Coram Deo Cover Image

Coming soon...

18 July 2015

Hoe besluit ’n mens oor grys areas?

Black and white and grey

‘n Man het eenkeer vir my gesê dis sonde om ‘n TV te hê (ek stem saam dat daar baie sondige programme op TV is). Hoe het hy sy standpunt Bybels regverdig? Hy het gesê dat Israel ‘n goue kalf gemaak het. Openbaring 13 praat van ‘n dier wat sterf, weer lewe, en asem haal. Volgens hom is dít die goue kalf wat weer in die toekoms sal lewe. En hiérdie kalf is die TV in jou huis.

 

In 1 Korintiërs 10:23-11:1 gee Paulus vir ons ‘n beter manier hoe om te besluit oor grys areas soos TV.

 

Sal dit ander opbou en bevoordeel (v.23-24)?

Charles Spurgeon het sigare gerook. Hy het opreg geglo dat hy dit tot eer van God kon doen.[1] Op ‘n tyd het sy dokter vir hom gesê dat dit sy gesondheid sal help. Ander mense het gesê dis sonde. Toe D.L. Moody dit vir hom sê, het hy sy vinger in Moody se groot maag gesteek en gesê: ‘Ja, en almal kan sien wat jóú sonde is.’ Iemand het vir Spurgeon gevra: ‘Hoe weet jy jy rook nie te veel nie?’ Sy antwoord was: ‘As ek twee sigare gelyk rook dan rook ek te veel.’

 

Spurgeon het opgehou rook nadat hy dié advertensie in ‘n winkelvenster gesien het: ‘Smoke what Spurgeon smokes.’ Dáár het hy besef dat hy ‘n struikelblok is vir ander. Hy het opgehou rook. Dít is die beginsel in v.23-24.

 

In v.23 het die Korintiërs die stelling van 6:12 herhaal: ‘Alles is my geoorloof...’ Hierdie keer het dit te doen gehad met vleis wat aan afgode geoffer is (vgl. hfst.8). Dis waar dat jy vry is, maar sal dit wat jy doen jou broer geestelik help en opbou (v.23, 8:1)? Hóékom doen jy dit? Is dit omdat jy ander wil bevoordeel, of omdat jy jou begeertes wil bevredig (v.24)? Onthou dat die liefde nie sy eie belang soek nie (13:5). Die Skrif sê jy moet ander bo jouself stel en hulle opbou; jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Romeine 15:1-2, Filippense 2:3-4, Levitikus 19:18).

 

Sal dit jou of ander se gewete pla (v.25-30)?

Twee maande gelede het ‘n meisie vir my gevra: ‘Mag ek nog by klubs dans as ek ‘n Christen is?’ Wat sou jy sê? ‘n Ou predikant het vertel hoe hy as jong man gaan dans het. Toe hy homself in die dansbaan se spieël sien het sy gewete hom aangekla: ‘Jy hoort nie hier nie.’

 

Is dans sonde? Moet ons soos party mense sê: ‘Jy mag dans; jy mag dit net nie geniet nie’? Die Bybel gee nie ‘n opdrag hieroor nie. Wanneer dit by dans en ander grys areas kom, moet jy volgens die beginsels in v.25-30 ‘n besluit neem.

 

Koop enige vleis in die mark. Jy hoef nie te vra of dit aan afgode geoffer is nie (v.25). ‘n Afgod is buitendien niks nie, en daarom is die vleis onbesmet (hfst.8). God het alles gemaak; geniet wat jy eet (v.26, Psalm 24:1, Hebreërs 1:2, 1 Timoteus 6:17). As jou ongelowige kollega jou nooi, kan jy met ‘n skoon gewete by sy huis gaan eet om hom vir die Here te wen (v.27, 5:9-10, Matteus 9:10-13). Om by sy huis te eet is nie dieselfde as om in ‘n afgodstempel te eet nie (v.19-20). Eet maar wat in jou bord geskep word (Lukas 10:8). Net as jou gewete jou pla moet jy die uitnodiging van die hand wys (Romeine 14:23).

 

Gestel ‘n swakker gelowige is saam met jou. Terwyl jou gasheer in die kombuis is, fluister hy: ‘Hierdie vleis is aan afgode geoffer.’ Wat moet jy doen? Moenie die vleis eet nie (v.28-29). Jý weet die vleis is nie deur die afgod besoedel nie, maar hy twyfel. Hy sal jou voorbeeld volg en sy gewete beskadig. Hy sal leer om sy gewete uit te blok, sodat hy dit nie hoor as dit hom eendag teen regte sonde waarsku nie. Sê dus ‘nee dankie’ vir jou gasheer. Dit is beter om hom te affronteer, as wat jy jou swakker broer se gewete skroei (v.28). Moet ook nie die vleis eet as jou ongelowige gasheer vir jou sê dis aan afgode geoffer nie. As jy dit eet sal hy dink dat jy afgodery goedkeur.

 

Paulus probeer nie sê dat jy volgens iemand anders se gewete moet lewe nie (v.29). As jy vir God dankie sê, kan jy met ‘n geruste hart eet (v.30, Romeine 14:6, 1 Timoteus 4:3-5). Jy kan egter nie die Here vir die kos dank as dit jou broer se gewete sal beskadig nie.

 

Sal dit God verheerlik en ander vir Jesus wen (v.31-11:1)?

Flip is ‘n ongelowige by ‘n kerkbasaar. Die predikant en ouderlinge het ‘n kas vol bier. Hulle word nie dronk of ‘mellow’ nie. Tog sien Flip hoe hulle bier drink en lekker lag. Die prentjie herinner hom aan sy pa wat so gedrink het. Hy het dit gehaat as sy pa dronk word, vuil grappe vertel, by vroue aanlê, baklei en sy ma slaan. Hierdie terugflits het vir Flip afgesit. Hy besluit dat Christene skynheilig is; dat hulle net soos sy pa is. ‘Ek sal nooit na dié kerk toe gaan nie,’ sê hy. Dit sal moeilik wees om hom anders te oortuig. Moenie aspris aanstoot gee, en só jou kans verbeur om mense vir Jesus te wen nie (v.31-11:1).

 

Sal dit wat jy eet, drink, of doen God verheerlik (v.31, Johannes 17:4)? Kan jy die Here hiervoor dank (Kolossense 3:17)? As jy ‘n ongelowige Jood of Griek, of selfs ‘n mede-gelowige laat struikel, verheerlik jy nie die Here nie (v.31-32, Romeine 14:13).

 

Wanneer dit by grys areas kom, probeer Paulus om almal te behaag, sodat hy baie mense vir die Here kan wen (v.33, 9:19-23, Romeine 11:14). Paulus probeer nie sê dat hy polities korrek wil wees nie. Hy probeer nie sê dat hy nooit sal sê Jesus is die enigste Weg, of homoseksualiteit is sonde nie (Galasiërs 1:10). Dit gaan hier oor grys areas, en nie oor dit wat swart en wit is in die Bybel nie.

 

In hierdie opsig wil Paulus soos Jesus wees en sy regte prysgee om ander te red (11:1, Filippense 2:6-8). Wees soos Paulus; wees soos Jesus (11:1, 4:16, Filippense 3:17).

 

Neem die regte besluite wanneer dit by grys areas kom. Hoe doen jy dit? Sorg dat jy weet wat ‘n grys area is. ‘n Grys area is enigiets wat nie eksplisiet in die Skrif verbied of beveel word nie; iets waaroor die Bybel net riglyne gee: drank, rook, dans, kos, TV, Facebook, voorbehoedmiddels, Kersfees, lotery, karate, tatoeëermerke, ens.

 

Moenie jou siening as ‘n wet op ander afdwing nie. Moenie ‘dissipels maak’ van jou siening nie. Moenie vir ander sê: ‘Dis verkeerd as jy dit-of-dat eet’ nie. Moenie jou dieët die elfde gebod maak nie: “raak nie, smaak nie, roer nie aan nie?” (Kolossense 2:21). Moenie sê dat enigiemand wat nie soos jy glo nie, sonde doen: ‘As jy wyn drink sondig jy... As jy voorbehoedmiddels gebruik sondig jy.’

 

Moenie op die swakker gelowige neersien en sê hy is wetties omdat hy nie wyn drink of dans nie. Dis wel wetties as jy op grond van ‘n grys area dink jy is meer geestelik en God kyk met guns na jou: ‘Ek is meer geestelik as jy, want ek kyk nie TV nie... God is ontevrede met jou omdat jy Kersfees vier.’ Die Bybel sê dat onreinheid nie van buite kom nie, maar van binne; uit die hart (Markus 7:14-23).

 

Wees dan oortuig van wat jy glo, maar verdra mense wat nie soos jy glo nie (Romeine 14:1-5). ‘In essentials unity; in non-essentials liberty; in all things charity.’

 

Hoe lyk die beginsels van hfst.10 in die praktyk?

 

[1] Is jou eie genot vir jou die belangrikste as jy rook, dans, wyn drink, of op Facebook is? Sal dit ander bevoordeel of benadeel as jy rook?

 

[2] Sal dit jou of jou broer se gewete pla as jy lotto speel, ‘n tatoeëermerk kry, of as jou kind karate doen?

 

[3] Sal jy ‘n kans mis om vir Jesus te getuig omdat jy rook of bier drink? Sal die ongelowige dink jy keur dronkenskap goed as hy jou met ‘n bier sien?

 

[4] Wat is jou doel as jy die lotto speel, rook, of dans? Wil jy God verheerlik? Of is jy ‘n hedonis wat vir jouself en plesier lewe?

 

[5] Sou Jesus dit gedoen het (11:1)?

 

Hier is nog ‘n paar vrae uit ander Skrif-beginsels:

 

[6] Sal dit jou liggaam beskadig as jy rook (6:19-20, Deuteronomium 5:17)? Kan die voorbehoedmiddel moontlik die bevrugte eiersel aborteer?

 

[7] Sal jy ‘n slaaf word van Facebook, TV, of die lotto? Sal dit jou lewe en gedagtes oorneem? Mors dit baie van jou tyd en geld? Het dit vir jou ‘n afgod geword? As jy dit nie maklik kan opgee of daarvoor ‘nee’ sê nie, dan is dit vir jou ‘n afgod (6:12, Matteus 6:24, Efesiërs 5:18).

 

[8] Is jy minderjarig, sodat jy deur te rook, te drink, of lotto te speel die landswet oortree?

 

[9] Word jy versoek om wêrelds te wees as jy by ‘n klub dans, op sekere liedjies dans, of die liede se woorde hoor (Romeine 12:2)? Voel dit anders as jy by ‘n troue dans, met die ligte aan dans, of in die dag dans?

 

Moenie jou vryheid misbruik om vleeslik te wees nie. Moenie vir die swakker gelowige sê: ‘As jy nie daarvan hou dat ek bier drink nie, moet jy maar by die Mormone aansluit’ nie. Dit is hoe die wêreld dink. Vir hulle is die volgorde van belangrikheid: ek, ander, God. As jy die Here wil verheerlik en sy Woord wil gehoorsaam, is die volgorde: God, ander, ek.

 

Hoekom moet jy reg besluit wanneer dit by grys areas kom? God het jou geskep en gered om Hom in alles te verheerlik (v.31) – ook in grys areas.

 

In die verlede het baie mense gedink die Baptiste is ‘n kultus of sekte. Toe ek studeer het, het ons rektor vir ons ‘n boek gewys wat deur ‘n Hervormde teoloog geskryf is. Die titel was: Die Baptiste Beweging.

 

Een kenmerk van kultusse raak die kwessie van grys areas. In kultusse dwing die kerk, die leier, of ‘n ‘heilige boek’ sekere reëls af op die volgelinge. Alhoewel die Skrif dit nie vereis nie, sal hulle sê jy móét ‘n sekere dieet volg (die Adventiste). Hulle sal sê dis sonde as jy Kersfees vier, of as jy nie die Ou Testament feeste vier nie (party in die Hebrew Roots Movement). Hulle sal sê dis sonde as jy kaffiëne of alkohol gebruik (die Mormone).

 

Baptiste is nie wetties nie. Baptiste is nie ‘n kultus nie. Ons gewetens is gebind tot die Skrif alleen. Ons het nie ekstra reëls buite die Bybel nie. Maar die feit dat ons vry is beteken nie ons mag ons vryheid misbruik nie. Laat ons mekaar eerder liefhê, in ag neem, en opbou, “Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ‘n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde.” (Galasiërs 5:13).

[1] Ek het lank terug twee biografieë oor Spurgeon se lewe gelees. Ek onthou hierdie stories, maar kon nie die presiese verwysings kry nie. Ek het ook van hierdie stories by ander gehoor.

Kategorieë