Coram Deo Cover Image

Coming soon...

25 May 2023

Hoe gemeentes groei: die nagmaal en gebed

Handelinge 2:42

Lank gelede was daar ’n vrugteboom in ’n tuin. Dit was mooier as enige ander boom in die tuin. Van oral af het toeriste gekom en hulle oor die groot takke, lieflike koelte en pragtige bloeisels verwonder.

Maar daar was ’n probleem.

Die boom het die bloeisels afgegooi en geen vrug gedra nie. En wat help ’n vrugteboom sonder vrugte?

Wat help ’n vol kerk sonder geestelike groei? Soos Israel in Luk. 13:6-9 is so ’n gemeente vrugteloos. Hulle help niemand nie en bring geen eer aan God nie. ’n Gesonde gemeente volg die patroon van die vroeë Christene in Hand. 2:42: “Hulle het bly volhard in die leer van die apostels, die verbondenheid met mekaar, die breek van die brood, en gebede.”1

 

1. Die nagmaal

In die vorige preek het ons gesien ’n gemeente groei geestelik deur die Woord en samesyn. Die res van v.42 sê ’n gemeente groei deur die nagmaal en gebed. Die eerste Christene het gereeld saam geëet (v.46b). Maar hulle het meer as gewone maaltye saam geniet. Die Bybel sê hulle het saam brood gebreek of nagmaal gevier (v.42, 46a, 20:7, 1Kor. 10:16, 11:23-24). Hulle het dit nie nou en dan geëet nie, maar hulleself daagliks daaraan gewy (v.42, 46).

Beteken dit ons moet die nagmaal daagliks vier? Nee. Handelinge 2 beskryf ’n herlewing en is nie ’n opdrag nie.

Hoe gereeld moet ons die nagmaal gebruik? Dikwels totdat Jesus kom (1Kor. 11:26). Ons kort dit om geestelik te groei. Ek sê nie die nagmaal gee reddende genade soos die Katoliekekerk glo nie. God se genade lê nie in die elemente nie. Tog is die nagmaal meer as ’n simbool. Johannes Calvyn het geglo Jesus is waarlik teenwoordig wanneer ons deur geloof eet en drink (Op. 3:20). Jesus is nie as ’n verheerlikte mens in of onder die elemente teenwoordig soos Martin Luther geglo het nie. Hy is deur sy Gees by ons teenwoordig (Joh. 14:17, 23, Ef. 3:16-17). Hy is altyd met ons, maar wanneer ons die nagmaal gebruik is Hy spesiaal teenwoordig.2

Richard Sibbes stel dit mooi. Wanneer ons die Woord hoor, kom Christus deur ons ore na ons toe. In die nagmaal vat ons aan Hom.3 Thomas Watson sê in gebed nader jy tot God, maar in die nagmaal is julle een; in die Woord hoor jy stem, maar in die nagmaal smaak en sien jy dat die Here goed is (Ps. 34:9).4 Ons groei as ons deur die elemente oor Christus peins. Die rooi sap herinner ons aan sy rooi bloed. Die soet sap herinner ons aan die soetheid van die ewige lewe. Druiwesap herinner ons Hy is die ware wingerd deur wie ons vrug dra en ons dors les. Die beker herinner ons hoe Jesus vir ons sonde die beker van God se toorn moes drink, en hoe ons die beker van verlossing ontvang. Die brood herinner ons Jesus is die brood van die lewe wat ons geestelike honger stil. Die stukkies brood herinner ons aan sy liggaam wat vir ons sonde gebreek is.

Ons groei wanneer ons Christus by die tafel vir sy kruisdood prys (Op. 5:9). Ons ondersoek ons harte en bely ons sonde (1Kor. 11:28, Jes. 1:18). Ons bid om al hoe meer soos Jesus te word (2Kor. 3:18). So word die tafel ’n tyd en geleentheid om geestelik te groei.

Waar moet ons die nagmaal vier? Die vroeë kerk het dit in hulle huise gevier (v.46). Dit beteken nie individue, vriende of gesinne moet dit alleen gevier nie. Toe die eerste Christene die nagmaal in hulle huise vier, het hulle dit as ’n gemeente gedoen (v.42). ‘Wanneer julle saamkom...’ sê 1Kor. 11:17-18, 20. Die een brood staan immers vir een liggaam, naamlik die gemeente (1Kor. 10:17). Net as ’n gelowige siek of in die tronk is, bedien ons hulle op hulle eie. Die nagmaal bemoedig en versterk hulle geestelik.

Sonder die nagmaal bly die kruis vir ons ’n vae herinnering van die verlede. As ons die nagmaal deur geloof herdenk, maak dit die kruis vir ons persoonlik, sigbaar en tasbaar (Gal. 3:1). Laat ons dit gereeld gebruik om te onthou: ‘Jesus het ’n duur prys vir ons betaal—ons moenie met sonde speel nie. Jesus het sy bloed vir ons gestort. Hy kan ons vergewe. Ons hoef nie in sonde te sink nie.’

Wie die nagmaal opsetlik vir lang tye misloop, doen sonde. So iemand vergeet hy is saam met Christus gekruisig; hy lewe nie meer nie, maar Christus lewe in hom (Gal. 2:20). Hy vergeet sy ou natuur is saam met Christus gekruisig (Gal. 5:24). Hy vergeet om in die kruis van Jesus te roem en roem in homself (Gal. 6:14). Sonder ’n gereelde herinnering aan die kruis sal jy beswaarlik groei.

 

2. Gebed

Die meeste van Paulus se gebede vir die gemeentes is vir geestelike groei (bv. Ef. 3:16-19, Kol. 1:9-11). Predikante doen goed as hulle sy voorbeeld volg. Elke leraar moet Hand. 6:4 sy hooftaak maak en homself aan gebed en die bediening van die Woord wy. Baie predikante bestudeer die Bybel, maar min van hulle bid soos Jesus en Paulus.

’n Predikant het een van my vriende geleer preek. Na die les toe vra my vriend: ‘Jy sê ons moet vir 15 ure studeer. Waar is die 15 ure van gebed wat daarby pas?’ Die predikant se reaksie was: ‘Die Here het nie nodig dat ek vir 15 ure te bid nie.’

Min moderne leraars is reuse in gebed. Geen wonder hulle gemeentes het min tot geen bidure nie. As hulle ’n biduur het, is dit ’n byvoegsel. Dit staan nie sentraal soos in 1Tim. 2:1 nie: Heel eerste versoek ek dat smekinge, gebede, voorbidding en dankgebede vir alle mense gedoen word” (eie beklemtoning).

Sulke gemeentes beperk gebed tot ’n paar ouderlinge vyf minute voor die diens, of tot ’n slotgebed aan die einde van die Bybelstudie. Sonder ’n groep biddende tannies in die gemeente sou hulle soos die Titanic sink.

Jesus soek nie ’n biddelose kerk nie, maar wil hê ons moet in gebed volhard (v.42). Sonder gebed bly die ander genademiddele oneffektief. Die prediking verander niemand nie (2Kor. 3:14-15, 1Kor. 2:4-5). Die nagmaal is misties en formeel soos in ’n Katoliekekerk. Die samesyn verskil skaars van ’n sportklub s’n waar Joh. 13:34-35 ontbreek: “Ek gee julle ’n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is—as julle liefde teenoor mekaar het.”

Wil jy deur die genademiddele groei? Dan moet jy daarvoor bid (v.42, Ef. 1:17-19, Kol. 4:2-4, Filem. 6). Volgens Thomas Watson sal die vrug van v.42 slegs afval as jy dit met die hande van gebed vasgryp en skud.5 Party mense dink hulle kan op hulle eie daarvoor bid. Hulle het vergeet twee is beter as een (Pred. 4:9-12). Om saam te bid is beter as om op jou eie te bid. Waar ons saam met ander bid, vuur hulle gebede ons aan. Hulle bid vir dinge wat ons vergeet het.

Die vroeë kerk het die waarde van gesamentlike gebed verstaan (v.42, 1:14, 24, 3:1, 4:24, 6:6, 12:5, 13:3, 14:23, 20:36, 21:5). Hulle het Jesus se lering onthou en toegepas: “Ons Vader...” (Matt. 6:9). Byna elke Nuwe Testamentiese opdrag en versoek om te bid is aan ’n gemeente gerig (Rom. 15:30, Ef. 6:18-20, 1Tess. 5:17, 25, 2Kor. 1:11).

Hoe kry mens ’n gemeente om saam te bid? Vra die Here om ’n gees van gebed en smeking oor hulle uit te stort (Sag. 12:10). Preek ’n reeks oor die Onse Vader (Matt. 6:9-13). Moenie opgee as min mense saam bid nie. Ons biduur het vir baie jare uit twee of drie mense bestaan. Niks kan die Here verhinder om deur baie of deur min te red nie (1Sam. 14:6). ’n Groot biduur verbeter nie ons kanse om verhoor te word nie. God laat Hom nie deur baie woorde oortuig nie (Matt. 6:7). ’n Paar mense is genoeg. In ons gemeente begin ek die biduur met ’n kort Skriflesing en oordenking. Drie tot vyf minute is voldoende. ’n Oordenking uit God se Woord vuur ons aan om te bid en gee inhoud aan ons gebede. As ons in groepies deel, laat ons die mans lei (1Tim. 2:8). Ons moedig die mense tot verskillende soorte gebed aan (gebede in v.42): lofprysing, danksegging, belydenis, voorbidding en smeking (Matt. 6:9-13, Ef. 6:18, 1Tim. 2:1).

Almal hoef nie vir alles te bid nie. Ons Vader weet wat ons nodig het voordat ons vra (Matt. 6:8).

Vra die mense om hoorbaar te bid. Ons is besig met ’n biduur; nie met ons stiltetyd nie. Wat help ’n biduur as niemand jou kan hoor nie? Dan kan jy net sowel in ’n vreemde taal bid (1Kor. 14:16-17). Bid hardop, sodat mense jou gebede kan beaam. As ons volgens die Bybel saam bid, sal die gemeente geestelik groei. Ek kan daarvan getuig. In 2018 het ek my eie gebedslewe opgeskerp, ’n reeks oor die Onse Vader gepreek en ons gemeente ernstig uitgedaag om saam te bid. In 2019 het die gebedskamer te klein geword. Ons het nog bidure begin. Nou vorm gebed ’n baie sentrale deel van ons gemeente.

Sedertdien het die gemeente geweldig gegroei. Ons finansies het vyfvoudig vermeerder. Die eenheid is versterk. Predikers is opgelei. Mense word met die evangelie bedien. Op elke vlak het die gemeente verdiep. ’n Gemeente kan so gou sonder gebed groei as sonder die Gees. Dit is immers deur gebed wat die Gees na ons toe kom en die genademiddele seën, sodat die kerk groei (v.42, Luk. 11:13).


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  R.C. Sproul, A Taste of Heaven: Worship in the Light of Eternity (Orlando, Florida: Reformation Trust, 2006), 116-9.

3  Richard Sibbes, Josiah’s Reformation (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2011 [1629]), 92.

4  Thomas Watson, The Ten Commandments (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1959, 1965 [1692, 1890]), 223.

5  Watson, ibid., 236.

Kategorieë