Lukas 18:35-43
In 2005 moes ek ’n predikantekonferensie bywoon. My bydrae vir brandstof vir die naweek was R100. Ek het dit nie gehad nie. In my agterplaas het ek gebid en die Here vir die geld gevra. Toe ek in die huis inkom, toe bring ons bediende ’n blanko koevert wat sy in die posbus gekry het. Daar was R100 in. Ek het buitentoe gegaan en die Here geprys! Skielik toe onthou ek van ’n afspraak wat ek die middag in Alberton het. Ek het besef R100 is nie genoeg nie; ek kort nog R50. Ek het die Here hiervoor gevra. Toe ek later uitgaan en in die posbus kyk, toe lê daar ’n los R50-noot! Die Here het my gebed op ’n wonderbaarlike wyse beantwoord!
Beleef jy krisis waarin jy dringend die Here se hulp benodig? Duur jou krisis al vir jare en daar is geen uitkoms nie? Hoe moet jy oor die saak bid?
1. Wees desperaat (v.35-38)
Matteus en Markus sê Jesus het die blinde man genees toe Hy Jerigo verlaat. Lukas sê Hy het hom genees toe Hy in die stad inkom. Hoe moet ons hierdie verskil verstaan?
Jerigo het uit ’n ou en ’n nuwe stad bestaan. Die ou stad was meestal bouvallig. Matteus en Markus sê Jesus het die ou stad verlaat. Lukas sê Hy het in die nuwe stad ingekom. Hy het dus die blinde man op die pad tussen die ou en die nuwe stad genees.1
Johannes Calvyn dink die blinde man het om hulp geroep toe Jesus die stad binnegaan. Die geraas van die skare het gekeer dat Hy die blinde man hoor. Jesus het in die stad ingegaan en vir Saggeus gered. Toe Hy die stad later verlaat, toe roep die blinde man weer uit. Jesus het hom gehoor en hom genees.2
Hoe dit ook al sy: Jesus het die man buite Jerigo genees. Dit is belangrik. Toe Josua Israel in die Beloofde Land inlei, was Jerigo die eerste stad wat hulle verower het. Jesus—die Griekse eweknie van die Hebreeuse naam Josua—was deur Jerigo op pad na Jerusalem om gekruisig te word (v.31-33). Sy reis deur Jerigo wys Hy is die nuwe Josua wat gekom het om ons in die ware Beloofde Land of rus in te lei (Heb. 4:8-10).
In Josua se tyd het God Ragab die prostituut in Jerigo gered (Jos. 6:22-25). In Lukas 18-19 red Hy nog twee uitgeworpenes in Jerigo: Saggeus die tollenaar en ’n blinde man. Matt. 20:30 praat van twee blindes namens wie Bartimeus die spreekbuis was (v.35, Mark. 10:46). Sy blindheid het verhoed dat hy kon werk, daarom het hy langs ’n besige pad gesit en bedel (v.35).
Toe hy op ’n dag meer mense as gewoonlik hoor, toe vra hy nuuskierig: ‘Wat gaan aan?’ (v.36). ‘Jesus van Nasaret gaan verby,’ het die skare geantwoord (v.37). Soos die meeste Jode sou die blinde man weet Nasaret het ’n reputasie (Matt. 2:23, Joh. 1:46). Hy het besef Jesus verstaan verwerping en sal hom help. Hy het die profesieë geglo dat Jesus die Messias uit die nageslag van Dawid is; die regmatige koning van Israel (1:32, Matt. 1:1, 2Sam. 7:12-13). Hy het geweet as die Messias kom, sal Hy blindes genees (4:18, Ps. 146:8, Jes. 35:5, 42:7, 16). Hy moes al gehoor het van die blindes wat reeds genees is (7:21-22). Met die dinge in gedagte, het hy in v.38 geroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U oor my!” Hy het nie vir geld gevra nie, maar vir iets beter.
Sy noodkreet was intens, emosioneel, dringend en desperaat (v.38, Gk. boaō). Hy het hom op God se troue verbond beroep. Dit is letterlik wat die Grieks beteken.3 Hy het hom met ander woorde op die Ou Testamentiese profesieë beroep. Dit is asof hy gesê het: ‘Ek weet die profete voorspel ’n Messias wat blinde mense genees. Vervul asseblief die profete en laat my sien!’
Bid so oor jou krisis: dringend en intens, terwyl jy God aan sy beloftes herinner: “Op jou stadsmure, Jerusalem, het ek wagte uitgesit. Dwarsdeur die dag en nag sal hulle nie ’n oomblik lank swyg nie. Julle wat die Here herinner aan sy beloftes, gun julleself geen rus nie! Gun Hom ook geen rus nie, totdat Hy haar gevestig het, totdat Hy Jerusalem ’n loflied op aarde gemaak het!” (Jes. 62:6-7).
2. Bid sonder ophou (v.39-40)
Keer die duiwel dat jy die Here aanroep?
‘Jou krisis is onbelangrik. Hou op kla; daar is baie mense met groter probleme as jy. Jy bid al jare oor die krisis—nog niks het verander nie. Jy kan net sowel ophou bid. As jou predikant se program nie so besig was nie, kon jy met hom praat. Hy ken die Bybel. Maar hy is besig. Hy moet die hele gemeente se probleme dra. Moet hom nie verder belas nie.’
So het die skare die blinde man ontmoedig en hom probeer stilmaak (v.39, Mark. 10:48). Hy het hom nie laat afsit nie, maar harder geskreeu (v.39, Gk. krazō).
Moenie stilbly as die Here nie dadelik hoor nie—“bid sonder ophou” (1Tess. 5:17). Die Here beloon volharding (Matt. 15:21-28). Volhardende gebed kry sy aandag (v.39-40).
Dink daaraan: Jesus was op pad Jerusalem toe om vir die wêreld se sondes te sterf (v.31, 1Joh. 2:2). Nogtans het Hy gestop om die blinde man te genees (v.40). Sal Hy die groter werk van verlossing doen en nie ook een blinde man genees nie? Rom. 8:32 sê: “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het—hoe sal Hy nie ook saam met Hom alles aan ons skenk nie?”
Ongeag van hoe klein jou krisis mag wees; dit is vir die Here belangrik. Al wat Hy vra is geloof. Ek bedoel nie ’n intellektuele geloof wat net die feite aanvaar nie (Jak. 2:19), maar ’n gehoorsame geloof soos die blinde man s’n. Toe Jesus die blinde man roep, toe kom hy dadelik (v.40).
Glo jy regtig Jesus kan jou help? Wys dit en kom na Hom toe (v.40). Kom na sy Woord toe of na die plek waar dit verkondig word. Daar sal jy die antwoord op jou probleme kry. Asaf het van sy krisis gesê: “Ek het toe probeer om dit te verstaan, maar het dit as vermoeiend beskou, totdat ek in die heiligdom van God ingegaan het. Ek het insig gekry in hulle uiteinde.” (Ps. 73:16-17).
Versuim jy om te kom? Dan glo jy nie regtig nie. Ek sien dit van tyd tot tyd. Vreemde mense kontak my en sê: ‘Ek hoor jy doen berading. Ek het ’n krisis. Kan jy my asseblief help?’ Gewoonlik sê ek: ‘Goed so! Kom Sondag kerk toe dan gesels ons na die tyd.’ Baie van hulle daag nie op nie. Hulle het nie geloof nie, maar soek ’n kits oplossing.
3. Vra spesifiek (v.41)
Jare gelede het ’n tannie in ons gemeente ’n vroue Bybelstudie bygewoon. Een van die vroue het gesê mens moet spesifiek bid. ‘Here, ek soek ’n blou Golf 6; ’n 1.4 TSi outomaties.’
Dit is nie wat ek bedoel as ek sê jy moet spesifiek vra nie. Ek bedoel eenvoudig jy moenie vaagweg oor jou probleme of vir die hele wêreld se siekes bid nie. Hoe meet mens die Here se antwoord as jy vaag bid? Bid spesifiek soos die blinde man in v.41. Toe Jesus vra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” toe sê hy: “Here, dat ek kan sien.” Dit beteken nie die Here weet nie wat jy benodig nie. Jesus het gesê: “...julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle Hom vra.” (Matt. 6:8). Nogtans moet jy jou hart vor hom uitstort. Hy wil toets of jy regtig glo Hy kan jou help.
Baie mense glo Hom nie. As Jesus vir ’n kleingelowige sê: ‘Wat wil jy hê?’ soek hy die fynskrif en bid nie. Die ware gelowige glo God doen ver bo wat ons kan bid of dink (Ef. 3:20). Hy vat God op sy Woord, glo sy beloftes en bid daarvolgens (Joh. 14:13-14, 15:7, 16, 16:23-24, Jak. 1:6, 4:3, 5:15-16, 1Joh. 3:22, 5:14-15). Die persoon wat so bid, kry presies waarvoor hy vra. Toe die blinde vra hy wil sien, toe laat Jesus hom sien (v.41-42). Daar is uitsonderings op die reël (Ps. 66:18, 2Kor. 12:8-9, 1Pet. 3:7, 12), maar oor die algemeen gee God presies waarvoor ons vra (11:9-13).
4. Onthou om dankie te sê (v.42-43)
Dat die blinde kon sien, was ’n wonderwerk. Die groter wonderwerk was dat hy Jesus kon sien. Jesus het sy fisieke, sowel as geestelike sig herstel (v.42-43). Die teks sê sy geloof het hom gered (v.42, Gk. sōzō). Die genesing van sy blindheid was ’n gelykenis dat Jesus sy geestelike blindheid genees het (sien Johannes 9).
Sien jy geestelik? Sien jy Christus se heerlikheid in die Ou- en Nuwe Testamente (v.31-33, 2Kor. 3:18, 4:4-6)? Glo en jy sal sien (v.42)!
Sê jy: ‘Ek het nie genoeg geloof nie’? Jesus vereis nie ’n groot geloof nie, maar ’n ware geloof. Toe die Israeliete in die woestyn deur giftige slange gepik is, het Moses ’n koper slang gemaak en hoog op ’n paal gesit. Almal wat na die slang gekyk het, is genees. Dit het nie gegaan oor wie die beste sig het nie. Die vraag was of hulle na die slang gekyk het of nie. So werk geloof. God vra nie of jy ’n sterk geloof het nie, maar of jy in sy Seun glo. “En net soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die Mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe sal hê.” (Joh. 3:14-15).
Deur geloof kon die blinde man geestelik en fisies sien (v.42). Jesus het hom met ’n woord en deur aanraking genees (v.42-43, Matt. 20:34). In Matt. 12:22 het Jesus ’n blinde man genees toe Hy ’n demoon uitdryf. In Mark. 8:22-25 het Hy op ’n blinde man se oë gespoeg en hom in stadiums genees. In Joh. 9:6-7 het Hy op die grond gespoeg, modder gemaak, dit aan ’n blinde man se oë gesmeer en gesê: ‘Gaan was in die bad van Siloam.’ Die man het dit gedoen en is genees. In Hand. 9:9 kon Paulus vir drie dae nie sien nie. Toe die Here Ananias stuur om vir hom te bid, toe val daar skille van sy oë af, sodat hy weer kon sien (Hand. 9:17-18).
Jesus het meer as een manier om blindes te genees. Hy het ’n unieke doel met elke geval. Die verskeidenheid van maniere openbaar sy heerlikheid. Dit is reg dat jy spesifiek bid. Moet net nie vir die Here voorskryf hoe Hy jou gebed moet verhoor nie. Vertrou Hom vir hoe, wat, waar, wanneer en hoekom Hy jou verhoor. Hy weet wat Hy doen. Daarom het Hy vir drie jaar verby die verlamde man by die tempel se ingang geloop. Hy het hom nie genees nie, maar vir Petrus en Johannes gelos, sodat ’n paar duisend mense tot bekering gekom het (sien Hand. 3:1-4:4).
Jesus werk op ’n spesifieke manier om sy heerlikheid te wys. As Hy jou gebed verhoor het, moet jy nie normaal aangaan nie. Volg, eer en dank Hom soos die blinde man en die skare gedoen het (v.43). Moenie vir gebed vra, en nalaat om dankie te sê as die Here antwoord nie (17:11-19).
Ek het dit al so gedoen. Ek het ’n krisis gehad en vir ’n paar mense gevra om saam te bid. Maande later toe vra een van hulle: ‘Hoe gaan dit nou met die krisis?’ Ek het skoon vergeet om te sê die Here het lankal my probleem opgelos.
Toe ’n ruimtevaart in die VSA rampspoedige gevolge sou hê, het die hele land gebid. God het hulle gebed verhoor en die vaartuig veilig laat land. Daarop het hulle tegnologie geprys en nagelaat om die Here te dank.4
Soek die Here in jou krisis, maar onthou om dankie te sê as Hy jou uithelp: “Roep My aan in ’n tyd van nood; Ek sal jou red, en jy sal My eer.” (Ps. 50:15).
1 Darrell L. Bock, Baker Exegetical Commentary on the New Testament: Luke 9:51-24:53 (Grand Rapids, Michigan: Baker Books, 1996), 1505.
2 John Calvin, Commentary on Matthew, Mark & Luke—Vol. 2 (Grand Rapids, MI: Christian Classics Ethereal Library), 365, note on Matthew 20:29. Verkry by https://www.ccel.org/ccel/c/calvin/calcom32/cache/calcom32.pdf
3 https://biblehub.com/greek/1653.htm
4 Jerry Bridges, The Practice of Godliness (Colorado Springs, Colorado: NavPress, 2001), 101-2.