskil tussen die groei van gelowiges wat nou en dan ‘n erediens bywoon en dié wat regtig hulle gewig ingooi om betrokke te raak.

 

  1. Kyk onder jou (v.1b)

‘n Landloop atleet kan nie net ver vooruit kyk nie, maar moet ook vlak voor hom kyk sodat hy nie in ‘n gat trap of oor ‘n klip, boomwortel of graspol val nie. Net so moet jy in die Christelike wedloop onder jou kyk, sodat jy die strikke en sonde wat soos ‘n net om jou enkels span, kan afskud (v.1). Jy moet soos ‘n swemmer wees wat sy klere en skoene uittrek en net sy swemdrag aan het. Wees soos ‘n man wat berg klim en so lig as moontlik pak.

Volgens die skrywer moet jy nie net die sonde afskud nie, maar ook die laste wat jou geestelik terughou (v.1). Wat is hierdie dinge in jou lewe? Watse dinge keer dat jy groei soos jy moet, iets waaraan jy so baie tyd bestee, dat jy nie by jou stiltetyd of die gemeente uitkom nie? Is hierdie dinge miskien:

  • Oefening en sport?
  • Familie en vriende?
  • Jou kinders en kleinkinders?
  • Troeteldiere?
  • Werk?
  • Ontspanning, rus en slaap?
  • Jou selfoon, die internet, WhatApp en Facebook?
  • TV en lees vir ontspanning?
  • Jou stokperdjie?
  • Iets anders?

Vra die Here se hulp om dit onder beheer te bring of los dit heeltemal as jy moet (bv. WhatsApp of jou stokperdjie). Doen dit met elke las. Dalk is daar tien dinge wat jy sal prysgee, maar jy is nie bereid om nr. 11 te los nie. Maar dit is juis die ding wat jy moet prysgee, omdat dit jou terughou.

Dalk sê jy: ‘Ek kan enige tyd daarmee ophou.’ Hoekom het jy dan nog nie, veral as dit jou verhouding met die Here benadeel? Jy sê vir jouself dat dit nie ‘n probleem is nie, maar almal om jou kan sien dat dit is. Bely dat dit vir jou te belangrik geword het en vra die Here om jou te help dat Hy weer die middelpunt van jou lewe sal wees.

Skud ook die sonde af wat soos knapsekêrels aan jou vassit (v.1, Ef. 4:22). Vir die Hebreërs was die versoeking om Jesus se offer te verwerp en weer bulle en bokke te offer (hfst. 10). Wat is jóú versoeking? Wat is die sonde of sondes wat nog soos rommel in die garage van jou hart lê, wat jou soos ‘n skaduwee volg? Bely dit en bekeer jou daarvan, sodat die Here jou kan vergewe en jou kan reinig (1Joh. 1:7, 9).

 

  1. Kyk voor jou (v.1c-2)

In ronde landerye is die sproeier vas aan ‘n spilpunt in die middel. Van daar af pomp dit water deur ‘n lang pyp wat op wiele in die rondte draai en die gewasse natlei.

Net so kyk Ou- een Nuwe Testamentiese gelowiges na Jesus in die middel. Hy is die bron van ons lewe wat ons help om in die wedloop te volhard (v.1c-2, 3:6, 14, 10:36, 11:10, 13-16, 26). Ons benodig sy genade, krag, voorbeeld en bemoediging om aan te hou, veral in tye van beproewing en vervolging (10:34, 13:3). As jy nie deur die geloof op Jesus fokus nie, sal jy terugdraai (2:1-2, 3:12, 4:11, 10:26, 29, 36, 38-39, 12:12-17, 25-29). En is daar enige waarborg dat jy sal terugkeer? Judas het nie. Die mense in Heb. 6:4-6 het nie.

Dalk het jy reeds begin wegdwaal. Die grappe waarvoor jy lag, die films wat jy kyk, ‘n flouer toewyding aan die gemeente as in die verlede, jou ongemak wanneer iemand voor jou met ‘n ongelowige oor Jesus praat, die feit dat jy gebed begin afskeep het, wys dit. Jy is op ‘n gevaarlike plek, want as jy nie geestelik groei nie, gaan jy agteruit. En waar sal dit eindig?

Wil jy tot die einde toe volhard en gered word (Matt. 10:22)? Dan moet jy op Jesus fokus (v.2, 2Tim. 4:7-8). Die Christelike lewe is nie ‘n wandeling in die park nie, maar ‘n wedloop. Dit vereis inspanning. Dit is ‘n moeilike pad en ‘n smal weg wat bloed, sweet en trane sal verg.

As jy die Here vra en op Hom vertrou, sal Hy jou help. Hy het die baan uitgelê en weet waar die hindernisse is (v.2). As jy die Gees se hulp vra en Jesus se voorbeeld en die res van die Skrif volg, het jy genoeg lig om die hindernisse en afdraaipaadjies van sonde raak te sien en te vermy (v.2, Ps. 119:105, Jes. 30:21).

Jesus wat jou aanvanklik in staat gestel het om te glo (Ef. 2:8, Fil. 1:29), sal jou help om tot aan die einde van jou lewe in Hom te glo (7:25, Fil. 1:6). Hy is immers die Leidsman en Voleinder van ons geloof (v.2). Gevolglik kan jy nie jou redding verloor nie en sal jy tot in die hemel volhard. Al hoe dit kan misluk, is as Jesus ‘n swak Voleinder van ons geloof is.

Maar Jesus kan nie ‘n swak Voleinder wees nie, aangesien Hy self die wedloop suksesvol voltooi het (v.2). Hoe het Hy dit reggekry om aan te hou, ten spyte daarvan dat mense Hom gespot het, op Hom gespoeg het, Hom geslaan het, Hom naak aan ‘n kruis laat hang het en soos ‘n misdadiger mishandel het?

Hy het gekyk na die beloning wat kom: sy heerskappy as die Messias aan die Vader se regterhand, die ganse skepping wat voor Hom buig, miljoene gelowiges wat sy heerlikheid in die hemel sien en Hom aanbid (v.2, Ps. 24:7-9, 110:1, Jes. 53:10-12, Joh. 17:5, 24, Fil. 2:9-11, Op. 5:9-14).

Die begeerte om Christus se heerlikheid te sien en soos Hy te wees, moet ook vir jóú die wortel voor die donkie se neus wees, sodat jy tot in die hemel volhard (v.2, Fil. 3:11-14). Dink aan hoe dit moet wees om Jesus vir die eerste keer te sien. Dink aan die vrede en blydskap wat jy sal hê as jy sy skoonheid sien en sy liefde beleef. Samuel Rutherford (1600-1661) het gesê:

‘Sit tienduisend duisend wêrelde vol Paradyse (soos die tuin van Eden) in een. Sit al die bome, blomme, geure, kleure, smake, vreugdes, soetheid en lieflikheid in een. Wat ‘n lieflike en uitstekende ding sal dit nie wees nie! En tog sal dit, in vergelyking met die skone en geliefde Christus, minder wees as ‘n enkele reëndruppel teen al die oseane, riviere, mere en fonteine van tienduisend aardes.’ [Vry vertaal uit Mark Jones, Knowing Christ (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2015), 3].

Moenie dom wees en die hemel weggooi, net omdat 2018 vir jou ‘n moeilike jaar was en jy besluit het om op te gee nie. Hou aan met die Here; byt vas. As Jesus die aaklige kruis kon deurstaan, kan jy met sy krag jou beproewing, 2019 en die res van jou lewe deurmaak.

Dit is hoe Charles Simeon (1759-1836) dit gesien het. Hy het vir baie jare teenstand, kritiek en vervolging aan die hande van sy eie gemeente beleef. Na 49 jaar in dieselfde gemeente het sy vriend Joseph Gurney hom eendag gevra hoe hy staande gebly het. Hy het gesê:

‘My liewe broer, ons moenie omgee om ‘n bietjie vir Christus te ly nie. As ek deur ‘n heining klim en my kop en skouers veilig deur is, kan ek dit verduur as die heining my bene prik. Laat ons ons daarin verbly dat ons heilige Hoof sy lyding oorkom het en die dood oorwin het. Laat ons Hom geduldig volg; kort voor lank sal ons in sy oorwinning deel.’ [Vry vertaal uit Piper, Ibid., 299].