2Korintiërs 8:1-5
Twee jaar gelede het een van ons lidmate ’n man en sy vrou kerk toe genooi. Die mense wou nie kom nie. Hulle het gesê kerke praat altyd oor geld. Ons lidmaat het hulle verseker ons gemeente praat nie gedurig oor geld nie. Daarop het hulle besluit om te kom.
Toe hulle hier opdaag was ek besig met ’n reeks in Romeine. Na vier weke toe tref ek Rom. 15:22-29, ’n gedeelte oor geld! Die mense het aanstoot geneem en opgehou kom. Dit is jammer, aangesien ek selde oor geld praat. Ons neem al vir meer as ’n jaar geen offergawe op nie. Daar is ’n boks agter in die kerk vir dié wat iets wil bydra.
Ons is vir seker nie ’n Prosperity kerk wat elke Sondag oor geld praat nie. Tog kan ons nie nooit iets oor geld sê nie. Die Bybel praat daarvan, daarom moet ek van tyd tot tyd daaroor preek.
Wat sê die Bybel ’n gemeente se fondse; hoe moet hulle dit insamel?
1. Gee deur God se genade (v.1)
Weens die vervolging in Jerusalem (Hand. 8:1, 3) was die gelowiges baie arm. Later het ’n hongersnood tot hulle armoede bygedra (Hand. 12:27-30). Paulus het die heidene gevra om die Christene in Jerusalem finansieel te ondersteun (Hand. 24:17, Rom. 15:25-27, Gal. 2:10). Toe die Korintiërs iets wou gee, het Paulus die volgende instruksies gegee:
“Wat die insameling vir die heiliges betref: Die reëling wat ek in die gemeentes van Galasië getref het, moet julle ook so uitvoer. Elkeen van julle afsonderlik moet op die eerste dag van die week ’n bedrag opsy sit, en volgens sy verdienste spaar, sodat die insamelings nie eers plaasvind wanneer ek kom nie. Wanneer ek opdaag, sal ek, wie julle ook al goedkeur, met aanbevelingsbriewe stuur om julle gawes na Jerusalem te neem. Indien dit die moeite werd is dat ek ook gaan, kan hulle my vergesel.” (1Kor. 16:1-4).1
Vir ’n hele jaar het die Korintiërs Paulus se instruksies geïgnoreer (v.10). Om die Korintiërs aan te moedig, het Paulus die gemeentes van Macedonië—Filippi, Tessalonika en Berea—as voorbeeld gebruik (v.1-5).
Dint klink soos ’n gemeente in Johannesburg. Hulle het 250 lidmate. ’n Paar jaar gelede het hulle ’n R1 miljoen vir sending bygedra. R1 miljoen! Hulle voorbeeld het ander gemeentes aangespoor.
Paulus het geweet die Macedoniërs se voorbeeld sou ’n soortgelyke effek op die Korintiërs hê.
Hoekom was die Macedoniërs so vrygewig? Waar het dit begin? God se genade of onverdiende guns het in hulle harte gewerk (v.1). Die Vader het die Seun gegee om vir ons te sterf en die Seun het Homself hiervoor gegee (Joh. 3:16, Gal. 2:20). Uit ’n dankbare hart wou die Macedoniërs soos God wees. Hulle wou gee. Dit kon nie anders nie. Ons het gratis van God ontvang, daarom moet ons gratis gee Matt. 10:8. Volgens ’n bekende teoloog volg vrygewigheid op genade soos donderweer op weerlig volg.2
Hoekom gee ons? Ons gee nie, omdat ons skuldig voel of gedwing voel nie. Ons gee nie in die hoop dat die Here ons meer sal gee, sodat ons luuks kan lewe nie. Ons gee nie, omdat ’n prediker ons manipuleer en rykdom belowe as ons vir sy bediening bydra nie (Miga 3:11, 2Pet. 2:3, 14). Ons gee omdat God se genade in ons werk en ons Hom liefhet (v.1, 8). Hy maak ons ’n kanaal wat sy genade en liefde na ander versprei.
Hoe kan jy of jou gemeente God se genade kanaliseer? Kan julle ’n werklose lidmaat bystaan? Kan julle ’n arm leraar of gemeente ondersteun? Dalk ’n sendeling of Christene in ’n vervolgde land? Moontlik ’n kinderhuis? Dra by waar julle kan.
Gee in die konteks van jou plaaslike gemeente eerder as vir liefdadigheid buite die kerk. So het dit in die Bybelse tyd gewerk. Mense het by hulle gemeente bygedra waarna die gemeente se leierskap gesorg het die geld bereik die regte mense en plekke (v.1, 1Kor. 16:1-2). Om so te gee is heeltemal Bybels. Paulus sê: “Laat ons dan, terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen, maar veral aan die huisgesin van die geloof.” (Gal. 6:10). In gewone Engels: ‘Charity begins at home.’
2. Gee met blydskap (v.2)
Volgens die geskiedenis was die mense van Macedonië as gevolg van oorloë en swaar belasting brandarm.3 Die Christene van Macedonië is vir hulle geloof vervolg (Handelinge 16-17, Fil. 1:29-30, 1Tess. 1:6, 2:14). Dit het hulle arm gelaat.
Ten spyte daarvan het hulle hul oor God se genade en hulle geestelike rykdom in Christus verbly (v.1-2, Luk. 12:32, Ef. 1:7-8, 2:7, 3:8, Jak. 2:5). So oorvloedig was hulle blydskap dat hulle ruim vir die armes bygedra het (v.2). Natuurlik sou hulle vrygewigheid tot groter blydskap lei (Hand. 20:35).
Hierdie blydskap is nie net vir ryk mense nie. Die meeste ryk mense is geldgierig en suinig. Hulle weet niks van ware blydskap nie. Al gee hulle R10 000 maak dit nie ’n duik in hulle rekening nie. Die arme wat R20 gee, gee meer as baie rykes wat R10 000 gee. In Luk. 21:1-4 lees ons: “Jesus het opgekyk en gesien hoe die rykes hulle bydraes in die offergawekis gooi. Hy sien toe ook hoe ’n arm weduwee twee lepton ingooi, en sê: ‘Waarlik, Ek sê vir julle: Hierdie weduwee, wat brandarm is, het meer ingegooi as hulle almal. Want hulle het almal uit hulle oorvloed by die bydraes ingegooi, maar sy het, ten spyte van haar behoeftigheid, alles ingegooi wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud.’ ”
’n Sekere jong leraar het iets soortgelyk van hulle gemeente gesê: ‘Mense spot altyd met Brakpan, maar ek dink die mense in ons gemeente is armer. As iemand vir jou ’n hemp gee, het hy die helfte van sy klerekas weggegee. Een oom stap elke Sondag 11 kilometer kerk toe. ’n Tannie in ons gemeente gee elke Sondag vir my ’n sakkie Jacobs koffie. Sy wil graag hê ek moet lekker koffie geniet. In ons gemeente moet mens sensitief wees. Ek kan nie vir die mense sê ons gaan ’n gemeente ete hou en elkeen moet bring wat hy by die huis sou eet nie. Baie mense het nie kos om te eet nie. Tog is die mense in ons gemeente gelukkig. Die gemeente groei in getalle en geestelik. Die samesyn is mooi en die eenheid word versterk.’
Is dit nie mooi nie? Hierdie mense is arm, tog wil hulle die Here se werk doen en met mekaar deel. As God se liefde jou hart open, wil soos die arm Macedoniërs gee. ’n Arm tannie in ons gemeente was so. Toe ek ’n student was, het sy my ’n koevert met ’n klompie geld in gegee. Sy self het nie iets gehad nie, maar sy wou met my deel.
Dit het jare gelede in Haïti gebeur. ’n Gemeente het ’n spesiale dankoffer diens gehou. ’n Man genaamd Edmund het $13 bygedra. Toe die sendeling dit sien, was hy verbaas. Vir ’n arm man om $13 te gee, was baie geld. Nog meer verbasend was dat Edmund nie by die diens was nie. Die sendeling het gehoor dat Edmund sy perd verkoop het om die geld te gee. Hy het Edmund in die village gaan soek en gevra: ‘Hoekom was jy nie by die diens nie?’ Edmund wou nie sê nie. Uiteindelik toe sê hy verleë: ‘Ek het nie ’n hemp gehad nie.’4 Uit Edmund se armoede het hy vir die Here se werk bygedra.
Ongelowiges doen dit nie. Hulle harte is nie by die Here nie. Hulle voel ’n veer vir sy saak. Daarom dat sulke gemeentes by die wêreld leen (kontra Deut. 28:12, Spr. 22:7, Rom. 13:8). Of hulle stuur die ouderlinge en diakens om geld by mense se huise te kollekteer. Hulle sendelinge vra sekulêre besighede vir borge! Dit hoort nie so nie. 3Joh. 7-8 sê: “Want ter wille van die Naam, het hulle uitgegaan, sonder om iets van die heidene te ontvang. Ons behoort sulke mense daarom goed te ontvang, sodat ons medewerkers van die waarheid kan wees.”
Om dieselfde rede, is ’n gemeente nie veronderstel om ’n basaar te hou nie. Het Petrus, Paulus, Johannes of enige van die apostels dit gedoen? Het Jesus pannekoeke verkoop om geld in te samel? Hoekom moet ons die wêreld vra om kerrie en rys te koop om ons gemeente se fondse aan te vul? Is dit omdat ons die lidmate nie wil gee nie? Dit is ’n skande!
Gemeentes wat basaars hou, leer hulle mense verkeerd. Dalk bedoel hulle dit nie, maar hulle mense leer: ‘Ek sal net vir die Here se werk bydra as ek ’n jaffel of koeksisters in ruil daarvoor kry. Anders gee ek niks.’
Die ryk boer wat skaap vir uitloting skenk, word versoek om Matt. 6:2 te oortree: “Wanneer jy liefdadigheid beoefen, moet dit nie uitbasuin soos die skynheiliges in die sinagoges en in die strate maak, sodat hulle deur mense geëer kan word nie.” (Matt. 6:2).
3. Gee vrywillig en met opoffering volgens jou vermoë (v.3-4)
Party Christene glo ons moet soos in die Ou Testament 10% van ons inkomste gee. Ander sê die tiende-wet is opgehef. Volgens hulle gee 2Korintiërs 8-9 vir ons die Nuwe Testamentiese patroon vir bydraes. Ek gaan nie hieroor argumenteer nie. Die punt is gelowiges gee graag.
Hoe moet ons gee? Almal sal saamstem ons moet vrygewig wees en vrywillig volgens ons vermoë, of selfs bo ons vermoë, gee (v.2-3, 9:5, 1Kor. 16:2). Ons moet uit liefde vir God en ons naaste gee, sodat almal genoeg het (v.8, 15, 1Joh. 3:16-18). Ons moenie onder dwang gee nie, maar blymoedig (9:7).
Die Macedoniërs het so gegee. Paulus het hulle nie gevra om te gee nie. Hulle het hóm aanhoudend gesmeek en gesê hulle wil iets bydra (v.4). Om te gee was vir hulle nie ’n plig of ’n las nie, maar deur God se genade ’n voorreg (v.4, Gk. charis).
Toe my dogter klein was, het sy dit gesnap. Tydens ons huisgodsdiens het ons ons kinders Hand. 20:35 geleer: “Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang.” Kort na dit toe besluit my dogters om ’n paar poppe vir ’n arm kind te gee. Na hulle dit gedoen het, toe sê my jongste dogter: ‘Dit is waar! Dit ís meer geseënd om te gee as om te ontvang!’
Wie met ander gelowiges deel, het iets met hulle in gemeen. Ons bydrae is ’n uitdrukking van gemeenskap of koinōnia (v.4, Hand. 2:44-46, 4:34-37). Dit is ’n vorm van diens aan Jesus self. As jy vir ’n arm gelowige bydra, gee jy vir Jesus (Matt. 25:35-40). En Hy gee baie meer terug as wat jy insit (Luk. 12:33, Fil. 4:17).
Sê jy jy kan nie gee nie? Jy vergeet gou. Die Macedoniërs was brandarm. Tog was hulle bo hulle vermoë vrygewig (v.2-3). God kyk nie wat jy nie het nie, maar wat jy het (v.12). Hy kyk nie hoeveel jy gee nie, maar hoeveel jy hou.
Kan jy regtig nie gee nie? Onthou God gee jou die vermoë om geld te maak (Deut. 8:18). Vertrou Hom om vir jou te sorg. Soek eers sy koninkryk en ’n opregte lewe en kyk of Hy nie gee wat jy benodig nie (Matt. 6:33). Gee vir sy werk en kyk of Hy nie met ’n oop hand vir jou teruggee nie (Spr. 3:9-10). As jy min gee, sal jy min terug ontvang; as jy baie gee, sal jy baie ontvang (9:6). Toets die Here om te kyk of dit so is (Mal. 3:10). Jy sal gou agterkom jy gee met ’n teelepel; Hy gee met ’n skopgraaf.
Moet net nie ruim bydra om meer vir jouself te kry nie. As die Here vir jou meer teruggee, is dit dat jy weer vir ander kan gee (9:8-11).
4. Gee jouself voor jy jou geld gee (v.5)
Die Macedoniërs het dit gedoen: “Dit was nie slegs soos ons gehoop het nie; trouens, hulle het hulleself eers aan die Here gegee, en toe, deur die wil van God, ook aan ons.” (v.5, vgl. Rom. 12:1).
Dit is die verskil tussen ware gelowiges en godsdienstige kerkmense. Kerkmense dink 10% van hulle inkomste behoort aan die Here s’n, terwyl hulle 90% kan spandeer soos hulle wil. Party van hulle gee meer as 10% in die hoop dat hulle daardeur God se guns kan wen. Soos die Israeliete dink hulle wie elke derde dag ’n tiende gee, kan sy sonde uitbalanseer (Amos 4:4-5).
So iemand vergeet om te gee is ’n voorreg. Jy doen God nie ’n guns nie. God besit alles (Ps. 24:1). Ook wat jy vir Hom gee kom van Hom af (1Kron. 29:14). Al jou goud en silwer kan nie vir jou sonde betaal nie—net die bloed van Jesus kan (Spr. 11:4, 1Pet. 1:18-19). Enige gelowige verstaan dit. Daarom gee hy homself eers voor hy sy geld gee (v.5). Hy sit die Here bo-aan sy begroting. Hy hak nie by 10% vas nie, omdat hy weet alles is die Here s’n. Om meer as ’n tiende te gee is vir hom maklik.
Die Macedoniërs was so. Nie alleen het hulle vir die arm Christene in Jerusalem gegee nie, maar volgens God se wil vir Paulus se sendingreise (v.5, Fil. 4:14-16).
Te veel mense en gemeentes hou hulle begroting dop voor hulle gee. Hulle doen eers alles wat hulle wil en sê dan: ‘Ek kan nie gee nie.’ Of hulle kyk na die gemeente se begroting en sê vir die sendeling: ‘Jammer ons kan jou nie help nie. Mag die Here in jou behoeftes voorsien.’
God het Fil. 4:19 vir die gemeente geskryf, nie vir die arm sendeling nie! “En my God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien, in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in Christus Jesus.” As ons vir die sendeling gee, sal die Here vir die gemeente gee. In Hudson Taylor se woorde: ‘Depend upon it, GOD’S work done in GOD’S way will never lack GOD’S supplies’.5
1 Aanhalings uit die 2020 Vertaling.
2 Randy Alcorn, Money, Possessions and Eternity (Carol Stream, Illinois: Tyndale House Publishers, 1989, 2003), 207.
3 Charles Hodge, An Exposition of II Corinthians (Albany, OR: Ages Software, 1996-7), 210. Verkry by https://media.sabda.org/alkitab-10/LIBRARY/COMMENT/HOD_2COR.PDF
4 John Piper, Let the Nations Be Glad: Second Edition (Grand Rapids, Michigan: Baker Academic, 2003, 1993), 103.
5 John Piper, 21 Servants of Sovereign Joy (Wheaton, Illinois: Crossway, 2018), 794.