Image result for fasting

Jesaja 58:1-12

‘n Man het eenkeer vir my gesê dat dit misties is om te vas: ‘Die vroeë kerk het nie gevas nadat Jesus opgevaar het hemel toe nie.’ Maar volgens Matt. 9:15 het die kerk juis gevas nadat Jesus opgevaar het hemel toe (vgl. Hand. 13:2-3, 14:23). Jesus se dissipels het gevas, maar nie met verkeerde motiewe soos die Fariseërs nie (Matt. 6:16-18). Soos Jesus in Matt. 4:2 het hulle met die regte doel gevas.

Om te vas beteken eenvoudig dat jy vir ‘n tydperk iets soos kos uitsny om jouself aan gebed te wy. Die punt is om vir die Here te sê dat jy Hom meer begeer as lewensnoodsaaklikhede soos kos. Jy wys dat jy ernstig oor die saak is waarvoor jy bid. In Jes. 58:1-12 leer ons watse tipe vas vir die Here aanneemlik is en watse tipe vas Hy nie kan verdra nie.

 

  1. Die verkeerde manier om te vas (v.1-5)

Ek onthou tye in my eie lewe wat ek nie naby Here gelewe het nie, maar gereeld gevas het en vroeg opgestaan het om te bid. Ek onthou ook dat twee mans by ‘n kamp vroeg opgestaan het en vir ‘n uur of meer gebid het, maar nie reg gelewe het met hulle vroue nie. Dale Ralph Davis vertel van ‘n man wat gesê het dat hy wonderlike stiltetye gehad het, en dit terwyl hy in seksuele sonde gelewe het [Dale Ralph Davis, The Word Became Fresh (Geanies House, Fearn: Christian Focus Publications, 2006), 20]. Dít is die tipe vas waarteen die Here Israel in Jes. 58:1-5 gewaarsku het.

Die Here het vir Jesaja gesê om teen Israel uit te roep (v.1). Hy moes niks terughou nie, maar alles sê wat die Here hom beveel het (v.1, Hand. 20:27). Hy moes nie bang wees nie, maar moes sy stem soos ‘n trompet verhef en die volk se sonde uitwys (v.1, Miga 3:8).

Omdat hulle die Here daagliks gesoek het en hulle daarin verlustig het om sy weë te ken, was hulle sonde nie dadelik sigbaar nie (v.2). Uiterlik het hulle gelyk soos ‘n voorbeeldige volk wat geregtigheid liefhet, God se wil soek en dit geniet om naby Hom te wees (v.2, Op. 3:1b).

Maar dit was ‘n front, want in die res van die week het hulle in sonde gelewe (v.3-5). Al wanneer hulle gevas en gebid het, was as dit sleg gegaan het en hulle iets by die Here wou hê (v.3). Is dit enige wonder dat Hy nie ag geslaan het toe hulle gevas het en hulleself ‘verneder’ het nie (v.3)?

Vir die Here beteken vas en gebed niks as jy die res van jou tyd op jouself en jou sondige plesiere deurbring nie (v.3). Moet die Here tevrede wees as jy vas, terwyl jy terselfdertyd jou werkers verkree, hulle vloek en hulle slaan? Moet Hy jou gebede verhoor as jy omgekrap is en met jou lewensmaat en jou kinders baklei, omdat jy honger is (v.3-4)?

Al vas jy ook vir ‘n week of vir 40 dae; Hy sal jou nie antwoord nie (v.4). Wat by die Here tel is nie of jy uiterlik huil en berouvol is soos ‘n riet wat in die wind buig nie, maar of jy jou hart voor Hom buig (v.5, Joël 2:13, Matt. 6:16-18). As jou hart verkeerd is, dan beteken jou stiltetyd niks; al bid jy ook elke dag, sit jy twee keer op ‘n Sondag in die kerk, geniet jy goeie prediking, sing jy lekker saam, gooi jy baie geld in die offergawe en vas jy gereeld (v.2-3, 1:12-15). Dit is moontlik om baie te vas en te bid, terwyl jy nie eintlik die Here soek nie, maar ‘n lekker gevoel (v.2). Hieroor sê John Piper: ‘The danger is that we will subtly slip from loving God in these moments into loving loving God.’ [John Piper, A Hunger For God (Wheaton, Illinois: Crossway Books, 1997), 132].

Wat wil die Here van jou hê? In die eerste plek wil Hy hê dat jy vas ‘n prioriteit in jou lewe moet maak. Dalk het jy nog nooit gevas nie (behalwe vir jou dieet). Dit is nie te laat om te begin nie. Waarvoor moet jy vas? [Ek het die onderstaande lys by Donald Whitney gekry: Spiritual Disciplines for the Christian Life (Colorado Springs: NavPress, 1991), 164-178].

  • Vas vir God se leiding in ‘n spesifieke saak (Hand. 14:23).
  • Vas om berou oor sonde te toon (Joël 2:12, Jona 3:5-8).
  • Vas vir beskerming of hulp in ‘n benoude situasie (2Kron. 20:3-4, Esra 8:21-23).
  • Vas vir God se werken sy saak (Dan. 9:3).
  • Vas vir geleenthede om ander te dien (v.6-7, 9-10).
  • Vas om versoeking te oorkom en jouself toe te wy aan God (Matt. 4:1-11).
  • Vas om die Here te aanbid en te bewonder (Luk. 2:37).

Hoe moet jy vas? Die Bybel gee nie vir ons voorgeskrewe reëls nie. Buiten dat jy die regte gesindheid moet hê, kan jy vas soos dit vir jou werk. Vas van sonop tot sononder. Vas vir ‘n halwe dag. Los kos en water, of net kos as jy wil. Los dalk vleis en eet net groente vir ‘n week (Dan. 1). Los lekkernye (Dan. 10:3). As jy getroud is kan jy en jou lewensmaat afspreek om vir ‘n tyd lank nie intiem te verkeer nie (1Kor. 7:5).

As jy weens gesondheidsredes nie ‘n ete kán mis nie, kan jy op ander maniere vas. Los iets wat vir jou ‘n opoffering sal wees (koffie, slaap, die koerant, ens.), sodat jy die tyd aan gebed kan wy.

 

  1. Die regte manier om te vas (v.6-12)

Een vlak waar die wêreld ons beïnvloed is die gebrek aan gasvryheid. In die platteland val mense nog bymekaar se huise in. In die stad lewe elkeen agter sy traliehek en sy elektriese heining. Ons glimlag vir mekaar in die winkel, vra gou hoe dit gaan, sê ons moet ‘n slag braai, en klim dan weer in ons karre om na die volgende plek toe te jaag. Meer as een persoon wat van ‘n ander dorp af kom het al vir my gesê dat dit moeilik is om vriende te maak in Johannesburg. Selfs in die kerk groet mekaar vriendelik, maar die meeste van ons bly in ons huise.

Volgens Jes. 58 is dit die Here se wil dat ons ander moet dien. As jy sê jy het nie die geld of tyd nie, kan jy vas. Vat die geld wat jy op kos sou spandeer en gebruik dit om ander te dien. Vat die kos wat jy sou eet vir iemand wat siek is en nie kos kan maak nie. Vat kos vir iemand wat nie geld het om te koop nie. Gee die tyd wat jy op jou etensuur sou spandeer en besoek iemand in nood.

Dit is die tipe vas wat die Here wil hê (v.6). Bevry mense wat onder die juk en bande van armoede is (v.6). Hoe? Deel jou kos met hulle (v.7). Gee hulle ‘n werk in jou tuin of slaapplek in jou buitekamer (v.7). Gee hulle ‘n kombers of klere (v.7). Kan jy jou medemens wat na God se beeld gemaak is, ignoreer (v.7, Neh. 5:5, Heb. 13:3)?

Maar wat as die arm persoon ‘n dronkaard of dwelmverslaafde is? Deel die goeie nuus met hulle. Maak vriende. Wees gaaf. Moenie vir hulle geld gee nie, want anders help jy hulle van die wal af in die sloot. Hou aan om vriendelik te wees en Jesus se liefde aan hulle te wys. Bel dalk rond vir ‘n plek waar hulle kan bly. Dalk wen jy hulle vir die Here en kan hulle vry raak van hulle verslawing.

As die arm persoon ‘n Christen is, is jou verantwoordelikheid soveel groter (Gal. 6:10). As jy jou broer help, doen jy dit aan Jesus (Matt. 25:35-40). Kan jy aardse besittings hê en jou gesig wegdraai van ‘n broer wat sukkel? Hoe kan jy dan sê dat God se liefde in jou is (1Joh. 3:17)? Is dit hoe Jesus jóú liefgehad het (1Joh. 3:16)? Beslis nie. Dit is ‘n vals geloof as jy jou broer sien ly en sê: ‘Die Here seën jou; ek hoop jy kry iets om te eet en ‘n kombers om jou warm te hou’ (Jak. 2:15-16).

As jy jou ore toedruk vir die armes, sal jy uitroep en nie verhoor word nie (Spr. 21:13, 28:9). Maar as jy besef dat jy nie beter is as die arme wat op die straathoek staan nie, en ophou om die vinger te wys en kwaad te praat, sal die Here die lig van sy guns oor jou laat skyn (v.8, 10). As jy jouself uitstort om die arme te help en nie net R5 gee om jou gewete te sus nie, sal die Here se lig die donker in jou lewe verdryf (v.8, 10).

As jy op jouself en jou probleme fokus, sal jy teneergedruk raak. Maar as jy van jouself vergeet en aan ander dink, sal daar ‘n lig in jou hart skyn. Die Here sal maak dat dit ‘n effek op jou liggaam het en jy gesond is (v.8, 11, Ps. 41:1-4, Spr. 17:22). Dalk is daar uitsonderings, maar dit is hoe dit gewoonlik werk.

John Piper vertel van Doug Nichols wat kanker gekry het. Doug is die voorsitter van Action International Ministries wat die evangelie met arm straatkinders deel en hulle versorg. In April 1993 het Doug kolon kanker gekry. Die dokters het gesê dat hy na die operasie en behandeling ‘n 30% kans op oorlewing het. Toe hulle hoor dat hy Rwanda toe gaan om arm kinders te help, het hulle gesê dat die rit sy lewe sal kos. Hy het gesê dat hy gereed is vir die hemel en dat hy graag wil gaan. Piper en sy span het Jes. 58:7-8 vir Doug gebid. Toe hy terugkeer Amerika toe en die toetse ondergaan, was die uitslag: NED—no evidence of disease.’ [Piper, Ibid., 129-131].

As jy jou naaste so liefhet, sal jou geregtigheid en God se heerlikheid ‘n pantser van voor en van agter wees (v.8, 52:12, Eks. 14:19-20, Ef. 6:14). As die wêreld na jou lewe kyk, sal hulle nie die evangelie kan belaster nie. Hulle sal weet dat die evangelie waar is en dat die Here die ware God is (Matt. 5:16, 1Pet. 2:12).

Jou gehoorsaamheid aan die Here sal jou ook bevoordeel: Hy sal jou antwoord wanneer jy bid; Hy sal Homself aan jou openbaar (v.9, 4b). Jy sal sy liefde op ‘n nuwe wyse ervaar en geniet. Hy sal jou ook gedurigdeur lei (v.11). Jy sal nie in die donker wees wanneer jy groot besluite moet neem nie (30:21).

Selfs in dorre tye sal die Here kom en jou siel versadig (v.11). Jy sal soos ‘n pragtige tuin wees met ‘n fontein wat nie opraak nie (v.11, Jer. 31:12). Omdat jy ander verkwik, sal die Here jou verkwik (Joh. 4:14, 7:37-39). Piper noem dit die paradoks van die Christelike lewe: hoe meer jy gee, hoe voller word jy [Ibid., 152]. Salomo het gesê: “Daar is een wat ruim uitdeel en nog meer kry, en een wat terughou meer as wat reg is, maar tot sy gebrek. Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf.” (Spr. 11:24-25). Ons kinders het dit besef toe hulle Hand. 20:35 leer. Nadat hulle vir arm kinders poppe gegee het, toe sê hulle: ‘Die Bybel is waar: dit ís saliger om te gee as om te ontvang!’

Laastens sê die teks dat die Here stede wat geslagte lank in puin gelê het, sal oprig sodat die strate weer besig is (v.12, 61:4, Sag. 8:4-5). Deur die persoon wat volgens Jes. 58 vas en bid, sal die Here vervalle individue, gesinne, families, kerke, gemeenskappe en volke oprig (v.12). Jy sal sien hoe die Here sy kerk herleef, al het dit vir honderde jare vervalle gelê!

Ek bedoel nie dat die kerk wat sosiale aksie neem, herlewing sal sien nie. Die individu of gemeente wat sop en komberse vir mense gee, maar nie die evangelie deel nie, mis die punt. Om jou naaste lief te hê soos jouself, moet jy eers Christus se liefde in die kruis verstaan en dit in jou hart ervaar. Jy kan immers nie iets gee wat jy self nie het nie. Anders is jou hulp aan die armes so selfregverdig soos ‘n monnik s’n, of soos ‘n sekulêre radiostasie s’n oor die Kersseisoen. Hulle gee om gesien te word, of omdat hulle wil goed voel oor hulleself.

As Christene gee ons omdat Jesus se liefde soos ‘n fontein uit ons lewens borrel, en omdat ons wil vas soos dit die Here tevrede stel. Ons vas nie soos Moslems, in die hoop dat dit ons kanse op die hemel verbeter nie. Ons vas eerder omdat ons by tye so na Bruidegom verlang dat ons nie eers lus is vir kos nie, maar kan oorleef op liefde en koue water.