Coram Deo Cover Image

Coming soon...

6 March 2013

Het Jesus hel toe gegaan toe Hy dood is?

Man in hell

“Daarop het Jesus weer met ‘n groot stem geroep en die gees gegee.” (Matteus 27:50).

Geen mens het mag oor die dag van sy dood nie.  Dit geld ook vir iemand wat selfmoord pleeg, want wat as die poging onsuksesvol is?  Buitendien kies die slagoffer nie wanneer hy sy laaste asem uitblaas nie.

 

Met Jesus was dit anders.  Hy het mag oor sy eie lewe en dood gehad.  Die manier waarop Jesus gesterf het illustreer dit.  Mense wat gekruisig is het verdrink en versmoor, as gevolg van water en bloed wat opgebou het in hulle longe.  Onder die gekruisigde se voete was daar 'n hout blokkie, sodat sy arms nie die volle gewig van sy liggaam sou dra nie.  Om sy diafragma te vergroot en asem te kry sou die persoon homself met sy bene opstoot.  Voordat die slagoffer gesterf het, sou hy sy borskas oopmaak en sy kop optel vir nóg 'n asem.  Maar hy het dan sy laaste asem uitgeblaas en outomaties sou sy kop vooroor buig.

 

Met Jesus was dit andersom.  Hy het sy kop laat hang en tóé sy laaste asem uitgeblaas (Johannes 19:30).  Duidelik het Hy self gekies om te sterf (v.50).  Toe Stefanus dood is, het hy gevra dat Jesus sy gees moes ontvang (Handelinge 7:59).  Maar toe Jesus dood is, het Hy vir die Vader gesê:  “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!  En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.” (Lukas 23:46).[1]  Jesus self het gesê:  “Niemand neem [my lewe] van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af.  Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem...” (Johannes 10:18).  Alfred Edersheim het gesê:  “…it was not Death which approached Christ, but Christ Death:  He died without death.  Christ encountered Death, not as conquered, but as the Conqueror.” (The Life and Times of Jesus the Messiah, William B. Eerdmans Publishers, GRAND RAPIDS, 1953, p.1413).

 

Hier is dit belangrik om te onthou dat Jesus God en mens is.  Daar is sekere dinge wat Jesus in sy Godheid doen wat Hy nie in sy menslikheid doen nie.  As God is Hy byvoorbeeld altyd met ons (Matteus 28:20), terwyl Hy as mens in die hemel is (Johannes 14:2-3).  As God weet Hy alles, maar as mens het Hy nie die tyd van sy wederkoms geken nie (Markus 13:32).  Die mens se liggaam sterf sonder dat sy siel sterf.  En net so het Jesus in sy menslikheid gesterf, sonder dat sy Goddelike natuur gesterf het.  As God kan Hy immers nie sterf nie (1 Timoteus 6:16).

 

Toe Jesus hier gesterf het, was daar weer lig.  Ons onthou dat Hy voor sy dood tot sy “God” geroep het (v.46), omdat Hy geen sin van sy Vader se nabyheid gehad het nie.  Maar nou, wanneer Hy sterf, roep Hy weer tot sy “Vader” (Lukas 23:46).  Soos Jesus, kan Christene weet dat die lig weer sal skyn – selfs na die donkerste nag.

 

Mense wat na 'n lang dag of ver reis by die huis kom, val neer op die bed en sê:  “Ek is klaar.”  Dít is nie wat Jesus gesê het aan die kruis nie.  Hy het nie gesê:  “Ek is klaar” nie, maar “Dit is klaar/volbring.”  Jesus het dus nie gesterf, omdat Hy uitgeput was en nie verder kon uithou nie.  Die harde uitroep van v.50 was 'n oorwinningskreet, en nie 'n uitroep van pyn nie.  Johannes sê vir ons wat Jesus gesê het:  “Dit is volbring!” (Johannes 19:30, Gk. tetelestai).  Wat is dit wat klaar/volbring was?  Daar is ten minste 14 dinge:

 

  • Ons verlossing.  Alles wat gedoen moes word om ons van ons sondes te red, is aan die kruis volbring.
  • Die Ou Testamentiese wet.  Jesus het die seremoniële wet van priesters en offers volbring.  Hy het opgetree as ons Hoëpriester, asook die offer wat gebring moes word.  In die Ou Testament was daar môre offers en aand offers.  Die môre offer is teen 09:00 gebring, en die aandoffer teen 15:00.  Jesus is 09:00 gekruisig en het 15:00 gesterf.  Só het Hy beide offers vervul.  Deur sy perfekte gehoorsaamheid, het Jesus ook die morele wet vervul.  Jesus het ook die siviele wet vervul.  Hy het byvoorbeeld geleende goed teruggegee, en goed wat ander aan Hom gegee het opgepas (Markus 11:2-3, Johannes 17:12, sien Eksodus 22:7-15).
  • Ou Testamentiese tipologie.  Josef het baie mense van die dood gered (Genesis 50:20).  Jesus is die uiteindelike vervulling hiervan.  Deur sy sonde het Adam die hele mensdom verteenwoordig, en deur sy dood het Jesus die hele mensdom verteenwoordig.  Joshua beteken “Jahweh red”, maar Jesus is die vervulling hiervan wat ons nie net in 'n aardse Beloofde Land inneem nie, maar in die hemel self.  Dawid is die koning na God se hart, maar Jesus is die vervulling van alles wat Dawid moes wees.  Simson het God se volk van haar vyande begin verlos.  Jesus het dit volmaak gedoen en ons finaal van ons vyande verlos.  So kan ons aangaan.
  • Ou Testamantiese skadus.  Die Sabbat, Tabernakel, Tempel, en feeste was maar net skadus van Jesus wat sou kom.  Jesus het die Paasfees vervul deur te sterf as die Lam van God.  Hy het die Sabbat te vervul deur 'n ewige hemelse rus vir ons voor te berei.  Hy het die Tabernakel en Tempel vervul en vervang.  Hy is altyd in ons midde, en dus hoef ons nie na 'n sekere plek toe te gaan om God te aanbid nie.  Geen hoëpriester hoef namens ons agter die voorhangsel in te gaan nie.  Jesus self het ingegaan, en nou dat die voorhangsel geskeur is, het al God se kinders vrye toegang tot Hom.
  • Die proto-evangelie van Genesis 3:15.  Dáár het God belowe dat die Messias die duiwel sou vernietig (die slang se kop sal vermorsel).  Jesus het dit inderdaad gedoen, en deur sy kruisdood die duiwel en sy magte oorwin (sien Kolossense 2:15).
  • God se toorn.  Jesus het God se toorn vir óns sondes op Homself geneem.  Daar is geen meer toorn en veroordeling vir dié wat met Christus verenig is nie (Romeine 8:1).
  • Die skuld van ons sonde.  Die prys is heeltemal betaal.  Daar is geen uitstaande skuld nie.  God het “die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael” (Kolossense 2:14).
  • Die God-verlatenheid van die kruis.  Dit was verby.  Jesus sou nie weer deur sy Vader verlaat word nie.
  • Die pyn van die kruis.  Alles was nou volbring.  Jesus sou nooit weer hierdie pyn hoef deur te maak nie.
  • Al die beloftes van God.  Alles wat in die Ou Testament belowe is aangaande ons verlossing, was vervul en voltooi deur Jesus se kruisdood.
  • God se wil.  Jesus het sy Vader se wil volkome uitgevoer.  Daar was niks oor wat Hy moes doen nie.
  • God se doel vir Jesus se lewe en dood.  Alles was vervul en afgehandel in die kruis.
  • Geregtigheid.  Jesus het perfek gelewe en nou die straf vir ons sondes gedra.  Sy geregtigheid kon nou toegereken word aan almal wat op Hom vertrou.  God haat ongeregtigheid, maar deur Jesus se kruisdood is alle geregtigheid vervul.  Daniël het voorspel dat die Messias sou sterf “om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring” (Daniël 9:24).
  • Die sondes van mense in die Ou Testament.  Ons wonder partykeer hoekom God Dawid se egbreuk en moord oorgesien en vergewe het.  Die waarheid is dat dit nie oorgesien is nie.  God het geweet dat Dawid se sonde aan die kruis gestraf sou word.  Paulus sê:  “Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God.” (Romeine 3:25).

 

Wat is die gevolgtrekking en implikasie van al hierdie feite?  Omdat Jesus alles volbring het en mag het oor die dood, kon Hy nie hel toe gegaan het toe Hy dood is nie.  Joyce Meyer leer:  “Jesus said, ‘It is finished.’  And He meant the Old Covenant.  The job He had to do was just getting started.  He really did the job the three days and nights that He was in hell.  That’s where the job was done...He was pronounced guilty on the cross but He paid the price in hell” (From the Cross to the Throne, Joyce Meyer audio kaset).  In haar boek, The Most Important Decision You Will Ever Make (Augustus, 1991 uitgawe, Eerste druk), skryf Meyer:  “During that time He entered hell, where you and I deserved to go (legally) because of our sin.  He paid the price there.”  Sy sê verder:  “God rose up from His throne and said to demon powers tormenting the sinless Son of God, ‘Let Him go.’  Then the resurrection power of Almighty God went through hell and filled Jesus...He was resurrected from the dead – the first born-again man.” (pp.35-36).  “There is no hope of anyone going to heaven unless they believe this truth I am presenting.  You cannot go to heaven unless you believe with all your heart that Jesus took your place in hell” (ibid).  “Jesus went to hell for you” (p.38).  In nóg 'n preek sê sy:  “They were having the biggest party that had ever been had.  They had my Jesus in the floor and they were standing on his back jumping up and down laughing.  And he had become sin.  Don't you think that God was pacing, wanting to put a stop to what was going on?  All the host of hell were upon him.  Upon him.  Up on him.  The angels were in agony.  All the creation is groaning.  All the host of hell was upon him.  Up on him.  They got on him.  They got him down in the floor and got on him and they were laughing and mocking.  Ha ha ha ha.  You trusted God and look where you ended up.  You thought he'd save you and get you off that cross.  He didn't, ha ha ha.” (beskikbaar op YouTube by die volgende adres:  (http://www.youtube.com/watch?v=SwNfOaxIcOM).

 

Meyer se lering is baie algemeen onder Word-of-Faith predikers.  Mense soos Kenneth Copeland, Kenneth Hagin, en Benny Hinn leer dieselfde.  Maar Jesus het nie in die hel gaan ly vir ons sondes nie.  Jesus het vir die dief aan die kruis gesê:  “...Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” (Lukas 23:43).  Meyer en ander sê die teks móét lees:  “Voorwaar Ek sê vir jou vandag:  Jy sal saam met my in die Paradys wees.”  Hierdie interpretasie is verkeerd, want drie verse later sê Jesus:  “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!  En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.” (Lukas 23:46).  Jesus is daardie selfde dag nog na sy Vader toe, en nie hel toe soos wat baie mense dink nie (Paradys is 'n sinonieme term vir die hemel, sien 2 Korintiërs 12:4, Openbaring 2:7, 22:2, 14).

 

“Maar sê 1 Petrus 3:18-20 en Efesiërs 4:8-9 nie duidelik dat Jesus neergedaal het hel toe ná Hy dood is nie?”, vra iemand.  Nee.  Efesiërs 4:9 sê:  “Hy het opgevaar—wat beteken dit anders as dat Hy ook eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde?”  In hierdie vers is ‘opgevaar’ en ‘neergedaal’ teenoorgesteldes.  Omdat ‘opgevaar’ na Jesus se hemelvaart verwys, moet ‘neergedaal’ verwys na sy vleeswording toe Hy uit die hemel na die aarde toe neergedaal het.  Dit het niks te doen met Meyer en ander se lering dat Jesus hel toe is nie.  Die teks in Petrus is 'n bietjie moeiliker.

 

Petrus sê:  “Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees; in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis, wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is” (1 Petrus 3:18-20).  Party glo dat Jesus in die hel gaan preek het om Ou Testamentiese gelowiges te bevry, of dalk om vir ongelowiges 'n tweede kans te gee.  Ander sê dat Jesus hel toe gegaan het om sy oorwinning oor die dood vir hierdie mense aan te kondig.  Maar die teks sê dit nie.  Al wat dit sê is dat Jesus gepreek het vir dié mense wat ongehoorsaam was toe Noag die ark gebou het.  Buitendien sê die Skrif dat niemand ná die dood 'n kans het om gered te word nie (Lukas 16:26, Hebreërs 10:26-27).  En verder leer die Skrif dat Ou Testamentiese gelowiges hemel toe is, en nie in 'n gevangenis opgesluit was nie (Genesis 5:24, Prediker 12:7, Matteus 22:31-32, Lukas 16:22, Hebreërs 11:5).  Sommige dink dat Jesus sy oorwinning vir die demone aangekondig het.  Maar hierdie interpretasie is nie oortuigend nie, want Petrus praat in die konteks van mense en nie van demonie nie.  Die korrekte interpretasie van die teks klink só:

 

Terwyl die ark gebou is, het Christus in sy Gees deur Noag vir die goddeloses gepreek (2 Petrus 2:5 praat van Noag as 'n prediker van geregtigheid).  1 Petrus 1:11 sê dat die Ou Testamentiese profete deur die Gees van Christus geprofeteer het.  Maar die goddelose mense wou nie luister nie.  Gevolglik is daardie ongehoorsame mense dood in die vloed.  Hulle geeste is nou gevange in die hel.  Petrus sê 'n paar verse later dat die evangelie ook gepreek is vir gelowiges wat dood is.  Die teks sê nie dat die evangelie aan hierdie mense gepreek is ná hulle dood is nie.  Die betekenis is eerder dat selfs die mense wat nóú dood is, die evangelie gehoor het toe hulle nog gelewe het.  Hierdie evangelie het nie gekeer dat hulle liggame gesterf het nie, maar sal wel keer dat hulle geestelik sterf (sien 1 Petrus 4:6).

 

Jesus het alles volbring aan die kruis en is nie hel toe nie.  Hy het alles volbring, en daarom moet jy nie deur jou eie pogings gered wil word nie.  Hy het alles volbring, en daarom moet jy nie terugdraai na die offers en feeste van die Ou Testament nie.  Hy het alles volbring en daarom hoef jy nie die finale oordeel of die duiwel te vrees nie.  Hy het alles volbring, en daarom hoef jy nie te vrees dat God jóú sal verlaat nie.  “Dit is volbring!” (Johannes 19:30).


[1] Wanneer Jesus die gees gee, verwys dit nie na die Heilige Gees nie.  Jesus is volkome mens en daarom het Hy 'n menslike siel/gees soos ons.  “Toe sê Hy vir hulle:  My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My.” (Matteus 26:38).  “Toe Jesus dit gesê het, het Hy in sy gees ontsteld geword en getuig en gesê:  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai.” (Johannes 13:21).  Om die gees te gee is ook in 'n sekere sin gelykstaande aan, om sy asem uit te blaas:  “Maar Jesus het met ‘n groot stem geroep en die laaste asem uitgeblaas.” (Markus 15:37).

Kategorieë