Coram Deo Cover Image

Coming soon...

18 December 2019

Hoe moet ons Kersfees vier?*

Related image

Verskeie tekste

Ek kom uit ‘n tweetalige huis. My pa is Engels en my ma Afrikaans. My ma se kant van die familie het Kersfees as volg gevier:

Daar was ‘n Kersboom met liggies. As kinders het ons geglo Kersvader bestaan regtig. Op Oukersaand het gery om liggies te kyk, ‘n warm ete geniet, Kersliedere gesing en die storie van Jesus se geboorte gelees. Daarna het my oupa langs die Kersboom gaan sit en almal se geskenke uitgedeel. Op Kersdag het ons kerk toe gegaan. Na die erediens het ons met ons nuwe geskenke gespeel, geswem, saam gekuier en ‘n warm ete geniet (rooivleis!).

Aan my pa se kant van die familie was daar ook ‘n Kersboom met liggies. Op Oukersaand het ons rondgery om liggies te kyk, saam gekuier en lekker geëet. Op Kersdag het ons geskenke gekry en het óns gesin alleen kerk toe gegaan. Terug by die huis het ons ‘n warm Engelse ete gehad met eend, hoender, kalkoen, ens. Die volwassenes het gekuier, terwyl die kinders met hulle nuwe geskenke gespeel het en geswem het. Op Kersaand het my ouma die oorskiet vleis koud bedien en het die groter familie kom kuier (my pa se neefs en niggies, ooms en tannies).

In 2019 vier ons gesin Kersfees as volg:

‘n Paar weke vooraf lees ons verskillende Bybelverse oor die geboorte van Jesus. Ons sing elke aand Kersliedere. Ons bid deur die gemeentelys. Ons ry ‘n paar keer tydens Desember tussen mense se huise deur om liggies te kyk. Ons het nie ‘n Kersvader in die huis nie en leer dit ook nie vir ons kinders nie, aangesien dit mense se aandag van Jesus aftrek. Ons het wel ‘n Kersboom met liggies, asook ‘n toneel met herders, Josef, Maria en die krippie.

Op 24 en 25 Desember volg ons my Afrikaanse familie se tradisie, behalwe dat ons op 25 Desember (i.p.v. op die 24ste) geskenke uitdeel as my vrou se familie by is.

So het elke gesin en familie hulle eie tradisies. Wat die tradisie ook mag wees, dink ek dat ons intensioneel Christus-gesentreerd en Christelik moet wees in die manier waarop ons Kersfees vier. Ons moet anders wees as die wêreld, sodat ons ‘n getuienis vir hulle kan wees. Om baie skuld te maak, geskenke te koop wat duisende rande kos, ‘n gierige hart te hê wat meer en meer vir jouself wil gryp, ‘n ondankbare hart te hê omdat jy nie méér gekry het nie, om te dronk word en te eet totdat jy naar voel moenie deel wees van hoe Christene Kersfees vier nie. Laat ons viering eerder soos volg lyk:

  • Kersversierings wat op Jesus fokus (bv. ‘n toneel van Jesus in die krippie).
  • Lees en verduidelik die Kersverhaal vir jou familie en veral vir die kinders.
  • Bid saam.
  • Sing Kersliedere.
  • Wees by ‘n erediens wat lofliede sing; ‘n erediens wat nie net die Bybelstorie vertel met ‘n morele les daarby nie, maar ‘n erediens waar die prediker die Kersboodskap verduidelik en die evangelie verkondig.
  • Wees bly om medegelowiges te sien. Groet mekaar vriendelik.
  • Wees gasvry. Moenie in jou binneste mor oor die mense wat jou huis omkrap nie.
  • Dank God vir die goeie gawes van Jesus, verlossing, ‘n lekker ete, geskenke en tyd saam met jou geliefdes (1Tim. 6:17).
  • Wees vrygewig teenoor jou gesin, familie, medegelowiges, vriende, ou mense, sendelinge, armes, eensames en mense soos petroljoggies wat op Kersdag moet werk (Fil. 4:18, 1Tim. 6:17).

Om Kersfees só te vier is deel van hoe ons geskenke vir Jesus gee (Ps. 50:23, Heb. 13:15-16, Op. 5:8, 8:3-5). Dit is ook deel van wat dit beteken om Jesus te aanbid. Dit is tog waaroor Kersfees gaan, nie waar nie: om Jesus vir ons verlossing te dank en om Hom as die ware God te aanbid?

Dit is wat verskeie karakters gedoen het toe die Seun van God in die wêreld gebore is. Kon dit anders wees as God mens geword het om ons te red; die God wat geen begin of einde het nie, wat alles weet en alles kan doen, wat nie deur tyd en ruimte beperk word nie, wat vol liefde, geregtigheid, goedheid en wysheid is? Hierdie God is as baba in die wêreld gebore om ons van die bande van sonde en van die ewige hel te red, sodat ons vir ewig in sy wonderlike teenwoordigheid kan wees.

Laat ons uit die eerste karakters se voorbeeld leer en dit navolg. Wie was hulle?

 

  1. Die engele

Iemand het my van ‘n teologie-student in Amerika vertel wat op ‘n vliegtuig langs Tom Cruise gesit het. Hy en die student het hulleself aan mekaar voorgestel. Toe hy die jongman vra wat hy doen, het hy gesê: ‘Ek studeer teologie. Wat doen jy vir ‘n lewe?’ Tom Cruise het verduidelik dat hy in die film bedryf is. ‘Hoe werk dit vir jou?’ het die student hom gevra. ‘Ek oorleef,’ het Tom Cruise hom geantwoord.

Toe die vlug verby is, het die student vir Tom Cruise gesê: ‘Wel, ek hoop dinge werk mooi vir jou uit. Sterkte met die filmbedryf.’ Eers toe hy van die vliegtuig afklim, toe besef die student wie Tom Cruise is.

Net so het die meeste mense in die eerste eeu nie geweet wie die baba in die krip is nie. Eintlik het die meeste van hulle nie eers geweet dat Hy gebore is nie. Die engele het die beste van almal verstaan, omdat hulle Hom voor sy menswording in die hemel aanbid en gehoorsaam het. Omdat hulle geweet het wie Hy is, het hulle in heerlikheid verskyn en goeie nuus verkondig aan die herders wat besig was om hulle skape in die veld op te pas (Luk. 2:8-14).

Die verskyning en lofprysing van ‘n hele leërmag van engele het gewys dat die baba in die krip meer as net ‘n baba was. Hy was die Gesalfde Koning, Verlosser, die Seun van God en die Here (Luk. 2:11). Hy het gekom om blydskap en vrede vir sondaars te bring (Luk. 2:10, 14). Deel jy hierin? Ek vra nie of jy goeie omstandighede het en baie geld verdien nie. Ek vra jou om eerlik met jouself te wees: het jy ‘n diep en blywende blydskap in jou lewe? Het jy vrede met God en die mense rondom jou? Of is jy diep in jou hart ongelukkig? Pla jou sonde jou? Probeer jy om dit uit jou kop te kry, om nie daaraan te dink nie, om dit te ignoreer? Kla jou gewete jou aan oor dinge wat jy weet nie reg is nie? Het jy gebroke verhoudings met baie mense?

Dit hoef nie so te bly nie. Jesus het gekom om blydskap en vrede te bring. As jy erken dat jy Hom nodig het, berou het oor jou sonde, dit bely, klaarmaak met jouself, uitroep dat Hy jou moet red en glo dat Hy dit wil, kan en sal dit doen, sal jy blydskap en vrede hê: blydskap omdat jou sonde vergewe is en omdat God jou Vader is; vrede omdat jou gewete skoon is (Hand. 8:8, 39, 13:52, 16:34, Rom. 5:1-2).

Wat verhinder jou om vandag nog te vra dat die Here Homself aan jou sal openbaar? Niks? Hoekom vra jy Hom dan nie in hierdie oomblik om dit te doen nie?

 

  1. Die herders

Wat beskou ons as onbelangrike beroepe in Suid-Afrika? Om vullis sakke te verwyder, om as ‘n petroljoggie by ‘n vulstasie te werk, om met ‘n lang tang in die strate loop en papiere op te tel?

In die Bybel se tyd was dit nie ‘n gesiene amp om ‘n herder te wees nie (Gen. 46:34, 1Sam. 16:11, 17:28). God het egter onbelangrike herders gekies om eerste die Messias en Verlosser te sien, omdat Jesus self gekom het om die goeie Herder van God se kudde te wees (Ps. 23:1, Miga 5:3, Joh. 10:11 Heb. 10:20, 1Pet. 5:4). Die herders het hulle hieroor verbly en die Here geprys dat hulle die Koning in die krip gesien het (Luk. 2:20). Hulle het die Here aanbid op daardie eerste Kersfees nag.

Dalk voel jy onbelangrik en nutteloos, asof jou lewe niks beteken nie. Die Here het gekom vir mense soos jy. Hy het nie gekom vir dié wat belangrik is in die wêreld se oë nie, maar vir dié wat besef dat hulle niks is nie en dat hulle ‘n Verlosser nodig het (Luk. 5:31-32, 10:21, 1Kor. 1:26-29). As jy dus vir jouself belangrik is en teen jou neus afkyk op ander; as jy dink dat die wêreld jou iets skuld en dat jy onmisbaar is, is daar vir jou geen plek in die Koninkryk van God nie. God se Koninkryk is vir dié wat besef dat die hemel nie hulle welverdiende loon is nie, dat hulle niks kan doen om God te beïndruk nie, dat dit nie in hulleself lê om hulle sondige rekord skoon te was nie, dat hulle slegte sondaars is wat die hel verdien, dat hulle hulleself moet verloën en Jesus bo hulleself en bo alles moet liefhê.

Is jy so, of kan jy nie deur die smal hekkie pas nie, omdat jy te vol is van jouself? In daardie geval sal jy nooit Kersfees reg vier nie. Vir jou gaan dit nog te veel oor jouself. Op een of ander stadium gaan die Here jou teen die grond moet slaan, sodat jy jouself nie meer teen ander sal meet nie, maar teen die Here. Hopelik sal jy op dié manier besef dat jy niks is nie en sal jy ophou om die kleipot van jou eie lewe te aanbid. Jy sal eerder saam met die herders voor Jesus buig om Hóm te aanbid.

 

  1. Die wyse manne

Almal van ons het in ‘n Sondagskool opvoering, ‘n Kersliedjie, of op ‘n Kerskaartjie iets oor die wyse manne geleer; iets wat nie in die Bybel staan nie. Ons glo bv. dat daar drie wyse manne was, dat hulle konings was, dat hulle saam met die herders by Jesus se krippie was en dat die ster stilgestaan het bo die stal waar Jesus gebore is. Maar die Bybel sê dit nie.

Wie was die wyse manne dan en wat moet ons van hulle weet? Volgens Matt. 2:1 het hulle uit die ooste gekom; waarskynlik uit Persië (moderne Iran). Hoe het hulle geweet dat die Messias gebore is? Onthou dat Daniël meer as 500 jaar tevore in die koning van Persië se paleis gewerk het. Aan die einde van Dan. 9 het Daniël syfers gegee waarvolgens die wyse manne die presiese jaar van Jesus se geboorte kon uitwerk. Uit Dan. 9 het hulle geweet dat die Messias ‘n groot werk in Jerusalem sou doen. Hulle het egter nie Miga 5:1 geken wat sê dat Hy in Betlehem gebore sou word nie.

Onder die Here se leiding het die wyse manne die ster tot in Jerusalem gevolg en dáár oor die Messias se geboorteplek gevra (Matt. 2:2, 4). Volgens Miga se profesie is hulle Betlehem toe om die Messias te aanbid (Matt. 2:2, 11). Hulle het verstaan dat Hy nie sommer ‘n gewone Koning is nie. Dit is tragies dat hulle wat heidene was dit geweet het, terwyl Christus se eie volk Hom nie erken het nie (Joh. 1:11).

Erken jý Hom? Doen dan wat die wyse manne gedoen het en gee Hom jou beste. Wat is die beste wat jy het? Dit is nie goud, wierook en mirre nie (Matt. 2:11), maar jouself. Moet jouself nie net een dag per jaar gee wanneer jy op Kersdag kerk toe kom nie. Moet jouself nie eers net een keer per week gee as jy ‘n gereelde kerkganger is nie. Wy jou hele lewe aan Hom.

Dit is tog wat dit beteken om die Here te aanbid (Rom. 12:1, 1Kor. 10:31). Vir Hom gaan dit nie net daaroor dat jy Kersfees reg moet vier nie, maar dat jy Hom saam met al die engele, gelowiges deur die eeue en die hele skepping moet aanbid. Buig saam met die vroue (Matt. 28:9), Tomas (Joh. 20:28), die dissipels (Matt. 14:33, 28:17, Luk. 24:52), die blinde man (Joh. 9:38), die engele (Heb. 1:6) en die hele skepping in aanbidding voor Hom neer (Op. 5:11-14).

Hy is jou God en verdien dat jy Hom moet aanbid. Dit is waarvoor Hy jou geskep het (Jes. 43:7, 21). Dit beteken dat jy nooit vervulling sal beleef, of gelukkig sal wees as jy vir jouself, geskenke, familie, vriende, lekker kos, drank, sukses, geld, sport, ens. lewe nie. As Jesus nie vir jou eerste is nie, sal jy leeg bly. Jou lewe sal so sinneloos wees soos ‘n hond wat sy eie stert jaag. As jy my nie wil glo nie, sal ons weer gesels as jy op jou sterfbed lê.

Luister asb. na wat ek vandag vir jou sê. Kersfees is nie net ‘n tyd om lekker te eet, saam te kuier en geskenke uit te deel nie. Dit is ‘n tyd om die goeie nuus met mense te deel; die goeie nuus van die Seun van God wat mens geword het, sodat die seuns van die mense seuns van God kan word. As jy eers hierdie nuus verstaan en die nuwe lewe van God in jou siel ontvang het, sal niemand vir jou hoef te sê hoe jy Kersfees moet vier nie—jy sal wéét.

________________________________________

* [Ek weet dat party Christene ’n gewetensbeswaar het om Kersfees te vier. My doel is nie om jou te oortuig om Kersfees te vier nie. Ek probeer eerder wys dat dié wat dit wel vier, dit op ’n Christelike manier moet doen. Sien my preek 'Moet Christene Kersfees Vier?' vir meer inligting oor die oorsprong en betekenis van Kersfees].

Kategorieë