Coram Deo Cover Image

Coming soon...

24 May 2023

Hoe gemeentes groei: lering en samesyn

Handelinge 2:42

Getalle-groei is belangrik. Wie is tevrede as ’n gemeente met ’n duisend lidmate net honderd mense in die oggenddiens het en twaalf in die aanddiens? Jesus het vir baie mense gesterf (Matt. 20:28). Paulus wou hê baie mense moet gered word (1Kor. 9:19, 22). In die hemel sal daar ’n ontelbare menigte uit elke stam en taal, volk en nasie wees (Op. 7:9).

Getalle-groei is belangrik.

Tog help getalle-groei nie as mense ongered bly, of as hulle gered word en geestelike babas bly nie. So ’n gemeente is ’n kilometer breed, maar net ’n sentimeter diep. Laat ons dan nie net vir getalle-groei bid nie, maar vir geestelike groei.

Hoe groei gemeentes geestelik?

 

1. Deur lering

“Hulle het bly volhard in die leer van die apostels, die verbondenheid met mekaar, die breek van die brood, en gebede.” (v.42).1 Wie is die ‘hulle’ in v.42? Dit verwys na 3000 nuwe bekeerlinge van v.38, 41. Hulle het die Heilige Gees ontvang, is gedoop en by die gemeente gevoeg.

Groei kan nie sonder die Heilige Gees en bekering plaasvind nie. Jy kan net sowel ’n lyk was, hom mooi aantrek en vir hom ’n ete voorsit. Sonder geestelike lewe help dit nie jy leer ’n ongelowige die Bybel, vat hom kerk toe, gee vir hom die nagmaal en sit hom in ’n biduur nie. Hy is geestelik dood en kan nie groei nie.

Die eerste vraag is nie of jy v.42 doen nie, maar of jy gered is. Glo jy in Jesus as die Messias en die Seun van God? Glo jy volgens Joh. 14:6 Jesus is die enigste weg na die Vader? Het jy Jesus al as jou persoonlike Verlosser ontvang? Is jy uit God gebore? Het jy jou van jou sonde bekeer? Het jy dit deur die doop en kerklidmaatskap bely (v.38, 41)?

Indien wel het die saad van die Woord binne jou ontkiem. Nou kan jy deur die water, son, bemestig en kruisbestuiwing van v.42 groei. Elke ware gelowige wil volgens 2Pet. 3:18 groei: “Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.” Hoe meer ’n gelowige groei, hoe meer wil hy groei. Jy kan hom nie met inkopies, vriende of geld omkoop en van v.42 se genademiddele af weghou nie. Hy wil saam met gelowiges onder die Woord, by die nagmaaltafel en in gebed wees. Die kerk se leiers hoef hom nie te lek om daar te wees nie. Hy is nie daar, omdat sy ouers hom dwing nie. Hy kom nie uit skuldgevoelens, vrees vir die hel of om gesien te word nie. Hy kom omdat hy die Here liefhet. By die gelowiges is waar hy tuis voel. Daar wy hy hom aan die leer van die apostels; aan hulle uitleg van die Ou Testament en hulle oordrag van Jesus se lering (v.42, 16-36, Matt. 28:20). Toe v.42 gebeur het, was die apostels se lering nog nie op skrif nie. Hulle het dit mondeling aan die gelowiges oorgedra. Onder hierdie lering het die gelowiges die Woord ontvang, bespreek, gememoriseer en dit oordink.

Die les is duidelik: om saam met ander na goeie prediking te luister is beter as om die Bybel op jou eie te lees. Maak nie ’n fout nie: om die Bybel op jou eie te lees is belangrik. Maar waar die Woord goed gepreek word, leer jy wat dit beteken. Jy kan die uitleg met ander mense bespreek en dit op jou individuele situasie toepas.

Vir 1500 jaar het die meeste gelowiges die Bybel deur prediking geleer. Eers na die drukpers in die laat 1400’s deur Johannes Gutenberg ontwerp is, kon elke gelowige sy eie Bybel kry. Voor dit was die Bybel handgeskrewe. Nie almal het sy eie afskrif gehad nie. Jy moes die Bybel deur die prediking leer.

Iemand sal vra of mense nie Jesus se woorde verdraai het voor dit op skrif gekom het nie? ‘Vir drie of vier dekades het die apostels Jesus se lering mondeling oorgedra. Sekerlik het hulle dit onwetend verander voor hulle dit uiteindelik op skrif gesit het. Wie weet of ons Jesus se oorspronklike woorde het? Die mondelinge leer van v.42 is seker nie dieselfde leer wat ons vandag op skrif het nie, of hoe?’

Hierdie mense sal sê dit is soos die kinderspeletjie, telfoontjie. Een persoon fluister iets vir die volgende een. Die volgende een fluister dit aan die persoon langs hom. So hou dit aan tot by die laaste persoon. Die boodskap wat die laaste een ontvang verskil heelwat van wat die eerste persoon gesê het.

Oulike illustrasie, maar dit werk nie. Die illustrasie veronderstel slegs een persoon het die oorspronklike boodskap gehoor. Die waarheid is dat ’n paar honderd gelowiges die oorspronklike boodskap by Jesus gehoor het (1:15, 1Kor. 15:6). In ’n mondelinge kultuur soos die Jode s’n, sou hierdie gelowiges Jesus se lering memoriseer soos hulle die Ou Testament geleer het (Deut. 6:7, 31:19). Die apostels moes sorg dat die gelowiges die boodskap akkuraat hoor en so oordra.2 Toe die apostels later hulle lering op skrif sit en die kerk kopieë daarvan maak, het hulle dit pynlik noukeurig gedoen (Deut. 17:18, Luk. 1:1-4). Die Heilige Gees het hulle gelei om Jesus se woorde akkuraat te onthou (Joh. 14:26).

Dieselfde Gees help ons om die Bybel te verstaan (1Kor. 2:12-13). Deur voorlesing, prediking, memorisering en oordenking onderrig Hy ons in die leer van die apostels (v.42, 1Tim. 4:13, 2Tim. 3:14-4:2, Ps. 1:2, 119:11).

Wil jy onder die prediking groei? Bid daarvoor. Sonder die Gees se werk deur gebed sal die Woord geen effek op jou hê nie. Dit sal soos saad op harde, vlak, klipperige grond val waar dorings gesaai is (Matt. 13:18-22). Of jy sal onder die prediking slaap en niks inneem nie. Thomas Watson sê: ‘The devil gives many hearers a sleepy sop, so that they cannot keep their eyes open at a sermon. They eat so much on the Lord’s-day that they are more fit for the pillow and couch than the temple. Frequent and customary sleeping at a sermon shows high contempt and irreverence of the ordinance. It gives a bad example to others; it makes your sincerity to be called in question; it is the devil’s seedtime. ‘While men slept, his enemy came and sowed tares.’ Matt xiii 25. O shake off drowsiness, as Paul shook off the viper! Be serious and attentive in hearing the word. ‘For it is not a vain thing for you, it is your life.’ Deut xxxii 47.’3

Bybelse prediking is belangrik. Dit is nie ’n rantsaak nie, maar staan eerste in v.42. Sonder die Woord beteken die gemeente se samekoms, die nagmaal en gebed niks nie (v.42). Mense se persoonlikhede en gedeelde belangstellings eerder as die Woord word die samebindende faktor wat hulle bymekaar hou. Hulle sal die nagmaal volgens tradisie eerder as volgens die Bybel vier. Hulle gebede sal onbybels, leeg en hol wees. Dit sal sinneloos wees soos as jy in ’n taal bid wat niemand verstaan nie (1Kor. 14:13-19).

’n Gemeente sonder sterk Bybellering is soos ’n plant sonder water: dit verdor. Die gemeente se lidmate is geestelik en emosioneel onstabiel (Matt. 22:29, 1Tess. 4:13, 18). Hulle kan nie geestelik groei nie (Joh. 17:17). Hulle lewe lyk soos die omliggende samelewing s’n. Paulus sê by herhaling vir die losbandige Korintiërs: ‘Weet julle nie?... Weet julle nie?... Weet julle nie?’ (1Kor. 6:15-16, 19). Die Korintiërs se onkunde van God se waarheid het gemaak dat hulle losbandig lewe.

Dit het in die laat 80’s in Oos-Afrika gebeur. Toe Donald Whitney ’n sekere gemeente daar besoek, was hy geskok dat hulle seksueel losbandig, oneerlik en verdeeld is. Die mense het soos ongelowiges gelieg en gesteel. Wat het dit veroorsaak? Hulle was onkundig. Nie een van hulle—die predikant inkluis!—het ’n Bybel gehad nie.4

Om geestelik te groei, kort ’n gemeente die Bybel. Dit help nie die Bybel lê as ’n vertroonstuk op ’n tafel nie. Die mense moet dit lees. Hulle moet dit bestudeer. Hulle moet dit weekliks van die kansel af hoor. Hulle moet die melk van die Woord drink en later vleis eet (Heb. 5:11-6:3, 1Pet. 2:2). Hiervoor moet die ouderlinge die Bybel ken en dit bestudeer (Esra 7:10, 2Tim. 2:15). Daarna kan hulle dit aan die gemeente oordra (Neh. 8:9, Hand. 20:27-28, Tit. 1:9).

 

2. Deur samesyn

Aanlynkerk is ’n seën. Siek mense, ou mense en mense op afgeleë plekke kan by die eredienste inskakel.

Aanlynkerk is ’n vloek. Baie mense wat by die samekomste kan wees, bly by die huis. Hulle sit nie saam met ander onder die Woord nie. Hulle versaak die gemeente se samekomste. Hulle ignoreer die nagmaal en bid nie saam met ander gelowiges nie. Hulle verontagsaam v.42.

Sulke mense vergeet Jesus het vir die kerk gesterf (Hand. 20:28, Ef. 5:25). Hulle vergeet Hy openbaar sy heerlikheid in die kerk (3:21, Op. 1:13, 20, 2:1). Hulle mis God se seën op die gelowiges wat saamkom (Psalm 133). Hulle kan nie Ps. 16:3 saam met Dawid en Jesus sê nie: “Maar aangaande die heiliges wat op die aarde is, sê ek: Hulle is die heerlikes in wie al my behae is.” (Ou Vertaling). Hulle het ’n swak begrip van hoe die gemeente se eenheid die Drie-Eenheid weerspieël (Ef. 4:4-6). Hulle het sekerheid van redding is vals. ’n Kenmerk van ’n geredde persoon is immers dat hy ander gelowiges liefhet (1Joh. 3:14). Hoe het jy ander gelowiges lief as jy nie belangstel om by hulle te wees nie?

Die vroeë kerk het hulleself aan die onderlinge samesyn gewy (v.42). Die Grieks vir samesyn is koinōnia. Dit beteken dat jy iets in met iemand anders in gemeen het. In Engels praat ons van ‘fellowship’. As Christene het ons deur die Heilige Gees koinōnia met die Vader en die Seun (1Kor. 1:9, 2Kor. 13:13, 1Joh. 1:3). Christus eerder as ons sosiale klas, velkleur, nasionaliteit, ouderdom of motorfietse bind ons saam (Kol. 3:11). Ons is nie een met mense buite Christus en die evangelie nie. Ons is nie een met mense wat die liggaamlike opstanding of ander evangelie-waarhede verwerp nie. Ons eenheid lê in die waarheid volgens die apostels (v.42).

Wanneer ons kos en materiële besittings met mekaar deel, het ons koinōnia (v.44-45, 4:32, 34-37, 15:26, 2Kor. 8:4, Heb. 13:16). Dit beteken nie ons is kommuniste nie. Niemand verplig ons om ons besittings te deel nie—ons doen dit vrywillig en uit liefde (Hand. 4:34-5:4).

In die nagmaal het ons koinōnia wanneer ons die brood en die beker met mekaar deel (1Kor. 10:16). Ons het koinōnia in die evangelie wanneer ons sendelinge ondersteun en vir hulle bid (Fil. 1:5, 27). Ons het koinōnia deurdat ons in Christus en mekaar se lyding deel: as een lid ly, ly die hele liggaam (Fil. 3:10, 1Kor. 12:26).

Is dit in jou konteks onmoontlik om by die gemeente se samekomste te wees? Dan sal Jesus na jou toe kom en sy helpers stuur om jou te bemoedig (Op. 1:9-13, Jak. 5:14, Hand. 20:20).

Kan jy hier wees, maar jy sit by die huis? Jy is besig met sonde. Heb. 10:24-25 sê: “Laat ons ons ook daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade, sonder om ons eie samekoms te verwaarloos, soos sommige se gewoonte is; laat ons eerder mekaar aanmoedig, soveel te meer nog namate julle dié dag sien nader kom!”

Wie van die samekomste af wegbly, benadeel homself en die gemeente. As Jesus die gemeente besoek, sal jy uitmis (vgl. Joh. 20:24). Sê wat jy wil: buite v.42 kan jy nie maksimum groei en vrugte dra nie.

Ek het ’n foto gesien wat dit illustreer. ’n Man het ’n lemoenboom in sy erf geplant. Vir drie jaar het hy dit gesnoei, bemes, water en sonlig gegee. Toe dit geen vrugte dra nie het hy opgegee en ’n suurlemoen boom langs dit geplant. Skielik het die lemoenboom begin vrugte dra. Kruisbestuiwing moes plaasvind.

So is dit in die kerk: om geestelik te groei, het ons mekaar nodig.


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  William D. Mounce, Why I Trust the Bible (Grand Rapids, Michigan: Zondervan, 2021), 9-18.

3  Thomas Watson, The Ten Commandments (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1959, 1965 [1692, 1890]), 214.

4  Donald S. Whitney, Spiritual Disciplines for the Christian Life (Colorado Springs, Colorado: NAVPRESS, 1991), 27-8.

Kategorieë