Coram Deo Cover Image

Coming soon...

11 October 2019

Wat maak ons groter as die engele?

Related image

Hebreërs 2:10-18

Volgens die Bybel (Ps. 78:49, ESV) het God ‘n groep engele gestuur om Egipte deur die tien plae te verwoes. Hulle het die land platgevee, sodat daar niks oorgebly het nie. Die engele is dus baie magtig. En tog sal die mens in Christus eendag groter wees as die engele (Heb. 2:5-9). In watse opsig sal ons groter wees as hulle? Heb. 2:10-18 wys vir ons.

 

  1. Ons is Jesus se familie (v.10-13)

In die koning se familie het die selfs jongste kind voorregte wat die diensknegte nie het nie. Omdat ons Jesus se familie is en die engele sy diensknegte (v.10-13, 1:14), het ons voorregte wat hulle nie het nie. Om deel van hierdie familie te word, moes Jesus vir ons sterf (v.10). Deur sy kruisdood het Jesus ons sy seuns, broers en kinders gemaak (v.10-13).

Die Vader deur wie en vir wie alles bestaan, het besluit dat dit gepas sou wees om ons só deel van Jesus se familie te maak (v.10, Rom. 11:36, 1Kor. 8:6). Deur Jesus se kruisdood het die Vader baie seuns en dogters (2Kor. 6:18) verheerlik (v.10, Gen. 22:17, Matt. 20:28, Op. 7:9). A.g.v. ons sonde kon ons nie in God se heerlike teenwoordigheid inkom nie (Rom. 3:23), maar omdat Jesus ons sonde verwyder het, kan ons God se heerlikheid in hierdie lewe, in die hemel en op die nuwe aarde geniet.

Ons sien God se heerlikheid in die massiewe rotsplate van ‘n berg, in potbrood en braaivleis, in ‘n gelukkige huwelik, in kleurvolle blomme, ens. (Ps. 19:2). Ons sien dit as ons in Jesus glo en geestelik groei (2Kor. 3:18, 4:6, 1Pet. 1:8). In die hemel sal ons die volle openbaring daarvan in Christus sien (1:3, Joh. 17:24). Op die nuwe aarde sal ons sy heerlike skoonheid sien en dit soos ‘n spieël deur ons verheerlikte liggame weerkaats (Matt. 13:43, 2Tess. 1:10, 12, 1Joh. 3:2).

Sal dit waar wees van jou? Is jy ‘n Christen? Het Jesus jou al gered? Is Hy die outeur van jou verlossing (v.10, 12:2 Hand. 3:15, 5:31)? Indien nie, wil ek by jou pleit om jou te bekeer en in Jesus te glo. Hy het die mag om jou sonde te vergewe. Hy kan jou van ‘n liggaam en siel vol sonde, hartseer, pyn en dood, verlos. Hy het dit gedoen deur ‘n menslike liggaam en siel aan te neem en waarlik mens te word (v.14, 16, 10:5, Gal. 4:4, Fil. 2:7). As mens het Hy vir ons gely: Hy was honger, dors, hartseer, moeg, angstig en het gesterf (v.10, Matt. 4:2, Mark. 4:38, 14:33-34, Luk. 19:41, Joh. 4:6, 19:28, 30, 33-34, 38-42).

Omdat Hy Homself verneder het en vir ander gely het, het die Vader Hom opgewek, verheerlik en ‘n volmaakte liggaam gegee wat nooit weer kan sterf nie (v.9-10, Rom. 6:9, Fil. 2:8-9, Op. 1:12-16). Jesus het ons heilig gemaak, of afgesonder om dieselfde heerlikheid te verkry (v.11). Ons verkry dit deurdat ons uit die Vader is soos Hy (v.11). Hy is van ewig af uit die Vader (1:5, Joh. 3:16, 5:26, 6:57), terwyl ons dit deur wedergeboorte is (Joh. 1:13).

As jy heilig is (v.11a), noem Jesus jou sy broer, of suster en skaam Hy Hom nie vir jou nie (v.11b, 17, Matt. 12:50, 25:40, Joh. 20:17, Rom. 8:29). Dit sal vir Hom ‘n voorreg wees om die Vader se lieflike Naam deur sy heilige karakter aan jou bekend te maak (v.12, Ps. 22:23, Matt. 11:27, Joh. 17:6, 26).

Indien jy jouself egter ‘n Christen noem en in sonde lewe, sal Hy Hom vir jou skaam en sê dat Hy jou nie ken nie (Matt. 7:23, 10:33). Ken die Here jou as een van sy eie (Gal. 4:9, 2Tim. 2:19)? Indien wel, sal jy deel wees van sy gemeente en sal jy Hom as God aanbid (v.12, 1:6, Joh. 20:28, Op. 5:11-14). Omdat Hy egter ook ‘n mens is, sal Hy die Vader saam met ons aanbid en sy lof besing (v.12, Sef. 3:17). En as Jesus die Vader se lof besing, moet ons dit nie ook doen nie? Dalk bly jy stil omdat jy vals sing, maar die Here wil hê jy moet Hom loof omdat Hy waardig is. Jy mag net stilbly as ‘n lied se woorde onbybels is.

***

Jesus wys nie net vir ons hoe ons moet sing nie, maar ook hoe ons moet glo (v.13a, Jes. 8:17). Omdat Jesus waarlik mens was, moes Hy deur die geloof lewe soos ons (2Kor. 5:7). Hy het nie die Vader langs Hom gesien nie, maar moes die Bybel lees, bid, God se beloftes glo en gehoorsaam wees soos ons. Tereg sê Mark Jones: ‘Jesus is the greatest believer who ever lived.’ [Mark Jones, Knowing Christ (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2015), 68].

Jesus het nie ‘n gelowige geword soos ons nie, maar het van die moederskoot af in sy Vader geglo en op Hom vertrou (Ps. 22:10-11). Hy het nou wel nooit sonde gedoen nie, maar omdat Hy deur die geloof moes lewe, kan Hy ons help as ons geloof swak is, of as ons twyfel.

Ek vra dus nie vir jou of jou geloof sterk is nie, maar of dit eg is. Glo jy dat die Bybel se beloftes waar is? Leef jy deur geloof in Jesus Christus? Glo jy dat Hy die Verlosser van sondaars is? Indien wel, is jy een van die geestelike kinders wat die Vader vir Jesus gegee het (v.13, Jes. 8:18, 53:10, Joh. 6:37, 39, 17:2, 6, 7, 9, 24). Verder is jy ook uit die Vader, is jy ‘n seun of dogter van God, is jy Jesus se broer of suster, en is jy deel van sy gemeente (v.10-13).

Waar sê die Bybel dit van enige engel? Ek hoop dat dit jou bemoedig. As jy aan Jesus behoort, is jy meer bevoorreg as die engele. Al gaan dit dus sleg in die wêreld, of in jou persoonlike omstandighede, het jy die hemel om na uit te sien. Kyk dan verby jou omstandighede, die morbiede nuus en selfs die heilige engele. Kyk na Jesus en die voorregte wat jy in Hom het.

 

  1. Jesus het mens geword om ons te red (v.14-16)

Ek het ‘n vriend wat die VSA verlaat het om Suid-Afrika toe te kom. Hy het sy huis in ‘n village gebou. Hy het nie duur materiale gebruik nie. Hy het die Tsongas se taal en kultuur aangeleer. Hy het homself in ‘n sekere sin neergebuig, sodat hy ander kan optel.

Hoeveel te meer het Jesus dit nie gedoen nie? Hy het uit die hoogste hemel neergedaal om mens te word en ons te red (Fil. 2:6-7). Hy het ‘n menslike liggaam van spiere en bloed gehad soos ons (v.14, 17). Hy móés ‘n menslike liggaam hê om vir ons te sterf (v.14). Deur sy kruisdood het Jesus die mag wat die duiwel oor die dood gehad het, gebreek (v.14, 1Joh. 3:8). Hoe het Hy dit gedoen?

In die begin het Satan die mens versoek om sonde te doen en daardeur die dood in die wêreld te bring (Gen. 2:16-17, 3:1-7, 19, Rom. 5:12, 6:23). Om die duiwel se mag oor die dood te breek, moes Jesus afreken met die sonde wat dit veroorsaak het. Hoe het Hy dit gedoen? Hy het in die eerste plek geen sonde in sy natuur gehad, of sonde gedoen nie (4:15, 7:26).

Indien dit wel so was, sou die duiwel die wetboek voor die Vader gooi om te sê dat Jesus moet sterf. Hy kon dit egter nie doen nie, omdat Jesus nie ‘n sondaar was wat die dood verdien het nie (Joh. 14:30-31). Toe Jesus dus aan die kruis gesterf het en begrawe is, kon die duiwel nie eis dat Hy in die graf bly nie, aangesien Hy nie vir sy eie sonde gesterf het nie, maar vir ander s’n (Hand. 2:24). So het Jesus die duiwel se mag oor die dood gebreek. Wat beteken dit prakties?

[a] Die duiwel kan jou nie meer aankla, of sê dat jy die tweede dood van die hel verdien nie (Rom. 8:33-34). Vir almal wat in Jesus glo, het Hy die skuld afgeskryf en die prys betaal (Kol. 2:14). Jy kan nie meer veroordeel word nie (Rom. 8:1).

[b] Die dood is nie meer ‘n krokodil wat jou in die malende waters van die hel in sleep nie (Op. 2:11). Dit is eerder ‘n groot arend wat jou na Jesus toe neem (Luk. 23:43, 2Kor. 5:8, Fil. 1:21, 23). Die dood kan jou nie skade aandoen nie, maar is so skadeloos soos ‘n rubber slang (1Kor. 15:54-55). Moet daarom nie die dood vrees soos jy dit in die verlede gevrees het nie (v.15). Jesus sal saam met jou deur die donker vallei van die dood gaan en jou veilig tot in die hemel bring (Ps. 23:4-6).

[c] Wanneer Jesus weer kom sal Hy jou liggaam opwek en dit verheerlik om soos syne te wees (Joh. 5:28-29, Rom. 8:11, 1Kor. 15:35-57, Fil. 3:21). Jesus is soewerein oor die dood en sal dit op die einde tot niet maak (1Kor. 15:26, Op. 20:14). Hy doen dit nie vir die gevalle engele nie, maar vir die nageslag van Abraham wat in Hom glo (v.16, Gal. 3:7-9, 16, 29, Rom. 9:6-8). Hy gryp letterlik hulle hand vas [v.16, Gk. epilambanomai, vgl. 8:9] om hulle uit die sonde te red en deur die rivier van die dood te lei.

Om dit reg te kry, moes Hy in elke opsig soos ons word, buiten dat Hy nie gesondig het nie (v.17, 14, 4:15). Hy moes net soos ons gebore word, pyn ervaar, versoek word, doodgaan en begrawe word. Dit is juis hierdie feit wat maak dat Hy my en jou lewe in hierdie gevalle wêreld verstaan. Dus kan Hy barmhartig wees en medelye hê met ons pyn, dood en begrafnisse (v.17).

Verder weet Hy ook dat versoeking ‘n tipe lyding is. Hy weet hoe erg dit is om versoek te word om mense te vrees, bang te wees vir die dood, angstig te wees oor die toekoms, hoogmoedig te raak, bitter en jaloers te wees, wellustig te wees, kleingelowig te wees, te veel te eet, opstandig te raak, geldgierig te wees, ens. (v.18). Jesus ken die krag van versoeking (v.18). Daarom kan Hy jou help wanneer jy versoek word (v.18). Hy weet hoe om simpatie te hê met die stryd wat jy soms in jou begeertes en gedagtes het. Die enigste verskil is natuurlik dat Hy nie toegegee het aan die versoeking nie (4:15).

Hy is die getroue Hoëpriester wat Homself gegee het as die versoening vir ons sondes (v.17, Fil. 2:8). Die Grieks vir versoening [hilaskomai] beteken dat die Vader kwaad was oor ons sonde, maar dat Jesus die toorn geabsorbeer het, sodat die Vader nou met guns na ons kyk (v.17, vgl. Rom. 3:25, 1Joh. 2:2, 4:10).

Glimlag die Vader oor jou? Wat sê jou gewete? Wees versigtig, omdat jou gewete jou kan vryspreek, terwyl die Here eintlik vir jou kwaad is. Dit is óók moontlik dat jou gewete jou aankla, terwyl die Here eintlik oor jou glimlag. Hoe kan jy weet wat die Here van jou dink? Vra jouself af of jy al met ‘n berouvolle hart jou sonde voor Jesus neergelê het en geglo het dat sy kruisdood voldoende is om jou te vergewe. Indien nie, moet jy dit vandag doen. Indien wel, hoef jy nie verder oor jou redding te twyfel nie. Moenie langer na jou emosies luister nie, maar kyk na die kruis. Dit is nie nodig dat jy meer in die donker hoek van twyfel hoef te sit nie. Staan op en sê vir die Here dankie dat Hy jou gesterf het.

Hy het dit nie vir die engele gedoen nie (v.16). Om dus ‘n geredde sondaar te wees, is beter as om ‘n engel te wees. Ek sal eerder dat die Koning my as sy kind aanneem, as wat ek as ‘n slaaf in sy huis gebore word. Ek sal eerder ‘n arm vrou wees wat met die koning trou, as wat ek ‘n slavin is wat my lewe lank vir Hom werk.

Kategorieë